'n Radikale plan vir oorlewing

Die liberale beskouing

In 1936 het Jan Hofmeyr, die vernaamste voorstander van liberalisme in die Verenigde Party, sy politieke geloofsbelydenis uitgespel. Hy het begin deur te sê dat die liberale benadering visie, verbeeldingrykheid en geloof vereis en geen waarborge kan verskaf waarheen dit lei nie. Niemand kan sê of liberalisme die wittes se posisie in Suid-Afrika sal verseker of Suid-Afrika velig vir die Europese beskawing sal maak nie. Daar was na sy mening nie 'n ander opsie nie, aangesien hy oortuig was dat die blankes nie voldoende opofferings sal maak om segregasie te laat slaag nie.

Al het hul boodskap nie valse gerusstellings bevat nie, het die liberale die politieke debatte ingrypend beïnvloed. Hoofsaaklik as gevolg van hul intellektuele en morele druk was die kru rassistiese denke van die beginjare van die twintigste eeu nie meer in die openbare debat aanvaarbaar nie. Eers het Engelssprekende liberale akademici en later ook die eerste geslag van Afrikaanse akademici rassisme afgesweer. Baie min sosiale wetenskaplikes het nog vasgeklou aan die idee dat swart mense onderdruk moet word vanweë hul gewaande rasseminderwaardigheid.

Die nuwe benadering vir voorstanders van segregasie was om klem te lê op kultuur en kulturele aanpassing. Die uitgangspunt was dat elke kultuur in eie reg waarde het en in staat is om op sy eie te ontwikkel. Hierdie nuwe ideologie het egter dikwels net rassisme verdoesel deur rassistiese aannames 'n respektabele aansien te gee onder dat die persoon wat hulle gebruik het, van rassisme beskuldig kon word.

Gedurende die vroeë 1940's het die liberale hul rug op hierdie soort denke gekeer. Hulle het die opvatting van afsonderlike kulture wat op hul eie ontwikkel, verwerp wat Suid-Afrika betref. In plaas daarvan het hulle die gedagte aanvaar van 'n "open society" - die oop of gemeenskaplike samelewing met 'n gemeenskaplike politieke identiteit en lojaliteit, 'n saambindende taal, te wete Engels, en 'n gemeenskaplike Christelike geloof wat die meeste mense in die land betref.

Die liberale het ook moderniteit, doeltreffendheid en wetenskaplikheid beklemtoon. 'n Nuwe onderwysbeleid moes die grondslag van die "open society" en 'n nuwe liberale

Bl. 398

orde wees. Jean van der Poel, 'n historikus met 'n Afrikaanse agtergrond, het geskryf dat daar geen rede is om te treur as die Westerse kultuur uiteindelik die Bantoekultuur vervang nie. Dit is nie die taak van die onderwys om te verhoed dat die swart man verwesters nie, maar om aan hom kennis te gee van wat die mensdom se gemeenskaplike besit is. Vir J.D. Rheinallt Jones het diegene wat swart mense wil verplig om "hul eie kultuur te aanvaar", die verkeerde rigting aangewys -  nie die pad na vryheid nie, maar na geestelike verslawing.

Hierdie liberale het teen 'n baie sterk stroom van segregasie geswem. Maar baie jare later het dit nie meer so gelyk nie. Gedurende die 1980's, toe die stryd teen apartheid sy kritieke fase betreik het, het teenstanders van apartheid die mite verkondig dat die stelsel van rasse-oorheerseing voor 1948 betreklik gematig was. Piet Cillié, 'n redakteur van Die burger, het 'n parodie op hierdie soort denke geskryf:

"Uit 'n tydperk van betreklik goeie en gemaklike rasseverhoudinge voor 1948 is Suid-Afrika skielik deur 'n bewindsverandering gedompel in byna vier sinlose dekades van toenemende spanning en rassehaat. 'n Bose etniese ideologie is stelselmatig aan 'n dikwels niksvermoedende land opgedwing. Die eens mooi saamlewende, veelrassige gemeenskap is deur 'n seksionele diktatoriale bewind verdeel en gefragmenteer en ontwortel en deur fragmentasie en verdrukking verhinder om die vriendskaplilke betrkkinge te onwikkel waarheen dit op pad was. Die giftige vrugte word nou gepluk in aktiewe nyd, onrus en buitelandse sanksies wat almal se lewenspeil bedreig. Breek apartheid af tot op die grond. Grawe sy wortels uit en begin bou aan 'n Nuwe Jerusalem!"

Hierdie mite sukkel om uit te sterf. Alfred Hoernlé, die voorste liberale intellektueel van die 1930's en 1940's, sou dit verstommend gevind het dat mense in die laaste dekade van die eeu kon dink dat die rasseverhoudinge voor 1948 betreklik harmonieus was. In 'n toespraak het hy in 1936 gesê dat dit 'n besoeker van Mars onmiddellik sou opval hoe allesomvattend die stelsel van rasse-uitsluiting en -diskriminasie. Die besoeker sou tot net een gevolgtrekking kom: "(There) was 'n dominant urge towards segregation, which has moulded the structure of South African society and made it what it now is."

Dit was nie net die voorstanders van segregasie wat rassevermenging teengestaan het nie, maar ook liberale. Hoernlé self het rassevermenging tussen wit en swart afgekeur, maar wel op maatskaplike en poliltieke gronde en nie op biologiese gronde nie. Hy het geglo dat "race purity" noodsaaklilk is vir "racial respect and racial pride". Dit was in sy woorde die opvatting van "the best public opinion, the most enlightened racial self-consciousness, of natives no less than of whites". The Forum", 'n tydskrif wat gestig is om die liberalisme van Jan Hofmeyr te ondersteun, was "revolted" deur bloedvermenging en het residensiële en maatskaplike segregasie bepleit.

Hoernlé het geskryf dat daar twee soorte segregasioniste bestaan - die "single-minded type", wat swart mense as 'n gevaar beskou en slegs vir die wit gemeenskap omgee; en die "double-minded" soort, wat streef na die parallelle ontwikkeling van wit en swart belange onder wit beheer. Laasgenoemde is egter in 'n onbenydenswaardige posisie. Hulle moet die "single-minded" tipe tot elke prys paai, maar vind dit baie moeilik om enige werklike toegewings van hulle te verkry vir 'n meer humanitêre beleid teenoor die swartes.

Bl. 399

Die intelligentsia onder die Afrikanernasionaliste het ook begin om die geharde rassiste te probeer oorreed om in die belang van rassevrede sekere toegewings te doen. A.L. Geyer, redakteur van Die Burger, het later verduidelik dat apartheid juis 'n soort ooreenkoms is tussen wat Hoernlé genoem het die "single-minded" en die "double-minded" tipe: "Gewone mense stel belang in en verstaan klein en gewone dinge. Groot konsepte soos swart nasiestate is op die buiterande van hul begrip. Dit lyk ver, in tyd en soms ook in ruimte. Maar hulle verstaan gemengde woonbuurte, treine en strande. Hulle verstaan aparte poskantoortoonbanke en kleinhuisies. Gee vir hulle die klein, maar vir hulle die belangrike dinge en hulle koop die groot dinge ook in teorie."

Vir Geyer en ander lede van die nasionalisteise intelligentsia was die ontwikkeling van swart reservate en nasiesate die "groot dinge".

Hoernlé het 'n uitdaging tot die liberale gerig om die liberale beginsels weer van nuuts af in die veelrassige situasie van Suid-Afrika te probeer deurdink. Hoewel hy Hofmeyr nooit oor sy vaagheid aangeval het nie, het hy daarop aangedring dat die liberale hierdie vraag moet kan beantwoord: "Wat is die langtermyn-politieke doelstellings?"

Hy was pessimisties oor die moontlikheid van 'n politieke oplossing. Hoewel hy seker was dat blanke baasskap op die ou end in duie sou stort, het hy glad nie verwag dat die wit mense op kort tot medium termyn groot swart maatskaplike vooruitgang sou toelaat nie. Hulle was sekerlik nie bereid om aan swart mense die stemreg te gee nie.

In sy bydrae tot die belangrike debat oor die swart stemreg in 1936, het Hofmeyr nie op 'n gemeenskaplike burgerskap en stemreg aangedring nie. Sy vernaamste argument was dat die wetsontwerp onregverdig en onverstandig is. Die Tweede Wêreldoorlog het hom egter gedwing om sy liberalisme met meer oortuiging te ontwikkel. In 1945 het hy 'n belangrike stap gedoen moet sy toespraak getitel "Christian principles and race problems". Hier hy geloof teenoor vrees as die sentrale stryd aangedui. Hy het toegegee dat daar gronde is om swart oorheersing te vrees, veral as gedink word aan die groot swart getalsoorwig. Die regte benadering sou egter wees "to stand firm on principle" en "go forward in faith". Dit was die twee klassieke liberale slagspreuke van Suid-Afrika se soort liberalisme.

In 1946 het Hofmeyr die Herrenvolk-mentaliteit van baie wit Suid-Afrikaners aangeval en uiteindelik sy standpunt duidelik gemaak. Hy het nou verklaar dat hy die verwydering van die kleurslagboom uit die grondwet voorstaan. Noodwendig sou dit politieke, ekonomiese en maatskaplike regte vir swart mense op 'n gelyke voet met wit mense beteken.

Op hierdie tydstip het Hofmeyr die vernaamste skyf van die NP geword. Hy het dikwels as eerste minister waargeneem terwyl Jan Smuts oorsee was en hy was ook sy waarskynlike opvolger. Die NP het Hofmeyr uitgesonder as die regering se vernaamste swak plek in die verkiesing wat in 1948 sou plaasvind.

Die VP se ambivalensie

Van die fondament van blanke baasskap en segregasie het VP-regering (1939-1948) twee verskillende spore in sy beleid teenoor rasse-aangeleenthede gevolg. Die een spoor het politieke en maatskaplike segregasie beklemtoon, maar die ander het die behoeftes

Bl. 400

van die oorlogsekonomie en die gepaardgaande groot vraag na swart arbeid as 'n prioriteit beskou. Op laasgenoemde spoor het dit versigtig wegbeweeg van ekonomiese en maatskaplike segregasie en die staat se welsyndienste na swart mense begin uitbrei.

Die regering het op pragmatiese wyse parallelle instellings vir die onderskeie onderhorige gemeenskappe tot stand gebring. In 1943 het dit 'n onderafdeling vir kleurlingsake in die departement van binnelandse sake ingestel. Dit het ook 'n adviserende kleurlingraad in die lewe geroep om as liggaam te dien waarmee oorleg gepleeg kon word. Die VP het aan bruin leiers die versekering gegee dat die bedoeling nie is om hulle as aparte groep te behandel of om woonbuurtsegregasie in te voer nie. Die doel is om vir beter administrasie voorsiening te maak.

Hierdie gesegregeerde instellilngs het egter gou hul eie momentum ontwikkel. Die adviesraad het daarop aangedring dat kleurlinge teen mededinging deur swart trekarbeiders beskerm word. As gevolg hiervan het die Kaapse stadsraad begin om minder passe aan swart mense uit te reik.

Die regering het 'n soortgelyke benadering gevolg teenoor die klein Asiërgemeenskap, wat hoofsaaklik in Natal gewoon het. In 1936 het die Asiërs ongeveer 220 000 getel. Die blankes het die teenwoordigheid van Asiërs in die land teensinning aanvaar. Hulle het daarop aangedring dat die mense na Indië teruggestuur word. Indien dit misluk, moet hulle in afsonderlike woonbuurte geplaas word.

Die groot meerderheid van die Asiërs was nog arm, maar die elite het begin vooruitgang maak. Asiërwinkels was opvallend op talle Natalse en Transvaalse dorpe. Teen 1950 het een vyfde van die winkels en kafees in die land aan Asiërs behoort, hoewel hulle slegs 3% van die totale bevolking uitgemaak het. In Durban het Asiërs op 'n groot skaal eiendom in die sogenaamde blanke stad bekom. Die Smuts-regering het alle eiendomtransaksies tussen blankes en Asiërs bevries. In 1946 het dit 'n wetsontwerp ingedien wat wit en Asiërwoonbuurte geskep het en Asiërs verbied het om eiendom in wit gebied te koop.

Die wetsontwerp het ook aan die Asiërs verteenwoordiging (maar slegs deur wit verteenwoordigers) in die Parlement en in die Natalse en die Transvaalse Provinsiale Raad gegee. Hofmeyr was geskok oor die instelling van 'n kleurslagboom vir Asiërs. Hy het aan Smuts geskryf dat dit die laaste druppel is wat die emmer laat oorloop en dat hy dit nie sal steun nie. Hy het 'n gekwalifiseerde stemreg op 'n gemeenskaplike kieserslys voorgestel.

