Die man wat nie kan beweeg nie

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Een

deur Arthur S. Maxwell

'n Tyd gelede het ek gehoor van 'n man wat aan ' n eienaardige soort siekte ly. In die begin het sy bene styf geword totdat hy hulle nie meer kon beweeg nie. Daarna het sy arms styf geword en eindelik sy hande en vingers ook, sodat hy soos 'n stuk hout op sy bed gelê het. Net sy kop is nie aangetas nie en hy kon darem nog praat en dink.

Dit is moeilik om te glo dat so 'n man nog sy werk as assuransie-agent kon voortsit. Hy ht 'n telefoon op so 'n manier aan sy bed laat sit, dat hy met sy kliënte kon praat.

Hy wou eenvoudig nie moed opgee nie. Bokant sy bed was twee kaarte. Op die een was die leuse "Moet jou nie kwel nie" en op die ander die slagspreuk "Hou die blinkkant bo".
Eendag het hy aan 'n vriend van hom 'n brief gedikteer. Daarin het hy gesê: "Ek is nie mismoedig nie. Vandat ek my hande nie meer kan gebruik nie, gaan dit moeiliker om my werk te doen, maar ons maak kort-kort nuwe planne om die moeilikhede te oorwin. Ons is genoodsaak om maar altyd te worstel, maar my verpleegster help my baie." Aan die einde het hy sy naam geteken: "Jou Opgeruimde Vriend."

Wat 'n voorbeeld vir ons almal! As daardie man dan - ten spyte van sy groot moeiikheid - nog opgeruimd kon wees, watter reg het ons om ontevrede te wees?

Weet jy van iemand wat kla omdat sy pap in die oggend nie presies reg is nie, omdat hy verkoue het, of omdat dit reën en hy nie kan gaan speel nie. Dalk ken jy so iemand. Goed, vertel hom dan van die man wie se liggaam so styf soos 'n plank is, maar wat altyd "die blink kant bo hou".