Die Storm

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

Ken behoort 'n baie gelukkige seun te wees. Was hy dan nie by die see met 'n hele week se vakansie nie? Het hy dan ook nie 'n nuwe grafie en emmertjie gehad nie? En het sy Pappie hom nie ook 'n nuwe bootjie met seile gegee nie> en wat van die heerlike strand om op te speel en die lekker seewater om in te swem? Hy het al hierdie goed gehad, maar tog was hy nie tevrede nie.

Hy het ook net pas 'n baie heerlike ete geniet en nog was hy nie gelukkig nie. Om die waarheid tesê het hy baie rebels, opstandig, gevoel. 'n Mens kon dit sommer op sy gesig sien, want daar was 'n lelike frons op en sy lippe het sommer daar gestaan.

En dit alles sommer oor niks nie - soos gewoonlik. Pappie het hom gevra om op te hou met sy gooiery, want dit het die ander mense op die strand gehinder. Ken het gereken dat hy alle reg gehad het om met klippe op die strand te gooi en Pappie moes hom baie dreigend beveel om op te hou voordat hy dit gestaak het. Dis daarom dat hy nou so vies gelyk het.

"Kom ons bou 'n groot kasteel," het Pappie gesê net om hom weerlekker te laat voel. "Netnou sal dit hoogwater wees dan kan ons sit en kyk hoe dit ons vesting aanval."

"Ek wil nie kastele bou nie," het Ken dikmond gesê.

"Ag kom maar," het Pappie hom gepaai.

"Ek wil nie," het hy bitsig gesê terwyl hy sommer eenkant toe wegstap.

"Nou ja, goed, dan sal ek maar alleen een bou." Hy het toe die grafie geneem en begin grawe.

Ken het sommer aangehou stap langs die strand op. Dit was alles regtig baie snaaks, want hy was maar 'n seuntjie van nege jaar en daar het hy gestap met sy hande in sy broeksakke en met die gefronsde wenkbroue soos iemand wat 'n groot opstand beplan.  Hy het al verder gestap en het nie besef dat die tyd vinnig verbygegaan het en dat hy sy huismense en vriende ver agtergelaat het nie.

Dit het sommer nog gekook binnekant in hom en hy het boos voortgestap. Hy wil by niemand wees nie, het hy gemompel, hy wil alleen wees. Hy wil ook nie met die ander speel nie. Hy wil alleen wees om te maak wat hy wil. Hy kon nou met klippe gooi waar hy wil en wanneer hy wil, want daar was nie ander mense nie. En hy was vreeslik bly daaroor, baie bly!

Op daardie oomblik het hy ontdek dat die lug skielik sommer baie koeler was. Hy het opgekyk na die lug. Netnou het die son nog heerlik geskyn, maar nou was dit agter die wolke en hy het ook gemerk dat die wind van rigting verander het.

Ken het sommer stadiger begin loop. Hierdie verandering in die lug het hom glad nie aangestaan nie. Maar omdraai? Dit sou hy nooit doen nie.

Sowat tien minute later het Ken weer na die lug gekyk, dit was nou heeltemal toegetrek en vol swart, dreigende wolke. Die wind het net hard begin waai. Die see, wat eers so kalm was, het nou begin kook. 'n Dowwe slag het Ken tot stilstand gebring. Die frons op sy gewig was nou weg en hy het baie bleek geword. Hy het glad nie storms gehou nie. 

Die weer het al harder en  harder gedreun. Skielik het 'n verblindende blits die donker wolke verlig, erger as wat hy nog ooit in sy lewe gesien het. Toe was daar 'n verskriklike donderslag, sommer reg bokant sy kop.

Ken het gewip soos hy skrik. Verwilderd het hy rondgekyk vir 'n skuilplek, maar daar was niks. Langs daardie hele struk strand was daar nie eens skuilplek vir 'n voëltjie nie. En toe het die reën begin val!

Die wind was baie sterk en daar was 'n vreeslike geraas soos die groot druppels in die water geval het.

Die arme Ken was baie gou sopnat, want hy het nie eens 'n baadjie aangehad nie. Hy het op sy hurke gaan sit en skuiling soek agter die breekwater. Die weer was verskriklik swaar en daar was harde donderslae.

"O liewe, waarom het ek so ver geloop? Ek wens ek het by die ander gebly. Wanneer sal die weer tog oorgaan?"

Daar was 'n baie harde donderslag en Ken het hom byna doodgeskrik. Dit was te veel vir hom en hy het droewig begin huil onderwyl die water van hom gestroom het.

Wat hoor hy daar? Hy was seker dat hy iets gehoor het. Hy het hom verbeel dat hy iemand hoop loop hier naby hom.  In die verblindende reën het hy oor die breekwater geloer.

Hoera! Ja! Daar het iemand aangekom, hy het 'n sambreel gehad en hy het sommer so vooroor geloop teen die wind in. Ken was nog nooit so bly om iemand te sien nie. Hy het geroep, maar in die wind kon hy skaars sy eie stemmetjie hoor.

Daar was weer 'n harde donderslag net bokant Ken se kop en hy het hom weer lamgeskrik. Maar die voetstappe het al nader gekom. Ken het weer geloer, ja, die persoon was nou baie naby.

Toe het die vraag skielik by hom ontstaan: Sou die persoon hom oor hom ontferm? Sou hy hom help? Sou hy hom toelaat om ook onder sy sambreel te skuuil? Ken was baie verslae.

Die persoon het by hom tot stilstand gekom. Ken het opgekyk, maar die sambreel was nog oor die man.

"Hallo Ken," het die welbekende stem gesê, wat op aarde maak jy daar?"

"O Pappie, het Pappie na my kom soek?" Ken het sommer weer hard begin huil. "Ek is so bly dat Pappie gekom het en ek is baie jammer dat ek so naar was. Ek sal nie weer so stout wees nie."

"Dis alles reg ou seun, ons sal maar alles vergeet. Maar as jy ooit weer so ver wil gaan loop, dan hoop ek dat jy dit nie op so 'n dag sal doen nie."

En toe het Pappie, met Ken aan die hand, teruggestap en hulle het taamlik vinnig gevorder want die wind was nou van agter.   Ken het besef hy het 'n duur les geleer.