Die Swart Napoleon

Met sy waagmoed, sy skerpsinnigheid, sy soms onmenslike wreedheid, was Shaka Zulu ongetwyfeld ook die grootste swart militêre leier in die Suid-Afrikaanse geskiedenis

Dit is bloedig warm. Ietwat geïrriteerd vee die lang, gespierde swartman die sweet van sy voorkop af. Trots kyk hy hoe die regimente met hul skildvelle en spierwit hooftooisels verby paradeer. Dan hef 'n kryger sy assegaai in die lug. Soos een man stamp die soldate hul voete een keer op die grond en die aarde sidder.

"Si-gi-di! Si-gi-di!" dawer die strydkreet uit duisende kele. En dan weerklink die heuwels met die koninklike groet: "Bayete! Bayete!"

Sulke tonele was in die vroeë negentiende eeu onder die Zoeloes geen uitsondering nie. 'n Gedissiplineerde en kragtige koninkryk het die hele Natal en aangrensende streke oorheers en as absolute heerser, meester oor lewe en dood, het die charismatiese Shaka Zulu die septer geswaai. Sy vreeslose dapperheid, sy skitterende militêre talente, skerpsinnige mensekennis en soms onmenslike wreedheid het die Zoeloes as't ware gehipnotiseer. Ofskoon hy voor sy dood baie ongewild geraak het, leef hy vandag nog in die Zoeloes se herinnering voort as die skepper van hul volk en hul grootste historiese held.

Maar wat weet ons van Shaka se lewe? Die detail daarvan is grotendeels gehul in die newels van 'n romantiese mondelinge oorlewering en baie daarvan is vir die historikus feitlik ontbruikbaar. Dit was pas gedurende die laaste paar jaar van sy lewe dat blanke handelaars by Shaka besoek afgelê het en die eerste dokumentêre neerslae hul beslag gekry het. En selfs dit mot krities bekyk word, want die handelaars het met 'n Westerse agtergrond geskryf en nie alles verstaan wat hulle gesien en gehoor het nie.

Waar ons dus, by gebrek aan ander bronne, tog swaar op die Zoeloe-oorlewering moet steun, mot dit net goed in gedagte gehou word dat dit noodwendig gebrekkig en plek-plek foutief sal wees.

Wanneer Shaka gebore is, weet ons nie presies nie, maar dit moet omstreeks 1787 gewees het. Dit was in 'n tyd toe daar nog bitter weinig sprake van samewerking was tussen die Nguni-stamme van Noord-Natal. Elke stam - die Buthelezi's, die Sithole's, die Kumalo's, die Mthetwas, ensovoorts - het op sy eie gebied gewoon. Ondanks die skermutselinge wat af en toe voorgekom het, het hulle in vrede geleef, die bevolking het vermeerder en daar was relatiewe voorspoed en geluk.

Maar omstreeks die eeuwending het die uurglas begin leegloop. Onlangse navorsing dui daarop dat die eeue-lange onoordeelkundige gebruik van die grond die ekologiese ewewig begin versteur het. Erosie het toegeneem, oeste het begin afneem en die bevolking het aangehou groei. Daarby het die reënval sedert ongeveer 1790 afgeneem en dit alles h et i n die eerste dekade van die 19de eeu bygedra tot die verwoestende hongersnood, die Madlathule, wat lank in die Zoeloe-herinnering sou voortleef.

Hoewel hier geen regstreekse bewyse voor is nie, lyk dit logies dat die toenemende politieke vereniging van die Nguni-stamme saamgehang het met die agteruitgang in hul welvaart. Van die sterker stamme het eenvoudig begin om hul swakker bure te oorheers - aanvankllik om die minder wordende lewensmiddele vir hul eie gebruik te verseker, maar later ook om politieke mag te kry. so het daar in dié tyd twee groot konfederasies ontstaan, dié van die Ndwandwes onder Zwide en dié van die Mthetwasonder Dingiswayo.

Shaka self was 'n buite-egtelike seun van Senzangakona, kaptein van 'n klein en onbelangrike Zoeloestam wat onder die heerskappy van Dingiswayo geval het.

