Die held van Thaba Bosiu

In die gevaarlikste krygsituasies het Louw Wepener nie vir sy burgers gesê "Storm!" nie, maar "Volg my!"

"Ek aanvaar die betrekking as kommandant op voowaarde dat julle my die belofte sal doen dat elke burger hom manlik sal gedra en dat julle my bevele sal gehoorsaam. Wanneer ons op gevaarlike plekke kom, sal ek julle nie toeroep 'Gaan, burgers!' nie, maar 'Kom, burgers!'. As ons in Basoetoland moet omkom, laat ons sterf soos helde en nie soos lafaards nie!"

Dit was die woorde van 'n Louw Wepener aan sy burgers - woorde wat hy teen sonsondergang op 15 Augustus 1865 teen die hange van Thaba Bosiu met sy lewe sou vervul.

Lourens Jacobus Wepener, in die omgang net as Louw bekend, is op 21 Julie 1812 gebore en was net soos sy vader op jeugdige leeftyd heeltemal wees. Toe hy tien jaar oud was, is sy moeder oorlede en vier jaar later ook sy vader. Dit verklaar waarskynlik waarom hy reeds van jongs af besonder selfstandig en op eie inisiatief gehandel het.

As kind het hy blyke van 'n helder verstand getoon. Hy was bevoorreg om op Graaff-Reinet in die bekende skool van William Robertson, die latere doktor in Teologie en NG-predikant, onderrig te word. Uit dokumente blyk dat hy in staat was om Hollands en Engels ewe goed te skryf en waarskynlik ewe goed te praat. Daar is gesê dat hy selfs ook 'n bietjie Duits en Frans geken het.

As koersvaste mens, iemand wat met oorleg beplan en 'n sterk spaarsin openbaar het, sou hy weldra selfstandig begin boer. Reeds op 23-jarige leeftyd neem hy as waarnemende weldkornet aan die Sesde Grensoorlog (1834-35) deel. Hy openbaar gedurende die stryd groot persoonlike moed, wat sommige as voortvarendheid wou afmaak.

Vóór die uitbreek van die Sewende Grensoorlog (1846-47) het Louw se drie broers, Frederik, Jacob en Ernst, by die Groot Trek aangesluit, maar met die Britse anneksasie van Natal het hulle teleurgesteld die gebied verlaat en besluit om maar weer na die Noordoos-Kaap terug te trek. Hier het Louw hulle gaan opsoek en by die Stormberge aangetref, waarop hy besluit het om hom ook in hierdie streek te vestig.

Hy verkoop sy plaas in Somerset-Oos se wêreld en lê toe tussen Dordrecht en Aliwal-Noord die plaas "De Nek" aan. As 'n vermoënde man is hy later in staat om ook die aangrensende plaas "Zuurvlakte" aan te koop.

Met die uitbreek van die Agste Grensoorlog (1850-51) is Louw Wepener as veldkornet saam met 'n klompie koloniste van Aliwal-Noord opgeroep. Sy besadigde leierskap en onverskrokke optrede het by sy mede-koloniste vertroue gewek. Sy militêre insig tydens die stryd het daartoe bygedra dat hy deur die owerheid as kommandant oor die koloniste aangestel is. Hierdie rang sou h y behou totdat hy die kolonie in 1862 verlaat het.

Met die totstandkoming van die Vrystaatse Republiek op 23 Februarie 1854, toe die Britse owerheid die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier aan die oorspronklike blanke inwoners teruggegee het, is die grens tussen opperhoof Msheshwe (Mosjesj) en sy onderhorige Basoeto-kapteins nooit na behore vasgestel nie. Van sy eerste bestaansjaar sou die jong Republiek te worstel hê met grensoorskryding, aanhoudende veediefstalle, eiendomsbeskadiging en selfs moord. Die bodem van die staatskas was altyd sigbaar. Iets soos 'n weermag was daar nie en die burgers was bra onwillig om gedwonge of vrywillige kommandodiens te lewer.

Toe die eerste staatshoof, pres. J.P. Hoffman, Msheshwe sonder toestemming van die Volksraad 'n vaatjie kruit skenk om sy goedgesindheid te verseker, het dit soveel opslae veroorsaak, dat hy genoodsaak was om te bedank. Die bekwame pres. J.N. Boshof is in sy plek verkies. Terwyl hy besig was om 'n ordelike staatsadministrasie op die been te bring, sou hy aan die een kant te doen hê met 'n hewige agitasie om die Vrystaat weer by die Kaapkolonie ingelyf te kry, en aan die ander kant met Msheshwe en sy Basoetovolk, wat die neergelegde grense nie wou eerbiedig nie.

