Die vestiging van die apartheidstaat, 1948-1966

Min gebeurtenisse in die Suid-Afrikaanse geskiedenis is belangwekkendes as die bewindsoorname op 26 Mei 1948 deur die Nasionale Party (NP). Die n uwe NP-regering wou sy voorganger se rassebeleid vervang en het geglo die oplossing vir die land se rassevraagstukke lê in 'n apartheidsbeleid. Die NP het hom dus, in samewerking met die Afrikanerparty van N.C. (Klasie) Havenga, bewyer vir die skrywer Alan Paton 'n "nuwe  hemel en aarde" genoem het wat eendag bewondering by die hele wêreld moes afdwing.

Ná die uitmergelende broedertwis en groot vernederings van die voorafgaande jare was die oorwinning van 1948 'n triomf vir Afrikanernasionalisme. Die politikus en diplomaat Wennie du Plessis het later verklaar dat die Afrikaners hulself voorheen as "vreemdelinge in hul eie land" beskou het. Die NP-regering was vasbeslote om die Afrikaners te red uit hierdie ongelukkige situasie wat volgens hulle geskep is deur 'n onheilige bondgenootskap tussen Engelse, swart mense, Indiërs en bruin mense o.l.v. die pro-Britse leier, genl. Jan Smuts. Vir dié regering was die apartheidsbeleid, die aftakeling van bruin mense se poliltieke regte en die verheffing van Afrikaans in die daaropvolgende jare dus in 'n groot mate 'n regstelling van verliese wat Afrikaners gely en vernederings wat hulle verduur het.

Wat was apartheid?

Die eerste keer dat die term apartheid in druk voorkom, is waarskynlik in 'n pamflet van 'n konferensie oor die sendingwerk van die NG Kerk in Kroonstad in 1929. Dit is in die toespraak van ds. J.C. du Plessis van Bethlehem gebruik. In Die Burger kom dit vir die eerste keer in 1943 in 'n hoofartikel voor. Dr. D.F. Malan, leier van die NP, het die term in daardie tyd in die parlement gebruik om te onderskei tussen sy party se beleid en die regerende Verenigde Party se segregasieplan.

In die regeringstydperke van generaals J.B.M. Hertzog en Smuts was Suid-Afrika 'n gesegregeerde samelewing. Swart mense het uiters beperkte politieke regte gehad, skole en woonbuurte was gesegregeerd, die paswet is toegepas om swart mense uit die stede te hou en afsonderlike sport- en ontspanningsgeriewe is gebruik. Aan die ander kant was daar in die Smuts-bewindstyd (1939-1948) 'n toename in die verskeidenheid en 'n verbetering in die vlak van sosiale dienste wat aan swart mense gebied is. Boonop het byna elke regeringsverslag, veral dié van die Fagan-kommissie in 1948, aanbeveel dat swart mense se permanente verblyfreg in die stede amptelik erken moet word. Die NP was vasbeslote om  hierdie denkrigting om te keer en die skeiding tussen wit en swart mense uit te brei.

Hoewel die vernuftige gebruik van die apartheid-slagspreuk 'n rol gespeel het in die NP se oorwinning by die stembus in 1948 was daar nie eenstemmigheid oor die betekenis en implikasies daarvan nie. Uiteindelik het Malan as eerste minister op 2 September 1948 in die parlement verduidelik wat dié nuwe beleid sou inhou. Hy het gesê hoewel algehele gebiedskeiding, of territoriale apartheid, die ideaal is, was dit in daardie stadium nie prakties uitvoerbaar nie weens talle Suid-Afrikaanse bedryfsektore se afhanklikheid van swart arbeid. Nogtans moes afsonderlike sfere vasgestel word, wat nie noodwendig absolute gebiedskeiding sou meebring nie. In hierdie sfere moes elke bevolkingsgroep sy eie ideale en unieke vermoëns optimaal kon ontwikkel.

Die NP-regering was daarvan oortuig dat sosiale apartheid noodsaaklik is vir die behoud van die wit bevolking se identiteit en welsyn. Die eerste maatreël om sosiale apartheid toe te pas, was die Wet op die Verbod op Gemengde Huwelike van 1949. Dit het alle huwelike tussen wit mense en ander rasse onwettig gemaak.

In 1950 is dié wet aangevul met ' n wysiging van die Ontugwet van 1927. Die oorspronklike wet het seksuele omgang tussen wit en swart mense verbied, maar die wysiging het dit uitgebrei na alle gekleurdes. Ad. V.R. Swart, die minister van justisie, het openlik in die parlement verklaar dat die hoofdoel van die wetgewing nie is om immoraliteit aan bande te lê nie, maar om te verhoed dat verdere bloedvermenging tussen wit mense en ander rasse plaasvind.

Om die administrasie van sosiale apartheidswette te vergemaklik, is die Bevolkingsregistrasiewet in 1950 aanvaar. Dit het bepaal dat die bevolking op grond van rassekategorieë geklassifiseer word. 'n Mens se rasindeling is bepaal deur fisieke voorkoms (velkleur), algemene sosiale aanvaarding en aansien. In ooreenstemming met dié wet is rasgegronde identiteitsdokumente uitgereik. Die NP-regering het waarskuwings geïgnoreer dat dié klassifikasiestelsel tot ontbering en smart onder bruin, swart en Indiër-Suid-Afrikaners sou lei. Hy het aangevoer dat dit maar 'n klein nadeel sou wees in vergelyking met die voordele wat 'n duidelik afgebakende samelewing sou inhou.

--- --- ---

Sandra Laing

Min mense verpersoonlik die lyding wat die Bevolkingsregistrasiewet veroorsaak het beter as Sandra Laing. Hoewel al twee haar ouers wit was, is Sandra in 1966 op tienarige ouderdom uit haar skool in Piet Retief gehaal en as bruin herklassifiseer vanweë haar donker gelaatskleur en krullerige hare.

Toe sy 10 j aar later met 'n swart m an trou, het haar familie haar verstoot. Haar pa is dood sonder om ooit weer met haar te praat en haar twee broers het haar vermy. Ná sowat 30 jaar is sy uiteindelik met haar ma herenig. In 2000 is sy soos volg in die Sunday Times aangehaal in 'n artikel oor haar lewe: "In 1966, when I was 10, the pollice came to take me away from the school (Deborah Retief boarding school). Mr. van Tonder, the principal, said I was not White and could not stay. I was taken to the hostel and told to pack my things. Two pollicemen drove met to my father's shop in Panbult. They said I was being expelled because I looked different ... My father cried, I stayed at home for two years.