Intussen het die VP stukkie vir stukkie ook ander wetgewing in die wetboek geplaas waarvan die NP gebruik kon maak om hul beleid van apartheid toe te pas indien dié party aan die bewind sou kom. Daar was byvoorbeeld die basiese element van rasseklassifikasie. Die druk van amptenare in die provinsiale administrasies en plaaslike besture ten gunste van 'n nasionale register het opgebou.Vroeg in 1948 het die provinsies 'n memorandum aan die sentrale regering gestuur waarin hulle versoek het dat so 'n register opgestel word. Hulle het gesê dit bestaan ook in ander lande.

Vir voorstanders van apartheid was dit maklik om te redeneer dat doeltreffende administrasie sal baat vind by so 'n register wat die bevolking in rassegroepe klassifiseer. Hoe kan sekere maatreëls toegepas word as amptenare nie weet of iemand wit, swart, bruin of 'n Asiër is nie? Slegs swart mense was onderworpe aan paswette en kon stem

Bl. 401

vir die Verteenwoordigende Naturelleraad (VNR). Ingevolge die 1946-wetsontwerp sou Asiërs vir spesiale verteenwoordigers stem. In die Wes-Kaap is kleurlingwerkers onder druk van die kleurlingraad teen mededinging van swart mense beskerm.

Hoewel die ekonomie al hoe meer geïntegreer geraak het, het die VP-regering nuwe segregasiereëls in die wetboek geplaas. Die staat het begin om woonbuurte spesifiek vir kleurlinge te bou. In 1941 het 'n wet werkgewers verplig om aparte geriewe vir mense van verskillende rassegroepe te verskaf. In die Kaapse Skiereiland is begin om die strande te segregeer. Wetgewing is ingedien wat dit net vir wit kiesers verpligtend gemaak het om te registreer.

Op hierdie tydstip was 'n beleid van parallelle aparte liggame vir swart en bruin mense nog nie heeltemal gediskrediteer nie. Die African Naiional Congress (ANC) was gedurende die 1930's en vroeë 1940's 'n konserwatiewe organisasie, wat soms gedreig het om in duie te stort. Die ANC het besluit om deel te neem aan verkiesings van die VNR wat ooreenkomstig die 1936-wetgewing ingestel is. Daarteenoor het die meer radikale All-African Convention besluit om hierdie instelling te boikot. In Kaapstad het die kleurlingraad en die afdeling vir kleurlingsake protes uitgelok. Radikale organisasies het 'n boikot van hierdie parallelle strukture vir kleurlinge bepleit.

Sekere aspekte van die regering se maatskaplike beleid het nogtans aan gematigde swart leiers gronde gegee om optimisties te wees. In 1942 het Jan Smuts 'n belangrike toespraak gehou wat die indruk gewek het dat die regering tot 'n fundamentele koersverandering besluit het. Hy het verklaar dat die beleid om swart verstedeliking te keer en wit en swart uitmekaar te hou, misluk het. "Isolation has gone and segregation has fallen on evil days," het hy gesê

Die regering het sekere betekenisvolle hervormings deurgevoer. Dit het die betaling van ouderdomspensioene, siektetoelae en werkloosheidsversekering vir swartes op 'n stewiger voet geplaas. Dit het die beginsel bepaal dat swart mense deel moet hê in enige welsynverskaffing deur die regering. Dit het die toegewing gedoen dat swart studente by sekere van die bestaande wit universiteite as dokters en tandartse en in die sosiale wetenskappe opgelei kon word. (Hulle het gewoonlik eers na die kollege Fort Hare gegaan, wat die enigste swart tersiêre inrigting was.)

Die regering het nie langer die besteding aan swart onderwys beperk tot die inkomste wat dit uit direkte swart belasting verkry het nie. Dit het ook vry onderwys, vry boeke en vry skoolmaaltye in laerskole verskaf en die besteding aan sekondêre onderwys verhoog. Teen die einde van die oorlog was die besteding aan swart onderwys drie maal hoër as tien jaar tevore. Ten spyte van hierdie toename, was die meeste swart kinders in 1948 nie op skool nie.

Die Smuts-regering se hervormings het blyke gegee van 'n groter aanvaarding by die regering van sy verantwoordelikheid teenoor swart mense en erkenning van hul burgerskap. Swartes het verwag dat hulle ná die oorlog nog groter vryhede sou verkry. Reële swart lone in die vervaardigingsektor het gedurende die oorlog skerp gestyg. Die verwagtinge van die gevestigde swartes het gestyg.

Bl. 402

Uitdagings vir blnke baasskap

Gedurende die 1940's het swart en bruin organisasies, wat breër gebaseer en meer gesofistikeerd was as tevore, nuwe uitdagings aan wit dominasie gerig. Die militantste beweging was die Non-European Unity Movement (NEUM), wat in 1943 gesig is ná 'n oproep deur 'n konferensie van die All-African Convention . NEUM het sterk onder die invloed van die kommunistiese leerstellings van Leo Trotski gestaan en is net deur 'n klein aantal swart en bruin mense ondersteun.

Wat intellektuele en ideologiese sofistikasie betref, was NEUM se denke ander versetorganisasies ver vooruit. Dit het verklaar dat die blankes die onderhorige bevolking opsetlik onderdruk en stelselmatig alle bestaande strukture vir hul eie voordeel aanwend. dit het algemene stemreg, verpligte onderwys, algemene gelykheid en die herverdeling van die land se grond geëis. Laasgenoemde eis het gou 'n twispunt binne die organisasie geword. sommige het dit beskou as 'n pleidooi vir 'n radikale herverdeling van grond, wat plaaswerkers sou bevoordeel. Nog 'n bron van verdeeldheid was die kapitalistiese stelsel wat NEUM uitgebeeld het as 'n stelsel wat noodwendig ten nouste met blanke baasskap verweef is. Sommige swart lede het gemeen dat dit onverstandig is om te beweer dat daar 'n noodsaaklilke verband tussen kapitalisme en blanke baasskap bestaan.

Gedurende die oorlogsjare het dr. A.B. Xuma nuwe lewe in die ANC begin blaas deur 'n aantal knap jong manne te lok. Onder hulle was Anton Lembede, Nelson Mandela, Olilver Tambo en Walter Sisulu. Hierdie beweging het gou 'n oproep gedoen dat alle swart mense moet mobiliseer ten einde die juk van onderwerping af te werp. Die Youth League-lede het nie verwag dat daar baie wittes sou wees wat hulle sou help nie, maar dit het tog die moontlikheid oopgehou dat dit eendag - nadat die magsewewig ten gunste van die swart mense verskuif het - moontlik sou wees om 'n kompromis met blankes aan te gaan. Blankes kon "die vrugte van Afrika" deel op drie voorwaardes: die verwerping van blanke baasskap, die aanvaarding van 'n proporsionele verdeling van die grond en 'n vrye "people's democracy".

'n Tyd lank het dit gelyk of skerp onderlinge verskille die ANC sou lamlê. Een verskil was die vraag of die stryd hoofsaaklik as 'n rassestryd gevoer moet word, waarin swartes self sonder betekenisvolle wit hulp optree, of as 'n klassestryd waarin werkers die dominante faktor is. Die Youth League het 'n mililtante, Afrikanistiese koers gekies, wat dit beklemtoon h et dat die swart mense self die leiding in massaproteste moet neem.

Xuma het wit voogdy verwerp en op gelyke burgerskap begin aandring. Die ANC se stryd was vir hom nie 'n geveg teen die regering nie, maar om geregtigheid vir almal. R.H. Godlo, nog 'n vooraanstaande lid, het geëis dat swart mense die reg moet hê om saam die wette te maak. Swart mense wou gelyke geleenthede in elke sfeer hê en as vennote in die land behandel word. Z.K. Matthews, die voorste swart ANC-intellektueel, het aan wit Suid-Afrikaners gesê dat die beste manier om vryheid en demokrasie te bevorder, is om dit na alle dele van die samelewing uit te brei. In 1943 het 'n ANC-konferensie 'n pamflet, "The Atlantic Charter and African Claims", uitgereik waarin volle burgerskap en regstreekse verteenwoordiging in alle rade geëis is.

Bl. 403

Swart leiers het besluit om hul stryd gedurende die oorlog af te skaal, maar het aangedui dat hulle ná die oorlog 'n betekenisvolle antwoord op hul eise van blankes verwag. Dit het egter spoedig geblyk dat die regering hom op sommige gebiede weer tot 'n onderdrukkende beleid wend. Die paswette, wat tydelik opgeskort was, is weer toegepas en vir die eerste keer is hulle na die Wes-Kaap uitgebrei. In 1946 het ongeveer 50 000 swart mynwerkers in 32 van die 45 myne oor lae lone begin staak. Die regering het die staking hardhandig onderdruk en honderde is in bosings met die polisie beseer. Die VNR het 'n verdoemende oordeel uitgespreek oor die regering se weiering om swart vakbonde te erken en oor die ongevalle onder die stakende werkers.

In 1947 het die VNR geëis dat alle diskriminerende wette afgeskaf word. Vir die liberale het die oomblik van waarheid aangebreek. Hofmeyr, wat waarnemende eerste minister was, het aan Z.K. Matthews gesê dat die eis hom in 'n moeilike posisie plaas. Hy het gevra dat die raad die saak ook uit die perspektief van die regering moet bekyk, wat nie iets kon toestaan wat deur sy kieserskorps as oorgawe vertolk sou word nie. Hy het aan Smuts geskryf, wat by die byeenkoms van die Verenigde Nasies was, waar Suid-Afrika 'n al hoe vyandiger wêreldmening moes trotseer: "Hitherto moderate (black) intellectuals are now committed to an extremist line against colour discrimination and have carried the chiefs with them." Volgens Hofmeyr was swart leiers wat voorheen nog gematig was, nou verbind tot 'n radikale verwerping van diskriminasie. Hy wou die swart leiers nie in 'n radikale kamp jaag nie, maar hy het nie geweet wat die regering kon doen om hulle tevrede te stel nie.

In 'n laaste poging om hervormings te verkry, het die VNR 'n hele reeks besluite geneem. Hulle wou die verwydering van diskriminasie op die arbeidsterrein, die herroeping van die paswette en die uitbreiding van politieke regte na swart mense hê. Toe die regering weier, het die raad hom self as 'n "speelgoedtelefoon" bestempel en toe regstreekse swart verteenwoordiging in liggame van stadsrade tot die Parlement geëis.

Smuts het geskryf dat die swart leiers nou regte wil hê, nie verbeterings nie. Effektiewe politieke regte vir swartes was vir hom ondenkbaar. Hy het aan die liberaal Edgar Brookes gesê dat die VP se naturellebeleid teen 'n matige pas meer liberaal gemaak moet word, maar dat die openbare mening saamgeneem moet word. Die regering sou praktiese maatskaplikke hervormings deurvoer in 'n mate waarin die regering se finansies dit toelaat, maar die oorweging van die VNR se eise was nie in die agenda nie.

Aan die vooraand van die verkiesing van 1948 het die NP beweer dat die VP se beleid van "integrasie" tot die "nasionale selfmoord" vand ie blankes sou lei, maar die VP se beleid was ver daarvandaan. Teen die middel van die 1950's was die VP-beleid heelwat omvattender as in 1948, maar steeds konserwatief. Die party wou die bestaande stelsel van die verteenwoordiging van swart mense deur wittes in die Parlement uitbrei deur die instelling van 'n nasionale liggaam van swart verteenwoordigers uit sowel die tradisionele as die nie-tradisionele gemeenskappe. Die VP het gemeen dit is nodig sodat die swart mense hulle met die nasionale belange van die land kon vereenselwig. Die VP het aanvaar dat die ekonomiese integrasie van alle rasse onomkeerbaar is en dat die regering dit moet probeer lei en beheer. Op maatskaplike gebied het dit swart mense as deel van die Suid-Afrikaanse samelewing beskou en die party daartoe verbind om hulle 'n meer definitiewe en versekerde plek in die Westerse lewenswyse te gee.

Bl. 404

Daar is egter geen konkrete besonderhede verstrek nie en die VP-beleid was vol teenstrydighede. Dit is duidelik uit 'n verslag van Ray Swart oor 'n debat in die Parlement in die jare vyftig. Harry Lawrence, een van die mees liberale VP-lede, het in 'n toespraak die NP-regering se apartheidsbeleid aangeval. Talle tussenwerpsels het uit die regeringsbanke op hom gereën. Die Nasionaliste wou weet wat is die VP se beleid: integrasie of segregasie? Lawrence het die vraag probeer ontwyk en met sy aanval voortgegaan. Voortgesette aanvalle van die regerings het hom egter laat huiwer en toe hierdie stelling laat maak: "Our policy is one of partiality - yes partiality, partiality with justice." Swart sê dit was 'n ongelukkige antwoord wat die Nattes laat rol het van die lag.