Ná al die onderhandelinge en vele mooipraat het pres. Boshof en die Volksraad se geduld opgeraak. In Maart 1858 is teen Msheshwe en sy kapteins oorlog verklaar.

Ten spyte van 'n proklamasie van die Britse Siviele Kommissaris van Aliwal-Noord, John Burnet, wat die koloniste met 'n swaar boete en tronkstraf verbied het om die Vrystaters in enige opsig in hul stryd teen die Basoeto by te staan, het Wepener daar en dan besluit om gewapend die toestand in die suidelike dele van die Vrystaat te gaan verken. Ná 'n kort besoek is hy terug na sy plaas, om binne 'n week met 'n wa, tent, wapens, ammunisie en 'n voorraad voedsel by die Vrystaatse kommando's op te daag. Aktiewe deelname is hom ontsê, want kort daarna is 'n wapenstilstand gesluit.

Reeds tydens die Agste Grensoorlog het Louw Wepener met die Britse koloniale beleid van gelykstelling tussen die Kaapse pandoere en die blankes van nader kennis gemaak. Dit sou hom egter grief en toe die blankes in 1854 hul eie republiek in die Vrystaat tot stand bring, het sy hart daarheen begin trek. Herhaalde kere sou hy die Vrystaat besoek en hul republikeinse staat het by hom al hoe meer byval gevind. Wat die Vrystaters van die Basoeto te verdure gehad het, het tydens en ná die Eerste Basoeto-oorlog die skaal laat oorhel om daarheen te verhuis, maar die finale besluit sou nog 'n ruk lank uitbly.

'n Paar maande later koop hy vir ongeveer £4 500 die plaas "Heidelberg" wat voorheen deel uitgemaak het van die gronde van kaptein Lepui waarop ook 'n sendingstasie van die Paryse Sendinggenootskap gestaan het. Die plaas lê net noord van die dorp Bethulie, wat kort daarna gestig is, maar Wepener sou die plaas tot "Constantia" herdoop. 'n Jaar of wat later sou hy ook die aangrensende plaas, "Moordenaarspoort", vir ongeveer £2 600 aankoop. Wepener se lot as boer was nou volkome by die Vrystaat ingewerp.

Die Traktaat van Aliwal-Noord, wat in 1859 deur bemiddeling van die goedgesinde Kaapse goewerneur, sir George Grey, tussen die Oranje-Vrystaat en opperhoof Msheshwe gesluit is, het die grensgeskille tussen die twee state nie opgelos nie. Msheshwe sou niks doen om sy onderhorige kapteins en onderdane teen te gaan om die Vrystaatse burgers van hul vee te beroof, gesaaides te plunder, eiendom te vernietig, moord te pleeg en groot stukke grond te beset nie.

Die nuwe staatshoof, pres. T.N. Brand, was vasbeslote om die Basoeto-vraagstuk eens en vir altyd op te los sodat die Vrystaat in rus en vrede tot 'n modelstaat kon ontwikkel. Hy het hom eers tot die Kaapse goewerneur, toe sir Philip Wodehouse, gewend om opnuut die grenslyn tussen die Vrystaat en Basoetoland te kom aanwys. Msheshwe is ernstig vermaan om sy onderdane in toom te hou en die grond wat hulle onwettig beset het, te verlaat. Toe die Kaapse goewerneur se vermaninge in die wind geslaan is, is pres. Brand geen ander keuse gelaat as om oorlog te verklaar teen die Basoeto nie.

Die Vrystaatse militêre organisasie was dié keer behoorlik vir gebeurlikhede voorberei. Die kommandowet het bepaal dat elke distrik sy eie kommandant uit die weerbare mans tussen sestien en sestig jaar moet kies. Kmdt. Gert Venter, kommandant van die distrik Bethulie, was egter met 'n vrag wol na Port Elizabeth toe landdros S.P. de Beer van Bethulie opdrag gekry h et om 150 burgers op te roep.

