Die Piekniek

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Slaaptyd stories
Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell

Dit was wasdag en Mammie was so besig dat sy nie 'n oomblik gehad om aan Dorie te bestee nie.

"Wat kan ek doen, Mammie? Ek het niks om te doen nie," het Dorie geneul.

"Ag, moet my nie so pla nie. Gaan speel nou, gaan blaai in jou prenteboeke. Kyk nou, daar kook die pot oor. Dorie, jy moet nie alewig hier inkom nie. Jy sal verkoue kry van die bedompigheid hier," het Mammie gesê.

Arme Dorie het toe maar geloop en die deur agter haar toegemaak. Sy het nie lus gehad om na prente te kyk nie, want sy het hulle al so baie gesien dat sy moeg was.

Dit was 'n heerlike sonnige môre. Dorie is toe tuin toe. Deur die tuinheining het sy vir Kathleen gesien, die dogtertjie van  hul bure. Sy was net so eensaam soos Dorie en om dieselfde rede, want haar Mammie het ook gewas.

Die tweetjies het die vorige dag rusie gemaak en aan mekaar gesê dat hulle nooit weer met mekaar sou praat nie. Maar Dorie het besluit om Kathleen maar hierdie keer te vergewe en weer maats te wees. Dit was tog so onaangenaam om alleen te wees.

"Kathleen!"

"Wat wil jy hê?"

"Kom laat ons maar weer vriende wees," het Dorie gesê.

"Hoekom?"

"Omdat ek iemand wil hê om mee te speel. Kom ons speel iets."

"Wat moet ons speel?" het Kathleen gevra, nou vol belangstelling. Sy het begin nader staan.

"Wat sou jy graag wil speel?" het Dorie gevra.

"O, iets anders as gewoonlik," het Kathleen gesê.

"Wat?"

"Kom ons gaan piekniek maak, dis so 'n heerlike dag," stel Kathleen voor.

"Goed, dis 'n goeie plan. Maar ons Ma's sal ons nie toelaat nie, ek is seker hulle sal nie," het Dorie geantwoord.

"Laat ons hulle vra," het Kathleen weer voorgestel.

"Hulle is albei besig met was,  hulle sal ons net afjak as ons hulle vra," het Dorie gesê.

"Laat ons darem probeer," het Kathleen aangedring.

Albei dogtertjies was baie verras toe hulle Mammies heeltemal ingestem het met hul planne vir 'n piekniek. Daar was een voorwaarde, naamlik dat hulle nie te ver moes gaan nie en dat hulle die kos self moet klaarmaak. Hulle moes na 'n sekere plek gaan waar hulle gevind kon word as dit nodig mag wees.

Nou was die tweetjies sommer baie gelukkig. Kathleen se Mammie het gesê dat hulle die eetgoed in haar huis kon berei. Kathleen het die brood gesny en Dorie het die toebroodjies gemaak en toegedraai. Sy het hulle in die mooiste mandjie gepak wat sy nog ooit gesien het.

Hulle het ook die klein tentjie geneem wat Kathleen se Pappie vir haar gekoop het en 'n ou kombers om op te sit, sodat hulle nie op die klam grond hoef te sit nie. Natuurlik het hulle ook die keteltjie geneem, want hulle wou 'n regte piekniek hê met alles wat daarby hoort.

Toe is hulle daar weg. Hul Mammies het vir hulle gewaai toe hulle by die hekkie uit is. Hulle was bly dat die kinders so gelukkig was.

Die twee was nie te ver nie of hulle ontdek dat hulle - in hulle haas om weg te kom - die toebroodjies skoon vergeet het en aangesien die kos die vernaamste ding by 'n piekniek was, het hulle gou teruggehardloop om dit te gaan  haal.

Maar baie gou was hulle weer op pad. Hoewel hulle nie te ver moes loop nie, was dit of hulle myle moes loop. Op pad daarheen het hulle aan mekaar stories vertel en hulle het hulle verbeel dat hulle grootmense was.

Eindelik het hulle die plek bereik op die strand. Hulle het die plek goed geken, want hulle was al baie keer saam met hul ouers daar. Maar hierdie keer was dit darem anders en hulle het vreeslik belangrik gevoel.

Hulle het die tentjie opgeslaan. Dit was 'n moeilike werk vir hulle, maar hulle het gevoel dat hulle dit behoorlik moes doen. Ná die tent gereed was, het hulle gemeen dat dit tyd was om iets te eet. Hulle het die toebroodjies wat hulle skaars 'n uur tevore gemaak het, uitgepak.

Hoe lekker het dit nie gesmaak nie! Baie lekkerder as by die huis! Hulle het alles vreeslik geniet. As hul Mammas maar kon gesien het hoe hulle daardie gewone brood en botter geëet het asof dit die heerlikste koek was.

Dit was ook nie lank nie of die eetgoed was op en hulle was nog honger. Dorie en Kathleen het gevoel dat hulle heeltemal te min kos saamgebring het.

Daarna het hulle gespeel en stories vertel. Die middag het gou verbygegaan en dit het tyd geword om in te pak. Hulle het die tentjie en die kombers weer opgevou en met die leë mandjie oor dorie se skouer, het hulle afgesit huis toe.

"Het ons nie 'n heerlike tyd gehad nie?" Het Kathleen gesê.

"Ja, ons het," het Dorie gesê, en gister nog het ons gesê dat ons nooit weer met mekaar sou praat nie."

"Ek is so bly dat ons weer vriende is, Dorie."

"Ja, Kathleen, en ek ook."

Toe hulle om die draai kom, het hul Mammies reeds vir hulle gestaan en wag by die hekkie van Kathleen se huis.

"Ons is so bly dat julle veilig terug is, ons wou julle net gaan soek," het hulle gesê.

Hulle is hartlik tuis verwerlkom en daar het 'n heerlike aandete vir hulle gewag. Daardie aand was hulle sommer gou in droomland - baie bly dat hulle weer maats is en so lekker piekniek gehou het.

Om die dam Perderoete