"Die gees van apartheid": die NG Kerk se geloof

Die term apartheid in sy moderne betekenis het die eerste keer in 1929 in druk verskyn. Ná 'n konferensie van die Vrystaatse NG Kerk oor sendingwerk wat op Kroonstad gehou is, is 'n boekie met die toesprake uitgegee: Die NG Kerk van die OVS en die Naturellevraagstuk. Ds. Jan Christoffel du Plessis van Bethlehem het gesê: "In die grondbegrip van Sendingwerk en nie rassevooroordeel nie, moet die verklaring gesoek word vir die gees van apartheid wat ons gedragslyn nog altyd gekenmerk het en wat sommige deur misverstand in ons laak. Die verwyt word ons dikwels gemaak dat ons Kerk uit rassevooroordeel die vader is van die kleurlyn, deurdat ons nooit wou toelaat nie dat bekeerlinge uit die heidene in ons kerklike en sosiale samelewing met ons blanke lidmate sou meng."

Met apartheid het Du Plessis enersyds bedoel dat die heidene geëvangeliseer moet word met behoud van hul "eie rasse-identiteit" en in hul eie gemeentes afgesonder moet word met hul eie selfstandige kerk. Andersyds het hy 'n eksklusiewe NG Kerk bepleit om die "aparte" en "suiwere voortbestaan van die handjievol blankes te verseker".

Hierdie beleid met die nuwe naam "apartheid" het verder gestrek. Dit behels die "erkenning van die afgesonderde rasgeaardheid van die naturellelewe". Stemreg moet nie aan swart mense in die individuele politieke stelsel van die Europeër gegee word nie. Dit doen hulle 'n onreg aan, want dit ruk hulle uit hul politieke en kulturele verband.

Du Plessis se beskouing was dat apartheid nie op wit vooroordeel berus nie, maar "slegs 'n ander woord (is) vir k onsentrasie van alles wat die eie is en alles wat die 'selfsyn' bevorder". Implisiet in sy argument was die aandrang dat slegs 'n vereenselwiging met die volksgemeenskap eg is. Du Plessis se "apartheid" was bedoel as 'n teenvoeter vir die integrasiebenadering van die Engelse sendelinge, wat na sy mening bekeerlinge probeer kry deur hulle die Westerse beskawing en godsdiens te laat naboots.

Die gedagte van 'n eie of volkseie het lank tevore reeds bestaan. Die Kompanjiebewind het die belangrikheid van die Hollandse taal en die Gereformeerde godsdiens as hoekstene van sy maatskaplike beleid beklemtoon. Hieruit het geleidelik die gedagte van 'n volkskerk ontwikkel. In sy mees onomstrede sin beteken 'n volkskerk dat die kerk die taalkundige, kulturele en maatskaplike karakter van sy lede in aanmerking moet neem. Gedurende die tweede helfte van die negentiende eeu het sendinggenootskappe, en in die besonder die Rynse en die Berlynse sendinggenootskap hierdie benadering sterk bepleit. Hulle het die noodsaak beklemtoon om aan die inheemse mense

Bl. 405

in Asië en Afrika die geleentheid te gee om binne hul eie kulturele gemeenskap Christene te word. Tussen 1892 en 1902 het Gustav Warneck die belangrikste Duitse teoretikus oor sendingwerk, sy magnum opus in drie dele gepubliseer. Hierdie werk het die belangrikheid daarvan geklemtoon dat 'n hele gemeenskap tot die Christendom bekeer moet word en dat daar nasionale kerke gevestig moet word wat sowel die moedertaal as die tradisionele gebruike bewaar. Hierdie kerke moet hulle self ondersteun, regeer en uitbou.

Dié benadering het die invloed van die Duitse Romantiek weerspieël, maar daar was ook in 'n breër kring steun daarvoor. By die eerste algemene sendingkonferensies wat tussen 1904 en 1906 in Suid-Afrika gehou is, het verskeie Engelssprekende geestelikes gepleit dat swart mense die ruimte gegee moet word om self te ontwikkel. Daar was groot onderlinge begrip onder die sendinggenootskappe vir mekaar se werkmetodes. In 1912 het W.C. Willoughby van die Londense Sendinggenootskap 'n boek gepubliseer waarin hy 'n oproep gedoen het vir 'n "self-supporting,, self-propagating and self-governing indigenou church". Ten nouste hieraan gekoppel was die steun vir spesiale onderwys vir swart mense.

In 1910 het al die vernaamste sendinggenootskappe die eerste keer in Edinburg, Skotland, byeengekkom. Hier is algemene kritiek uitgespreek op die neiging "to reproduce (without sufficient regard to conditions of native life) methods of educational organization which were in force at the time in the home countries". Sprekers het die noodsaak beklemtoon om onderwys en nywerheids- en landbou-opleiding aan te bied wat aangepas is by die behoeftes van die inheemse mense. Gunstige kommentaar is gelewer op die werk wat die Amerikaanse swart leier, Booker T. Washington, by Tuskegee verrig het.

Van ongeveer 1920 het die Engelse kerke in Suid-Afrika en in die buiteland egter bestendig begin wegbeweeg van die idee van aparte swart en wit ontwikkeling na die ideaal van 'n "open society", of gemeenskaplike samelewing. Dit het hierdie doel nagestreef deur onderwys op sendingstasies aan te bied wat die waardes van die Westerse kultuur, asook 'n goeie beheer van die Engelse taal beklemtoon ht. In teenstelling hiermee het Duitse sendelinge en die NG Kerk volgehou om 'n spesiale ontwikkelingsgang vir swartes en die belangrikheid van inheemse gebruike en tale te beklemtoon.

Die idee van NG "dogterkerke" het ontwikkel. Sendelinge het in 1881 die eerste "dogterkerk" uit verskeie kleurlinggemeentes gevorm. Dit het vinnig gegroei, maar vir finansiële ondersteuning van die NG Kerk as moederkerk afhanklik gebly en moes die oorkoepelende gesag vand ie NG-sinode aanvaar. Teen 1950 was ongeveer 30% van die kleurlingbevolking lede van die NG Sendingkerk.

Wat betref swart mense kon die NG Kerk teen 1930 wys op suksesvolle sendingwerk in plekke soos Rhodesië, Kenia en Nigerië. Sy sendingwerk onder swart mense in Suid-Afrika het egter agtergebly. Die uitsondering was die swart NG Kerk in die Vrystaat. Die ("wit") NG Kerk in die Vrystaat het in 1864 'n onafhanklike sinode gevorm, maar lank onder die invled van die Kaapse NG Kerk gestaan. Die Vrystaatse predikante is opgelei in die teologiese kweekskool op Stellenbosch, waar N.J. Hofmeyr, 'n sterk voorstander van sendingwerk, tot 1907 professor was. Dit was waarskynlik onder sy invloed dat die Vrystaatse kerk dit as die plig van elke kerkraad verklaar het om verantwoordelikheid

Bl. 406

vir sendingwerk binne die grense van die gemeente te aanvaar. Predikante moes sulke werk aanvoor en daaraan bystand verleen. Onderrig en dienste moes in aparte geboue plaasvind en swart katkisante moes as assistente aangestel word.

Swart mense het nooit die dienste in die wit kerk self bygewoon nie. Kleur- en taalverskille was deels verantwoordelik, maar die belangrikste faktor was rassevooroordeel. By die NG Kerk-lidmate was daar geen voorneme om saam met swart mense te aanbid nie. Teen 1910 het die NG Kerk in die Vrystaat 14 sendelinge in sy diens gehad. Daar was 40 sendinggemeentes met 6 839 lidmate. In daardie jaar het die Vrystaatse NG Kerk 'n afsonderlike kerk vir sy swart lede gestig met die NG Sendingkerk as model. Dit het daarop aangedring dat die swart "dogterkerk" haar self op so 'n wyse regeer, dat die gebruike en wense van die swart mense in ag geneem word. Die wit sinode het 'n vetoreg oor die besluite van sy dogterkerk behou, wat finansieel afhanklik daarvan gebly het.

In Transvaal was daar drie Gereformeerde kerke en die pogings om sendingwerk te bevorder, het sterker teenstand ondervind as elders. Die Hervormde Kerk het geen sendingwerk gedoen nie en die Gereformeerde Kerk (Doppers) baie min. Die pogings van die NG Kerk is deur persoonlike verskille en 'n gebrek aan bronne ondermyn. 'n NG kerk vir swart mense is eers in 1932 in Transvaal gestig: die Nederduitse Gererformeerde Bantoekerk.

Die NG Kerk in Suid-Afrika het begin om die kerk se "familie" van wit, kleurling- en swart kerke voor te hou as 'n assosiasie van gelykwaardige kerke. Elke kerk het 'n ander volk verteenwoordig en almal was as volke gelyk voor God. Gelykheid tussen indivudue was egter 'n heeltemal ander saak.

Veral op tewe gebiede was die NG Kerk ver agter die ander kerke. Die een was die ordening van swart predikante. In 1911 het die Engelse Suid-Afrikaanse kerke 341 sendelinge in die land gehad en 171 swart geordendes; die NG Kerk het 225 sendelinge gehad en slegs een swart geordende.

Die ander gebied was die verskaffing van onderwys aan swart- en kleurlingkinders. Teen 1920 was die onderwys in Suid-Afrika feitlik heeltemal gesegregeer. Met behulp van staatsubsidies het kerk- en sendingskole sowat al die onderwys vir swart en gekleurde kinders verskaf. Die meeste swart skole was in die hande van die Rooms-Katolieke en die Anglikaanse Kerk. Die staat het die salarisse in die kerkskole gesubsidieer, terwyl die kerke die skoolgeboue besit en die leerplanne opgestel het. In die hoër standerds was Engels feitlik die enigste medium van onderrig en die leerplanne hoofsaaklik op die Britse model gegrond.

Vir die Nasionaliste in diens van die Transvaalse Onderwysdepartement was die uitsluiting van Afrikaans van die leerplan onaanvaarbaar. In 1936 het Werner Eiselen, hoofinspekteur van naturelle-onderwys in Transvaal, kritiek op die eensydige leerplanne uitgespreek. Hy het gesê 'n doeltreffende leerplan moet kennis van albei amptelike tale insluit.

Die NG Kerk se sending het primêre onderwys aan swart kinders aangebied, m aar geen sekondêre onderwys nie. In teenstelling hiermee het die Engelse kerke en sendinggenootskappe vir elke sendelingonderwyser nege kinders in die sekondêre skool gehad. Politiek was die belangrikste rede waarom die NG Kerk agtergly het wat sekondêre

Bl. 407

onderwys betref. Die NG-lidmate was sterk geneig om te glo dat opgevoede swart mense op gelyke maatskaplike en poliltieke regte met wittes sou aandring.

In die dekade ná die einde van die Eerste Wêreldoorlog, was daar 'n sterk toename in swart mense se vraag na gevorderde onderwys. Die NG Kerk was genoodsaak om hieraan aandag te gee. Dit is nie verbasend dat die NG Kerk in die Vrystaat onder die NG Kerke die leiding geneem het om op die uitdaging te reageer nie. Dié kerk was van vroeg af baie meer bewus van die uitdagings waarvoor die wit kerk te staan gekom het.

In 1905 h et H.A. Roux, 'n NG-sendeling in die Vrystaat, 'n pamflet gepubliseer waarin hy verwys het na die Ethiopiese beweging, wat sedert die 1890's onafhanklik swart kerke gestig en groot getalle swartes gelok het. Hierdie mense was gefrustreerd omdat al die groot Christelilke kerke traag was om swartes in ampte aan te wys. Roux het verklaar dat die swart Christene in die Ethiopiese beweging hulle self heeltemal onafhanklik van die wit mense wil maak. Daar is, het hy geskryf, 'n poging om 'n kloof van haat tussen swart en wit te skep.

Teen die 1920's was daar toenemende kommer binne die Vrystaatse NG Kerk oor die vinnige uitbreiding van die Ethiopiese beweging. By die vergadering in 1929 op Kroonstad waar ds. J.C. du Plessis sy toespraak gehou het, het verskeie sprekers hul kommer hieroor uitgespreek. Een spreker het gevra: "Wie is vandag die beste vriend van die witman in hierdie land?" Sy antwoord was: "Die naturel wat sy onderwys van die NG Kerk kry. Hy is die grootste teenstander van die poliltieke agitators." In 1906 het lord Selborne, Britse hoë kommissaris in Suid-Afrika, verklaar dat sendingwerk van onskatbare waarde is en die land duisende ponde by die polisiëring van die bevolking bespaar.

'n Uitdaging is in die 1920's deur die Industrial and Commercial Workers' Union of Africa gerig. Dit was die eerste vakbond wat daarin geslaag het om 'n groot aantal swartes te organiseer. Die vakbond het hom op die stedelike gebiede toegespits, maar in sekere Vrystaatse distrikte het dit ook plaaswerkers gewerf. Teen die einde van die 1920's was daar volop grugte onder wit mense in die distrik Kroonstad dat onrus elke oomblik kon uitbreek.