In opdrag van die landdros kom die gekommandeerde bugers van Bethulie op die plaas "Klein Bloemfontein" bymekaar. Tesame met belangstellendes was daar sowat 350 aanwesig. Onder die belangstellendes was Louw Wepener om vir sy twee opgekommandeerde seuns, Frederik en Lourens, die nodige te voorsien. Die landdros beveel toe die burgers om in afwesigheid van Venter 'n waarnemende kommandant aan te wys. Toe Wepener aanbeveel is, is dit met luide toejuiging begroet, maar sy seun, Frederik, stel toe - waarskynlik op aandrang van sy vader - 'n sekere Henning Joubert voor. Hierop laat landdros De Beer 'n streep op die grond trek en versoek al die burgers om aan die suidekant daarvan te staan. Die opdrag was toe dat almal wat vir Wepener as kommandant was, na die noordekant van die lyn moes oorstap. 'n Groot gejuig het weer opgegaan en die burgers het mekaar letterlik verdring om oor die lyn te stap. Niemand het aan die suidekant bly staan nie. Louw Wepener is eenparig tot waarnemende kommandant verkies.

Hierop klim hy op 'n wa en rig tot hulle die woorde wat aan die begin van hierdie artikel aangehaal en waarvan die slot in die oorspronklike Hollands herhaal word: "Ik zal u in gevaarlijke plaatzen niet toeroepen 'gaat', maar 'komt aan'. Gij moet u dapper gedragen en indien wij in 's vijands land moet sterven, dan moeten wij sterven als h elden en niet als lafaards."

Hy het hom daarop na die landdros gewend en hom bedank vir die vertoue wat in hom gestel is en dié woorde toegevoeg: "Ik zal mijn plicht doen." Woorde, volgens pres. M.T. Steyn, van 'n man, kom wat wil, wat sy plig sou doen.

'n Ooggetuie sou later die volgende van Louw Wepener getuig: "Dit was verbasend om die invloed te sien wat die man dadelik oor sy burgers gehad het. Hy skyn 'n man te wees wat gebore was om te gedien en te gehoorsaam te word, in ander woorde, 'n volksleier deur die Voorsieningheid self verkies."

Binne 'n uur nadat hy tot kommandant verkies was, was die 150 burgers in die saal en op pad na hul bestemming. Twee dae later sou Louw Wepener by die afdeling op pad na Letsoane aansluit. Terwyl nog by die kommando teen Letsoane was, is oorlog teen Msheshwe verklaar. In die stryd wat voorgelê het, was daar vir 'n Louw Wepener nie meer iets soos omdraai nie.

Op 13 Junie 1865 was die Vrystaatse magte voor die stat van Paulus Moperi gekampeer, waar J.I.J. Fick tot hoofkommandant gekies is. Die volgende dag is 'n aanval op die stat van stapel gestuur, maar nieteenstaande 'n h eweige geveg, het dit onbeslis geëarna gehou is, was al die offisier met uitsondering van Wepener van oordeel dat dit roekeloos sou wees om die stat te probeer inneem. Vir Wepener was dit noodsaaklik dat Moperi se stat ingeneem moet word. Indien die vyand nie dadelik weer aangeval word nie, sou dit aan hulle selfvertroue gee en die burgers ontmoedig. Hy het aangebied om met vyftig man en nog 'n honderd vrywilligers die stat te bestorm, maar onder die voorwendsel dat daar nie genoeg ammunisie in die laer was nie, is sy voorstel van die hand gewys.

Agterna gesien, was Wepener se siening volkome reg en as daar na hom geluister is, sou die oorlog waarskynlik heel anders verloop het. Die ander Basoeto-kapteins wat in Basoetoland reg gesit het vir 'n grootskaalse inval iln die Vrystaat, het slegs op die uitkoms van die aanval op Moperi se stat by Mabolela gewag. Toe die kommando's na Korannaberg terugval, was dit die teken om langs die hele Basoetogrens oor te steek en met roof en doodslag op die onbeskermde boereplase toe te slaan.

By Korannaberg is besluit om die Vrystaatse strydmag in drie te verdeel. Hoofkmdt. Fick sou met kommando's die sentrale deel van die grens dek om die distrikte Winburg en Bloemfontein te beskerm.

'n ander afdeling onder kmdt. C. de Villiers sou noordswaarts na die distrikte Bethlehem en Harrismith beweeg, terwyl dit kmdt. Wepener se taak was om na die suide die distrikte Smithfield en Bethulie te beskerm. Ook vanuit hierdie rigtings moes Basoetoland ingeval word en soos tydens die vorige oorlog by Msheshwe se hoofstat en vesting, Thaba Bosiu, verenig met die oogmerk om dit in te neem.

Hierdie reëlings is deur pres. Brand getref en het onderskeidelik De Villiers, Fick en Wepener as h oofkommandante van hul afdelings aangewys.