"In 1976, when there were uprisings against apartheid and the education system, I turned 21 and I thought things would change. I appliled for an identity document then, but it took six years before I finally got my first ID as a Coloured. Until then I could not prove who I was or find work or open an account or do whatever a person has to do.

"Through those years I longed for my famility, just to hear from them. I wrote several letters but they remained unanswered ... Apartheid has ended, and I would like to shake Mr, Mandela's hand for that, but it is too late for me."

--- --- ---

Die Groepsgebiedewet van 1950 was volgens dr. T.E. Dönges, die destydse minister van binnelandse sake, die hoeksteen van apartheid. Die doel van die wet was om afsonderlike  woongebiede vir die verskillende rasse verpligtend te maak. Dit het beteken dat die Unie van Suid-Afrika in duisende woongebiede verdeel sou word sodat die verskillende rasse heeltemal afsonderlik kon woon.

Ondanks Dönges se voorneme dat dié wet billik en sonder diskriminasie toegepas sou word, het dit nie in die praktyk so gewer nie. Dit het later geblyk dat dit een van die wreedste wette was wat ooit ingestel is. Dit het groot weersin gewek omdat dit alle tradisionele eiendomsreg misken en daartoe gelei het dat duisende swart en bruin mense, asook Indiërs, uit hul woonplekke gesit is. 'n Voorbeeld hiervan was Distrik Ses in Kaapstad waar sowat 55 000 inwoners sedert 1966 verplig is om daarvandaan na die afgeleë en winderige Kaapse Vlakte te verhuis.

Die NP-regering wou ook afsonderlike openbare geriewe vir wit mense en dié van ander rasse hê. Die uiteinde van die Wet op Afsonderlike Geriewe van 1953 en daaropvolgende wysigings was die toepassing van sg. "klein apartheid" (teenoor sg. "groot apartheid"). Kennisgewings in oopenbare plekke soos sale, poskantore en kleedkamers het tipies gelui: "Toobank vir nie-blankes", "Ingang vir afleweringsbodes", "Tou vir nie-blanke bediendes" of "Slegs vir Blankes". Deur middel van dié wette is sosiale en kulturele apartheid toenemend in Suid-Afrika toegepas.

Die toepassing van apartheid in openbare teaters het ook gereeld tot absurde situasies gelei en in die mgeeste gevalle die dwingende motiewe van apartheidsideoloë blootgelê. Toe die eerste inryteater (veldfliek) vir bruin mense in 1961 in Wetton naby Kaapstad geopen is, is die parkeerterrein in twee gebiede verdeel: een vir bruin rolprentgangers en een vir wit mense. Dít terwyl almal dieselfde rolprent sou sien.

In 1966 moes die minister van gemeenskapsontwikkeling eers toestemming gee voordat die konsertpianis Jan Volkwyn, 'n bruin man wat kort tevore van Londen na Suid-Afrika teruggekeer het, saam met die Johannesburgse Simfonie-orkes voor 'n bruin gehoor in die bruin voorstad Coronationville kon optree. Die permit het bepaal dat  Volkwyn nie as lid van die orkes kon optree nie, maar net deur die orkes begelei sou word. Daar is ook ooreengekom dat hy nie toegelaat sou word om sosiaal met orkeslede te meng nie en dat hy nie dieselfde kleedkamers as hulle of hul ander geriewe sou gebruik nie.

Nog 'n voorbeeld was toe Shakespeare se drama Othello in 1968 in die Maynardville-buitelugteater in Kaapstad opgevoer is. Die titelrol is 'n swart karakter, maar dit moes deur 'n wit akteur vertolk word.

Die NP-regering het apartheid ook op arbeidsgebied bevorder. Die Wet op Naturelle-bouwerkers van 1951 het die beleid van sg. beskaafde arbeid van die 1920's herbevestig. Dit moes wit en bruin werkers beskerm teen die bedreiging wat 'n oorvloed goedkoop swart arbeiders ingehou het. Onderafdelings van die wet het wit werkgewers verbied om swart mense in diens te neem vir geskoolde werk, soos om stene en matyte te lê, as hulle nie vooraf spesiale verstelling gekry het nie. Die Wet op naturelle-arbeid (vir die oplossing van geskille) van 1953 het swart werkers ook verbied om te staak. Hoewel die wet swart vakbonde nie uitdruklik verbied het nie, het dit sulke arbeidersorganisasies ook nie wetlik erken nie.

In die arbeidsektor was die hoogtepunt van apartheid die Wet op Nywerheidsversoening van 1956. Dit het sekere werkkategorieë gereserveer om die ekonomiese welsyn van werknemers van enige ras in enige onderneming, nywerheid, handelsaak of beroep te beskerm. Dié maatreël is in werklikheid ingestel om die belange van wit arbeiders te beskerm deur mededinging van swaart arbeiders uit te skakel. Swart werkers is beperk tot die laagste ekonomiese vlak. 'n Gevolg van dié wet was bv. dat alle swart hysbakoperateurs in Johannesburg ontslaan deur wit werkers vervang is.

Een van die mees omstrede wette van die NP-regering was die Wet op Bantoe-onderwys van 1953(1). Voor 1948 het swart kinders hoofsaaklik onderrig by kerke of sendinginstellings ontvang, terwyl swart onderwysers uitsluitlik deur hierdie instellings opgelei i s. Die meeste NP-ondersteuners het dit as 'n uiters gevaarlike situasie beskou omdat kwaadwillige buitestanders volgens hulle maklik liberale en "volksvreemde" idees ind ie ontvanglike en ongekunstelde swart kinders se gemoedere kon plant. Hulle was vasbeslote om swart onderwys in 'n apartheidsraamwerk te herstruktureer. (1) By die benaming van wetgewing is die destydse spelwyse van die woord "Bantu" behou.

Die onderwyswet van 1953 het staatsbeheer oor alle swart onderwys gevestig en die staat het dus ook die beheer van bestaande sendingskole oorgeneem. Dit is opvallend dat die departement van nasionale onderwys nie met die verantwoordelikheid vir swart onderwys belas is nie, maar die departement van naturellesake, onder dr. H.F. Verwoerd. In die Senaat se bespreking van die wetsontwerp het Verwoerd verklaar dat swart leerlinge toegerus moet word om aan die toekomstige ekonomiese eise te voldoen. Volgens hom was daar in die wit samelewing nie plek vir swart mense bo sekere arbeidsvlakke nie. In hul eie gemeenskappe sou hulle egter onbeperkte ekkonomiese geleenthede hê.

