Die Hol Tert

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Een

deur Arthur S. Maxwell

Kasper het die slegte gewoonte gehad om altyd die grootste en beste van alles vir homself te vat. Sy broer, Kalie en Fritz, het hom gedurig daaroor gespot, maar dit het hom nie laat verander nie.

Mammie was baie bekommerd daaroor, want Kasper het die hele gesin altyd op partytjies in die skande gesteek met sy gulsigheid. Wat kon hulle doen? Mammie het oor die saak gepeins en toe met haar suster, wat oorkant die straat woon, daaroor gepraat.
'n Paar dae daarna was die seuns vreeslik opgewonde toe hul Tannie hulle nooi om by haar te kom eet. Hulle het geweet hoe lekker dit altyd daar gegaan het en hulle het gretig uitgesien na die partytjie.

Eindelik het die dag aangebreek waarna hulle almal - en Kasper in die besonder - so lank uitgesien het. Daar was allerhande lekkernye op die tafel - koek, vrugte, jellie, tert, lekkers en nog baie ander eetgoed. Kasper het dit alles goed deurgekyk en gedink: "Ai, ek wens darem dat ek sommer nou kan wegval!"

Onder die vrugte het hy 'n pragtige appel gesien. Dit was seker die grootste wat hy nog gesien het en in sy hart het h y besluit dat daardie appel syne gaan wees. Hy het die ander borde ook bekyk en besluit wat hy gaan neem as die goed rondgegee word.

Toe al die besoekers hul plekke aan die tafel neem, het die ete begin. Volgens gewoonte het hulle almal eers brood en botter geëet, maar Kasper was gou daarvoor moeg. Hy wou daardie groot tert hê wat daar anderkant op die bord was. Sou hy dit gou genoeg in die hande kry, of sou Kalie dit voor hom neem?

Einde is die bord met tert rondgegee. Kalie en Fritz het elkeen 'n kleintjie geneem en begin eet. Kasper het by voorbaat sy lippe afgelek. Daardie vulsel sal seker baie lekker wees. Ag, as hy maar net daardie grote in die hande kan kry, het hy gedink.

Nou was dit Kasper se beurt en daardie groot tert was nog daar! Natuurlik het hy dit dadelik geneem. Maar o wee, wat 'n teleurstelling! Toe hy die korsie sny, sak die hele ding inmekaar. Die tert was hol!

Arme Kasper! Daar was trane in sy oë, maar aangesien niemand oënskynlik gesien het wat gebeur nie, het hy maar die kors geëet en niks gesê nie.

Toe word die koek rondgegee. Kasper het gedink dat hy darem hierdie skoot geregtig was op die grootste stuk, aangesien sy tert so teleurstellend was.  Maar met sy stuk koek was daar ook fout. Buitekant het dit net soos die ander gelyk, maar binne was dit bitter. Kasper kon nie verstaan wat dan nou gebeur het nie. Sy Tannie het het gewoonlik sulke lekker koek gebak en dit het nie gelyk of daar met die ander se koek iets verkeerd was nie. Hy het sommer dadelik gevoel dat dit onregverdig was, maar uit vrees dat die ander vir hom sou lag, het hy maar niks gesê nie.

Eindelik het die vrugte gekom. Kasper was tog alte dankbaar dat sy kant van die tafel die eerste kans sou kry. Hy was seker dat Kalie sy oog op die groot appel gehad het, maar soos die geluk dit wou hê, sou hy die eerste kans kry.

En toe die bord by Kasper kom, het sy hand sommer in die middel van die stapel vrugte ingeboor. Lemoene en pere h et in alle rigtings oor die tafel gerol en sy Ma het in die grootste verleentheid verkeer. Maar Kasper het sy appel gekry.

Sommer dadelik ook het hy 'n groot hap geneem, maar daar was fout ook met die appel. Hy het sy mes geneem en dit middeldeur gesny. Ja, die appel was binne heeltemal vrot!

Oënskynlik het niemand gesien wat Kasper oorgekom het nie en ook niemand het weer vir hom iets aangegee om te vergoed vir sy ongeluk nie. En wat meer is, die ander het heerlik gesit en eet aan hul vrugte.

Ten laaste het die sjokolade aan die beurt gekom en teen dié tyd was Kasper al radeloos. Hy het die twee grootstes op die bord geneem. "Niou sal ek darem vir alles vergoed deur hierdie twee knewels vir my te neem," dink hy.

"Ga!" Kasper het in sy binneste gekreun en van teleurstelling gebloos. "Dit smaak vieslik!" Hy het swaar daaraan gesluk. Toe het hy weer die ander een probeer om die slegte smaak weg te neem, maar dit was nog slegter as die eerste een.

Op pad huis toe het Kalie gepraat van die smaaklike ete. "Smaaklike wat?" wou Kasper weet.

"Dit het vir my gelyk of jy dit nie veel geniet het nie, want jy het so ongemaklik gelyk. Wat het geskort?" vra Fritz.

"Geskort? alles wat ek geneem het, was sleg, ten spyte daarvan dat ek elke keer die beste uitgesoek het," het Kasper sy lot beklaag.

"Wel Kasper," het Kalie weer gesê, "daar lê juis die wortel van die moeilikheid. As ek in jou plek was, sou ek in die toekoms die beste vir iemand anders laat bly."

Daardie nag het Kasper lank wakker gelê en dit om twee redes. Die een was 'n pyn op sy maag en die ander die advies wat Kalie hom gegee het.....'n goeie les!