Terwyl Wepener van Korannaberg op pad na Bethulie was om gou 'n draai by sy plaas te gaan maak, het Poshuli en Morosi op 20 Junie met hul inval in die distrikte Caledonrivier en Bethuli begin. In die proses is dertien blankes vermoor en meer as honderduisend skape en 'n groot getal beeste en perde weggevoer. Soortgelyke invalle het in die distrikte Bloemfontein, Harrismith en Winburg plaasgevind.

Noordwaarts is die invallers afgesny en die gebuite vee weer teruggehaal, meer in die suide het die krygers van Pshuli en Morosi, ten spyte van opgestelde wagte langs die grens, daarin geslaag om met hul groot buit weg te k om. Die kommandant van die Smithfieldse afdeling wou egter nie toelaat dat die burgers deur die Caledonrivier trek om die vee te gaan terughaal nie.

Dit het groot ontevredenheid veroorsaak. Daar was byna oproer in die Smithfield- en die Bethulie-laer en landdros De Beer van Bethulie moes hom soontoe haas om die orde te herstel. Sy poging het egter misluk. Op pad terug na Bethulie kom hy kmdt. Wepener teë, wat juis op pad na sy plaas was. Die volgende dag haas Wepener hom na die laer, waar hy met groot vreugde deur die burgers begroet word. Met sy aankoms is die orde en vertroue spoedig herstel, want hulle was oortuig dat daar nou 'n m an in die laer was wat tot die aanval sou oorgaan.

Wepener was nie iemand wat gras onder sy voete laat groei nie. Daar is dadelik voorbereidings getref vir 'n inval in Basoetoland. Op 10 Julie is Louw Wepener opnuut deur die burgers eenparig tot hoofkommandant oor die kommando's van Philippolis, Bethulie en Smithfield verkies. Dit het hom aan die hoof van byna 700 burgers geplaas. Hy het ook nog die steun gehad van die Smithfieldse Vrywilliger-Artilleriekorps met 'n kanon, "Ou Grietjie", onder bevel van Robert Finlay, en sowat 190 Fingo's onder Lukas en Massyn wat hul lot by die Vrystaat ingewerp het.

Wat veral in Wepener se laer opgeval het, was sy aandrang op orde. Sy skerpe oog het alles raakgesien en hy het elke leemte of gebrek in die organisasie ontdek. Die laer se beweging na die grens is ook deur hom gereël. Voordat die laer vir die nag kamp opslaan, het hy verkenners uitgestuur om driwwe na te sien en 'n geskikte kampplek te soek. Gewoonlik is om die kamp 'n sooiwal opgewerp waaragter tydens 'n onverwagte aanval skuil gehou kon word. Wepener het gewoonlik self daarmee gehelp en in geen stadium van sy burgers iets geëis wat hy nie bereid was om self te doen nie. Ook die wagte op die grens is behoorlik georganiseer en 'n kommandant is oor hulle aangestel.

Dat Wepener oral in die Vrystaat groot aansien geniet het, blyk uit die feit dat in die koerant De Vriend toe al van hom hoë verwagtinge van hom gekoester is. Omdat die mediese behoeftes vir Wepener se kommando afgeskeep is, skryf 'n korrespondent in die koerant dat sy kommando soos ' n weeskind behandel word, maar "zoolang Wepener aan het hoofdt blijft", sal die "krachtige en ruwe j ongeling" sy weg deur die Basoeto-oorlog vind.

Op 13 Julie 1865 staan Wepener se mag voor Poshuli se vesting, wat as onneembaar beskou is. Die berg was omring deur hoë kranse en slegs twee voetpaaie het tot die gelykte bo-op die berg gelei. Wepener het die noodsaaklilkheid besef om hierdie bergvesting in te neem en sy burgers was daartoe bereid, maar omdat dit so gevaarlik was, het die krygsraad besluit dat dit die volgende oggend slegs deur vrywilligers bestorm moes word. Poshuli self het betyds padgegee en één van sy onderkapteins, Lebenja, met 'n sterk mag op die berg agtergelaat.

Om halfses die oggend sou Wepener met 340 burgers en 200 swartes onder dekking van "Ou Grietjie" die berg te voet bestorm. Nadat 'n paar goedgemikte bomme bo-op die berg beland het, het "ou Grietjie" egter die gees gegee en moes sy na die laer teruggeneem word. Aangevoer deur die onverskrokke Wepener, word die berg onder koeëlreën bestorm, want die Basoeto was self met gewere en ammunisie goed bewapen. Die dapper bestormers is soos springkane teen die voetpaaie op en binne anderhalfuur het die Vrystaatse Vierkleur bo-op die berg gewapper.

