Die seun met die lig

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

Van seuns gepraat wat verdwyn - hier is 'n storie omtrent 'n seun wat skielik verskyn en weer skielik verdwyn het en tog sal ek hom en sy vriendelike daad nooit vergeet nie.

Dit was 'n vreeslike aand! Ek was alleen in my motor op weg uit Londen, toe ek skielik in 'n dik bank misgery het. Die mis was so dik dat ek niks voor my kon sien nie, nie eens 'n huis of 'n boom of 'n witstreep of die kant van die pad nie. Die kopligte van die motor het dinge net erger gemaak, want die digte mis het die lig teruggewerp.

Ek het probeer om verder te ry, maar net 'n paar oomblikke later het die wiele teen iets gestamp en ek het gedink dat ek oor iets gery het. Ek het die motor tot stilstand gebring en gaan ondersoek instel in die duisternis en toe ek ontdek dat al vier wiele teen die randsteen van die sypaadjie uitgeklim het!

Ek was vreeslik bly dat ek nie 'n persoon omgery het nie en toe moes ek probeer om weer terug te kom in die pad. Ek het die motor stadig laat terugloop en toe het ek weer daardie stampe voel, het ek geweet dat ek nie meer op die sypaadjie was nie.

Ek het naderhand ook nie meer geweet in watter rigting my motor staan nie, weer terug stad toe of in die pad huis toe. Daar was niks om my te help nie en ek moes maar hoop vir die beste.

"Wel," het ek by myself gedink, "dit lyk of ek die hele nag hier sal moet bly, of ten minste totdat die mis effens opklaar en dit mag eers ure later wees." En - laat ek dit sê - dis glad nie 'n aangename gevoel om in so 'n digte mis op die hoofweg te wees nie. 'n Mens weet nooit wanneer 'n ander motor teen jou mag bots nie.

Op daardie oomblik het daar 'n snaakse ding gebeur. Deur die venster aan my sy het die gesig van 'n seuntjie inteloer.

"Kan ek u help?" het hy hoflik gevra.

"My help! Hoe sal jy my kan help seun? Die mis is so dik."

"Ek dink ek kan - ek het 'n lig."

Toe ek sy lig sien, het ek weer gelag. Dit was sommer 'n goedkoop flitslig wat 'n swak straaltjie lig gegooi het.

"Die kopligte van my motor help nie eens nie," het ek gesê, "hoe sal jy my dan met daardie ou liggie kan help?"

"O, ek sal u wys. Ek sal voorloop en met my liggie wys waar die kant van die pad is. U kan dan u groot ligte teen my rug gooi en ons sal voortgaan."

"Wel, jy is 'n baie vriendelike seun. Ek sal probeer."

En ek het sy plan probeer. Deur baie stip te kyk, kon ek net die vorm van die seun uitmaak waar hy daar aan die kant van die pad geloop het met sy flitsliggie. Ons het stadig voortgegaan. Ek weet nie hoe ver nie - dit was seker meer as 'n myl. Toe het dit skielik ligter geword en ek het geweet ons is deur die ergste mis.

Die seun se plan het dus gewerk. Ek het stilgehou, my kop uitgesteek om hom te bedank en ook 'n beloninkie te gee - maar het het verdwyn! Ek vermoed dat hy teruggegaan het om iemand anders deur die mis te help.

Ek het baie maal later aan daardie seun gedink en gewens dat ek sy naam geweet het. As hy miskien eendag hierdie storie lees, dan hoop ek dat hy dadelik aan my sal skryf. Ek voel gewis dat hy die soort seun is wat God seker baie liefhet - iemand wat ander help sonder dank of beloning.

En daardie liggie wat hy gehad het, laat my dink aan die feit God aan elkeen van ons die lig van Sy Woord gegee het - die bybel - hopende dat ons dit sal laat skyn voor ander wat verdwaal het sodat hulle uit die duisternis van die sonde gelei kan word soos daardie seuntjie my uit die mis gelei het.