Dit was juis op Kroonstad dat die konferensie gehou is waar J.C. du Plessis sy toespraak in 1929 gelewer het. Vir blankes in die Vrystaatse NG Kerk soos J.C. du Plessis en J.G. (Valie) Strydom, NG-sendingsekretaris, was sendingwerk en die maatskaplike orde ten nouste met mekaar verbonde. In sy voorwoord tot die bundel waarin Du Plessis en ander se toesprake gepubliseer is, het Strydom geskryf dat die gevaar van assimilasie deur die regte vorm van evangelisasie en swart onderwys vermy kan word.

"Differensiële ontwikkeling" sonder "volkome segregasie"

In die 1920's het geen leier in die NG Kerk daarvoor gepleit dat die praktyk van gesegregeerde skole, gemeentes en "dogterkere" uitgebrei moet word na aparte politieke regte en instellings nie. Professor Johannes bu Plessis, die mees gesaghebbende stem oor sendingwerk, het elke poging verwerp om die "volkseie" as 'n regverdiging vir diskriminasie te gebruik. Du Plessis kan nie maklik 'n etiket omgehang word nie. Anders as D.F. Malan is hy nie deur die Duitse Romantiese nasionalisme beïnvloed nie.

In 1921 was prof. Du Plessis redakteur van 'n boek waarin bydraes deur tien vooraanstaande

Bl. 408

mense in die sendingkringe van die NG Kerk opgeneem is. Hulle het die NG Kerk probeer verdedig teen die aandag van D.D.T. Jabavu, 'n invloedryke swart intellektueel, dat dit 'n anti-swart kerk is. Die boek het toegegee dat die kerk se prestasies met betrokking tot die swart Suid-Afrikaners nie besonder goed was nie, maar het daarop gewys dat die NG Kerk die enigste kerk in die land is wat uitsluitend op plaaslike fondse vir sendingwerk moet staatmaak.

Die skrywers het segregasie op teoretiese vlak aanvaar, maar was goed bewus van die beleid se dubbelsinnighede en innerlike teenstrydighede in die praktyk.

Hulle het ook op konkrete voorstelle vir 'n verbetering van swart mense se posisie gemaak. Opgevoede swart mense moet vrygestel word van die paswette, swart werkers moet die reg hê om te staak en swart ambagslui moet teen wittes kon kompeteer. Hulle het daarop aangedring dat sekondêre onderwys ook na swartes uitgebrei word.

In 1922 het Du Plessis die voortu geneem met die organiseer van 'n konferensie onder die vaandel van die NG Kerk se federale raad wat vyftig wit en swart leiers saamgebring het. Dit was op hierdie vergadering dat swart mense, wit Englssprekendes en Afrikaners die grootste konsensus oor  segregasie bereik het. Hier is 'n beroep gedoen om differensiële ontwikkeling van die swart mense, maar die vergadering het terselfdertyd volkkome segregasie verwerp. Daar was geen pleidooi vir politieke segregasie nie.

Du Plessis was die man wat die intellektuele raamwerk verskaf het vir die gedagte dat die NG Kerk wesenlik 'n sendingkerk is met 'n breë maatskaplike verantwoordelikheid. Hieruit het die gedagte ontwikkel dat die kerk moet help om die maatskaplike beleid van die land te formuleer. Terwyl Du Plessis nog 'n leiersfiguur in die kerk was, was daar nie baie kans dat die kerk die weg van rassediskriminasie en -uitsluiting sou goedkeur nie. Maar Du Plessis het vasgevang geraak in sy poging om hom teen 'n aanklag van kettery te verdedig. Hierdie aanklag het hoofsaaklik te doen gehad met sy moderne interpretasie van die Bybel en slegs sydelings met sy standpunt oor politiek en sendingwerk.

In 1926 het die Hertzog-regering sy eerste konsepvoorstel vir omvattende segregasie tussen wit en swart ter tafel gelê, wat uiteindelik in 1936 in gewysigde vorm in wetgewing vasgelê  is (sien pp.364-67). Die kerk het nie dadelik die voorstelle ondersteun nie. Op 'n vergadering later in 1926 van die sendingkommissie van die NG Kerk in Transvaal, die Vrystaat en die Kaapprovinsie val die klem nog op die menswaardigheid en regte van swart mense as mense en individue en nie as lede van volke nie. Kort hierna is daar tekens van 'n konserwatiewe wending. Een van die mense wat hierdie reaksie die beste beliggaam het, was Valie Strydom, een van die sterkste voorstanders van wat hy later "apartheid as die NG Kerk se sendingbeleid" sou noem. Op 'n vergadering in 1927 wat deur die NG Kerk georganiseer is en deur Afrikaanse, Engelse en swart kerkleiers bygewoon is, het sommige sprekers voorgestel dat die kerke die dun lagie verwesterse en opgevoede stadswartes moet help om hul strewe te verwesenlik om in die samelewing opgeneem te word.

Stydom het geantwoord dat alle swart mense nie so gematig en intelligent is as diegene wat tenwoordig is nie. As hulle was, sou  hy gesê het: "Gee hulle 'n kans." Strydom se mening was dat die "paar intellilgente swart mense" nooit hul man sou kon staan teen die groot massa nie en veral nie teen diegene wat deur die ICU en die Ethiopiese beweging georganiseer is nie.

Bl. 409

Die nuwe, meer konserwatiewe bui in die kerk het nie beteken dat mense nou prof. Johannes du Plessis se werk verwerp het nie. Baie van sy formulerings sou uitdrukking vind en selfs letterlik aangehaal word in die beleidstukke van die NG Kerk van die 1930's waarin die apartheidbeskouing neerslag gevind het. In 1932 het die groot werk van du Plessis verskyn Wie sal gaan? Sending in teorie en praktyk. Due Plessis het hierin die stigting bepleit van Christelike kerke onder die inheemse mense wat met verloop van tyd in staat sou wees om hulle self te ondersteun en self te regeer. In navolging van sommige Duitse studies oor sendingwerk het hy die noodsaak beklemtoon van sendingwerk wat die volksgees en volkseie versterk.

"Geskik vir sy land en volk": sendingwerk en apartheid

Die aanwesiges by die konferensie in 1929 in Kroonstad het besluit om 'n sendingbeleid te formuleer en dit aan die NG-sinode in die Vrystaat voor te lê. Op die sinode van 1931 het die kerk verklaar dat die swart mense dieselfde einddoel as blankes het, naamlik om 'n "groot en edel nasie in Gods koninkryk te word". Onderwys moet hulle geskik maak vir hul "land en volk". Dit waarsku teen gelykstelling, wat tot verbastering en denasionalisering sal lei en ook teen "gelyke kanse" en "gelyke regte". Die swart mense kan dit wel eis in hul eie streke soos Zoeloeland en Transkei, maar nie in "die gebied wat meer besonder in die besit van die blankes is nie". Dit is die begin van wat kerkleiers gou die beginsel van "vertikale skeiding" sou noem.

Op 'n vergadering in 1935 van die gefedereerde NG Kerk van Suid-Afrika is 'n gemeenskaplike sindingbeleid vir die kerk geformuleer. Hier verklaar die kerk dat die Bybel dit verkondig dat daar verskillende volkere en "kleur-, kultuur- en taalgroepe" bestaan. Onderwys moet volgens die Bybelse eise aangebied word en moet gegrond wees op die groep se kultuur met die klem op sy taal, geskiedenis en gebruike. Kleurlinge en swart mense moet ontwikkel tot "selfrespekterende Christelike volke", wat hul eie "ekonomiese samehorigheid" moet opbou, "so ver moontlik apart van die blanke".

Soos Johann Kinghorn tereg in die werk Die NG Kerk en apartheid aandui, is hier verskeie aspekte wat nuut is. Vir die eerste keer word gepraat van kleurlinge, net soos in die geval van swart mense, as 'n aparte volk. En die kerk laat nou die klem val op die gelykwaardigheid van alle selfrespekterende volke en nie dié van individue nie. Voor 1935 het die kerk die gelyke waarde van alle individue voor God beklemtoon. In die verklaring van 1935 is daar geen poging om die uitsprake skriftuurlik te grond nie. Die "tradisionele" van die Afrikaner is die norm.

Predikante en mense in die NG Kerk wat oor sendingstrategie geink het, was die heel eerste in die Afrikanergemeenskap wat die ideologie van apartheid geformuleer het. Hierdie mense was idealisties en veel minder geneig as akademici en politici om verregaande rassediskriminasie op grond van 'n gewaande minderwaardigheid te kondoneer. Vir die meeste van hulle kon daar nooit enige hiërargie van siele of kerke wees nie. Die politici en akademici het egter gretig van hierdie gaping wat die kerk geskep het, gebruik gemaak. Hulle het ook gesorg dat hulle nie die kerk met ongevoelige uitsprake vervreem nie.

'n Soortgelyk debat het in die klein Gereformeerde Kerk (Doppers) plaasgevind. Die

Bl. 410

tydskrif Koers, gesetel in Potchefstroom, het artikels gepubliseer waarin die swart kultuur voorgestel is as verskillend van, maar nie slegter as die wit kultuur nie. God het al hierdie kulture verorden en dit is die Christelike plig van blankes om swart mense te help om hul eie rasse- en kulturele identiteit te bewaar en hulle te help om op hierdie grondslag te vorder.

Sending as 'n model vir maatskaplike segregasie

Teen die 1930's het mense betrokke by die NG Kerk se sendingbeleid hul gedagtes van godsdiens na die alledaagse lewe oorgeplant. Dit was weer die Vrystaatse ampsdraers van die NG Kerk wat die voortou geneem het. As sendingsekretaris het Valie Strydom Christelik-nasionale onderwys sterk bepleit. Dit moet by die swart kinders respek inboesem vir hul geskiedenis en kultuur en die gebruike van die volk waarin hulle gebore is. Die kernidee van apartheid dat swart mense in etniese gemeenskappe verdeel word word en dat hierdie gemeenskappe elkeen sy eie grondgebied moet hê, het egter toe nog nie uitgekristalliseer nie.

Laat in die 1930's het die apartheidsdenke nog nie veel verder gestrek as gesegregeerde swart woongebiede en vae gedagtes oor reservate wat moet ontwikkel nie. Strydom is deur segregasie in die Verenigde State beïnvloed en ook deur die swart separatisme wat deur sekere swart leiers in Suid-Afrika gepropageer is. In 1937 het hy die VSA besoek waar hy ook 'n konferensie in Noord-Carolina toegespreek het. By sy terugkeer het hy geskryf "oor die beleid van apartheid hier in ons land en die VSA". Hy het die Amerikaanse Suide met sy gesegregeerde skole, kerke, woongebiede en universiteite as 'n model vir sowel kleurlinge as die swart mense van Suid-Afrika voorgehou.

Die NG Kerk se betrokkenheid by sending- en onderwysbeleid het verweef geraak met 'n ander groot bekommernis: die lot van sy armer lede in gemengde woonbuurte en die moontlikheid van bloedvermenging wat dit veroorsaak het. Daniël Lategan, 'n Stellenbosse professor in die teologie, het geskryf dat die kerk 'n "heilige roeping het teenoor die duisende blanke armes in die stede wat 'n worstelende bestaan moet voer". Volgens hom was segregasie in die belang van die "blanke en die nie-blanke". Vir laasgenoemde, het hy geskryf, sal dit lei tot "aparte gesonde stede", waar hulle in staat sal wees om "op hul eie lyne te ontwikkel".

'n Kerklike kommissie het klem gelê op die euwel van minderwaardigheid waaraan die minder gegoede Afrikaners in die gemengde woonbuurte gely het en die noodsaak om hulle te help om hul waardigheid te herwin. al hoe meer NG-predikante het gelo dat aparte wit woonbuurte noodsaaklik is om die toenemende klasseverskille in die Afrikanergemeenskap te oorkom en om aan sy armer lede hul waardigheid terug te gee.

Hoewel die regering begin het om aparte woonbuurte vir bruin en swart mense te bou, wou sommige predikante hê dat die staat woonbuurte wat slegs vir blankes gereserveer is, moet proklameer. In die kwessie van woonbuurtskeiding het G.B.A. Gerdener, professor in sendingwerk aan die Stellenbosse Kweekskool, 'n belangrike rol gespeel. Sy pa en skoonpa was albei Rynse sendelinge en hy self was een van die stigters van die swart NG Kerk in Transvaal. In 1939 het hy sy steun aan aparte woonbuurte vir kleurlinge en swart mense gegee. In 1942 het hy voorsitter geword van die federale sendingraad

Bl. 411

van die NG Kerk, wat in dieselfde jaar 'n versoekskrif tot die regering grig het om woonbuurtsegregasie in te stel. 'n Memorandum van die bioloog H.B. Fantham is saam met die petisie ingedien. Hy het beweer dat kleurlinge wat uit vermenging tussen wit en swart voortspruit, negatiewe maatskaplike en geestelike eienskappe aan die dag lê.