Van die vyand het sestig gesneuwel. Aan die Vrystaatse kant is een Fingo gedood en twee burgers en twee swartes gewond. Meer as 500 beeste, 4 500 skape en 150 perde is buitgemaak. Wat Wepener ontstel het, was dat 'n aantal swart vroue en kinders ook in die geveg gedood is, maar dit was onvermydelik omdat hulle saam met die vegtende krygers in die skeure skuiling gehou het.

Daardie middag het die burgers eenparig 'n voorstel van kmdt. Finlay aanvar om hul dank aan hul generaal, Louw Wepener, te betuig vir die wyse waarop hy die geveg hanteer en gelei het.

Van Vegkop, soos Poshuli se vesting voortaan bekend sou staan, het die kommando na Kornetspruit voortbeweeg, waar laer opgeslaan is. Wepener se strategie was om vir sy laer 'n goeie en veilige standplaas uit te kies en dit as basis te gebruik vanwaar sy manskappe te perd uittrek om vinnige strooptogte in die vyandige gebied uit te voer. Op onverwagte plekke slaan hy toe, net soos genl. C.R. de Wet dit 35 jaar later met sy kommando's sou doen. Vanaf Kornetspruit is lilnks en regs geslaan en verskeie statjies van Poshuli en Morosi verniel. Diegebied tussen die Oranje- en die Caledonrivier is gaandeweg skoongevee en die Basoeto-krygers het in die rigting van Thaba Bosiu begin uitwyk.

Uiteindelik het Wepener se mag voor Letsea se stat te staan gekom. Die mans het dié stat verlaat, maar hulle op die berg teenaan die stat gaan verskans. Vroeg die oggend van 31 Julie ry Wepener, soos gewoonlik voor aan, met sy manskappe die nou voetpad teen die berg uit. byna bo teen die berg uit, was sy beroemde bevel, nie "Storm!" nie, maar "Volg my!"

Die geveg onder Wepener se heldhaftige leiding het feitlik die hele dag geduur, maar teen sononder was die vesting verower. Die buit bo-op die berg was só groot, dat die opgawes daarvan verskil. Een bron meld dat 13 000 beeste, 12 000 skape en bokke en 1 250 perde aangekeer is, diere wat meestal voorheen van die Vrystaters beroof is.

Om sy sukses te bekroon, proklameer Wepener met advies van sy krygsraad die grond van Bamboesplaats ten ooste van Pampoenspruit in 'n reguit lyn tot drie myl ten ooste van Letsea se verowerde stat en van daar in 'n reguit lyk noord tot aan die Caledonrivier. Die gebied wat voorheen deur verskeie kapteins van Msheshwe bewoon is, het feitlik die grootste gedeelte van die grond tussen die Caledon- en Oranjerivier ingesluit.

Van hierdie slagveld het Wepener se mag noordwaarts in die rigting van Thaba Bosiu getrek, waar hoofkmdt. Fick reeds volgens die oorspronklike opdrag aan die voet van die berg gelaer was. Onderwys daarheen is vanuit 'n kloof by Korakora 'n aanval op Fick se magte uitgevoer. Wepener het opdrag gekry om die kloof te bestorm, wat met 'n verminderde mag gedoen is, omdat hy 'n honderd man moes afstaan om al die gebuite vee van Vegkop te versorg. Die lang en wye kloof is weer eens met sukses bestorm en duisende stuks vee buitgemaak, terwyl die Basoeto-krygers met die kloof op oor die berg gevlug het waar sowat 120 waens agtergelaat en vernietig is.

Op 7 Augustus 1865 kom Wepener met sy mag by Fick aan, wat intussen 'n ewe suksesvolle veldtog teen die Basoeto in die sentrale gedeelte van Basoetoland geloods het. Fick se groot kommando was reeds sedert 25 Julie by Thaba Bosiu gelaer. Die kommando het sedert die verowering van die stat Berea feitlik niks te doen nie en die ledigheid het 'n nadelige uitwerking op die manne gehad. Baie wou h uis toe en hulle is met moeite gekeer.

Met die aankoms van die drie kommando's, dié van kmdte. Jan Fick, Cornelius de Villiers en Louw Wepener, is sake nog verder vertroebel. Kmdt. De Villliers het voorgestel dat uit die drie 'n kommandant-generaal gekies moet word, maar Fick het geweier op grond van die feit dat hy eerste as hoof aangestel is. Om onenigheid te vermy, het Wepener die krygsraad daarop gewys dat die die taak van die Staatspresident as opperbevelhebbe4r was om die Kommandant-generaal aan te wys. Fick wou hom nie hierby neerlê nie en het toe die krygsraad verlaat, waarop Wepener De Villiers aangeraai het om die saak voorlopig so te laat, aangesien Fick die soort mens was wat met sy kommando sou terugtrek as hy nie sy sin kry nie.