Verwoerd h et ook aangevoer dat swart mense tot op daardie tydstip altyd onderwerp is aan 'n skoolstelsel wat hulle van hul tradisionele sodiale agtergrond vervreem het. Dit het hulle mislei om die spreekwoordelike "groen weivelde van die blankes" te betree, al was dit nie vir hulle toeganklik nie. Dit sou volgens hom geen nut hê om 'n swart kind aan 'n kurrikulum te onderwerp wat tradisioneel slegs Wes-Europees gefundeerd was nie. Volgens hom sou dit onnodig en absurd wees om swart kinders in gevorderde wiskunde te onderrig as hulle dit nooit in die praktyk sou gebruik nie. Swart kinders moes opgevoed en toegerus word in ooreenstemming met die geleenthede en vooruitsigte wat die lewe hulle bied.

Die Wet op Bantoe-onderwys het heelwat kritiek uitgelok, maar Verwoerd het voet by stuk gehou. 'n Onmiddellike gevolg van die wet was 'n afname in die getal swart studente wat as onderwysers opgelei is: Die getal onderwysstudente het van 8 817 in 1954 gedaal tot 5 908 in 1961. Terselfdertyd het die getalsverhouding tussen leerlinge en onderwysers in swart skole vergroot van 40:1 in 1953 tot 50:1 in 1960. Die eksamenuitslae het in daardie jare ook versleg.

Die grootste kritiek teen Bantu-onderwys was egter moontlik dat terwyl die getal swart leerlinge tussen 1954 en 1965 verdubbel het, daar geen ooreenstemmende toename in staatsbesteding aan swart onderwys was nie. Die besteding aan ellke swart leerling het in daardie tydperk inderwaarheid aansienlik afgeneem.

Bruin stemgeregtigdes verloor hul stem

Die NP-regering het in 1948 met 'n klein minderheid van stemme en 'n klein meerderheid van vyf setels aan die bewind gekom. Plattelandse kiesafdelings is sedert Uniewording belaai met stemme en stedelike kiesafdelings ontlaai sodat 'n plattelandse stem swaarder as 'n stedelike stem geweeg het. Die  nuwe regering het in 1948 'n historiese vrees gehad dat Engelssprekende wit Suid-Afrikaners hul getalsminderheid sou probeer oorkom deur 'n ooreenkoms te sluit met gekleurde Suid-Afrikaners om 'n poliltieke meerderheid te verkry.

Die feit dat die NP aan die bewind gekom het met 'n duidelike mandaat van kiesers om apartheid toe te pas, het meegebring dat die regering 'n afsonderlike pollitieke struktuur vir bruin mense wou skep. Bruin stemgeregtigdes se posisie op die Kaaplandse gemeenskaplike kieserslys is sedert 1910 in die grondwet  van die Unie van Suid-Afrika verskans. Dit kon slegs met 'n tweederdemeerderheidstem in albei huise van die parlement gewysig word.

Die uitslae van die provinsiale tussenverkiesings van 1949 het die NP-regering selfs nog meer vasbeslote gemaak om ontslae te raak van die gemeenskaplike kieserslys in Kaapland. Anders as in die algemene verkiesing die vorige jaar het die Verenigde Party in die provinsiale tussenverkiesings in Bredasdorp en die Paarl oorwinnings behaal. Die NP-regering het hierdie terugslag toegeskryf aan bruin kiesers wat 'n "onheilige allilansie" met die pro-Britse ondersteuners van die VP-opposisie gesluit het.

In april 1951 het die regering die Wetsontwerp op die Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers ingedien waarvolgens bruin mense van die gemeenskaplike kieserslys verwyder sou word. Aangesien die Suid-Afrika-wet van 1909 bruin mense se stemreg verskans het, moes die NP-regering oordeelkundig te werk gaan. 'n Gesamentlike sitting van albei huise van die parlement is aanvanklik vermy en die wetsontwerp is met 'n meerderheid tydens afsonderlike sittings van die Volksraad en die Senaat aanvaar. Op 18 Junie 1951 is die wetsontwerp in 'n Buitengewone Staatskoerant as die Wet op die Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers gepubliseer nadat die goewerneur-generaal dit onderteken het. Hierdie wet is te midde van ongekende protes en betoings uitgevaardig.

Meer as 100 000 kiesers het 'n petisie onderteken wat beswaar teen die regering se onregmatige optrede aangeteken het. Onder leiding van Sailor Malan, die bekende en gewilde Suid-Afrikaanse vegvllieënier in die Britse lugmag wat in die Tweede Wêreldoorlog roem verwerf het, het duisende oud-gediendes en vroue as lede van die Torch Commando in konvooie Kaapstad toe gery om vertoë aan die parlement te rig. Malan het die Torch Commando in 1951 gestig om o.m. die misbruik van staatsmag, sensuur en die verwydering van bruin kiesers van die kieserslys teen te staan. Dit het die regering duidelik ontstel, maar nie van standpunt laat verander nie.

Dit was geen geheim nie dat die VP dié wet se g eldigheid in die hof sou toets. Dit het uitgeloop op drie hofsake. Die sg. grondwetlike krisis wat daardeur veroorsaak is, was ' n uitgerekte en hewige stryd. Die appèlhof in Bloemfontein het die wetgewing verskeie kere uitgegooi, maar dit uiteindelik in 1956 aanvaar.

Dié uitspraak van die appèhof was 'n keerpunt en het 'n nuwe poliltieke era vir Suid-Afrika ingelui. Daardeur is die bruin kiesers van die Kaapprovinsie, wat in die voorafgaande 103 jaar saam m et wit mense gestem het, voortaan tot 'n aparte kieserslys beperk en het hulle aparte verteenwoordiging (deur wit mense) in die Volksraad, Senaat en Provinsiale Raad gekry. Volgens Richard van der Ross, oudrektor van die Universiteit van Wes-Kaapland, was dit die grootste politieke verlies wat die bruin mense tot op daardie tydstip ervaar het.

Die NP het egter baie gewen deur die verwydering van 48 000 bruin kiesers van die gemeenskaplike kieserslys. Dit het beteken dat sekere stedelike setels, waar die grootste konsentrasie bruin kiesers was, na die platteland oorgedra is waar die NP tradisioneel 'n sterk basis gehad het. Die politieke en grondwetlike stryd om die afsonderlike verteenwoordiging van kiesers was gevolglik 'n groot oorwinning vir Afrikanernasionalisme.

