Die verkeerde babatjie

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Dis nou al 'n hele paar weke dat klein Bettie in die hospitaal is en almal tuis het haar baie gemis. Mammie het ten minste een maal per dag hospitaal toe gegaan om te verneem hoe dit met haar gaan en elke aand wanneer Pappie van die werk af kom, was sy eerste vraag "Hoe gaan dit met Bettie?"

Dink net hoe bly hulle was toe die matrone een môre bel om te sê dat Bettie nou tot so 'n mate herstel het, dat sy maar kon huis toe gaan en dat die ambulans haar die volgende dag sou huis toe bring!

Eindelik het die ambulans voor die deur stilgehou en Mammie het uitgehardloop, haar gesig stralend van vreugde om  haar liefling te verwelkom.

"Hier is sy, eindelik weer terug," het die verpleegster vriendelik gesê, terwyl sy saggies die babatjie uithaal en haar in Mammie se arms plaas.

"Is dit nie gaaf om haar weer by die huis te hê nie!" het Mammie gesê en met die ou kleintjie styf teen haar gedruk, het sy vinnig die huis binnegegaan.

Toe Pappie die aand kom, was hy net so bly. Hy het haar opgetel en haar op sy skoot gehou totdat hy klaar geëet het.

Tog het daar iets geskeel. Mammie het dit eerste opgemerk, maar Pappie het dit ook gou-gou agtergekom.

"Dit lyk of Bettie 'n bietjie verander het in die hospitaal," het hy gesê toe hulle voor die kaggel sit nadat die kind in die bed gesit is.

"Dit lyk mos vir my ook so," het Mammie geantwoord. "Sy is so rusteloos en sy glimlag glad nie met my soos vroeër nie. Sy huil ook so baie."

"Dis juis wat ek opgemerk het. Sy sit en kyk na my net of sy verbaas of bang kan wees - ek kan nie mooi sê nie. Maar, sy sal seker nog regkom. Miskien is dit omdat sy so lank weg was," sê Pappie.

"Miskien," antwoord Mammie heel onseker.

Daar was 'n rukkie stilte.

"Is jy seker dat dit Bettie is?" het Mammie ná 'n rukkie gevra.

"Ag ja, vroutjie, ek dink so!" het Pappie uitgeroep. "Dink jy miskien dit is nie sy nie?"

Die twee het saam kamer toe gegaan en na die slapende dogtertjie gekyk. Die gesiggie was Bettie s'n, die neus ook, die haartjies lig en vol krulle en selfs die oortjies was nes Bettie s'n. Natuurlik was dit Bettie. Maar Mammie het nog nie heeltemal seker gevoel nie.

Hulle het nog 'n dag gewag. Mammie het alles wat sy kon, gedoen om die kindjie te wys hoe lief sy haar het, maar dit het geskyn of sy niks kon doen om die kindjie haar te laat liefhê nie. Die arme dingetjie het net aangehou huil en wou nie ophou nie. Teen die aand toe Pappie tuiskom, was Mammie byna radeloos.

"Ek voel vanaand positief seker hulle het 'n fout gemaak, ek gaan nou dadelik hospitaal toe," het sy vir hom gesê.

"Wel....ê..." begin Pappie, maar voordat hy nog iets kon sê, was Mammie al by die deur uit.

By die hospitaal aangekom, het sy gevra om die matrone te spreek. Sy het die matrone vertel presies hoe sy voel.

"Onmoontlik! Dis onmoontlik!" het die matrone verbaas uitgeroep. "Dit kon nooit gebeur nie."

Maar Mammie het volgehou en die matrone gevra om haar na die Kinderafdeling te neem. Eindelilk het die matrone ingestem.

Daar was dosyne babatjies van beide geslage; sommige het in hul bedjies gelê, ander het regop gesit, terwyl party sit en speel het. Mammie het tussen hulle deurgeloop, van die een end van die kamer tot die ander en sy het geroep "Bettie, Bettie!". Die meeste het nie eens na haar gekyk nie; sommige het net skelmpies na die matrone gekyk. Party het geglimlag, maar daar was geen Bettie nie.

Hulle was al amper onder uit en Mammie het vir haarself al loop en sê dat sy baie dwaas was, toe 'n stemmetjie skielik uit een van die kinderbedjies roep "Mamma, Mamma!" Dit was Bettie.

Daar was geen fout hier nie. Die klein dogtertjie steek haar armpies uit en Mammie hardloop na haar toe, terwyl die trane oor haar wange rol van vreugde.

Watter vreeslike fout is daar amper gemaak! En hoeveel blydskap was daar nie in die huis toe alles weer pluis was nie!

Daardie aand, net voor hulle gaan slaap het, het Pappie toevallig die volgende woorde uit die Bybel gelees: "Die skape luister na my stem; en hy roep sy eie skape op hulle naam en lei hulle uit, ... omdat hulle sy stem ken. Hulle sal 'n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie." (Joh. 10:3-5)

"Weet jy, ek glo nie ek het al ooit tevore hierdie woorde so goed verstaan nie," het Pappie gesê.

"Nee, ek ook nie," antwoord Mammie.

Slaaptyd stories
Deel DRIE

deur Arthur S. Maxwell

"A 

Om die dam Perderoete