Vir almal was dit egter duidelik dat ten spyte van die suksesse wat die kommando's tot dusver behaal het, die oorlog nie tot 'n beslissing gebring sou kon word voor Msheshwe se vesting, Thaba Bosiu, oorwin is nie.

Reeds die dag ná Wepener en sy kommando in die laer aangekom het, het Fick besluit om 'n aanval op Thaba Bosiu te loods - met ander woorde, sonder veel oorlegpleging tussen die bevelvoerende kommandante. Wepener se taak was om 'n smal hoogte aan die suuidekant van Thaba Bosiu te beset wat 'n goeie geleentheid gebied het om die berg met 'n Whitworth-kanon te bestook, terwyl 'n kommando onder kmdt. Smith van Smithfield die berg langs 'n voetpad aan die suidelike gedeelte van Thaba Bosiu sou bestorm.

Reeds voor die aanval het Wepener Fick gevra of dit moontlik was om langs die voetpad tie top van die berg te bereik, waarop Fick geantwoord het dat hy op grond van goeie inligting "ja" kan antwoord. Louw Wepener het tydens die slag sy opdrag knap uitgevoer, maar die opdragte is gewysig sodat sy manskappe ook by die direkte bestorming van die berg betrokke was. Geweldige rotse het die sogenaamde voetpad versper en omdat die burgers wat die berg moes bestorm, weinig ondersteuning ontvang het, het die moed ontbreek om tot op die rotse te klim, soos enkeles wel gedoen het. Al genade was om van die berg terug te val.

Wepener se afdeling het die swaarste gely. Onder sy mense was daar tien gewond. Toe die kommando's teen 2 nm in die laer aankom, het Wepener kmdt.-genl. Fick sterk aangespreek oor die blinde voetpad, waarop hy kortweg geantwoord het: "Dan was ek verkeerd geïnformeerd."

Die gebrek aan dissiplilne en ondersteuning het die burgers hul eerste nederlaag in die oorlog laat ly. Dit het die krygers van Msheshwe met nuwe moed vervul en toe pres. Brand die volgende dag in die laer aankom, het dit hom al sy moeite gekos om die burgers moed in te praat en hulle daarop te wys dat die Vrystaat nooit rus en vrede sou hê solank die Basoeto's ongestraf bly nie.

Van die aanval op die berg is voorlopig afgesien en kommando's is uitgestuur om oral in die klowe van die Maluti-berge van die vyand se vee te gaan bymekaar maak. Hoewel Wepener daarteen gekant was omdat hy van oordeel was dat Thaba Bosiu eers verower moet word, het hy tog daaraan meegedoen.

Soos by 'n vorige geleentheid sou Wepener weer hier deur 'n oënskynlike nietige maar sprekende daad toon watter edele hart hy in hom omgedra het. Voorheen, ná die bestorming van Vegkop, het hy twee ronddolende Basoeto-klonkies in die veld aangetref en sy eie rantsoen aan hulle afgestaan, met die gevolg dat hy self byna 'n volle dag sonder kos moes bly. Nou weer met die vee se vangs het hy in 'n sekere kloof die agtergeblewe swart vroue laat roep en sowat driehonders skape en bokke, asook 'n klompie koeie en kalwers, uitgekeer sodat hulle en hul kinders melk en slaggoed sou hê en nie verhonger nie.

Ná hierdie opruimingswerk het die krygsraad besluit om op Dinsdag 15 Augustus weer 'n aanval teen Msheshwe se vesting te loods. Blykbaar is ook die tweede aanvalsplan nooit vooraf in besonderhede uitgewerk nie. Die meeste voorbereidingswerk is klaarblyklik eers op die slagveld self gedoen.

Die bestorming van die berg, wat op 'n plek bekend as "Die Geut" - 'n opening tussen die twee kranse - onder die dekkingsvuur van die kanonne sou geskied, het minstens 1 200 burgers geverg, maar slegs 550 vrywilligers het hulle kom aanmeld. Die ontbrekende getal is toe opgekommandeer, maar almal se name moes eers opgeskryf word om aan hulle ná die oorlog die geleentheid te bied om die beste plase uit te soek in wat later bekend sou staan as die "Verowerde Gebied".

Dit alles het soveel tyd in beslag geneem, dat eers laat die oggend van die 15de met die krygsverrigtinge begin is. Daar is besluit om die mag in drie afdelings te verdeel. Die regterkantse afdeling sou die linkerkant van die beskanste berg beskiet en die linker-afdeling weer die regterkant, terwyl die middelste afdeling die berg sou uitklim.