Omdat hy 'n buite-egtelike kind was, het Senzangakona geweier om hom te erken. Toe Senzangakona hoor Shake se moeder, Nandi, is in verwagting, was sy antwoord aan die boodskappers: "Onmoontlilk. Gaan huis toe en sê vir die mense die meisie dra net i-shaka ('n kewer)." En so het Shaka aan sy naam gekom.

Dié belediging van sy vader het Shaka besonder swaar getref en vir die res van sy lewe sou hy telkens probeer om homself te bewys. Teen 1809 het hy soldaat geword in een van Dingiswayo se impi's en al gou het hy die aandag getrek. In dié  tyd is gevegte meestal beslis deur mekaar met lang spiese te bestook, maar Shaka was nie hiermee tevrede nie.

Volgens oorlewering het hy 'n bekende smid besoek om vir hom 'n kort steekspies - die assegaai - te maak. Pleks daarvan om twintig tree of meer van sy opponent te staan, het Shaka daarvan gehou om nader te beweer, sy opponent se skildvel met sy eie opsy te stamp en die kort steekassegaai dan met verwoestende doeltreffendheid te gebruik. (Volgens die oorlewering was die kort assegaai 'n uitvindsel van die jong Shaka, maar dit is 'n feit dat die Xhosas al tevore daarmee bekend was.)

Shaka het ook gevind dat sy sandale sy spoed in gevegte belemmer en voortaan sou hy kaalvoet veg. So goed het dié gevegsmetodes gewerk, dat Dingiswayo hom weldra as bevelvoerder van 'n impi aanstel het.

Dit was seker onvermydelik dat die twee konfederasies onder die Noord-Natalse Nguni's, die Mthetwas en die Ndwandwes, in botsing met mekaar sou kom. In die eerste botsing het Shaka, wat sy impi nou volgens sy eie metodes afgerig het, 'n geweldige slagting onder die Ndwandwes aangerig. Hy het by Dingiswayo daarop aangedring dat Zwide met sy hele familie om die lewe gebring word, maar daarvan wou die vriendelike en gematigde Dingiswayo niks weet nie - iets wat hom nog duur te staan souo kom.

Teen ongeveer 1816 het Senzangakona gesterf. Met Dingiswayo se seën het Shaka en sy impi na sy oorlede vader se stat, Esi Klebeni, opgetrek en met dié magsvertoon is Shaka as kaptein van die klein Zoeloestam verkies. Binne 'n maand het hy 'n nuwe kraal opgerig met die naam Bulawayo (Plek van die Slagting) - 'n sombere voorbode van wat nog op Natal gewag het. Kort daarna lyf hy die Lengeni-stam, waartoe sy moeder behoort het, met geweld by die Zoeloes in. Dag ná dag rig hy sy krygers af om van hulle die mees geharde en gedissipllineerde gevegsmag in die ganse Noord-Natal te maak. Hy laat duwweltjies op die kaal veld gooi en lei die soldate dan self kaalvoet heen en weer daaroor om hul voete hard te maak. Daagliks hardloop hulle tientalle kilometers om fiks te raak.

Shaka leer sy soldate 'n heeltemal nuwe taktiek. Tydens gevegte moet hulle in 'n enkele aaneengeslote linie, gedek deur 'n vuur van skildvelle, tot by die vyand beweeg. Dan haak hulle hul skildvelle met hul linkerarms regs agter om die opponente se skildvelle, pluk dit kragtig na links en stoot die kort assegaaie met groot geweld in die opponent se linker-oksels. Vooraf word die jonger soldate soos 'n bul se horings weerskante om die vyand gestuur, waarna die veterane in die sentrum naderstorm om die vyand "grond te laat eet" (dood te maak).

Met dié taktiek sou die Zoeloe-stam binne enkele jare die magtigste swart groepering in Suider-Afrika skep en sy naam aan al die Nguni-stamme in Natal gee. Om sy eie politieke mag te verstewig, het Shaka ook die mag van die toordokters beslissend gebreek. (Dit i s trouens opvallend dat die teenswoordige Zoeloe-toordokter Credo Mutwa in sy geskrifte geen goeie woord vir Shaka het nie!)