Swart mense se status as inwoners van Suid-Afrika

Die rassebeleid in Suid-Afrika sedert Uniewording in 1910 was gebaseer op die veronderstelling dat stedelike swart mense slegs tydelike inwoners is en dat hulle aangemoedig moet word om op hul eie te ontwikkel, verkieslik in aangewese reservate. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het dit d uidelik geword dat hierdie veronderstelling twyfelagtig is.

Die Naturelle-regskommissie, ook bekend as die Fagan-kommissie, het tussen 1946 en 1948 swart mense se posisie ondersoek. Die kommissie het bevind die idee van die algehele segregasie van swart mense is heeltemal onprakties. Die uitvloei van swart mense uit die reservate na die stedelike gebiede kon nie gekeer word nie, maar dit was wel reguleerbaar. Daar moes aanvaar word dat die stedelike gebiede altyd permanent gevestigde swart inwoners sou hê.

Met die bewindsoorname van die NP in 1948 is die meer lilberale en pragmatiese benadering van die Fagan-kommissie verwerp. NP-beleid was daarop ingestel om die aantal ontstamde swart mense in stedelike gebiede te beperk. Die verdere migrasie van swart trekarbeiders se gesinne na stedelike gebiede moes verhoed word en oortollige swart arbeiders moes teruggestuur word na die reservate.

Aanvanklik was daar min veranderings t.o.v. swart aangeleenthede. Adv. E.G. Jansen, die minister belas met naturellesake, was ten gunste van die ou bedeling se meer gematigde segregasiebeleid en het geweier om drastiese apartheidsmaatreëls toe te pas. Dié toedrag van sake het verander toe dr. Hendrik Verwoerd in 1950 as minister van naturellesake aangestel is. Sy aanstelling en dié van dr. Werner Eiselen as sekretaris van naturellesake het die apartheidsideoloë in die regering oor die pragmatiste laat seëvier.

Verwoerd het aan volkome rasseskeiding geglo. Hy het beklemtoon dat swart mense in hul eie gebiede mag ontwikkel tot op die hoogste vlak van selfregering, hoewel hy bygevoeg het dat dit slegs plaaslike selfregering beteken. Hy het in 1951 in die Volksraad verklaar dat al die swart gebiede selfregerend kon word, wat beteken het dat hulle oor hul eie lot sou kon beslis. Al die swart gebiede sou deel van die geografiese en ekonomiese eenheid van die Unie wees en afhanklik daarvan wees. Volgens Verwoerd was dit vanselfsprekend dat die sentrale regering van die Unie die trusteeskap en oppergesag oor al die gebiede sou  hê. Hoewel wit mense altyd die regeringsmag sou behou, was die NP, volgens Verwoerd, ten gunste van plaaslike selfregering vir swart mense in hul eie gebiede.

Met volgehoue ywer en vasberadenheid, het Verwoerd begin om die hele politieke struktuur betreffende swart mense se posisie te hervorm. In 1951 het hy die Wetsontwerp op Bantoe-owerhede ingedien wat gelei het tot die afstaffing van die Verteenwoordigende Naturelleraad. Volgens hom was dié raad 'n misliukking omdat dit swart politieke ontwikkeling op 'n Westerse patroon probeer bevorder het. Voortdurende agitasie deur die raad het samewerking boonop bemoeillik.

Die nuwe Wet op Bantoe-owerhede (1951) het groter erkenning verleen aan tradisionele stamregerings. Opperhoofde en stamkapteins het groter magte in hul gebiede gekry, maar was u iteindelik verantwoordbaar aan die wit owerheid, wat weerbarstige leiers enige tyd kon afdank. 'n Voorbeeld hiervan was toe Albert Luthuli in 1952 onthef is van sy stamhoofskap in die uMvoti-sendingreservaat in Zululand omdat hy geweier het om afstand te doen van sy leierspos in die African National Congress (ANC).

In Verwoerd se stelsel van Bantu-owerhede was daar geen plek vir swart mense in die Unie se wit politieke strukture nie. Swart mense moes hul toekoms nie in die wit tuisgebied sien nie, maar in hul eie onderskeie tuislande. Verwoerd het nooit afgewyk van sy standpunt nie dat swart mense in die stedelike gebiede net tydelike besoekers is, selfs ook wanneer hulle daar gebore is en lank daar gewoon het. Sy beleid is versterk deur die streng toepassing van instromingsbeheer ingevolge die Naturellewet (vir die Afskaffing van Passe en Koördinering van dokumente) van 1952. Dié wet het 'n enkele identiteitsboek ingestel om al die inligting te konsolideer wat voorheen in verskillende dokumente vervat is. Dit het swart vroue ook vir die eerste keer verplig om 'n bewysboek te hê. Dié vereiste het wyd protes uitgelok. 'n Wysiging aan die Wet op Stedelike Gebiede van 1923 is in 1956 aanvaar wat bepaal het dat alle dorpe en stede ind ie Unie outomaties instromingsbeheer moes toepas.

Van al die apartheidsmaatreëls was die paswet en aandklokreël seker vir swart mense die vernederendste. Johan de Wet, destydse redakteur van Rapport, het in 2000 in dié koerant soos volg oor sy herinneringe aan die aandklokreël geskryf: "Dis raar, maar waar, dat in daardie tyd ook 'n aandklokreël in dorpe gegeld het. Om 21:15 in die dorp waar ek grootgeword het, het 'n sirene geloei. Jy kon dit oral in die dorp hoor. Dit het beteken dat swart mense wat later as 21:15 nog op straat was, 'n oortreding begaan.... Mense wat beswaar maak teen beweringe dat swart mense in die apartheidsjare minder regte gehad het as bv. wit boemelaars, vergeet dat sulke omstandighede geheers het. So nie probeer hulle die geskiedenis ontken."

Verwoerd het veral gefokus op die opruiming van sg. swart kolle in stedelike gebiede. Die regering was vasbeslote oor die verskuiwing van dié swart gebiede in apartheidsbelang. Die mees opspraakwekkende opruiming was in die westelike swart woongebiede van Johannesburg, nl. Sophiatown, Martindale en Newclare. Onder die voorwendsel dat dit oor die opruiming van plakkerskampe gaan, is swart mense ingevolge die Wet op die Hervestiging van Naturelle van 1954 uit hierdie buurte verwyder en dikwels na gebiede geneem wat grootliks nog oop stukke veld was. Die vernedering is vererger toe die ontruimde woongebied omskep is in 'n wit buurt wat Triomf genoem is.