Toe aan kmdt. Louw Wepener gevra is watter afdeling hy wou lei, was sy antwoord: "Dit is vir my om't ewe waar ek moet gaan." Daar is egter besluit dat hy die middelste en gevaarlikste taak moes aanpak.

Teen eenuur die middag was die berg nog nie bestorm nie en Fick het gelas dat die berg nie meer daardie dag aangeval moes word nie, maar dat die kommando's dit moes omsingel en die vee aan die hange bymekaar moes maak. Kort daarna is die bevel weer gewysig en het Wepener opdrag gekry: "Val die berg aan. Klim op en neem hom!"

Hierop het Wepener hom na sy burgers gewend: "Burgers, dit is laat, maar ek het bevel gekry om die berg te neem. Diegene wat my lief het, volg my!" Onder die dekking van vyf kanonne en ook die ondersteuning van 500 Barolongs en 400 Fingo's het Wepener, vergesel van kmdte. Venter en Wessels - gewis nie minder dapper as Wepener nie - met tussen 300 en 500 man die berg begin uitklim. Soos gewoonlik was Wepener heel voor.

Met die inname van die eerste skans teen die berg het dit redelik maklik gegaan. Toe die tweede ry skanse met Wepener nog steeds aan die voorpunt egter ingeneem is, was daar nog net sowat 120 burgers wat bereid was om hul kommandant end-uit te steun. Hierop het Wepener vir Fick dringend om versterking gevra, maar nòg hy, nòg die ander kommandante kon van die burgers beweeg om tot by die tweede skans te storm. Fick het toe besluit om self met honderd Fingo's hulp te gaan verleen, maar dit was reeds te laat.

Wepener het intussen die derde skans onder hewige geweervuur van die Basoeto's en swaar rollende rotsblokke van bo bereik. Die kruin van die berg was in sig. Onder die dappere burgers wat by hom was, was onder meer 'n klompie Engelssprekendes wat ook hul lewe vir die Vrystaat feil gehad het en teenoor één van hulle sou Wepener sy laaste heldedaad verrig. Hy het die seun van kmdt. Finlay, wat in die bevel van die kanonne was, uit 'n gevaarlike posisie weggeruk en homself daarin gestel. Feitlik onmiddellik daarna is hy deur 'n koeël in die hart getref.

Laat die middag van 15 Augustus 1865 het Louw Wepener se eie woorde in vervullilng gegaan: "Laat ons dan sterf soos helde!" Toe sy getroue agterryer, Jacob Stolz, 'n bruinman, die sterwende Wepener agter 'n rots wou intrek, is ook hy doodgeskiet. Enkele burgers, o.a. Owen, Kolbe, Hanger, het saam met kmdt. Wessels die laaste skans bereik, maar toe Wessels ook lig geword raak, word besluuit om terug te val. Die burgers ondertoe het in panier begin padgee toe skreeuende en juigende Basoeto's op hulle afstorm.

Terwyl die dalende son sy skaduwees begin werp, is Wepener o p die berg in die hande van sy vyand agtergelaat.

Oor wat met die lyk van Louw Wepener gebeur is, baie gerugte versprei en heelwat bespiegel. Die aanneemlikste is die verhaal van John Burnet, die Britse Siviele Kommissaris van Aliwal-Noord, wat kort ná die slag Thaba Bosiu besoek en die lyk van Wepener gesien het. Volgens hom sou Msheshwe bevel gegee het dat sy lyk oopgesny moes word, sy hart verwyder, gebraai en deur die jong kapteins geëet moes word sodat hulle net so dapper soos Wepener kon word.

Brunet verklaar dat hy Msheshwe se seun George odrag gegee het om Wepener se lyk te begrawe en dit ná die oorlog aan die familie terug te besorg. 'n ander bron beweer dat die geneesheer van die Paryse Sendinggenootskap, dr. Lautré, opdrag gegee het dat Wepener se oorskot bo-op die berg begrawe moet word, maar Wepener se oudste seun, Dick, verhaal self hoe hy met behulp van George sy vader en Adam Raubenheimer se beendere ná die vredesluiting in April 1866 in 'n sloot onder klippe sowat twaalf tree van waar hulle gesneuwel het, weer opgespoor het.

Die beendere is plegtig op Wepener se plaas "Constantia" in die Bethulie-distrik begrawe. In 1941 is 'n gedenkteken met Wepener se borsbeeld oor sy graf opgerig.