Intussen bars die stryd tussen Dingiswayo en Zwide weer los. Deur 'n lils word Dingiswayo egter deur die Ndwandwes gevang en vermoor.

Eensklaps het die situasie vir Shaka en die Zoeloes verander. Die Mthetwa-konfederasie het begin uiteenval en die afsonderlike stamme was vrywel magteloos teen die ambisieuse Zwide wat self heerser van al die stamme wou word. Tussen Zwide en sy ambisie was net een struikelblok van betekenis - die vasbeslote Shaka en die Zoeloes. Geen wonder dat Zwide besluit het om die lastige Shaka eerste uit die weg te ruim nie.

In 1818 h et die Ndwandwe-leër Shaka se gebied binnegeval, maar die Zoeloes was voorbereid op 'n bittere stryd om lewe en dood. Shaka het besef dt sy eie mag hopeloos te swak was vir 'n ope geveg met die Ndwandwes en hy het sy soldate dus op die prominente Qokli-heuwel, net suid van die Wit Umfolozirivier - 'n uitstekende verdedigende posisie - gekonsentreer.

Vir 'n beskrywing van die belangrike slag van Qokli moet ons ons noodwendig verlaat op Shaka se biograaf, E.A. Ritter, wat sy betoog op mondelinge oorlewering gebaseer het. Dié beskrywing is moontlilk oordrewe en hoogs  romanties gekleur, maar dit is al wat tot ons beskikking is.

Volgens Ritter het Shaka sowat 4 300 man gehad teenoor die 11 000 van die Ndwandwe-bevelvoerder, Nomahlanjana (Zwide se seun). 'n Reserwemag van 2 000 man is buite sig van die vyand bo-op die heuwel weggesteek en nog 1 500 man is in vyf of ses linies om die heuwel heen geplaas. Die orige 700 man is gebruik vir 'n lis: hulle is met 'n groot klomp vee suidwaarts gestuur om die Ndwandwes uit te lok om 'n deel van hul mag agterna te stuur en die hoofaanvalsmag tus te verswak. En so het dit dan ook gebeur, want Nomahlanjana het sowat 'n derde van sy leër op dié sinlose jaagtog uitgestuur.

Die eerste dag se gevegte was eintlik maar net 'n opwarmingsproses vir wat sou kom. Die Wit Umfolozi was in vloed en kon net op 'n paar plekke oorgesteek word. Shaka het klein afdelings by al die plekke geplaas en soos die Ndwandwes deur die vol rivier probeer sukkel, het die Zoeloes hulle aangeval en 'n paar harde houe toegedien.

Die volgende dag was die vloed egter verby en Shaka het sy afdelings na Qokli teruggetrek. Die eintlike geveg sou nou begin. Nomahlanjana was onder die indruk dat die Zoeloes net 1 600 man sterk was - die reserwemag was immers buite sig op die heuwel versteek - en hy het gemeen dat sy taak redelik maklik sou wees.

In 'n kring om die heuwel het die Ndwandwes nou opgeruk. Namate die kring nouer geword het, het hulle oor mekaar se voete geval en mekaar begin verdring. Toe hulle naby genoeg kom, bulder Shaka dit uit: "Ayi hlome!" (Te wapen!).

Soos een man staan die 1 600 Zoeloes op en stamp hul regtervoete saam een keer op die grond dat die aarde sidder en beef. "Si-gi-di! Si-gi-di!" klink die verskriklike strydkreet op en toe storm hulle op die vyand af. 'n Verskriklike slagting volg en die Ndwandwes deins terug en retireer. Die Zoeloes neem weer hul stellings in.

Nog drie keer val die Ndwandwes aan en drie keer word hulle met swaar verliese deur die Zoeloes, wat soos besetenes veg, teruggedryf. Dit is bloedig warm en kort voor lank stroom h ondrde Ndwandwe-soldate na die rivier om water te gaan drink. Die Zoeloes self ly geen dors nie, want Shaka het 'n groot watervoorraad en kos op die heuwel laat byeenbring.