Die veslag van die Tomlinson-kommissie, die regeringskommissie vir die sosiaal-ekonomiese ontwikkeling van die Bantugebiede, het een van die mees omstrede debatte ind ie 1950's ontlok. Die kommissie, onder voorsitterskap van die landbou-ekonoom prof. F.R. Tomlinson, moes 'n verslag opstel oor 'n omvattende skema vir die rehabilitasie van die Bantugebiede in die Unie. Die doel was om hierdie gebiede doeltreffend te kon ontwikkel in die sosiale struktuur van elke kultuurgroep.

Luidens die Tomlinson-kommissie se verslag van 1956 was die afsonderlike ontwikkeling van die wit en swart bevolkings die enigste uitweg om rassekonflik in die toekoms te voorkom. Daar is aanbeveel dat die staat ind ie volgende tien jaar sowat £104 miljoen bestee om die swart reservate in selfonderhoudende tuislande te omskep. Dit sou ook help om die toestroming van swart trekarbeiders na die wit gebiede om te keer. As die kommissie se aanbevole program doelgerig toegepas sou word, is beraam dat die swart bevolking in die wit gebiede teen die einde van die 20ste eeu net ses miljoen sou wees.

Uiteindelik het Verwoerd egter die kernelemente van die Tomlinson-verslag verwerp. Hy h et die voorgestelde uitgawes as spandabelrigte afhanklikheidshulp bestempel wat swart ondernemingsgees en selfsorg-inisiatiewe net aan bande sou lê. Volgens Verwoerd sou direkte finansiële beleggings deur wit mense in die tuislande net die integrasie van verskillende rasse bevorder en gevolglik swart mense se eie, tradisionele erfenisse vernietig. Die enigste toegewing wat Verwoerd wou maak, was om grensnywerhede op wit grond naby die swart gebiede toe te laat. Swart werkers sou bedags daarheen kon pendel, maar permanente inwoners van hul eie tuislande bly.

Verwoerd was in daardie stadium nog altyd in die openbaar 'n vurige voorstander van wit oppergesag, of baasskap, in Suid-Afrika. Daar was blykbaar toe nog geen plan om uiteindellik volle onafhanklikheid aan die swart gebiede toe tge staan nie. In Maart 1959 het Eiselen as sekretaris van naturellesake nog ontken dat die swart gebiede toegelaat sou word om volkome onafhanklik te word. Soos sy voorgangers het Verwoerd steeds geglo aan een Suid-Afrika waarin mense die ekonomie sou beheer.

Afsonderlike ontwikkeling

Toe Verwoerd in 1958 eerste minister word, was swart nasionalisme oral in Afrika aan die toeneem. In 1957 het die Britse Goudkus-kolonie die eerste na-oorlogse Afrikastaat geword wat soewereine onafhanklikheid verwerf het. Die antieke benaming Ghana is aanvaar. Daarna het talle ander Afrikalande die koloniale juk afgewerp. Die strydkreet "uhuru" (vryheid) is oral oor die vasteland heen gebruik.

Verwoerd se reaksie op hierdie wekroep en die opkoms van Afrikanasionalisme was om te beklemtoon dat wit oppergesag en baasskap vervang moet word deur 'n beleid van afsonderlike ontwikkeling en vryhede vir almal in Suid-Afrika. Die Unie-regering het onderneem om die beginsel te aanvaar dat swart mense ook die reg het om selfstandig besluite te neem en hul onafhanklikheid te verwerf, terwyl die versekering terselfdertyd gegee is dat wit mense nie deur ander rasse in Suid-Afrika oorheers sou word nie.

In Mei 1959 het Verwoerd die hele land verras deur 'n meesterplan in te dien vir die toekomstige verdeling  van Suid-Afrika in swart en wit gebiede. Volgens die Wetsontwerp op die Bevordering van Bantoe-selfbestuur moes agt tuislande geskep word wat dit vir swart mense moontlik sou maak om hulle ten volle as onafhanklike gemeenskappe te ontwikkel. Daarvolgens is stedelike swart mense aan hul onderskeie gebiedsowerhede gekopper deur middel van stamverteenwoordigers wat deur die nuwe poliltieke eenhede aangestel sou word. Geen permanente verblyfreg sou aan stedelike swart mense in wit gebiede toegestaan word nie, selfs al ils hulle daar gebore en het hulle hul hele lewe daar deurgebring. Daar is aanvaar dat dié verstedelikte swart mense uiteindelik sou terugkeer na hul tuislande.

Die administrasie van die swart tuislande sou gegrond word op die tradisionele stamstelsel. Die regering sou streng beheer uitoefen oor alle aanstellings en hom die reg voorbehou om enige optrede van 'n stamowerheid te veto wat in stryd met die regeringsbeleid is. 'n Kommissaris-generaal sou die NP-regering in elke tuisland verteenwoordig en dit sou sy taak wees om regeringsbeleid te verduidelik en die ontwikkeling van daardie gebied te bevorder.

'n Kernaspek van die wetsontwerp was die afskaffing van die bestaande stelsel van swart verteenwoordiging deur wit mense in die sentrale parlement. Verwoerd het aangevoer swart mense kan nie aanspraak maak op verteenwoordiging in die wit parlement nie aangesien die twee stelsels onversoenbaar is. Boonop sou die teenwoordigheid van swart verteenwoordigers in die parlement volgens Verwoerd net die integrasioniste se idees bevorder.

In parlementêre debatte het Verwoerd beklemtoon dat die regering se skema uiteindelik sou lei tot 'n wit Suid-Afrika met afsonderlike swart eenhede wat polities onafhanklik sou wees, maar deur ekonomiese samewerking tog onderling verbonde aan mekaar sou wees. As die regering se plan nie aanvaar word nie, sou Suid-Afrika volgens hom uiteindelik 'n veelrassige land word waarin die wit bevolking weens getalsterkte deur swart mense verswelg sou word. Verwoerd het ooglopend 'n kleiner wit staat verkies i.p.v. 'n groot staat wat uiteindelik deur swart mense beheer sou word.

Die uiteindelike onafhanklikheid van die swart tuislande en die gepaardgaande verdeling van Suid-Afrikaanse grondgebied, het ongetwyfeld 'n ingrypende verandering in die NP se tradisionele beleid verteenwoordig. Verwoerd se beleid van afsonderlike ontwikkeling is egter wyd gekritiseer, ook uit buitelandse geledere. Kritici het die groot ongelykheid in die verdeling van grond beklemtoon. Die swart tu islande, wat oor die hele Suid-Afrika versprei was, het net 13,7% van die land se oppervlakte beslaan, terwyl die mineraalryke, industriële en vrugbare landbougebiede in wit besit gebly het.

