Die twee Rinas

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Een

deur Arthur S. Maxwell

Rina Herman was in baie opsigte 'n minsame dogter. Sy het bruin hare en bruin oë gehad en as 'n mens haar kon sien, in haar blou uniform - gereed vir die skool - sou jy dink dat daar nie 'n vriendeliker dogter op aarde was nie.

Maar daar was twee Rinas: die een was Rina van der Huis en die ander een was Rina van der Skool. Rina van der Huis is elke oggend voor die deur van die huis gelaat en weer opgeneem wanneer Rina van der Skool etenstyd huis toe gekom het.

Rina van der Huis was áltyd onvriendelik, suurgesig, ontevrede en ongehoorsaam, heeltemal anders as die Rina wat vir mense buite die huis so aangenaam voorgekom het.

Haar Ma was baie bekommerd en het soms ook bietjie gehuil oor die twee Rinas. Wat kon sy doen? Sy het lank oor die saak gepeins en eindelik 'n plan gekry.

Rina was baie lief vir haar onderwyseres. Aan haar gedrag sou 'n mens kon dink dat sy haar Juffrou meer liefgehad het as haar eie Mammie. Sy het blomme en ander mooi geskenkies met haar saamgeneem om te wys hoe lief sy Juffrou het - en omdat die onderwyseres net vir Rina van der Skool geken het, het sy gemeen dat Rina 'n baie aangename dogtertjie was.

Eendag het Rina van der Skool weer by die huis aangekom en daar voor die deur het sy dadelik verander in Rina van der Huis. Toe sy binnekom, roep Mammie haar: "Sal jy nie asseblief vir my iets by die winkel gaan koop nie?"

Rina van der Huis het kortaf geantwoord: "Nee, ek wil nie, ek is moeg." Eindelik het sy - ná baie teëpraat, darem gegaan. Terwyl sy weg was, het daar 'n besoeker gekom wat ewe stil in 'n hoekie in die sitkamer gaan plaasneem het.

Rina het teruggekom en die goed op die vloer neergesmyt met die parmantige woorde: "Hier is jou ou goed. Ek gaan nou speel."

"Maar, Rina, Mamma is moeg. Sal jy nie gou help om die werkies klaar te maak nie?"

"Nee, ek wil nie!"

"Sal jy nie asseblief vir Mammie die tafel dek nie?"

"Ek wil nie."

"Maar jy moet darem iets doen om my te help. Dek maar vir my die tafel."

"Ek hou niks van tafeldek nie." Toe het sy die deur toegeklap en o, hoe suur was haar gesig nie. Sy het die tafeldoek uit die laai gehaal en dit sommer so ewe slordig oor die tafel gegooi. Brommend het sy die messe en vurke uitgehaal, op die tafel gegooi en haar klaargemaak om weg te stap.
Daar was 'n uitdrukking van ontevredenheid om Mammie se gesig, maar sy het niks gesê voordat Rina begin wegstap nie. Toe sê sy: "Rina, ons het vanaand geselskap vir ete en jy kan haar maar gaan roep - sy is in die sitkamer."  Rina het bleek geword. Sy het omgekyk en gesien dat die sitkamerdeur oop was.

"Maar Mammielief," haar stem het sommer dadelik verander, "die tafel is nie vir besoekers gedek nie."

"Nee Rina, maar dit is vir Mammie gedek."

"Maar mammie, ek wil dit eers beter dek."

"Nee, dis nou te laat, ons besoeker kan nie langer wag nie. Gaar roep haar asseblief dadelik."

Dit was 'n baie bleek Rina wat met bewende knieë sitkamer toe gegaan het. "Mammie sê, sal u asseblief..." Meteens het sy sprakeloos geword. Dit was dan haar onderwyseres!

"O Juffrou, het u alles gehoor wat ek gesê het? Ag toggie," en Rina het begin huil.

"Ek is jammer dat my Rinatjie haar by die huis so anders gedra as by die skool," het Juffrou opgemerk.

Rina het gesnik: "Ek is tog so jammer. Ek sal nooit weer so stout wees nie."

En waarlik, sy was ook nooit weer so stout nie. Daarna was sy nooit heeltemal seker of daar nie dalk iemand in die sitkamer gesit en luister het nie. En dan het Mammie haar ook gewaarsku: "Jesus is die onsigbare gas by elke maaltyd, die stille hoorder van elke gesprek."