Uiteindelik p robeer Nomahlanjana 'n ander taktiek. Hy konsentreer sowat 1 500 soldate en laat hulle in 'n enkele kolonne teen die heuwel opstorm om deur die Zoeloe-verdedigingslinie te breek. Dit was net waarop Shaka gewag het. Terwyl hy sy verdedigingslilnie in stand hou, slinger hy die grootste deel van die reserwemag teen die aanrukkende kolonne en laat hulle van links en regs o msingel. Weer volg ' n vreeslike slagting. Soos besetenes steek,  hak en trap die Zoeloes 'n pad deur die Ndwandwes totdat die hele kolonne uitgewis is. Die stank van die dood hang swaar oor die slagveld en duisende lyke lê verspreid - waaronder ok dié van Nomaghlanjana self.

Maar vrywel onmiddellik het 'n nuwe gevaar oopgeduik in die vorm van die sterk mag wat Nomaghlanjana oorspronklik agter die Zoeloes se vee aangestuur het. Shaka het al sy beskikbare troepe voor Bulawayo gekonsentreer en nog 'n skerp geveg het gevolg. Teen die gedissiplineerde Zoeloes kon die Ndwandwes op die duur egter nie standhou nie en weldra was hulle in volle vlug. Die zoeloes het seëvierend op die slagveld agtergebly. Volgens Ritter het sowat 7 500 Ndwandwes gesneuwel teenoor die 1 500 gevalle Zoeloes.

Die skitterende oorwinning het nie alleen die behou van die Zoeloe-stam beteken nie. Dit het ook beteken dat Shaka Dingiswayo se logiese opvolger was en binne 'n kort tyd was Bulawayo die hoofstat van die nuwe Zoeloe-konfederasie, wat trouens redelik gou 'n egte politieke eenheid geword het, pleks van die losser band van Dingiswayo se tyd. Meer as dertig stamme was nou onder Shaka se heerskappy.

Zwide se mag was egter nog glad nie gebreek nie en hy het op wraak gesin. Sowat 'n jaar ná die slagting by Qokli het hy 'n yslike leër van sowat 18 000 man oor die Wit Umfolozi getuur onder bevel van die uiters bekwame indoena Soshangane. Waar Shaka sy h ande op net 10 000 man kon lê, sou 'n ortodokse veldslag net een uitslag kon hê ' 'n nederlaag vir die Zoeloes. Dit was dus weer eens tyd vir lis.

Shaka het gevolgllik sy h ele gebied van kos laat stroop en dit in geheime plekke laat wegsteek. Die Ndwandwe-leër se veekudde is in 'n blitsaanval gebuit, sodat die invallers, nou al diep in die Zoeloegebied, sonder kos was. In dié omstandighede het Soshangane wyslik besluit om te retineer, nuwe kosvoorrade te kry en dan weer te probeer.

So ver sou Shaka dit n ie laat kom nie. Die nag voor die beplande Ndwandwe-onttrekking het hy 'n paar honderd uitgesoekte soldate die Ndwandwe-kamp laat infiltreer en in die donker het hulle 'n aansienlike getal Ndwandwes uit die weg geruim. In die paniek het die Ndwandwes ook onder mekaar begin veg oordat die rus weer teruggekeer het. Hul moreel is egter aansienlik aangetas en hulle was moeg, honger en bang.

Die volgende oggend het Soshangane die terugtog begin. Maar net toe hulle op weg was, bemerk hulle die Zoeloe-impi's skaars 'n kilometer agter hulle. Albei k ante het hulle dus vir die naderende geveg begin ontplooi.

Deur te maak of hy die Ndwandwes wil omsingel, het Shaka sy opponente gedwing om sy vleuels só ver na weerskante uit te stoot dat albei vleuels van die hoofmag afgesny is. Vervolgens het die Zoeloes op die geïsoleerde vleuels toegeswerm en albei in 'n skerp geveg uitgewis.