Op 'n ontmoeting in 1943 van die federale sendingraad met Jan Smuts as eerste minister het die afvaardiging gevra dat huwelike tussen wit en bruin mense verbied word. Smuts het dit van die hand gewys en verklaar dat die grens tussen wit en bruin mense in baie gevalle nie getrek kan word nie.

Die regering was simpatieker teenoor die versoek om woonbuurtskeiding. Gerdener het dit gesteun, maar gepleit dat die bruin mense nie verplig moet word om uit 'n gemengde buurt na 'n bruin buurt te trek nie. Die klem moet op die bou van nuwe buurte val. By 'n konferensie van die NG Sendingkerk in 1945 het hy gevra dat die bruin buurte "in alle opsigte 100% moet wees, wat voorregte en geleenthede betref".

"Gelykwaardige en selfstandige ontwikkeling: "Gerdener se visie

Die leiersrol van kerklui in die formulering van apartheid het beteken dat daar van die begin 'n aandrang was dat die beleid ook aan die eis van geregtigheid moet voldoen. Aparte bruin en swart "lokasies" kon klaarblyklik nie die drastiese inperking van swart en bruin regte wat apartheid in die vooruitsig gestel het, regverdig nie. Hulle was arm, agterlik en neerdrukkend.

Daar is dus in die loop van die dertigerjare gesoek na iets groters wat die indruk kon wek dat apartheid nie net oor wit belange en wit selfsug gaan nie. In 1940 het ds. William Nico van Johannesburg 'n preek gehou wat 'n goeie weergawe was van die soeke in die NG Kerk na 'n beleid wat as regverdig bestempel kon word, maar tog ook oorlewing verseker. Hy het gesê dat hy hom beywer "vir die aparte voortbestaan vir die Boerenasie". Hy sou egter verkies dat die volk onder ander nasies verdwyn, eerder as dat dit voortbestaan "sonder God en Sy geregtigheid".

Maar hoe moes aan die eis om geregtigheid voldoen word? Sewe jaar later het Nicol 'n bydrae in 'n boek onder die redaksie van Geoff Cronjé, 'n sosioloog van Pretoria, gelewer wat die verskuiwing van sy denke oor 'n rassebeleid toon. Hy het nou betoog dat selfbeskikking aan die swart mense op elke lewensterrein gegee moet word. Geen perke moet aan swart ontwikkeling gestel word nie. Daar moet algehele afskeiding wees sodat die beleid aan die Christelike eis om geregtigheid kan voldoen en terselfdertyd aan die behoefte om aan die nageslag 'n toekoms as 'n Europese ras te gee. Dit was nie 'n pleidooi vir gebiedskeiding nie, maar vir die ontwikkeling van die bestaande reservate.

Wat het intussen gebeur? In kerkkringe was 'n konferensie wat in 1944 gehou is van aansienlike belang. G.B.A. Gerdener het onder die vaandel van die federale sendingraad en in samewerking met die FAK 'n volkskongres oor rassebeleid georganiseer. Al die Gereformeerde kerke was teenwoordig, asook omtrent al die organisasies in die nasionale beweging. Die kongres het verskeie beginsels aangeneem wat 'n rassebeleid moet onderskraag. Dit moet wit politieke oorlewing verseker en die swart "nasies" die geleentheid gee om in hul eie gebiede te ontwikkel, hulle self te regeer en 'n gevoel van trots op hul eie ras of volk aan te kweek.

Bl. 412

Op hierdie kongres het J.D. du Toit, as digter bekend as Totius en ook professor in die teologie op Potchefstroom, een van die eerste sistematiese teologiese regverdigings van apartheid gegee. Hy het gesê dat die toring van Babel se bouers gepoog het om 'n enkele nasie te skep, maar dat God hulle uitmekaar gedryf het deur hulle in onverstaanbare tale te laat praat. Vir Du Toit was die les in die storie van Babel dat God die "skeiding-maker" is: Dit wat Hy geskei het, moet geskei bly en daar mag geen gelykstelling of verbastering wees nie.

Du Toit het gesteun op Abraham Kuyper wat aan die einde van die negentiende eeu gesê het dat God se ordening van verskillende nasies en state teruggevoer kan word na die toring van Babel. Hier het God die taalverwarring geskep om die duiwel te fnuik, wat 'n wêreldryk wou stig. Maar Kuyper was nie die eerste man met hierdie interpretasie nie. Dit was deel van die algemen Westerse denke oor segregasie. In sy gesaghebbende werk oor die ontwikkeling van rassedenke in Amerika, verwys Winthrop Jordan na twee boeke waarin dieselfde tema voorkom. Die eerste is in 1778 gepubliseer in Edinburg, Skotland, en die tweede het in 1812 in Philadelphia verskyn. Albei het die toring van Babel gekoppel aan 'n Godsplan om verskillende nasies in verskillende streke te vestig. Hoewel D.F. Malan teologies 'n liberaal genoem kan word, het ook hy aan hierdie ou vertolking van die toring van Babel vasgeklou in 'n poging om apartheid teologies te regverdig.

Selfs Hendrik Verwoerd, redakteur van Die Transvaler, was ingenome met die siening, hoewel hy selde enigiets behalwe sekulêre argumente gebruik het. Hy het geskryf dat die Afrikaner se stryd "teen miljoene nie-blankes" al hoe moeiliker sal word. Hulle sal oorleef as hulle aan 'n enkele idee vasklou: dit is in ooreenstemming met God se wil dat verskillende rasse en nasies bestaan.

"'n Idee waarvoor 'n mens kan buig"

Amper onafhanklik van die kerklui het die sekulêre intelligentsia ook na 'n beleid gesoek wat rassegelykheid verwerp en tog verskil van segregasie. Die beleid moes op akademiese gronde verdig kon word en tog ook voorgehou kon word as regverdig, want die meeste van sy ondersteuners was Christene wat hul godsdiens met erns bejeën het. Al hoe meer het die oortuiging ontstaan dat die Afrikaners se eie toenemend suksesvolle stryd om  hulle self as 'n bepaalde gemeenskap en deur instellilngs soos die skool en kerk te organiseer, 'n model vir die buin en die swart mense gebied het.

Een van die eerste geleenthede waarby 'n nuwe benadering tot die rassebeleid ontwikkel kon word, was 'n kommissie van ondersoek na die kleurlingbevolking onder voorsitterskap van R.W. Wilcocks wat die regering in 1935 aangestel het. Wilcocks was professor op Stellenbosch en vroeër lid van die Carnegie-kommissie. Die kommissie het bevind dat daar weens wydverspreide diskriminasie deur die regering, werkgewers en vakbonde nypende armoede onder die grootste deel van die bruin mense was. Die beleid van segregasie het hulle al hoe meer aan bande gelê en min geleentede bo die vlak van hande-arbeid gebied. Dit het die neiging onder bruin mense versterk om as witter te probeer deurgaan.

Die bydraes van drie Afrikanerlede van die kommissie en die drie professore wat

Bl. 413

getuienis voor die kommissie afgelê het, getuig van 'n gemeenskaplike benadering. Hulle het die kleurlinge as 'n aparte ras beskou en het aparte woongebiede vir hulle aanbeveel. Hulle wou die uitbreiding van die beleid van beskaafde arbeid na die bruin mense hê. Hulle wou ook hê spesiale afdelings moet in regeringsdepartement geskep word om na kleurlinge se belange om te sien. Die ander kommissielede, onder andere dr. Abdullah Abdurahman, het verskil. Hulle gemeenskaplike politieke regte en gelyke betaling vir gelyke werk aanbeveel. Die implikasie was dat die skeidslyn tussen wit en bruin verder moes vervaag.

Die getuienis van Prof. Hendrik Verwoerd het die buitelyne van die toekomstige ideologie van apartheid verskaf. Hy het bruin armoede gebruik as 'n regverdiging vir toenemende diskriminasie teen die swart mense in die Wes-Kaap. Groeiende getalle swart werkers het volgens hom 'n bedreiging vir sowel bruin mense as swak geskoolde wittes verteenwoordig. Die plek van die swart mense is in die reservate, was sy standpunt.

Nog 'n belangrike stap in die ontplooiing van apartheid was die parlementêre debat van 1936 oor die swart stemreg in die Kaapprovinsie. Hier het dr. D.F. Malan verklaar dat aparte skole en kerke vir bruin en swart mense die wrywing en vrnededring van bruin mense, wat andersins op agterbanke sou moet sit, uitskakel. Hy het gevra dat die beginsels van gesegregeerde skole en kerke uitgebrei moet word na politieke vertenwoordiging. Sowel bruin as swart mense moet op aparte kieserslyste geplaas word en aparte politieke instellings moet vir hulle ingestel word.

In hierdie debat het Hertzog voorgestel dat die grondgebied van die reservate verdubbel word. Die NP het die aankoop van meer grond teengestaan en gesê dat die geld gebruik moet word om grond te koop vir wit huurders of bywoners. Die aankoop van grond vir swart mense moes volgens die NP op hul eie inisiatief en ooreenkomstig hul eie behoeftes geskied. Hierdie houding het Jan Hofmeyr se waarneming bevestig dat "konstruktiewe segregasie" onprakties is vanweë selfsug.

Apartheid as 'n sekulêre ideologie en beleid het in die jare veertig uitgekristalliseer. Dit is nie, soos algemeen in die literaar aangeneem word, 'n produk van noordelike Nasionaliste of die Broederbond nie. Dit is in die eerste plek ontwikkel deur Stellenbosse akademici, joernaliste van Die Burger en politici in die Wes-Kaap, wat almal in Malan se dampkring beweeg het en van wie min hierdie tyd tot die Boedrbond behoort het. Hierdie Bolandse apartheiddenkers het 'n formule gesoek om swart mense van die politieke stelsel uit te sluit sonder om  net ras te gebruik. Hulle het goed geweet dat naakte rassisme heeltemal gediskrediteer was. Hulle het ook die teologiese fundering, wat veral in die Noorde inslag gevind het, problematies gevind. Piet Cillié, wat waarskynlik die invloedrykste Afrikaanse joernalis was, het in 1952 aan Ben Marais geskryf: "Ek stem volkome met jou saam dat die pogings om Skriftuurlike stutte vir apartheid te vind, in die naïewe vorm wat hierdie soektog meestal aanneem, tot mislukking gedoem is."

Die sekulêrele akademici in Transvaal het 'n feitlik heeltemal aparte groep uitgemaak. Behalwe deur 'n heel beperkte mate van kruisbestuiwing in die Broederbond het die noordelike en die suidelike Nasionaliste min kontak met mekaar gehad. Die Nasionaliste in die Noorde was geneig om die idee van 'n hiërargie van rasse te verdedig en saam

Bl. 414

daarmee Bybelse sanksie vir segregasie. Sowel in die Suide as in die Noorde het die vernaamste bydraes tot apartheid gekom uit die dissiplines volkekunde, Bantoe-administrasie, sosiologie en geskiedenis. Onder hulle kan verskillende benaderings onderskei word: 'n historiese benadering, 'n klem op etniese verskille en 'n beheptheid met rasseverskille.

Die historiese argument het uit twee dele bestaan. In die eerste plek is geredenaar dat wit en swart mense ongeveer gelyktydig in Suid-Afrika aangekom het. Nie een was dus inheems niel; albei groepe was "koloniste". Die bestaande reservate was die werklike tuiste van die swartes. Die tweede argument was dat territoriale segregasie vand ie vroegste tye die aanvaarde beleid van Suid-Afrika was.

Die historiese argument vir 'n "blanke Suid-Afrika" was nie so vergesog soos dit vandag klink nie. Dit was welbekend dat die blankes die grond van die Khoi-Khois en die San in die westelike deel van die land beset het, maar dit was eers in die 1950's en 1960's dat 'n sekere mate van konsensus onder liberale akademici bereik is dat swart mense die Limpoporivier vyftien tot twintig eeue gelede oorgesteek en oor die oostelike helfte van Suid-Afrika versprei het. Dit was egter reeds in die 1940's moeilik om te ontken dat 'n groot deel van die oostelike deel van Suid-Afrika slegs tydelik deur die Mfecane ontvolk was toe die Groot Trek plaasgevind het.

Die opvatting dat die Afrikanergrensboere en die Voortrekkers segregasie voorgestaan het, kan nie aanvaar word nie. In die verlede het gebiedskeiding misluk juis omdat die boere grense geïgnoreer het en die soek na nuwe grond en swart arbeid by hulle voorrang geniet het. Hulle was eintlik net in segregasie geïnteresseerd wanneer hulle "oorbodige" swart mense na die een of ander afgelë gebied weggestuur wou hê.