As 'n aanvoerder op die slagveld sterf, word hy gewoonlik as held uitgesonder, maar dit moet in gedagte geho7u word dat nege ander saam met hom teen die hange van Thaba Bosiu gesneuwel het en ook as dapper helde gereken moet word. Hulle is John Horspoole, S. Daniel, Wilhelm Hoevels, Gert Joubert, Dorus van Eeden, Adam Raubenheimer, Johannes Dry, Jacobus Engelbrecht en die reeds gemelde Jacobus Stolz. Onder die swaar gewondes was kmdt. Venter, Willem Smit, George Hudson, J.M. Howell, T. Webster en ene Barrington, asook vyf Barolongs.

Die dood van Louw Wepener en sy makkers was 'n hewige terugslag vir die Vrystaters. Die oorlog het nog maande voortgesleep en eers met die Verdrag van Thaba Bosiu, nog steeds Msheshwe se vestig, is op 3 April 1866 aan die stryd 'n einde gemaak. Die vrede was kortstondig, want 'n jaar later breek die Derde Basoeto-oorlog uit. Voordat Msheshwe behoorlik oorwin kon word, is Basoetoland tot Britse protektoraar verklaar.

Van oral het huldeblyke vir Louw Wepener ingestroom. Die krygsraad se besluit het soos volg gelui: "De krijgsraad gevoelt zich diep getroffen door het onvergetelik en onherstelbaar verlies, geleden dood de dood van zijn voorzitter, wijlen onze Divisie-Kommandant, de ed. heer L. Wepener, die zo manmoedig en roemvol voor zijn land mocht sneuvelen in de bestorming van Thaba Bosigo."

Die gewonde Howell, 'n Engelsman, sou later in De Vriend van Wepener o.m. soos volg getuig: "De  man die door zijn openhartigheid nooit vreesde zijn opinie uit te spreken en te verdedigen, zelfs al liep hij gevaar om gehaat te worden door kleingeestigen - hij die door zijn persoonlijke dapperheid zijn burgers aangevuurd had - de man daarenboven die, gedreven door een edel patriotisme, zijn huis verlaten had, tezamen met zijn zoons en schoonzoons, die allen trachten het edel voorbeeld van hun vader te volgen - deze man offerde zijn leven op..."

Aan Wepener se weduwee skryf pres. J.H. Brand: "Hij heeft een aaneenschakeling van dapper daden verricht die zijn naam aan het late nageslacht zullen voorhouden als een voorbeeld van moed, beleid en getrouwheid. De staat verliest veel."

In die Vrystaatse Volksraad sou hy o.m. die volgende hulde aan hom bring: "Groot is het verlies dat wij door zijn dood geleden hebben. Lang blijve zijn naam in ons aller geheugenis, als een man die door allen werd hooggeacht en geëerd."

Pres. F.W. Reitz het in een van sy allervroegste Afrikaanse gedigte reeds in 1877 Wepener se dood o.m. soos volg besing:

Sal vreemde digters ons verhaal / van hulle grote helde, / en sal ek in mij ei'e taal / Louw Wepener nie vermelde? // Hij leg op Thaba Bosigo, / gên grafsteen sal hij verge. / Sij monument het God gebou, / die bouheer van die berge.

Aan die einde van 'n uitvoerige lewenskets van Louw Wepener wat deur regter M.T. Steyn, later Staatspresident van die Oranje-Vrystaat, in De Boerenvriend Huisalmanak gepubliseer is en waaruit waardevolle eerstehandse getuienisse vir hierdie artikel gehaal is, skryf hy: "Zie daar het leven en sterven van Louw Wepener, aan wien, met de andere dapperen, wij Vrijstaters veel te danaken hebben. Het is door hun dapperheid en zijn sterven dat wij vandag trotsch kunnen zijn dat wij Vrijstaters zijn. Het is waarachtig geen oneer om landgenoten van Louw Wepener te zijn."

Die slotstrofe van 'n anonieme gedig wat kort ná sy dood in De Vriend verskyn het, lui soos volg:

Alzoo ging Louw Wepener henen / in de lente van zijn kracht.

Maar Goddank! terwijl wij wenen, / roept hij tot zijn nageslacht:

"Vrijstaat! Als men u durft honen / met dien naam van lafaard ... zwijg.

Donkerberg bezingt uw zonen, / roemt hun fierheid in den krijg."

M.C.E van Schoor

Beroemde Suid-Afrikaanse Krygsmanne

Rubicon Pers, Kaapstad

ISBN 0 947 00606 0