Deur die gety vasgekeer

(My Opwindendste Ondervinding)

Ek het al so baie stories van allerhande soorte seuns en dogters vertel, dat dit miskien hoog tyd is dat ek een omtrent myself vertel.

In my Bybel, langs 'n sekere teks, staan geskryf, "Noord-Uist-drif" en elke keer wanneer ek dit sien, herinner dit my aan my opwindendste ondervinding.

Baie jare gelede - ek gaan nie sê hoeveel nie - toe ek vyftien jaar oud was, het ek besluit om na 'n sendingkollege te gaan. Om die nodige geld in die hande te kry, het ek reëlings getref met 'n sekere drukpers - een wat sedertdien m eer as 'n miljoen Slaaptydstories gedruk het - om hul Bybelboeke gedurende die somervakansie te verkoop.

Dit het nie gelyk of hulle hul baie oor my ouderdom bekommer het nie en hulle het my na die Buite-Hebride, langs die weskus van Skotland, gestur, waar ek spoedig alleen bevind het met my fiets op die kaal, verwaaide eiland. Dag na dag het ek aan die deure van die huise geklop en my bes probeer om die boeke aan die mense te verkoop.

'n Paar weke lank het ek in Stornoway gewoon en bedags dwarsoor die eiland gery na die dorpies aan die ander kant. Hoe 'n moeisame reis was dit nie - 12 myl sonder 'n enkele huis en soms met reën en wind in my gesig die hele pad! Ek het elke dag ' n bietjie verder gery totdat ek eindelik die vuurtoring in die noorde bereik het. Die vuurtoring-oppasser was baie goed vir my. Ek onthou hom nog, want hy het 'n boek van my gekoop!

Nadat ek alles wat ek kon op die eiland Lewis gedoen het, het ek per boot na die volgende eiland, Noord-Uist, gegaan. Ek het in 'n klein grasdakhuisie waar die rotte snags om my bed gespeel het, tuisgegaan.

Daar is 'n pad wat reg om die eiland loop en ek het die eiland plat gery en geloop. By soveel vreemde plekke het 'n seun van my ouderdom seker nog nooit probeer boeke verkoop nie.

En ten laaste was my werk op hierdie eiland ook klaar en ek het gewonder wat om nou te doen. Ek het dus suidwaarts gegaan en die mense het my vertel dat ek deur die drif na die volgende groot eiland kon gaan wanneer die gety laag is. Ek het van hierdie plan gehou, want dit sou my die onkoste van 'n bootreis spaar.

Op 'n môre het ek toe drif se kant toe gestaan om die wêreld bietjie te bespied. Die gety het weggetrek en van ver af het dit geskyn asof ek maar net reguit oor die sand na 'n klein eilandjie kon loop en vandaar oor nog 'n strokie sand na die groot eiland. Maar toe ek naderkom, het ek gewaar dat dit nie alles so maklik gaan wees nie. Hier en daar was daar 'n driffie van sowat tien tot twintig voet wyd, maar hoe diep hulle was,  kon ek nie sê nie. Ek kon nietemin sien dat ek my skoene sou moes uittrek en ten minste sekere ente deur die water sou moes loop.

Juis op daardie oomblik het ek twee mans sien deurgaan en ek het hulle 'n paar minute lank dopgehou om te sien presies waar hulle deur die driffies gaan. ek het ook opgemerk dat hulle haastig was, maar het nie toe verstaan waarom nie. Ek het gedink dat hulle sommer maar net haastig is om die ander kant te bereik. Maar daar was heeltemal 'n ander rede.

Ek het my skoene en kouse uitgetrek, hulle om my nek vasgebind en toe die mans gevolg. Om deur die eerste drif te gaan, was maklik genoeg, want ek het presies onthou waar die mans deurgegaan het en die water was net 'n paar d uim diep. Maar toe ek by die tweede kom, was ek nie heeltemal seker nie en toe ek die eerste maal probeer deurgaan, vind ek die drif dieper as wat ek verwag het. Ek het my broek tot bokant my knieë opgerol en weer probeer, maar ek kon nog nie deurgaan nie. Ek was egter nog nie bekommerd nie en het op en af gestap om te sien waar ek veilig kon deurgaan.