Afrikaanse historici het volgehou dat daar 'n unieke Afrikanerbenadering tot rasse-aangeleenthede in die geskiedenis was. As redakteur van Die Transvaler het Verwoerd verskeie kere verwys na die Voortrekkerbeginsel dat alle gelykstelling tussen die rasse verwerp word. Hier was die historici nader aan die kol. 'n Verset teen gelykstelling, wat sy oorsprong gehad het in die statusverskille van die Kompanjie, het in die loop van die agtiende eeu 'n sentrale tema in die Afrikaners se politieke denke geword. Dit het 'n lang lewe gehad en al wat vrander het, was dat burgerstatus deur blanke status vervang is. Teen die 1940's was verset teen die gelykstelling van blankes met bruin of swart mense 'n politieke faktor waarmee die politici deeglik rekening moes hou.

Een van die heel eerste Afrikaanse akademici wat etniese verskille as 'n beleidsgrondslag beklemtoon het, was die antropoloog Werner Eiselen. Volgens hom was die werklike taak in Suid-Afrika nie die oplossing van 'n rasseprobleem nie, maar die skepping van geskikte reëlings vir die saambestaan van verskillende etniese groepe. Reeds in 1934 het hy gekoördineerde staatsinmenging voorgestaan om die "Bantoe" te help om hul volke en kulture op te bou. In 1941 het P.J. Schoeman, ook 'n Stellenbosse volkekundige, die daarstelling van drie of vier groot swart reservate bepleit. Hier kan swart stamtrots gekweek word en die gebiede kan mettertyd in klein state ontwikkel. Die Afrikaner is volgens hom geroepe, nie alleen om die ontwikkeling van sy eie volk te verseker nie, maar ook dié van die agtergeblewe en minder ontwikkelde volke. Hierdie mense moet gehelp word om hulle self te help en op te hef.

Die oplossing van die naturellevraagstuk in Suid-Afrika, wat in 1943 gepubliseer is

Bl. 415

was die eerste boek (dit was eintlik 'n uitgebeide pamflet) wat 'n beleid genaamd apartheid voorgestel en dit met terminologie uit die sosiale wetenskappe geregverdig het. Die skrywers was drie Stellenbosse akademici: P.J. Coertze ('n dosent in volkekunde), F.J. Language (naturelle-administrasie) en B.I.C. van Eeden (Bantoetale). In 'n dankbetuiging in die voorwoord word G.B.A. Gerdener se invloed erken, wat 'n goeie aanduiding is van die saamkom van die idees van 'n sendingstrateeg en sekulêre nasionaliste. Paternalistiese denke van die agtiende eeu gekruis met die meer moderne nasionalistiese denke deurdrenk die boek se boodskap.

Die studie stel 'n "radikale en totale apartheid" voor en gebruik sowel ras as volk as skeidslyne. Daar is "natuurlike rasseverskille" wat God gewil het en dan is daar ook verskillende volke, elk met 'n "onderskeie of afsonderlike aard, moontlikheid en bestemming ... wat geëerbiedig en gehandhaaf moet word".

Die boek betoog dat swart mense weens verstedeliking ontwrig word en dat hul sosiale strukture disintegreer. Dit lei tot 'n "onverantwoordelike individualisme", 'n gebrek aan maatskaplike verantwoordelikheid, "tugteloosheid" en sedelike verval. In dié krisis wend sommige swart mense hulle tot 'n "siellose na-apery" van die Westerlinge.

Die drie Stellenbosse akademici wil die oorspronklike maatskaplike strukture van die inheemse swrt mense herstel. Die swart mense moet bestendig aan die wit ekonomie onttrek en verplaas word na die reservate. Dáár moet 'n herlewing plaasvind van die tradisionele instellings om hulle self te administreer, hul kultuur te bewaar en die algemene dissipline te herstel - alles wat gesond is in die volkseie. Ter wille van 'n "nuwe naturellelewe" moet geen "vreemdelingsendelinge" toegelaat word om allerhande skadelike opvattinge te verkondig nie. Die ontwikkeling kan m ettertyd daartoe lei dat daar 'n hele reeks van nasionale selfondersteunde ekonomiese eenhede ontstaan.

Hoewel die skrywers slegs sydelings verwys na wat in die sogenaamde blanke land moet gebeur, neem dit 'n deurslaggewende plek in hul denke in. Slegs daardie swart arbeiders wat absoluut noodsaaklik is, moet toegelaat word om in die wit gebied te bly. Die ongeskoolde wit arbeider, wat nie met die swart man teen dieselfde loon kan meeding nie, sal dan sy regmatige plek inneem. Uiteindelik moet die beleid daartoe lei dat so min swart mense in die wit gebied oorbly dat hulle nie langer regstreeks of onregstreeks in "blanke bestuursliggame" verteenwoordig hoef te word nie. Hierdie beleid is die enigste weg "waarlangs die Afrikanervolk aan die een kant en die naturellevolksgroepe aan die ander ware geluk in die toekoms sal vind".

Op Potchefstroom het die veelsydige L.J. du Plessis 'n Calvinistiese kritiek van liberalisme en kapitalisme geformuleer wat in belangrike opsigte by die werk van die Stellenbosse apartheidsdenkers aangesluit het. Volgens hom is die kapitalistiese werkgewer met sy vryheid om uit te buit, al wat in die bestaande ekonomiese stelsel vry is. Liberale staan kapitalisme nie teen nie, want hulle beskou dit as 'n rasionale stelsel. Hulle wil graag aan swartes die vryheid gun om in die Europese beskawing geassimileer te word, maar ignoreer die gevare. Ontstamde swart mense is gevaarlik omdat hulle die kodes en lewenstandaarde van die blankes nie voldoende aanvaar nie. 'n Gesonder maatskaplike beleid hang af van die aanvaarding van verskille in die ontwikkeling van groepe. Groepe wat hoër staan, moet nie met dié wat laer staan, assimileer nie. Hulle moet ontwikkel word op grondslag van hul eie strukture en kultuur.

Bl. 416

Die romanskrywer Joseph Conrad het geskryf dat dit gewoonlik nie 'n mooi prentjie is nie as 'n groep mense iets wil wegneem van 'n ander groep wat donkerder van kleur is en effens platter neuse het. Al wat dit kan goedmaak, is 'n idee. "An idea at the back of it, not a sentimental pretence but an idea; and an unselfish belief in the idea - something you can set up, and bow down before and offer a sacrifice to." 

Die idee waarvoor die apartheidsdenkers gebuig het, was die gedagte dat die Afrikaners aan swrtes alles "gun" wat hulle hulself "gun". (Die woord is feitlik onvertaalbaar in Engels.) Soos die Afrikaners sal swart en bruin mense hul eie skole, kerke, woongebide, tuislande en regerings hê waarop hulle hul eie kulturele stempel kan afdruk. Die Nasionaliste het hulle voorgeneem om apartheid baie meer positief uit te voer as segregasie, vral omdat hulle self 'n lang en bitter stryd gevoer het om  hul volkseie te vind en in hul eie gemeenskap uit te leef.

In die Christelik-nasionale onderwysbeleid teenoor die swartes het hierdie idee sterk op die voorgrond gekom. Hier het die Broederbond met sy groot getalle onderwysers, dosente en predikante 'n belangrike rol g espeel. Christelilke nasionalisme, met of sonder 'n koppelteken, was lank reeds 'n sleutelfrase in die woordeskat van die Afrikanernasionalisme. Die program van beginsels wat Hertzog se Nasionale Party vroeg in 1914 aanvaar het, en die party wat Malan twintig jaar later gestig het, het albei verklaar dat die party 'n Christelik-nasionale karakter het. Die betekenis van hierdie term as 'n politieke filosofie het vaag gebly.

Christelik-nasionale onderwys (CNO) as opvoedkundige filosofie het 'n veel konkreter inhoud gehad. Dit het aangedring op skole wat die Bybel as fondament, die moedertaal as voertaal en die "nasionale beginsel" as uitgangspunte neem. Met laasgenoemde is bedoel liefde vir alles wat "die eie is", met spesiale verwysing na die land, die taal, die geskiedenis en die kultuur. Toe die FAK in 1948 'n Instituut vir Christelike Nasionale Onderwys oprig, het die stigtingdokument verklaar dat die swart mense gelei moet word om die Christelike en nasionale beginsels in die onderwys te aanvaar, net soos die blankes.

CNO-onderwys was altyd omstrede. Stals se studie van die Broederbond verklaar dat die meeste Afrikaners op die grondvlak dit nie werklik verstaan het nie. Baie het sekulêre onderwys verlang en sou onderwys deur die medium van albei amptelike tale in plaas van enkelmedium verkies het.

Die Afrikanerskole ná 1948 word gewoonlik as Christelik-nasionale instellings beskryf, maar buiten die groot klem wat geheg is aan die onderrig van geskiedenis en enkel-mediumskole, het nie veel toe verander nie. Weens protes deur Engelssprekendes het die regering Christelik-nasionale onderwys nie in die Engelse skole ingevoer nie.

CNO is wel in swart skole ingevoer. Aan die vooraand van die verkiesing van 1948 het sommige kerkleiers en opvoedkundiges begin wonder of dit verstandig van die NG JKerk is om soveel van sy hulpbronne aan die buitelandse sendingwerk te bestee. Die Broederbond het 'n bespreking geïnisieer. Op hierdie tydstip was 175 predikante lede en het hulle op een na die grootste professionele groep in die organisasie uitgemaak. Op 'n spesiale vergadering is in 1947 konsensus bereik dat die Afrikaanse kerke hulle op plaaslike sendingwerk - veral in die stede - moet toespits. Wit sendelinge moet vervang word deur swart ampsdraers en die swart kerke moet gehelp word om in selfstandige kerke te onwikkel.

Bl. 417

Werner Eiselen het daarop gwys dat die staat jaarliks £4 miljoen aan swart skole bestee, hoofsaaklik as bydraes tot die salarisse. Hy het voorgestel dat die staat die swart skole oorneem. Die verslag van die NP se Sauer-kommissie het Christelik-nasionale onderwys vir swart kinders aanbeveel ooreenkomstig hul volksaard, aanleg en agtergrond, sodat "Bantoewaardige" burgers gekweek kan word. Eiselen sou kort daana die kans kry om so 'n beleid in die swart skole in te voer.

'n Rassistiese beleid sonder rassiste?

Daar was ook onder die intelligentsia mense wat die sterkste klem nie op kultuur en die volkseie gelê het nie, maar op ras en rassesuiwerheid as die grondslag van wit oorheerseing. sommige historici glo dat hierdie opvattinge afkomstig was van die Nazi-ideologie, wat ná 1930 sterk opgang in Duitsland gemaak het. Die Nasionaal-sosialisme het egter min aanhangers onder die intelligentsia van die Afrikaners gehad en soos reeds aangetoon, was daar in Suid-Afrika breë steun vir rassesuiwerheid, ook onder liberale (pp.399-400).

Daar was talle Nasionale akademici, ook Verwoerd, wat die idee verwerp het dat swart mense biologies minderwaardig is of dat ras iets te doen het met intelligensie of vermoë. J. Chris Coetzee, 'n gerekende opvoedkundige, het in 1943 geskryf dat daar geen bewyse daarvoor is dat swart mense minderwaardig is nie. Die NP-leiers sou al hoe meer hul afkeer uitspreek van rassistiese uitdrukkings in toesprake en het self nie gewraakte woorde gebruik nie.

Daar moet egter nie te veel in die verandering in die retoriek gelees word nie. Rassistiese terme is wel uit die woordeskat van apartheid verwyder, maar dit het min verskil gemaak aan die werklikheid dat die beleid alle mense wat nie wit is nie, gestigmatiseer het. Die uitgangspunt van die beleid was dat swart en bruin mense in hul lewenswyse wesenlik verskil van wit mense, nie omdat omtrent almal arm is nie, maar omdat hulle nie wit is nie. Die boodskap wat die apartheidselsel heeltyd uitgestraal het, dikwels op kwetsende wyse, wat swart en bruin mense sosiaal minderwaardig, sedelik onvolwasse, intellektueel onontwikkeld en ongeskik vir intieme verhoudings is.

Hoe rym 'n mens die toenemende afwesigheid van rassisme in 'n rassistiese projek soos apartheid? Soms het die voorstanders die beleid net anders verpak in die hoop dat dit die projek minder aanstootlik sal maak. Maar daar was ook 'n ander dimensie. Die Nasionaliste het geredeneer dat die Afrikaners as volk nie sonder die behoud van rasse-eksklusiwiteit sou oorleef nie. Die ongelykheid wat apartheid geskep het en die weerhouding van die stemreg vir swart mense - so is geredeneer - is nie 'n doel op sigself nie. Die afrikaners se politieke oorlewing is die hoofdoel en apartheid bloot die instrument.