Soshangane was egter 'n goeie aanvoerder en hy het sy mag bymekaar gehou en 'n kamp ingerig vir die nag. Maar selfs hy kon die grootste vyand van enige leër - die leë maag - nie beveg nie.

Ná 'n onrustige nag het die Ndwandwes die Umhlatuzi-rivier begin oorsteek. In die proses het hulle gedeeltelik hul slagorde kwytgeraak en dit was die teken vir die Zoeloes om te storm. Man teen m an was die honger en gedemoraliseerde Ndwandwes geen party vir die Zoeloes nie en maklik die helfte van hul mag, dié wat nog nie die rivier kon oorsteek nie, is genadeloos afgemaai.

Terwyl die Zoeloes nou teen die desperate teenstand van die vyand gesukkel het om ook deur die rivier te kom, het Shaka 'n paar impi's na links en regs gestuur om die rivier elders oor te steek. Hulle het ongemerk daarin geslaag, albei na binne geswaai en die Ndwandwes soos woedende duiwels in die flanke getref.

Dit was die laaste strooi. Die Ndwandwe-leër het volkome gedisintegreer en paniekbevange wyd en syd oor die veld gevlug. Sonder genade is hulle agtervolg en in groot getalle om die lewe gebring.

Maar nog was het 't einde niet. Shaka was nie bloot tevrede om die Ndwandwes uit sy gebied te jaag nie - hy het alle beskikbare troepe oor die grens gestuur om Zwide se mag finaal te breek. Net waar  hulle gekom het, het die Zoeloes alle mense - mans, vroue en kinders - vermoor. Zwide self het ternouernood ontsnap, maar sy moeder Ntombazi is gevang en later saam met'n honger hiëma in 'n hut opgesluit - met voorspelbare gevolge!

Zwide is enkele jare later as 'n gebroke man oorlede, maar twee van sy beste aanvoerders, Soshangane en Zwangendaba, het met 'n paar honderd aanhangers die binneland in gevlug en mettertyd hul eie koninkryke op die lyke van tienduisende slagoffers gevestig.

Opeens was Shake nou die onbetwisbare meester van die hele Natal noord van die Tugela.

Nog een keer sou die gevlugte Ndwandwes probeer om wraak op Shaka te neem. Zwide se seun Sikhunyana het in 1826 met 'n groot leër op Zoeloeland toegesak, maar noord van die Pongolorivier het hulle op Shaka en sy impi's gestuit.

Dit is tog interessang om te sien hoe Shaka by elke geveg die situasie opgesom en sy plan op grond daarvan opgestel het. In dié geval het hy 'n uitgelese groep krygers op die middel van die vyandelike front laat afstorm en die hele linie in twee gebreek. Die twee helftes is daarna afsonderlik vernietig.

In die jare tot aan sy dood het Shaka sy leër nog op verskeie ekspedisies uitgestuur. Soms het hy hulle vergesel; soms het hy agtergebly in die nuwe hoofstat wat hy laat bou h t (ook met die naam Bulawayo). Jaar ná jaar het die impi's hul bloedstollende strydkrete vermeng met die doodsroggel van hul slagoffers. Die Nguni-stamme suid van die Tugela is stelselmatig aangeval, verdryf, afgeslag of by die Zoeloes ingelyf. Hul dorpe is afgebrand en die vee weggevoer. Teen 1824 was die gebied tussen die Tugela en die Mzimkhulu, die Drakensberge en die see totaal leeg en verwoes. Hier en daar het groepies Nguni-sprekendes 'n miserabele bestaan in die berge gevoer, nooit seker of hulle die volgende dat nog sou leef nie.

Na die noorde is ook verskeie aanvalle uitgevoer, maar met minder sukses. In die huidige Swaziland het Sobhuza, kaptein van die Dhlamini-stam, die Nguni-stamme in die omgewing verenig - die voorloper van die Swazi-volk - en 'n sterk politieke eenheid gevorm wat Shaka nooit kon oorwin nie. Nader aan die kus, die huidige Mosambiek, is die Zoeloe-impi's gestuit deur gebrek aan kos en die koors.

