Die geheimsinnige letters

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

"Wel," het Juffrou Fourie een môre in die personeelkamer uitgeroep, "ek het nog nooit so 'n stout klompie kinders soos die Nels bymekaar gesien nie. Hulle het my gisteraand vir ete uitgenooi, maar van maniere aan tafel weet hulle absoluut niks nie."

"Arme Mevrou nel!" het Juffrou Steenkamp gesê, "dit is seker 'n probleem om drie soos Sophie te hê."

"Ek sou so dink," het Juffrou Fourie gesê. "Ek wens net jy kon sien hoe hulle hul kos gryp. Elkeen sorg net dat sy die beste van alles kry. Hulle eet glad met hulle messe!"

"Die arme vrou het seker te veel om te doen," het Juffrou Steenkamp gesê.

"Miskien  het sy," kom dit van Juffrou Fourie, "maar nogtans dink ek dat sy haar kinders beter maniere moet leer. Hulle sal swaar kry om te verander as hulle eers groot is."

As die onderwyseresse net maar geweet het hoe hard Mevrou Nel probeer het om haar drie woelwaters goeie maniere te leer. Sy het opgemerk hoe sleg hulle hul gedra het toe Juffrou Fourie daar was en dit het haar seer gemaak.

"Wat sal die onderwyseres van julle dink?" het sy gevra sodra die deur agter Juffrou Fourie toegegaan het. "Ek skaam my oë uit my kop vir julle; ja, vir julle almal! Sophie, jy kon tog terwyl jou juffrou hier was 'n beter voorbeeld gestel het. Jy was vreeslik stout. Ek julle kan my glo hier sal nie weer gou iemand by ons kom eet nie. Dus hoef julle my glad nie weer te vra nie."

"O Mammie," het Meisietjie gesê, "ek wou dan so graag volgende week vir Juffrou Steenkamp nooi."

"Nee, glad nie!" het Mammie uitgeroep. "Nie na vanaand nie! Voordat julle nie geleer het om julle beter in geselskap te gedra nie, word niemand weer na hierdie huis genooi nie...klaar!"

"Maar as Sophie vir Juffrou Fourie kon nooi, kan ek mos ook...." het Meisietjie begin.

"Ek sê mos: nie voordat julle ophou om julle soos barbaartjies te gedra nie," het Mammie driftig gesê.

Niks is verder gesê nie, maar Mammie het ernstig gepeins. Wat kon sy doen om haar kinders hulle beter te laat gedra voor vreemdes? Gewoonlik gedra hulle hul goed, maar sodra iemand kom kuier, word hulle opgewonde en vergeet hulle al hul maniere. Dit lyk asof hulle geweet het dat Mammie hulle nie voor besoekers sou berispe nie en hulle het dus net soos hulle wou tekere gegaan.

Verskeie dae het Mammie oor hierdie saak gepeins, want sy het geweet sy moes 'n oplossing vind vir haar probleem. Sy moet nie weer so in die skande gesteek word nie. Eindelik het sy een môre 'n baie goeie plan gekry. Die hele dag lank het sy dit haarfyn beplan en toe die kinders van die skool af huis toe kom, was haar plan gereed.

Hulle het almal gedink dis 'n baie oulike idee en het saamgestem om dadelik te begin oefen. Meisietjie was veral baie ingenome daarmee, want Mammie het beloof dat as hulle help, sy sou instem om Juffrou Steenkamp volgende Woensdagaand vir ete uit te nooi.

"Nou het jy jou kop in 'n bynes gesteek," het Juffrou Fourie gesê toe Juffrou Steenkamp haar die uitnodiging wys. "Ek hoop jy kom weer lewendig by die huis."

"Wel, dit sal darem die eentonigheid van die lewe verbreek," het Juffrou Steenkamp gelag. "Ek is regtig nuuskierig om te sien wat gaan gebeur."

Woensdagaand het gekom. Op die bestemde tyd is Juffrou Steenkamp by die Nels se huis verwelkom. Hulle het aan tafel gaan sit. Die drie dogtertjies was so stil soos muise.

"Dis snaaks," het sy gedink, "dit is nie soos ek dit verwag het nie. Juffrou Fourie het seker maar ' n fout gemaak."

Die kos word ingeskep en almal gesels lekker oor die weer, skool, speletjies en baie ander dinge. Geleidelik word die kinders egter lewendiger. Meisietjie steek 'n mes met konfyt daaraan na die botterpot toe.