Afrikaanse redakteurs het hierdie tema herhaaldelik verkondig. In sy boek van 1954 Het die Afrikaanse volk 'n toekoms? het G.D. Scholtz, historikus en redakteur van Die Transvaler, beklemtoon dat die Afrkaners so 'n klein volkie is, wat in 1950 slegs 12% van die bevolking uitgemaak het. Die Afrikaners, het Scholtz verklaar, het nog nooit die luukse van getalle geken nie en die moontlikheid dat hulle as volk kon uitsterf, was 'n wenslike gevaar. In 1902, by Vereeniging, was daar die vrees dat die republikeinse Afrikaners as volk kon uitsterf. Later was daar die vrees van oorweldiging deur immigrasie.

Bl, 418

Teen 1950 was daar die toenemende afhanklikheid van bruin en swart arbeid wat volgens Scholtz "nie meer lank geduld kan word sonder om die toekoms van die Arfrikaanse volk onherroeplik in gevaar te stel nie". Hy waarsku dat "blank en nie-blank nie meer veel langer dieselfde gebied in Suid-Afrika kan bewoon nie". Beskerming deur wetgewing skep 'n kunsmatige posisie. as die kunsmatige posisie verdwyn, "sal ook die voortbestaan van die Afrikaanse volk sy grootste bedreiging tegemoet gaan".

Vir Piet Cillié van Die burger het alles gegaan om "nasionale instinkte". Hy het die teoloë B.B. Keet en Ben Marais gekritiseer omdat hulle nie die kwessie van "politieke mag wat ten grondslag lê aan die rasseverhoudinge" in ag sou neem nie. Apartheid moet 'n manier bied waarop die Afrikaners en die groter wit gemeenskap mag oor hulleself kan behou en geleidelik vryheid aan swartes kan gee. Op 1 desember 1952 het hy privaat aan Marais geskryf: "Soos die Jode in Palestina en die Mohammedane in Pakistan, het ons ons nie van Britse dominansie vry geveg om deur 'n andersoortige meerderheid gedomineer te word nie. Ons sal daardie meerderheid geleidelik sy vryheid moet gee, maar vryheid vir homself, nooit mag oor ons nie. Ons is in die posisie van 'n koloniale moondheid wat sy afhanklilke volke na selfstandigheid moet lei, met die komplikasie dat daardie volke nie deur die apartheid van duisende myle oseaan van ons geskei is nie, maar naas en tussen ons woon. M.i. het ons klaar besluit wat ons nie gaan toelaat nie; hulle gaan nie meer regte kry as dit beteken meer regte oor en in ons lewens nie."

Dit was nie net Nasionaliste wat hierdie stelling gemaak het nie. L.E. Neame, 'n liberale redakteur van The Cape Argus en die skrywer van 'n boek oor apartheid, het die opvatting verwerp dat apartheid suiwer gebaseer is op die aanspraak dat die wit ras inherent meerderwaardig is. vir hom is kleurvooroordeel nie die kern van die saak nie. Die probleem is "national rather than pigmental. Differentiation is not enforced as a brand of inferiority but as 'n bulwark against the infiltration of people of another civilization. The motive is not detraction but defence."

Oënskynlik stort hierdie argument in duie as 'n mens apartheid se diskriminasie teen die bruin mense in aanmerking neem. Hulle was nie 'n bedreiging en het ook nie 'n ander beskawing of kultuur verteenwoordig nie. In werklikheid was die kleurlinge egter slagoffers van die stryd tussen wit en swart. Die Nasionaliste wou die kleurlinge nie in die dominante groep opneem nie, omdat hulle geglo het dat dit die verkeerde sein aan swartes sou gee en die beleid van swart "tuislande" sou ondermyn. Hendrik Verwoerd het op sy konsekwentheid geroem, maar toe hy by geleentheid aan 'n rassebeleid vir Suidwes-Afrika moes dink, het hy onomwonde gesê dat daar geen logiese rede is dat die bruin mense in die gebied 'n groep vorm wat van die wittes geskei moet word nie. Maar Verwoerd het toe nie oor Suid-Afrika gedink nie.

Vir Geoff Cronjé was die gewaande rasseverskille tussen wit en bruin egter deurslaggewend. Hy het sy rasse-obsessies op skrif gestel en veel verder gegaan as enige ander nasionalistiese akademikus, tot op die punt dat die romanskrywer John Cetzee hom as mal bestempel. Cronjé het 'n aandeel gehad aan drie boeke wat net voor die verkiesing van 1948 verskyn het en dit het historici verkeerdelik laat aanneem dat hy 'n invloedryke figuur was. As iemand met sterk bande met die Ossewa-Brandwag gedurende die oorlogsjare het hy geen besondere gesag in D.F. Malan se binnekring gehad nie.

Op grondvlak het sy gedagtes wel deeglik steun geniet. Een van Cronjé se vernaamste

Bl. 419

obsessies was met die bruin mense. Hy het hulle beskou as 'n lewende voorbeeld van die rampspoedige gevolge van bloedvermenging. Volgens hom is die kleurling 'n "sluwe insluiper" wat die wit gemeenskap amper ongemerk binnedring en sy bloed besoedel. Hy het op byna kompulsiewe wyse geskryf oor die gemengde krotbuurte waar blankes hul volksbande verloor en 'n "gelykvoeling" ontwikkel met diegene wat nie wit is nie.

Cronjé het vermenging tussen wit en swart teengestaan omdat dit sou lei tot die ontstamming en die verlies van 'n spesifieke kulturele identiteit van swartes. Vir swart mense wat hul eie kultuur behou en bloedvermenging vermy, het hy 'n gelykwaardigheid met blankes voorgestel, maar dit moes 'n streng etniese vorm aanneem.

Ná die verkiesing van 1948 het Z.R. Mahabane, president van die Interdenominational African Ministers' Federation, 'n insiggewende opmerking gemaak. Volgens hom het apartheid enersyds gespruit uit 'n vreeskompleks en andersyds uit 'n meerderwaardigheidskompleks. Die vreeskompleks het hom laat geld in die voortdurende bekommernis oor oorlewing, die merderwaardigheidskompleks in die konstante rassistiese verwysing op grondvlak na "Kaffers, Hotnots of Koeliles" as lede van 'n ras wat nog nie sy kinderskoene ontgroei het nie. Cronjé se geskrifte verskaf 'n illustrasie van Mahabane se treffende waarneming.

Liberalisme en liberale nasionalisme: Hoernlé en Van Wyk Louw

Teen 1950 was die belangrikste ideologiese kampe in die wit gemeenskap liberalisme en nasionalisme. Daar was nie werklik 'n debat tussen hulle moontlik nie, omdat die uitgangspunte so totaal verskillend was. Vir die liberale het dit oor vryheid, regte en die menswaardigheid van die individue gegaan. Vir die nasionaliste was dit volk, nasionalisme en wit oorlewing. Op suiwer retoriese vlak het die nasionaliste wel by die liberale gedagtewêreld probeer aansluit. Anthony Delius, 'n vooraanstaande liberale joernalis, het daarop gewys hoe graag nasionaliste liberale konsepte oorneem ten einde aan apartheid 'n moderne aanskyn te gee.

Die intellektuele in die NP-kamp het nie die VP se onsamehangende en huiwerige rassebeleid ernstig opgeneem nie. Vir hulle was die grootste uitdaging die denke van die invloedryke liberale en in die besonder Jan Hofmeyr en Alfred Hoernlé se denke. N.P. van Wyk Louw, die voorste Afrikaner-intellektueel, was baie krities oor Hofmeyr se visie van "going forward in faith" en het gedink dat dit aan onverantwoordelikheid grens. Hy skryf dat die enkele voorbeeld wat Hofmeyr ter ondersteuning van sy pleidooi vir die geleidelike uitbreiding van die stemreg genoem het, Brittanje se inlywing van sy eie (wit) werkersklas is. Brittanje met sy homogene rassesamestelling kan hoegenaamd nie as voorbeeld vir Suid-Afrika dien nie.

Louw het die liberale van 'n gebrek aan realisme beskuldig. Hy het geskryf dat hulle nie die oorwig van swart getalle in berekening bring nie en onwillig is om met Suid-Afrika as 'n heterogene samelewing erns te maak. In abstrakte terme klink die liberale eise van vryheid, gelyke regte en gelyke kanse vir almal "byna vanselfsprekend billik", maar in die praktyk is die implikasies ontstellend. Hul toepassing beteken dat die twee betreklik ontwikkelde blanke gemeenskappe "versink tot magtelose minderhede tussen 'n massa swartes". Die Afrikaners is geen klein koloniale groep nie en het, anders as

Bl. 420

die Engelssprekendes, nie 'n ander land om na te vlug nie. Om "liberaal" te wees, kom vir die Afrikaner "op nasionale selfmoord en vernietiging neer ... en as hy hier so 'n minderheid word, dan weet hy dat hy so hulpeloos as die Jood in Duitsland sal wees".

In sy pleidooie vir 'n "liberale nasionalisme", soos hy dit genoem het, is Louw se uitgangspunt dat daar 'n tragiese skaakmat in Suid-Afrika bestaan. Swart mense het die oorwig van getalle, blankes die kulturele, ekonomiese en militêre oorwig. Die stryd is tussen 'n wit en 'n swart nasionalisme, wt elkeen oor sy eie toekoms wil beskik. Dit is die tipiese tragiese situasie in die geskiedenis waar "twee 'regte' onverenigbaar teenoor mekaar staan". 'n Sege van een van die twee kante word self onregverdig. In Louw se oë veroordeel die liberaal hom self tot steriliteit deur eenvoudig "volle demokrasie" te eis in 'n land waar "eenvormige gelykheid alleen oor die liggaam van 'n hele volk heen bereik kan word".

Louw is geprikkel deur 'n lesing wat Hoernlé in 1939 gegee het, wat later gepubliseer en wyd bespreek is onder die nasionalistiese akademici. Hoernlé het drie toekomstige politieke moontlikhede vir Suid-Afrika voorsien" parallelisme, waarin verskillende rasse in 'n posisie van onderdanigheid teenoor 'n heersersgroep staan; assimilasie, waarin al die verskillende rasseverskille mettertyd uitgewis word; en separasie of skeiding. Hy het laasgenoemde besrkfy as "a sundering or dissociation so complete as to destroy the very possibility of effective domination by another group". Hoewel Hoernlé hierdie opsie as 'n teoretiese moontlikheid genoem het, het hy - soos Hofmeyr - gemeen dat die blankes in die praktyk sou weier om die geweldige opofferings te maak om dit te laat slaag.

Louw het die Afrikaners se nasionalisme as die grondslag beskou vir Hoernlé se derde opsie van "separation" of skeiding as 'n moontlike oplossing vir die wit-swart-probleem. Hy het geskryf: "(Die) erkenning van die nasionale prinsiep vir die Afrikaner moet logies die erkenning daarvan vir alle nasionale groepe in Suid-Afrika insluit. Ons mag dan nie praat van onsself as 'die volk van Suid-Afrika nie', maar as 'een van die volke van Suid-Afrika'. Ons moet konsekwent en radikaal dink aan die Unie as 'n multi-nasionale staat en ons vraagstukke begin deurdink binne die grense wat vir ons deur die konkrete politiek geskep is."

Teen 1948 het hy vier wit en vier swart afsonderlike state in Suid-Afrika voorsien. Maar hy het sy denke oor die hele kwessie van die werklike verdeling van die land vaag gehou. In 1960 het hy net sydelings verwys na die noodsaak om plek te maak vir "twee soorte mense" in "twee helftes van hierdie groot land van ons".

Louw se woorde kon op verskillende wyses gebruik word. In die 1960's en vroeë 1970's het die apologete vir apartheid formulerings en beeldspraak gebruik wat baie klink na dié wat die eerste keer deur Louw in die 1940's aangewend is. Maar terselfdertyd was sy konsepsie van die Afrikaners as slegs een van verskillende gelyke volke iets watop die duur die ideologie van wit baasskap ondermyn het.

Die werklike rede waarom Van Wyk Louw se politieke opvattinge lank ná hom geleef het, was die etiese dimensie wat hy in die debat oor Afrikaneroorlewing ingevoer het. Hy het dit gedoen deur die pregnante frase "voortbestaan in geregtigheid". Sy argument was dat die dood van die volk verkieslik is bo 'n volksbestaan gegrond op ongeregtigheid.Sy belangrikste opstel, "Kultuur en Krisis", is die eerste keer in Augustus 1952 in Die Huisgenoot  gepubliseer.