Shaka se motiewe vir al dié strooptogte was nie maar bloot om sy onbetwisbare bloeddorstigheid te bevredig nie. As koning het hy besef dat sy politieke mag primêr gerus het op die magtige oorlogsmasjien wat hy self tot stand gebring het. Maar as so 'n m asjien nie gereeld geolie en gebruik word nie, roes dit. Dit was dus 'n bose kringloop: om sy mag te behou, moes hy 'n sterk leër hê, en om sy leër sterk te hou, moes dit gereeld ingespan word.

Wat Natal suid van die Tugela betref, is daar aanduidinge dat Shaka die gebied as 'n buffer tussen hom en die Kaapkolonie wou gebruik. Vae verhale oor die militêre krag van die blankes het hom van tyd tot tyd bereik - wat trouens bevestig is toe die eerste blanke handelaars hom in 1824 berek het. Shaka het die blankes altyd baie vriendelik en voorkomend behandel. Een van sy grootste begeertes was om 'n vriendskapsverdrag te sluit met "Jôji" (koning George III van Brittanje), maar dit het nooit so ver gekom nie.

Wat die noorde betref, meen moderne historici Shaka se doel was om beheer te kry oor die handelsroete na die Portugese vesting te Delagoabaai (Port Elizabeth) en dit te behou. Hoewel sy impi's nooit veel militêre suksesse hier kon behaal nie, het die Tsonga-sprekende stamme in die omgewing Shaka se opperheerskappy tog in wisselende mat erken.

Sy eie gebied het gestrek van die Pongolarivier in die noorde tot aan die Tugela in die suide en van die Buffelsrivier tot aan die see. Die ou politieke orde is grotendeels onaangetas gelaat, sy dit dat hy alleen die opperheerser was. Die verskillende stamme het bly voortbestaan, elkeen onder sy eie erflike kapteinskap, maar Shaka het gesorg dat die kapteins lojaal teenoor hom was. Gevalle waar sy heerskappy openlik uitgedaag is - soos in die geval van die Kumalo-kaptein Mzilikazi (sien die volgende hoofstuk) - was uitsonderings.

Dwarsdeur sy ryk is militêre dorpe opgerig, waar die, na skatting, 40 000 tot 50 000 soldate gewoon het. Dingiswayo het al die stelsel begin waarvolgens die soldate volgens hul ouderdomsgroepe in impi's saam gegroepeer is, pleks van volgens etniese herkoms en Shaka het dit so behou. Dit het die integrasie van die strydkragte aansienlik bevorder. Die nuwe rekrute het swart skilde gehad, maar namate hulle ouer en meer ervare geword het, is al meer wit in hul skilde toegelaat.

Die soldate is verbied om te trou voordat hulle verby veertig was, maar seksuele kontak - sonder swangerskap - is beheerd toegelaat. Ná voltooiing van hul diens mog elke soldaat 'n ring om sy kop sit ("ringkop") en kon hy na sy geboorteplek terugkeer en 'n gesin begin. Tydens hul diensplig het die krygers nie net geveg nie; hulle het ook die koninklike kuddes opgepas en in die koning se lande gewerk.

Sommige historici meen dié streng beleid was 'n gevolg van Shaka se latente homoseksualiteit (haas niemand aanvaar die Zoeloe-oorlewering dat hy 'n byna bomenslike minnaar was nie) maar meer onlangse navorsing dui op ander motiewe. Die historikus Jeff Guy stel dit só: "The basis of the king's power lay in the surplus labour he extracted from every homestead withing the kingdom, by means of the military system .... Thus, through the military system, the king was able to draw on the labour of all Zulu men for perhaps a third of their productive lives."