"Hoeveel het jy vandag vir jou somme gekry?" vra Mammie. Dan, saggies, "B.M."

"Ses," sê Meisietjie en bloos 'n bietjie, terwyl die mes teruggaan na haar bord toe.

Op hierdie oomblik het Mammie se oog net vir Stienie, die jongste gevang, gereed om haar melk in die piering te gooi."

"O Stienie, wil jy nie graag vir Juffrou Steenkamp na die ete die serp wys wat jy vir Klaartjie gebrei het nie?" Dan, saggies, "M.N."

"Ja Mamma," sê Stienie en sy sit die koppie terug op sy plek, terwyl sy vinnig met die lepeltjie roer. "Moet ek dit nou gaan haal?"

"Nee, nie nou al nie. Jy kan netnou gaan," sê Mammie. Dan weer baie saggies "N.I.S."

Sophie wat gretiglik na die laaste stukkie brood gesit en kyk het, het dit nie geneem nie. Toe word die koek uitgedeel.

"Ek hoop die weer bly mooi vir die vakansie," sê Mammie terwyl sy die bord vir almal hou "H'm, h'm, O.M.S."

Stienie, wat net 'n tweede stukkie koek wou neem, sit dit weer so versigtig moontlik terwyl Meisietjie giggel.

Eindelik het hulle klaar geëet en Juffrou Steenkamp moes weer huis toe. Sy het vir die kinders in die eetkamer totsiens gesê en Mammie het saam met haar tot by die voordeur gegaan.

"Regtig, Mevrou Nel, u kinders is soet. Ek glo nie ek het al ooit drie kinders hulle so goed sien gedra nie," sê Juffrou Steenkamp.

"Ek is so bly," sê Mammie baie trots. "Dis goed om soms woorde van waardering te hoor."

Toe die onderwyseresse die volgende môre mekaar sien, het Juffrou Fourie reguit na Juffrou Steenkamp toe gestap.

"Dit lyk mos darem asof jy veilig van die Nels af teurggekom het!" het Juffrou Fourie laggend gesê.

"Ja, maar ek dink jy het seker 'n fout begaan met daardie kinders. Hulle het hull baie goed gedra," het Juffrou Steenkamp geantwoord.

"Wat vertel jy my? Wat het hulle dan oorgekom?"

"Ek weet nie, ek dink hul Ma het 'n toorstokkie oor hulle geswaai sedert jy daar was. In elk geval, hulle het gesê hulle nooi jou ook weer een van die dae uit."

"O so, regtig!" het Juffrou Fourie geglimlag.

Maar hulle het en 'n week of twee later was sy weer by die Nels. Sy wou graag sien of dit waar is wat sy gehoor het. Sy was egter verbaas oor die verandering. Aan tafel het sy haar bes probeer om uit te vind wat aangaan. Een of twee maal het dit haar geluk om Mevrou Nel geheimsinnige letters te hoor fluister wat skynbaar 'n wonderlike uitwerkng op die kinders gehad het. Sy was eger vasbeslote om uit te vind wat dit alles beteken.

"Ek moet u gelukwens," sê sy aan Mevrou Nel by die voordeur toe sy afskeid neem, "die kinders was regtig soet."

"Ek is bly om u dit te hoor sê. Ek is bevrees hulle was nie wat hulle behoort te wees toe u die laaste keer hier was nie," het Mammie gesê.

"Wel, miskien, e...." het Juffrou Fourie begin. "O, tussen hakies, Juffrou Steenkamp en ek sal baie graag wil weet watter toormiddel u vir hulle gebruik het."

"Toormiddel?" vra Mammie en sy glimlag.

"Ja, daardie snaakse letters."

"O, het jy hulle gehoor?" vra Mammie verbaas en bloos effens. "Regtigwaar,  hulle is so eenvoudig. U sien, 'B.M.' beteken 'Gebruik die bottermes', en 'M.N.' beteken 'Mag nie'."

"Ha, ha!" lag Juffrou Fourie. "Maar waarvoor staan 'N.I.S.' en 'O.M.S.'?"

"Wel, dis eintlik 'n geheim. Maar ek sal u sê. 'N.I.S.' beteken 'Daar's nog in die spens', en 'O.M.S.' beteken 'Ons moet stadig'."

"Uitstekend," het Juffrou Fourie uitgeroep. "Ek sou nooit reg geraai het nie. Watter wonderlike idee!"


Slaaptyd stories
Deel DRIE

deur Arthur S. Maxwell

"A 

Om die dam Perderoete