Kritici het ook verwys na die voortgesette onderdrukking van swart nasionalistiese organisasies en die daaglikse vernedering waaraan swart mense onderwerp is weens "klein apartheid"-regulasies. Die sg. Bantoestanbeleid, soos kritici dit genoem het, is beskou as 'n m anier om swart mense te verdeel en oor hulle te heers. Dit het ooreengestem met wat koloniale moondhede elders in Afrika gedoen het, eerder as wat dit - soos Verwoerd te kenne gegee het - 'n anti-kolonialistiese maatreël was wat die swart volkere van Suid-Afrika sou bevry.

Niks het die kloof tussen die internasionale gemeenskap en die Unie van Suid-Afrika so goed geïllustreer soos die toespraak van die destydse Britse eerste minister, Harol Macmillan, op 3 Februarie 1960 in die parlement in Kaapstad nie. Die Britse premier het apartheid en afsonderlike ontwikkeling verwerp. Hy het gesê die Suid-Afrikaanse regering besef nog nie werklik wat die volle implikasies is van die "winde van verandering" wat ná die Tweede Wêreldoorlog oor ontwakende nasionalismes waai nie. Dit het veral op Afrika betrekking gehad.

Suid-Afrika onttrek hom aan die Statebond

Afrikanernasionaliste het lank die ideaal gekoester om die Unie van Suid-Afrika in 'n republiek te omskep. Hulle het in die 1930's en vroeë 1940's 'n republiek voorgestaan wat outoritêr, Christelik-nasionaal en Afrikaans sou wees. Ná die Tweede Wêreldoorlog het die NP egter die gedagte van 'n outoritêre republilek verwerp t.g.v. 'n demokratiese republiek waarin Engelssprekende en wit Suid-Afrikaners ook volle burgerregte sou h ê.

Hoewel verskeie monargistiese staatsimbole mettertyd deur eiesoortige simbole vervang is, het min van die republikeinse ideaal tereggekom voordat Verwoerd aangewys is as eerste minister. Hy was vasbeslote om die ideaal van 'n republliek in sy termyn te verwesenlik. Hy het geglo dat 'n republiek Suid-Afrika se onafhanklikheid sou waarborg, wit eenheid sou bevorder en die raamwerk sou verskaf vir 'n bevredigende oplossing van die rassevraagstuk.

Op 20 Januarie 1960 het Verwoerd in die parlement aangekondig dat wit kiesers gevra sou word om in 'n referendum aan te dui of hulle te gunste van 'n republiek is of nie. 'n Gewone meerderheidstem sou deurslaggewend wees. Die republiek moes - volgens Verwoerd  -demokraties en Christelik wees, terwyl die gelyke behandeling van die twee amptelike tale (Afrikaans en Engels) gewaarborg is en die parlementêre vorm van regering behou sou word. Die amp van goewerneur-generaal sou vervang word deur dié van 'n staatspresident wat deur die parlement verkies sou word. Die staatspresident moes bo partypolitiek verhewe wees en dien as 'n samebindende simbool van nasionale eenheid. Die republiek sou vriendskaplike betrekkinge met Brittanje en ander Statebondslande behou. Suid-Afrika se lidmaatskap van die Statebond is as 'n aparte saak beskou.

Verwoerd se besluit om 'n referendum te hou, was 'n poliltieke waagstuk. Hy was nie verseker van 'n oorwinning nie. Hoewel ddie NP 'n groot meerderheid setels in die algemene verkiesing van 1958 behaal het, het die opposisiepartye in werklikheid gesamentlik meer individuele stemme as die NP gekry.

'n Aantal faktore het egter in Verwoerd se guns getel, soos die feit dat swart en bruin mense, asook Indiërs, nie aan die referendum kon deelneem nie, maar wit kiesers in Suidwes-Afrika (die huidige Namibië) wel. Nog 'n faktor was dat nie alle opposisie-ondersteuners noodwendig teen die voorgestelde republiek gekant was nie. Baie Engelssprekendes was ontsteld oor Macmillan se "Winde van verandering"-toespraak. By implikasie het Brittanje hom gedistansieer van Suid-Afrikaanse beleidsrigtings en hom vereenselwig met opkomende Afrikanasionalisme. Dié persepsie van Macmillan se sg. "verraad" het ongetwyfeld bykomende stemme uit opposisiegeledere vir die republikeinse saak gewen.

In 1960 was daar voorts erge onluste in swart woongebiede oor die land heen, o.m. in Sharpeville, Langa, Mbekweni, Soweto en KwaMashu. Die noodtoestand het etlike maande voortgeduur. Al is die NP-regering vanuit die buiteland veroordeel oor sy optrede in dié verband, het Verwoerd se ondersteuning binnelands toegeneem. Hy is toenemend deur Afrikaners en Engelssprekendes as 'n "bastion teen chaos" beskou. Baie kiesers het eerder 'n ordelike republiek met Verwoerd aan die stuur verkies, as om deel te bly van 'n monargie en 'n Statebond wat deur verdeeldheid oorheers word.

Op 9 April 1960 was daar op die Randse Paasskou 'n mislukte aanslag op Verwoerd se lewe. Die eerste minister se kantoor is oorval met boodskappe van bemoediging en meegevoel. Die mislukte aanslag op sy lewe het bepaalde emosionele en politieke voordele ingehou.

Verwoerd se invloed is verder versterk nadat geweld in die Kongo uitgebreek het toe dié kolonie op 30 Junie 1960 onafhanklik geword het. Die skrikwekkende verhale van moord en doodslag is deur die NP-regering uitgebuit. Volgens die regereing kon net afsonderlike ontwikkeling soortgelyke chaos in Suid-Afrika verhoed.

Uiteindelik het Verwoerd se dobbelspel met die referendum op 5 Oktober 1960 geslaag toe 'n klein, maar besliste meerderheid van 74 580 stemme ten gunste van 'n republiek behaal is. Van die rekkordgetal kiesers (90,5%) wat gestem het, was 850 450 ten gunste van 'n republiek en 775 870 daarteen.

In een opsig was Verwoerd se berekening foutief. Volgens Fred Barnard, sy sekretaris, het hy geensins getwyfel o or Suid-Afrika se voortgesette lidmaatskap van die Statebond nie en het hy die land se aansoek as 'n blote formaliteit beskou. Hy het glad nie voorsien hoe heftig die Suid-afrikaanse apartheidsbeleid deur 'n hele aantal Statebondsleiers, o.a. Jahawarlal Nehru van Indië, Kwame Nkrumah van Ghana en John Diefenbaker van Kanada, verwerp sou word nie. Dit was duidelik dat voortgesette lidmaatskap toenemend ondraaglik vir die Suid-Afrikaanse regering sou wees.