Deurdat die koning voorts kon bepaal wanneer die mans kon trou, kon hy ook die bevolkingsgroei en die mate waarin die grond gebruik is, beheer: "Through the military system the Zulu king was able to influence the most fundamental processes of the kingdom - the process upon which the very existence of the kingdom was based. He could control to an important degree the intensity with which the environment was exploited, the rate of demographic increase and the rate and direction in which the processes of production could expand. The Zulu military system gave the king the means to control the process of reproduction and production within the Zuly kingdom." Gesien die feit dat 'n gebrek aan beheer oor dié faktore enekel dekades tevore tot die verwoestende Madhlatule-hongersnood gelei het, is dit beslis 'n feit van groot betekenis.

Maar, soos dit meestal met feilbare mense gaan, het Shaka se mag na sy kop gestyg. Die relatiewe demokratiese stelsel van voorheen, waar 'n stamkaptein altyd rekening moes hou met die stam-oudstes se wense, het stelselmatig verdwyn. Blanke besoekers het gemerk hoe die koning dikwels, sonder enige aanwysbare rede, mense summier laat doodmaak het - skynbaar bloot omdat hy dit geniet het. Sy raadgewers is uit vrees vir hul lewens gereduseer tot blote ja-broers. Shaka het kontak met sy volk verloor en 'n gevreese en gehate man geword. Die stroom vlugtelinge wat die wyk geneem het na die rebelle-koninkryke" van Mzillikazi, Soshangane en Swangendaba in die noorde het stadig toegeneem. Die dag van afrekening het genader.

In 1827 het Nandi gesterf. Shaka was ontroosbaar en het beveel dat die hele ryk oor haar dood moes rou. Daar mog nie meer geoes word nie en geen man mos sy vrou aanraak nie. Elkeen wat nie genoeg gerou het nie, is doodgemaak. Duisende mense het so gesterf.

Op 'n dag in 1828 kom Shaka se halfbroers Dingane en Mhlangana saam met die koning se raadgewer Mbopha by Shaka aan. Eers het Mbopha die paar boodskappers by Shaka weggejaag; daarna het Dingane en Mhlangana nadergehardloop en Shaka elk met 'n assegaai deurboor.

Volgens Zoeloe-oorlewering, soos opgeteken deur Ritter, het Shaka bitter uitgeroep: "Dit is julle, die kinders van my vader, wat my doodmaak! Wat het ek gedoen, Dingane? Wat het ek gedoen, Mhlangana, dat julle my doodmaak? Julle dink julle sal die land regeer, maar ek sien reeds die swaeltjies (blankes) aankom. Julle sal dit nie regeer as ek dood is nie. Die blankes het reeds aangekom."

Met die bloed wat uit sy mond loop, het Shaka sy rug op sy moordenaars gedraa en waardig na die kraal se uitgang gestap. Toe kom Mbopha nader en steek hom in die rug.

"Hau! Jy ook, Mbopha, seun van Sitayi, jy maak my ook dood! Ek ... Ek ..."

Verder het Shaka nie gekom nie. Die koning van die Zoeloes het omgeval en gesterf.

Welke oordeel moet 'n m ens vandag oor Shaka se lewe vel? vir die meeste blankes is hy waarskynlik niks meer as 'n bloeddorstige en wreedaardige barbaar nie, maar dan moet onthou word dat hy niks bloeddorstiger was as tientalle blanke leiers in die geskiedenis nie - dink maar aan Karel die Grote (wat tienduisende Saksers afgeslag het in 'n poging om dié volk te kersten), Wallenstein in die Dertigerjare Oorlog, Napoleon, Hitler en Stalin.

Vir die Zoloes sal Shaka altyd bekend staan as die vader en skepper van hul volk, 'n groot held. Die politieke en militêre bestel wat hy tot stand gebring het, het stand gehou tot 1879, toe die Engelse die Zoeloeryk vernietig het. Inderdaad het Shaka 'n enorme invloed op die geskiedenis van sy tyd uitgeoefen en hy het bygedra om van Suid-Afrika die unieke land te maak wat hy vandag is. Meer as dit kan seker van niemand in 'n enkele menselewe verwag word nie.

Leopold Scholtz

Beroemde Suid-Afrikaanse Krygsmanne

Rubicon Pers, Kaapstad

ISBN 0 947 00606 0