Die verdwyning van Donald

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

Een baie snaakse ding omtrent Donald was die manier waarop hy met tye verdwyn het, gewoonlik juia wanneer Mammie hom baie nodig gehad het.

"Donald, Donald!" het Mammie gewoonlik geroep, maar daar was geen Donald nie.

Soms het sy deur die hele huis gegaan en geroep, dan het sy by die kamervenster uitgeleun en geroep en van die voordeur af en dan van die agterdeur af, maar daar was geen teken van Donald nie.

En dan, wanneer Mammie al baie onrustig geword het, hy stilletjies die kamer binnegesluip waar Mammie besig was, asof niks gebeur het nie.

As Mammie hom dan vra "Donald, waarom het jy nie gekom toe ek jou geroep het nie?" het hy gewoonlik gesê "Ek is jammer Mamma, maar ek het gekom so gou as ek kon."

En as Mammie vra "Waar was jy al die tyd?", was al wat sy uit hom kon kry, "Aaaa, dis 'n geheim!"

Hoe Mammie ook al probeer het om iets uit hom te kry, het sy nie daarin geslaag nie.

Eendag het Mammie nie te gesond gevoel nie en Donald was weer weg.

"Liewe land, waar gaan die seun tog heen? En hoekom verdwyn hy so baie? Ek wens dat h y wou ophou om my so te tempteer wanneer ek moeg is."

Eindelik het hy weer tevoorskyn gekom.  "Donald, hierdie streke van jou moet nou end kry. Ek wou jou gehad het om my te help met die skottelgoed en jy het net my hoofpyn erger gemaak."

"Ek is so jammer, waar is die vadoek. Ek sal sommer nou die goed afdroog."

Vir 'n rukkie het hulle daar saamgewerk en die meeste van die tyd was daar 'n afgetrokke uitdrukking op Donald se gesig. 

Skielik het hy gesê: "Het Mammie gesê dat Mammie hoofpyn het?"

"Ja."

"Is dit baie erg?"

"Ja Donald, dis baie erg."

En toe was daar weer stilte. Die skottelgoed was nog skaars gewas en afgedroog, of hy het weer verdwyn. Hy is stil daar weg en Mammie het nie gesien waarheen hy gegaan het nie.  Na 'n rukkie het sy hom weer geroep vir iets, maar Donald was skoonveld.

"Die kind is alweer weg!" het sy ergerlik uitgeroep. "Maar hy kan nie ver wees nie. Vandag sal ek hom soek totdat ek hom kry."

Sy het geweet dat hy nie die huis verlaat het nie, want sy sou hoor wanneer hy die deur toemaak. Hy moet dus in die huis wees.

Mammie het in die eetkamer gaan kry, onder die tafel, agter die klavier en gordyne, maar hy was nie daar nie. Toe het sy die sitkamer deursoek en daar was hy ook nie. Toe is sy op na die boonste slaapkamers, daar het sy orals gesoek, in die klerekaste en agter al die deure.

In Donald se kamer was daar net 'n tafel en sy enkelbed en daarom het sy nie lank daar rondgekyk nie. Maar net toe sy omdraai om uit te gaan, het sy haar verbeel dat sy iets onder die bed hoor en het Donald se kop daar uitgeloer.

"Donald, o dis waar jy is!" het sy uitgeroep.

"Mamma," het Donald gesê met 'n ernstige uitdrukking, " voel Mammie nou beter...ek bedoel, is die hoofpyn beter?"

"Ja, ek dink so, waarom vra jy?"

Toe het Donald geantwoord: "Ek vra maar omdat ek hier onder die bed vir Jesus gebid het om die hoofpyn weg te neem."

Mamma se hoofpyn het daardie dag gouer weggegaan as nog ooit tevore. En daardie dag het sy ook ontdek waar donald was wanneer hy so verdwyn het.  Onder die bed met Jesus!