Op 15 Maart 1961 het Verwoerd onverwags op die Statebondskonferensie aangekondig dat hy die aansoek om voortgesette lidmaatskap van die Statebond terugtrek. Dit het plaaslik en oorsee groot opspraak gewek. Wat ' n vernederende verwerping kon wees, het in 'n nasionale triomf verander. Groot skares het op die lughawens van Johannesburg en Kaapstad byeengekom om die eerste minister terug te verwelkom. Ondanks heftige swart opposisie teen die proklamering van 'n republiek, het die beplande wegbly-aksie van swart werkers grootliks misluk en massabetogings het nie plaasgevind nie.

Op 31 Mei 1961 het die Republiek van Suid-Afrika amptelik tot stand gekom en C.R. Swart is op Kerkplein in Pretoria as eerste staatspresident ingehuldig. 'n Nuwe, maar eensame pad het vir die republiek voorgelê.

Die stryd teen apartheid neem toe

Selfs nog voor die NP-regering se bewindsaanvaarding in 1948 was daar toenemende weerstand onder swart mense teen die onderdrukkende landswette. Hul woede was veral gerig op die sg. paswet en die Wet op Stedelike Gebiede.

Die African National Congres (ANC) het die leiding geneem in dié verset. Dr. James S. Moroka en Walter Sisulu van die ANC h et in Januarie 1952 'n ultimatum onderteken waarin hulle die regering gevra het om ses "onregverdige" wette te herroep waaronder die paswet, die Groepsgebiedewet, die Wet op die Afrsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers en die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme. Die ultimatum is verwerp en daar is gewaarsku dat die regering streng sou optree teen diegene wat die landswette oortree.

Dit het swart nasionaliste nie gekeer om 'n versetveldtog, die sg. Defiance Campaign, op 26 Junie 1952 te begin nie. Op daardie dag het ongeveer 250 leiers van die ANC doelbewus die regulasies oor swart mense oortree en die polisie uitgedaag om hulle in hegtenis te neem. Teen die einde van daardie jaar het meer as 8 000 vrywilligers tronkstraf uitgedien weens hul deelname aan die versetveldtog.

Die ANC het ná die versetoptrede saam met die Indian National Congress, die Coloured People's Organisation en die Congress of Democrats ('n linkse wit groep) planne beraam vir 'n nuwe nasionale konvensie wat 'n nuwe grondwet vir die Unie van Suid-Afrika moes opstel. Afgevaardigdes vanoor die land heen het op 26 Junie 1955 in Kliptown, naby Johannesburg, bymekaargekom. Binne twee dae het hulle die Vryheidsmanifes (Freedom Charter) aanvaar. Die manifes het uit die staanspoor bevestig dat Suid-Afrika 'n veelrassige land is wat aan al sy inwoners, swart én wit, behoort.

Die protesaksies van die 1950's is deur die groot bydrae van swart vroue gekenmerk. Die uitbreiding van die paswet in 1952 om swart vroue ook in te sluit, het heftige teenkanting ontlok. Sowat 20 000 swart vroue het op 9 Augustus 1956 in 'n protesoptog by die Uniegebou in Pretoria teen die paswet betoog.

In Desember 1956 het die regering op dramatiese wyse 156 leiers van die ANC en verwante organisasies laat arresteer en hulle van hoogverraad aangekla. Onder die beskuldigdes was Albert Luthuli (president van die ANC), Oliver Tambo, Nelson Mandela, dr. Z.K. Matthews (waarnemende hoof van die Fort Hare-kollege) en Lee Lee-Warden (Naturelleverteenwoordiger van Kaapland). Die meeste van die beskuldigdes het nie-gewelddadige motiewe gehad en dit was duidelik dat politieke oorwegings 'n belangrike faktor in die regeringsoptrede was. Die hoogverraadsaak het met talle onderbrekings voortgesleep tot 1961, toe al die beskuldigdes onskuldig bevind is.

Die druk op apartheid het toegeneem en 'n nuwe generasie woedende jongmense het aangedring op radikale optede. Teen hierdie agtergrond het 'n nuwe groepering in die ANC die beleid van samewerking met ander rassegroepe, veral wit mense, begin bevraagteken. Die idee van 'n veelrassige samelewing is verwerp en daar is aangedring op "Afrika vir die Afrikane". Dié groep het uiteindelik weggebreek van die ANC en die Pan-Africanist Congress (PAC) in April 1958 o.l.v. Robert Sobukwe gestig.

Die PAC het 'n besliste en finale veldtog teen onderdrukking verkondig. Hul strategie was dat alle lede van die organisasie hul pasboeke op 'n bepaalde datum tuis moet los en hulle by die naaste polilsiekantoor moet aanmeld vir arrestasie. Op 18 Maart 1960 het Sobukwe aangekondig dat die PAC op Maandag 21 Maart met 'n veldtog teen die paswet sou begin. Steun vir die PAC se oproep was egter grootliks beperk tot Vereeniging en die Kaapse Skiereiland. Dit was duidelik dat die polisiekontengent in die woongebied Sharpeville, naby Vereeniging, verras is deur die omvang van die oproerige skare wat daar saamgedrom het. Van die polisiekonstabels was onervare en paniekerig. Hulle het blindelings op die dreigende skare losgebrand. Dit het gelei tot 'n slagting waarin 69 mense dood is, insluitend agt vroue en tien kinders, en 180 mense gewond is.

Die Sharpeville-voorval het die veldtogte teen die passtelsel in Transvaal beëindig, maar in Kaapland het die PAC met nuwe vasberadenheid met 'n optog voorgegaan waartydens 30 000 swart mense van Langa na die Kaapse middestad gestap het 'n Noodtoestand is einde Maat afgekondig wat eers op 31 Augustus 1960 opgehef is. In hierdie tydperk is sowat 23 000 mense van alle rasse in hegtenis geneem. Die ANC en PAC is op 8 April daardie jaar tot verbode organisasies verklaar.

