Die Here se Hande

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Drie

deur Arthur S. Maxwell

Elia het in sy klein tuintjie by 'n sendingskool in Wes-Afrika gewerk, toe hy skielik siek geword het, en hospitaal toe moes gaan. Dit was 'n groot teleurstelling vir hom, want dit was maar nog drie weke voor die jaarlikse inspeksie van al die tuine deur die superintendent, en Elia het gehoop om daardie jaar die prys te kry.

Elke dag het hy hard gewerk, gespit, geplant, bossies uitgetrek en sy uiterste probeer om die mooiste tuin te maak. Maar nou was sy hoop verydel. Terwyl hy in die hospitaal gelê het, het hy gedink hoe die bossies groei - hulle groei baie vinnig in Wes-Afrika - en sy hele tuin inneem. Die inspeksiedag het nadergekom en hy is nie toegelaat om op te staan nie; dus was daar nou geen hoop meer dat hy sou wen nie. Die ander seuns het seker hard gewerk in hulle tuine om hulle mooi te laat lyk. 

Natuurlik, het hy gedink, was dit nie sy skuld nie; hy het sy bes gedoen, en hy was seker dat die superintendent sou verstaan. Maar intussen het iets gebeur waarvan Elia niks geweet het nie. Daniël, Elia se vriend, het 'n blink gedagte gekry. Hy het self ook deelgeneem aan die wedstryd, maar hy het gedink dat dit darem te jammer was dat al Elia se kanse bederf is deur sy siekte. Hy het dus met die ander seuns daaroor gepraat, en hulle het besluit om net 'n klein deeltjie van hulle tyd elke dag te bestee aan Elia se tuin, totdat die groot dag aangebreek het. 

Alhoewel hulle dus nog geprobeer het om hulle tuintjies die beste van almal te maak, het hulle hierdie bietjie ekstra tyd en liefde bestee aan die seun se tuin wat nie meer deur homself versorg kon word nie. 

Einde ten laaste het die inspeksie-dag aangebreek. Elia was nog in die hospitaal en daardie dag het hy mismoedig gevoel. Hy kon sy tuintjie oortrek van die onkruid sien. Hy kon hom voorstel hoe die superintendent daar kom en sê: "Wie se tuin is daardie wat so vol onkruid is?"
En dan kon hy een van die seuns hoor sê, "O, dis Elia se tuin."

Dis tog te jammer, het hy gedink, dat dit nou moes gebeur na al sy werk - en hy het geweet dat hy harder gewerk het as al die ander seuns. Maar daar was niks wat hy nou daaraan kon doen nie. 

Elia het al slegter en slegter gevoel. Maar skielik het die kamerdeur oopgegaan, en tot sy verbasing het die superintendent en 'n klomp seuns ingestap gekom . Wat sou dit beteken? 

"Ons het jou kom gelukwens," het die superintendent gesê. "Jy het die prys vir die mooiste tuin vanjaar gewen."

"Ek?" het Elia gesê, en sy oë het wyd gerek. 

"Ja, jy," het die superintendent gesê. 

"Maar - maar - dit staan seker vol bossies?"

"Nie toe ek dit netnou gesien het nie," het die superintendent gesê.

"Maar - hoe - wat - ? het Elia gestamel. 

"Dis alles reg," het Daniël gesê. "Ons is almal bly jy het die prys gekry. Jy sien, die Here het nie die bossies in jou tuin laat groei nie, want jy het verdien om te wen; Hy het geweet dat jy harder gewerk het as ons almal."

"Ek dink dit is reg," het superintendent gesê; maar ek dink Hy het mensehande gehad om Hom te help."

Toe hulle hierdie woorde hoor, het die seuns gelukkig gelag en uitgehardloop na hulle werk toe.