Die Drie Kloppe 

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Een

deur Arthur S. Maxwell

Het julle ooit die storie gehoor van die drie kloppe? Nie? Dit is eintlik 'n lang storie wat uit drie kortes bestaan. Die eerste klop is die klop aan Pappa se deur deur die seuntjie of dogtertjie wat stout was en later jammer gekry het daaroor.

Ek ken 'n seun en 'n dogter wat nie ver van ons af woon nie. Soos die meeste seuns en dogters was  hulle gewoonlik soet, maar soms was hulle stout. Miskien is die seun gevra om sy speelgoed te bêre en te help om die kombuis weer aankant te maak. Hy wil dit nie doen. Brommend sê hy: "Ek sal nie!" en hardloop weg sodat hy dit nie hoef te doen nie. Maar ná 'n tydjie begin hy eensaam en koud voel. Hy is baie jammer dat hy so ongehoorsaam was, maar hy weet nie eintlik wat om te sê of doen nie.

Skielik hoor sy Pappie 'n sagte klop aan die deur van sy studeerkamer. Hy weet wat dit beteken. Hoe besig hy ook is, maak hy dadelik die deur oop, want dit is sy seuntjie wat kom sê dat hy baie jammer is.

En so gaan dit ook met die dogtertjie. Natuurlik moet meisies nooiot rusiemaak of onbeskof wees nie, maar soms is hulle tog. Hulle 'n suurgesig en hulle lyk so kwaad dat hulle seker die engele hartseer maak. Maar ná 'n rukkie gaan die bui verby en hulle is jammer dat hulle stout was.

Weer word daar saggies geklop aan Pappa se deur, die deur word oopgemaak en 'n stemmetjie sê: "Ek is jammer," en dan is alles weer reg.

Dit laat my dink aan wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het: "Klop en vir julle sal oopgemaak word." Hoe stout ons ook was, kan ons altyd in die gebed terugkom na die deur van die hemel en seker wees dat dit vir ons oopgemaak sal word deur 'n liefdevolle, vergewensgesinde Vader, sodra ons klop. Dit is die eerste klop.
* * * *
Nou vir die tweede soort klop. Dit is die geklop van Jesus aan die deur van ons harte. Alhoewel ons aan Hom dink as wonende in die hemel met al die engele rondom Hom, is dit ook net so waar dat Hy hier op aarde by ons is. Op die een of ander tyd kom Hy na elke seun en dogter en Hy sê: "Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou en hy met My." (Openb. 3:20)

Dink net, Jesus nooi homself om by ons te kom eet! En dit is iets wat Hy baie graag doen. Soms kom Hy onverwags; julle weet nooiot wanneer Hy mag kom nie. Daarom is dit beter om die deur op 'n skrefie oop te hou en aan Hom te sê dat Hy kan kom net wanneer Hy wil. En as Hy kom, wat 'n verandering sal Hy in ons maak! Natuurlik sal ons nooit wil kwaad wees nie, want ons sal nie wil hê dat Hy ons moet kwaad sien nie. In stede daarvan, sal ons baie gelukkig wees, want Hy sal in ons harte die lieflikheid en die musiek en die blydskap van die hemel bring. Hoeveel mis ons wanneer ons die deur toe hou! Miskien klop Hy juis nou aan die deur van jou hart. Luister maar!

****

Dit was die tweede klop en nou kom ons by die derde. En dit is die verhaal van die klop wat te laat is.

Het julle al ooit na die poskantoor gegaan en daar aangekom net nadat dit gesluit is vir die dag? Was julle nie dan jammer dat julle nie 'n bietjie vinniger geloop het om daar te kom voor toemaaktyd nie? Dit is soms baie onaangenaam om by die winkel te kom nadat dit al toe is. Dan moet julle maar weer huis toe stap, baie verleë (en dalk vies!).

In die tyd van Noag, waarvan ek julle nou gaan vertel, was dit baie erger.

In daardie tyd was die mense van die wêreld so sondig dat God gesê het dat Hy almal sal verdelg as hulle hul nie bekeer en beter lewe nie. Maar hulle het van kwaad tot erger gegaan, totdat God eindelik aan Noag gesê het dat Hy 'n geweldige watervloed oor die aarde sal laat kom, sodat alles wat leef, sal verdrink. Aan Noag is gesê dat hy 'n skip moes bou wat groot genoeg sou wees om sy hele gesin op te neem en ook van al die verskillende soorte diere en voëls en van die ander mense wat graag wou inkom.

Maar die mense het Noag uitgelag. Hulle het gesê dat daar nooit 'n vloed kon kom nie omdat dit nog nooit op die aarde gereën het nie. Hulle wou nie luister na wat hy te sê gehad het oor die komende oordeel van God nie en hulle het voortgegaan in hul sonde, asof daar niks sou gebeur nie.

Intussen het Noag sy skip (die ark) klaar gebou, hy het sy gesin daarin gebring en ook die diere soos God hom beveel het en - eindelik - ná 'n laaste oproep aan die mense, het hy self ingegaan. Daardie nag het die Here hom ingesluit en Hy het die deure so styf toegemaak, dat niemand weer kon uitgaan of inkom nie.

Vir sewe dae het hulle so gebly en niks het gebeur nie. Die mense het gelag en vir Noag gespot en hulle het vir mekaar gevra wat hy besig was om te doen daar in die groot skip, tussen die baie honderde diere. Hulle het moontlik gedink dat hy nie mooi reg in sy kop was nie!

Maar aan die einde van die sewe dae het dit begin reën. Dit het so hard gereën dat die riviere gou hul walle oorstroom het en die waters het oor die lande en die strate gespoel en het altyd hoër en hoër gestyg. Dit het die mense se huise binnegestroom en hulle het na die boonste verdiepings gevlug, maar spoedig het die water ook tot daar gestyg. Hulle het op die dakke geklim, maar tevergeefs, want ook die dakke is deur die water bedek. Sommige het in die hoogste bome geklim, maar dit het niks gehelp nie. Duisende het na die ark gesukkel, hulle het geklop so hard hulle kon en Noag gesoebat om hulle te laat inkom. Maar hoe graag hy dit ook wou doen, kon hy nie, want die deur was gesluit - hulle het te laat gekom. Ná 'n tydjie het almal verdrink.

Eendag sal daar weer so-iets gebeur. Nie dat daar weer 'n watervloed sal kom nie, die reënboog is die waarborg daarvoor, maar daar sal 'n dag kom - net vóór die wederkoms van Jesus - wanneer die genadedeur in die hemel gesluit sal word en diegene wat versuim het om die deur hul hart oop te maak toe Jesus geklop het, sal bitter teleurgestel wees. Hulle sal ontdek dat hulle te lank gewag het en dat dit vir hulle te laat is.

Jesus het daardie vreeslike tyd beskryf toe Hy gesê het dat die "eienaar van die huis opgestaan en die deur gesluit het" en dat die mense kom klop en soebat het "Here, Here, maak vir ons oop". Dan sal Hy sê: "Ek ken julle nie, julle is te laat. Julle moes eerder gekom het." (Luk. 13:25)

Dit was dan die derde klop. Ek hoop dat julle nooit so sal klop nie. Die enigste manier om so 'n ervaring te vermy, is om nou te klop. Dit is baie gevaarlik om uit te stel. Sorg maar dat julle die eerste klop nou gee. As julle dit doen, sal Jesus die deur dadelik oopmaak en sê: "Ek is só bly dat jy gekom het!"

****