Die Sharpeville- en Langa-gebeure, asook die verbod op die ANC en PAC, was 'n keerpunt in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Hierdie twee swart nasionalistiese organisasies se bedrywighede is binnelands ondergronds gedwing en hulle het hul hoofkantore in die buiteland gevestig. Hul ideaal was nou om vryheid deur militêre optrede te verkry. Dié beleidsverandering het die PAC se gewapende vleuel, bekend as Poqo ("suiwer, alleen" in Xhosa), tot geweld aangespoor. Umkhonto we Sizwe ("assegaai van die nasie") is onder Nelson Mandela se leiding gestig as nuwe militante vleuel van die ANC omdat verandering en geregtigheid volgens dié organisasie nie deur vreedsame metodes bewerkstellig kon word nie.

Die Sharpeville-tragedie het verdoemende kritiek en afkeer oor die wêreld heen ontlok. Buitelandse beleggers het hul vertroue in die land verloor, kapitaal is op groot skaal uit die land onttrek en emigrasie het toegeneem.

Die NP verstewig sy greep

Ná Macmillan se "Winde van verandering"-toespraak, die Sharpeville-krisis, die oproer in die Kongo en die verwagte onttrekking van koloniale moondhede aan Afrika, het 'n toenemende aantal wit mense die regerende party in Suid-Afrika as enigste alternatief vir die o pkomende swart nasionalisme beskou. Gevolglik is die NP se posisie aansienlik versterk in die tydperk 1961-1966, die laaste vyf jaar van Verwoerd se termyn as eerste minister.

Dié tydperk het ook saamgeval met een van die grootste ekonomiese bloeitydperke in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Buitelandse kapitaal het weer ingestroom en 'n rekordgetal immigrante het in Suid-Afrika aangekom. Dit het gelyk of die land aanslae van buite maklik sou kon afweer en binnelandse onrus is kragdadig onderdruk. Dit was waarskynlik te verwagte dat Verwoerd die NP in Maart 1966 tot sy grootste verkiesingsoorwinning sou lei. Die uitslag was: Nasionale Party 126 setels, Verenigde party 39 setels en die Progressiewe Party een setel.

Ná die onderdrukking van swart nasionalistiese organisasies soos die ANC en die PAC, het Verwoerd 'n beleid van beloning en straf toegepas. Die beloning was die vooruitsig van 'n blink toekoms in die tuislande, wat onbeperkte moontlikhede vir swart entrepreneurs ingehou het. Dit is in die praktyk verwesenlik toe Transkei in 1976 selfregering gekry het. Die straf was die volgehoue toepassing van instromingsbeheer, veiligheidswetgewing e.a. kragdadige metodes. Verwoerd het dit duidelik gemaak dat, indien die stedelike swart mense nie die t uislandbeleid aanvaar en afstand doen van hul aanspraak op deelname aan wit Suid-Afrika nie, hulle alles sou verloor.

Wat bruin m ense se posisie betref, het Verwoerd die idee verwerp dat hulle sitting in die parlement moes hê. Hulle is bestempel as n "nasie in wording" en die beste wat hulle kon verwag, was die reg op selfregering in hul eie woongebiede. Gelyke behandeling met wit mense was nie 'n opsie nie.

Die regeringsbeleid het wel verander t.o.v. die land se Indiërbevolking. Aanvanklik wou die NP nie permanente burgerskap aan Suid-afrikaanse Indiërs toestaan nie en streng maatreëls is getref om 'n beleid van repatriasie na Indië toe te pas. Net 'n klein aantal Indiërs het van dié aanbod gebruik gemaak. Uiteindelik het die regering in 1961 permanente burgerskap aan Indiërs toegestaan. 'n Departement van Indiërsake is tot stand gebring, maar soos in die geval van die bruin mense is hulle ook aan talle apartheidsmaatreëls onderwerp, bv. die Groepsgebiedewet.

Intussen is die ondergrondse bewegings in 1963 'n swaar slag toegedien toe die polisie op die hoewe Liliesleaf in Rivonia, noord van Johannesburg, toegeslaan het. 'n Grootaantal ANC-leiers is gearresteer. In die daaropvolgende Rivonia-hofsaak het Nelson Mandela, bevelvoerder van Umkhonto (MK), wat in Augustus 1962 aangekeer is, 'n merkwaardige betoog gelewer. Nadat hy verduidelik het waarom MK tot geweld aangespoor is deur die regering se onversetlike houding, het hy opnuut verklaar dat hy bereid is om sy lewe op te offer vir die ideaal van 'n demokratiese, nie-rassige Suid-Afrikaanse samelewing. Hy het o.m. soos volg getuig (vry vertaal in Afrikaans):

"In my lewe het ek my gewy aan swart mense se stryd. Ek het geveg teen wit oorheersing en ek het geveg teen swart oorheersing. Ek het die ideaal gekoester van 'n demokratiese samelewing waarin alle mense in harmonie met mekaar kan saamleef en waarin almal gelyke geleenthede kan hê. Dit is 'n ideaal waarvoor ek leef en waarna ek strewe en wat ek hoop om te verwesenlik. Maar as dit nodig is, is dit 'n ideaal waarvoor ek ook bereid is om te sterf."

Op 12 Junie 1964 is Mandela, Sisulu, Govan Mbeki e.a. skuldig bevind aan die beplanning en uitvoering van sabotasie om die regering omver te werp. Hulle is tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Die NP-regering het die hoogtepunt van sy mag teen 1966 bereik. Die veldtog teen geweld teen apartheid is onderdruk en byna al die leiers van die bevrydingsbewegings was in die tronk, verban of het uitgewyk. Die land het die grootste ekonomiese bloeitydperk in sy geskiedenis beleef. 'n Sterk ekonomie het 'n sterk militêre en veiligheidsmag moontlik gemaak. Wit mense het 'n besonder hoë lewenstandaard gehandhaaf.

Die meeste swart mense het egter swaargekry in moeilike omstandighede en in groot onsekerheid geleef. Die historikus Robin Hallett het geskryf dat min gemeenskappe in die geskiedenis van die verstedelikte mensdo só ontneem is van basiese menseregte as die inwoners van swart woongebiede in die apartheidsjare. "To live in Soweto or any other black township seems to an outsider like living in a barbed wire entanglement, so many are the regulatins which residents are required to observe."

In hierdie doolhof van burokratiese regulasies was die lewe van miljoene mense onder geweldige druk. Die land sou later die bittere vrugte pluk van die NP-regering se beheptheid met die apartheidsideologie en die onwillilgheid om enige betekenisvolle toegewings in die daaropvolgende jare te maak.

David M. Scher

Geskiedenis van Suid-Afrika

Van voortye tot vandag

Fransjohan Pretorius (Redakteur)

ISBN 978-0624-05466-5