Die Fontein van Skoonheid

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Slaaptyd stories
Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell

"Ag, as ek  maar net nie so lelik was nie!" het Nora vir haarself gesê nadat sy al vir die soveelste keer in die spieël gekyk het daardie namiddag. "As ek maar gelyk het soos Olga of Jakoba. Hulle is mooi. Dis darem nie reg dat ek altyd met so 'n lelike gesig moet rondloop nie."

"Jy hoef nie," het 'n stem gesê.

Nora het geskrik. Niemand het tog seker geluister na hierdie uiters private gesprek nie! Maar iemand het tog....dit was haar Ma.

"Mammie, ek het nie geweet dat Mammie daar staan nie."

"Ek weet jy het nie, maar ek is bly dat ek gehoor het wat jy sê. Ek is baie bly dat jy jou gesig wil verander. Ek dink dat jy dit baie mooier kan maak as wat dit is, Nora."

"Kan ek," het Nora gevra en het sommer bly geword. "Maar hoe? Sommige van die meisies by die skool het gesê dat ek my moet grimeer."

"O glad nie!" het Mammie laggend gesê, "daardie dinge maak mens nie mooi nie, hulle skend 'n mens net. Ek ken 'n baie beter manier."

"Kan Mamma regtig? Sê my hoe. Is dit iets wat ek kan doen?"

"Ja natuurlik," het Mammie gesê.

"Vertel my dan," het Nora gesoebat, "ek wil so graag 'n mooi gesig hê soos sommige van die ander meisies."

"Wel, jy kan. Kom ons gaan daar in die voorkamer sit en dan sal ek jou vertel," het Mammie geantwoord.

Nora het gretig 'n stoel langs Mammie se gemakstoel geplaas. "Vertel nou, ek wil so graag die geheim weet."

"Eerste van alles moet ek jou 'n storie vertel Nora."

"Dit sal gaaf wees, Mams."

Mammie het so begin: "Eendag was daar 'n dogtertjie wat nie eintlik ' n baie mooi gesig gehad het nie."

"Dit is ek," het Nora gesê.

"Jy moet my nie in die rede val nie, of ek sal nie kan voortgaan nie."

"Daardie klein dogtertjie was soms kwaad en onbeskof. Sy wou nie na haar ouers luister nie en het baie te sê gehad - sy was soms so ondraaglik dat hulle gewens het dat sy nie hulle dogtertjie was nie. Natuurlik, wanneer sy in so 'n slegte bui was, was sy nog leliker as ooit. En tog, vreemd genoeg, wou sy altyd graag mooi wees. Daar was niks wat sy nie sou doen as sy maar net geweet het hoe om haarself mooier te maak nie."

"Dit lyk vir my baie of dit ek kan wees, Mamma."

"Een nag," het Mammie voortgegaan, sonder om haar te steur aan die tussenwerpsel, "het hierdie dogtertjie 'n droom gehad. Sy het gedroom dat sy in 'n boek gelees het van 'n wonderbaarlike Fontein van Skoonheid in 'n vergeleë land. Enigeen wat in daardie water gebaai het, het dadelik so mooi geword soos die mooiste dame in die wêreld. Sy het toe na die fontein gaan soek en ná baie avonture, het sy by die fontein gekom. Sy wou net inspring toe iets gebeur het."

"Wat het gebeur?" het Nora ongeduldig gevra.

"'n Engel het verskyn en aan haar gesê 'Ek is baie jammer, klein dogtertjie, ek weet dat jy baie ver gekom het, maar jy kan nie nou inspring nie. Jy moet terug huis toe gaan en vir 'n hele maand nie jou humeur verloor nie. Ook moet jy probeer om soveel goed te doen as wat jy kan, daarna mag jy terugkom en dan sal ek jou toelaat om in te spring.'

"Natuurlik was die dogtertjie baie hartseer en teleurgesteld, maar aangesien daar geen ander uitweg was nie, het sy huis toe gegaan en baie hard probeer, maar darem nie hard genoeg nie. Aan die einde van die maand het sy weer na die fontein gegaan en wou net inspring toe die engel nogmaals verskyn het. 'Ek is baie jammer,' het die engel gesê, 'maar jy is nog nie heeltemal gereed nie. Jy moet teruggaan en vir drie maande nie kwaad word nie en ook moet jy net soveel goed doen as wat jy kan. En as jy dan weer terugkom, sal ek jou toelaat om in die Fontein van Skoonheid te spring.

"Baie hartseer is die dogtertjie toe weer huis toe. Aan die einde van die drie maande het sy weer na die fontein gegaan; sy wou net inspring toe die engel verskyn en haar vir nog ses maande huis toe gestuur het. Dit was byna te veel vir die ou dogtertjie, maar sy wou so graag mooi wees, dat sy vir haarself gesê het 'Ek sal hierdie keer baie hard probeer. Ek sal gedurig waak om nie my humeur te verloor nie en ek sal goed wees vir alle mense.'

"Die maande het langsaam verbygegaan. Hierdie keer het die dogtertjie met al haar kragte probeer om te doen wat die engel gesê het. Haar ouers het haar nog nooit so vriendelik en vol liefde gesien nie. Hulle kon nie verstaan wat met haar gebeur het nie.

"Toe die ses maande verby was, het die dogtertjie weer na die fontein gegaan. Hierdie keer het sy vir die engel gewag, maar hy het nie verskyn nie. Sy het in die helder water van die fontein gekyk en hoe dink jy: wat het sy gesien?"

"Ek weet nie," het Nora geantwoord.

"Sy het die mooiste dogtertjie gesien wat sy nog ooit gesien het. Die glimlag om haar mond en die vriendelike uitdrukking op haar gesig, het haar hele gesig verander en haar baie mooi gemaak.

" 'Ek wonder wie dit kan wees?' het sy vir haarself gesê.

" 'Dit is die weerkaatsing van jou eie gesig,' het die engel gesê wat toe skielik daar verskyn het. 'Jou gesig is nou so mooi dat jy nie eens in die water hoef te spring nie.' "

Toe het Nora haar Ma in die rede geval en gesê "En toe het die dogtertjie seker wakker geskrik."

"Ja, sy het en sy het besluit dat sy met die hulp van Jesus sal lewe soos die engel gesê het."

"En dit het haar mooi gemaak?"

"Dit het baie gehelp," het Mammie gesê.

"En dink Mammie dat dit my sal help?"

"Ja, sekerlik. Dit is die beste skoonheidsmiddel wat nog ooit ontdek is."