Toe ek egter by die derde drif kom, sowat halfpad na die eiland toe, moet ek erken het ek bietjie onrustig begin voel. Dit was baie wyer as wat dit in die begin vir my gelyk het. Nog het ek nie die gevaar besef nie. As ek miskien 'n bietjie ouer was, sou ek besef het watter gevaarlike taak ek aangepak het, maar ek het dit nie besef nie en daar was niemand om my te waarsku nie.

Teen hierdie tyd het ek glad vergeet waar die mans deurgegaan het en moes ek maar hier en daar vlak plekke probeer soek om deur te kom. Maar ek kon ook nie meer vlak plekke kry nie.

Toe gewaar ek meteens dat die water nie meer stil is soos voorheen nie. Dit het beweeg en ook sommer taamlik vinnig. Stukkies seegras, hout en skuim het verbygekom. Meteens het dit deur my brein geflits dat die gety aan inkom was.

Ek het seewaarts gekyk; nooit sal ek vergeet wat ek daardie oomblik gesien het nie. In stede van 'n groot kol sand was daar net water, water. Dit het regtigwaar gelyk - en ek sal die gesig ook nooit vergeet nie - of die hele groot Atlantiese Oseaan op my ingerol kom.

Die sand-eilandjie waarop ek gestaan het, het vinniger kleiner en kleiner geword. Elke sekonde het die kanaal voor my dieper en dieper geword. Binne 'n paar minute sou die sand waarop ek staan, diep onder die see wees. Ek het besef dat ek dadelik iets moes doen of anders word ek weggesleur deur die sterk, instromende gety. Daar was nie tyd om te verspeel nie.

Maar wat kon ek doen? As ek nie die pad geken het toe die kanaal vlak was nie, hoe sou ek dit nou vind wanneer dit reeds twee keer so diep is en die water in alle rigtings oor die sand sprei?

Tog, selfs in daardie verskriklike toestand, was ek oortuig dat die Here my sou verlos. Daar was nie tyd vir lang gebede nie. Elke oomblik was kosbaar. Maar ek onthou dat ek Hom gevra het om my te lei. Toe het ek al my moed bymekaargeskraap en ingespring.

Dit het nie gehelp om my broek nou te probeer droog hou nie. Die water het tot bokant my knieë gekom, tot bokant my middellyf, hoër en hoër. Sou my voete nooit ophou om af te sak nie? Vir 'n oomblik het ek gewonder of ek 'n fout begaan het; of ek nie liewer moes omdraai en my pad deur die kanale probeer vind nie.

Dieper en dieper - was dit die einde? A! die water begin vlakker word. Ja, ek moet halfdeur deur wees!

Maar daar het nog kanale voorgelê en almal was nou onsigbaar. Hoe ek deur hulle gekokm het, weet ek nie. Ek kan my nou nog sien, met die water by my bors, besig om hier en daar vlak plekke te soek om deur te gaan, terwyl die water om my maal.

Tog het ek my pad gevind, anders sou ek nie vandag hierdie verhaal vertel het nie. Einde ten laaste het ek op die eiland gestaan waarheen ek minder as 'n uur vantevore so vol vertroue koersgevat het. Julle kan jul voorstel hoe ek gelyk het, want al my klere was sopnat. Ek het naar gelyk! Ek is seker dat as daar kinders naby was, hulle vir my sou gelag het.

'n Ou man het na my toe gekom en my vertel - net asof ek dit nie geweet het nie - hoe naby aan die dood ek was. Hy het my die heel tyd dopgehou en nooit verwag om my lewendig anderkant te sien uitkom nie. Hy was baie gaaf en het iemand gekry om my met 'n boot terug te neem. Ek het na my losiesplek gegaan om droë klere te kry en om God te dank hy Hy my lewe gespaar het.

En nou verstaan julle seker waarom ek daardie teks in my Bybel gemerk het. Ons vind dit in die 43ste hoofstuk van Jesaja, die tweede en derde verse. Ek kan nie help om te dink dat hulle vir my geskryf is nie, want hulle lui as volg:

"As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere - hulle sal jou nie oorstroom nie; ... Want Ek is die Here, jou God, die Heilige van Israel, jou Heiland."

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)


Slaaptyd stories
Deel DRIE

deur Arthur S. Maxwell

"A 

Om die dam Perderoete