Bl. 421

Die prikkel vir sy opstel was die beleid van die nuwe NP-regering, veral oor groepsgebiede, wat 'n diep kloof tussen die Afrikaners en die kleurlinge gedryf het. Hy het geweier om te glo dat wetgewing wat teen die kleurlinggemeenskap gerig is,  noodsaaklik is vir die oorlewing van die Afrikanervolk. Dit was in hierdie verband dat hy die treffende passasies geskryf het wat in die volgende vier dekades in die openbare debat sou eggo.

Hy het drie soorte volkskrisisse geïdentifiseer waarin die voortbestaan van 'n volk in die gedrang is. Vir eers kan 'n volk deur militêre oorrompeling (soos Transvaal in 1899) of deur toeploeg (massa-immigrasie e.d.m.) bedreig word. Milner se pogings ná die oorlog was klaarblyklik 'n voorbeeld, maar Louw het ook verwys na meer onlangse gevalle war gepraat is van 'n blanke "volk" van tien miljoen, wat die Afrikaners tot die "rol van immigrante-Pole in die VSA" sou reduseer.

Die tweede krisis is geestelik van aard en kom voor wanneer 'n "groot deel van ons mense self daaraan sou begin twyfel of ons as volk moet voortbestaan". Die gevaar ontstaan wanneer 'n deurslaggewende getal van dergelike mense besluit die geesteslewe van die volk is te swak en dat die taal te weinig bied om "die honger van die verstand te versadig". Hierdie soort krisis is nie 'n gevaar by 'n groot volk nie, maar wel by 'n klein volkie soos die Afrikaners. Duisend wat dink en skryf, kan die mense swaai.

Dan is daar ook 'n derde moontlike krisis, wat 'n etiese krisis is en een van die uiterste krisisse waarin 'n volk kan beland. Hy verduidelik dit so: "Gestel dat 'n volk 'tussen die engtes' ingekom het - vind dat hy hom op lewe en dood moet verdedig; hy span alle stoflike en politieke kragte in, behoed en brei sy geestelike, tegniese, intellektuele besit uit, doen alles wat hy kan, om te bly voortbestaan ... Dan kom hy voor die laaste versoeking: om te glo dat die blote voortbestaan verkieslik is bo die voortbestaan in geregtigheid." Vir die Afrikaners sal 'n krisis van hierdie aard aanbreek "wanneer 'n groot deel van ons volk in die gevaar sou kom om te meen dat ons nie in geregtigheid met ons mede-volke in Suid-Afrika hoef saam te leef nie: sou kon meen dat blote voortbestaan die hoofsaak is, nie regverdige bestaan nie".

Louw het besef dat die vraag gestel kan word of dit hoegenaamd 'n krisis kan verteenwoordig. Sy antwoord was: "Hoe kan 'n klein volk lank bly voortbestaan, as hy iets haatliks en iets boos is vir die beste binne - of buite - hom?" Vir Louw was dit inderdaad "die grootste, die byna mistieke krisis waarvoor 'n volk te staan kan kom". Hy besluit: "Ek glo dat op 'n vreemde manier dit die krisis is waaruit 'n volk herbore, jonk, skeppend, te voorskyn kom, hierdie 'donker nag van die siel' waarin hy gesê het: Ek sal liewer ondergaan as deur ongeregtigheid bly voortbestaan."

Louw het 'n troue lid van die Afrikaner-Broederbond en ondersteuner van apartheid gebly. Om hierdie rede het sommige skrywers hom negatief beoordeel. In laaste instansie hang sy status as kritikus egter af van die vraag of hy 'n punt kon voorsien waar die volk verdien om onder te gaan en die kritikus wat 'n lojale vorm van verset beoefen, sy steun onttrek. En daar was so 'n punt: Die Afrikaners het nie die reg gehad om uiterste maatreëls te gebruik om onreg te verdedig nie. Die oorlewing van die Afrikaners kon dus nie tot elke prys gekoop word nie. Daar was liberale waardes wat nie aanhoudend verkag mag word nie.

Louw het in 1970 gesterf en dit is nie moontlik om te sê of hy op 'n later tydstip nasionalisme en apartheid sou veroordeel het nie. Gedurende die 1980's het intellektuele,

Bl. 422

soos Johan Degenaar en André du Toit, wat die verwerping van apartheid voorgestaan het, op Louw se werk gesteun in hul argument met die Afrikanergemeenskap om 'n liberale, inklusiewe demokrasie in te stel. In laaste instansie het die oënskynlik parallelle lyne van liberalisme en libera nasionalisme mekaar tog ontmoet.

Botsende aanbevelings van Paul Sauer en Henry Fagan

Gedurende die oorlog het die ekonomie groot getalle swart mense na die stede gesuig, waar talle onwettig aangebly het. Die departement van naturellesake was verdeeld tussen diegene wat strenger beheer voorgestaan het en diegene wat instromingsbeheer wou verslap. Die verantwoordelike minister het gehoop dat die probleem hom self sou oplos nadat die ekonomie tot normaal teruggekeer het. Die amptenare wat vir die administrasie van die woongebiede verantwoordelik was, het op strenger beheer aangebring. Swart getalle en swart verstedeliking was die regering se grootste krisis en die vernaamse stukrag vir apartheid. Tussen 1904 en 1936 het die getal swartes van 3 491 056 tot 6 596 689 gestyg en dié van wittes net van 1 116 806 tot 2 003 857.

Teen 1943 het die begrip apartheid uitgekristalliseer. Op 26 Maart 1943 word Die Burger die eerste koerant wat die term gebruik. Dit het verwys na die "Nasionaliste se beleid van apartheid". Op 9 September van daardie jaar word 'n tweede keer daarna verwys toe die blad van die "erkende Afrikaner-standpunt van apartheid" praat. Op 25 Januarie 1944 word D.F. Malan die eerste wat die woord in die Parlement gebruik toe hy praat van "die getroue beginsels van apartheid en voogdyskap", wat die toekoms vir die blanke ras en Christelike beskawing veilig moet maak. 'n Paar maande later gebruik Malan "apartheid" in 'n toespraak waarin hy segregasie afmaak as blote "afhok". Daarteenoor stel hy apartheid as 'n beleid wat die verskillende rasse ophef deur hulle in staat te stel om  hulle self op te hef op die grondslag van dit wat hul eie is.

Die toesprake in hierdie debat deur Malan en Paul Sauer, sy grootste vertroueling, bied 'n duidelike blik op die ideologiese verwysingsraamwerk waarin die begrip apartheid ontwikkel het. Dit was ver verwyder van die rassisme-ideologie wat op hierdie tydstip in Duitsland teenoor die Jode vaardig was. Dit was eerder stewig gewortel in die Kaapse Afrikaners se ervaring van slawerny, met hul ideologie van paternalisme; en die Britse kolonialisme, met die klem op onregstreekse regering en voogdy.

Paternalisme was 'n belangrike element. By slawerny was paternalisme nie onversoenbaar met goedhartigheid teenoor en respek vir sommige slawe nie. Malan het aan sy seun vertel hoe beskaaf en aangenaam twee oudslawe was wat op sy pa se plaas naby Riebeek-Wes gewoon het en hoe hy baie jare gedink het dat rasseverskille maar net veldiep is. Volgens die paternalistiese ideologie kon slawe hul vyheid ontneem word omdat hulle onder die meester se sorg in 'n beter fisieke en geestelike toestand was as wanneer hulle vry sou wees.

Die ander opvatting was voogdy of trusteeskap. Soos die historikus Kenneth Robinson aangedui het, is die Britse opvatting van trusteeskap sterk beënvloed deur die denke van die groot liberale denker, John Stuart Mill. Hy het in 1859 betoog dat die heerskappy oor 'n land of 'n groep mense legitiem is indien dit vir 'n onderhorige groep moontlik gemaak word om na 'n hoër vlak van ontwikkeling te styg. In 1921 het lord Lugard,

Bl. 423

die beroemdste van die Britse goeweerneurs in Afrika gedurende die twintigste eeu, die begrip trusteeskap in sy Dual Mandate uitgewerk. Hy het beweer dat Europa in Afrika is "for the mutual benefit of their own classes, and of the native races in their progress to a higher plane". Hy het geglo dat al twee kante uit die verhouding voordeel trek. Dit was die "dual mandate", die titel van sy boek.

Trusteeskap het dus vereis dat albei kante dit as voordelig beskou. Teen die vroeë 1940's was dit moeilik om die verhouding in Suid-Afrika in so 'n lig te beskou, want wit mense het klaarblyklik die grootste voordeel getrek, veral nadat die beleid van beskaafde arbeid in werking getree het. Teen 1942 het Jan Smuts, wat lank aan trusteeskap vasgeklou het, verklaar dat hy sy geloof daarin laat vaar het, maar in sy toespraak in 1944 het Malan nie daarna verwys nie. Hy het verwys na die feit dat baie liberale stelsels misluk het in hul strewe om billik teenoor die onderhoriges op te tree. Tagtig jaar ná die oorwinning van die Noorde in die Amerikaanse burgeroorlog, kan swartes in die Suide nog nie stem nie en word die sogenaamde "lynch law" nog toegepas. In Australië het die regering inboorlingkinders van hul ouers weggeneem en hulle in spesiale koshuise as Europeërs probeer opvoed. Toe die toestand van die inboorlinge agteruitgaan, het die Australiese regering sy beleid verander en hulle probeer ophef op die basis van wat hul eie is.

Malan se toespraak in 1944 kan as 'n klassieke uiting van apartheid as kombinasie van paternalisme en trusteeskap beskou word. Hy het betoog dat onderhorige gemeenskappe gehelp moet word om h ul volkseie te ontwikkel en om na gelang van hul eie vermoë en aanleg op die leer van beskawing te klim. Op die huidige tydstrip is hulle ongelukkig, het hy gesê, omdat  hulle niks het wat hul eie is nie. Hulle sou slegs gelukkig gemaak kon word indien geleenthede geskep word wat hulle in staat sou stel om hulle self op te hef. Dit beteken dat daar aparte woongebiede vir hulle geskep moet word waar mense deur hul eie dokters, verpleegsters, regeringsamptenare en polisiemanne bedien word. Wit en bruin gemeenskappe kan langs mekaar woon en in vriendskap en samewerking langs mekaar bestaan.

In dieselfde debat het Paul Sauer die gedagte dat die Wes-Kaap in die voorafgaande dekade meer geïntegreer geraak het, verwerp. Veertig jaar vroeër was dit nog moontlik vir kleurlinge om hul laaste skooljare in 'n wit skool te wees. Maar in die vroeë 1940's is so iets ondenkbaar; geen enkele wit hoërskool sou dit toelaat nie. Hy het 'n beleid bepleit wat swart of bruin mense verhinder om op dié gebiede in te dring waar blankes leef, werk of hul stem uitoefen. Slegs nadat wit-bruin mededinging uitgeskakel is, sal blankes gewillig wees om simpatiek teenoor die strewes van hierdie mense te staan.

In 1945 het 'n NP-komitee, aangestel deur Malan, aanbeveel dat 'n beleid van maatskaplike, ekonomiese en politieke apartheid ten opsigte van die bruin mense gevolg word. As teenprestasie vir die wegneem van hul stemreg, sou aan kleurlinge hul eie skole, woonbuurte, staatsamptenare en vermaaklikheidsplekke gegee word. Selfregering vir die bruin woongebiede sou ingestel word en hulle sou beter beskerm word teen mededinging deur swartes in die Wes-Kaap. Daar is voorgestel dat 'n gemeenskapstrots by die kleurlinge aangewakker word. Hulle moet aangespoor word om hulle tot die blankes eerder as die swartes te wen. In 1945 het die NP apartheid as sy amptelike rassebleid aanvaar. Van 1946 was Die Burger die vernaamste verkondiger van apartheid.

Bl. 424

In 1947 het Malan vir Paul Sauer as hoof van die sg. "Kleurlingvraagstuk-kommissie van die Herenigde Nasionale Party" aangestel om 'n omvattende beleid uit te werk. Ook in die kommissie was nog drie NP-parlementariërs (een u it elk van die drie noordelike provinsies) en die alomteenwoordige G.B.A. Gerdener was die enigste nie-politikus. Gerdener se teenwoordigheid versinnebeeld die mengsel van sendingbeleid en paternalisme waaruit apartheid ontstaan het.

Die manier waarop die kommissie onder Sauer sy taak uitgevoer het, weerspieël die karakter van 'n party wat baie klem op die grondvlak se betrokkenheid gelê het. Dit het 'n omsendskrywe uitgestuur met die versoek dat alle verteenwoordigers van die party, alle voorsitters en sekretarisse van distriksrade en alle goedgesinde "gesaghebbendes en belanghebbendes" daarop moet reageer. Onder laasgenoemdes was hoofsaaklik boere, predikante en sendelinge. Ongeveer 5 000 omsendskrywes is uitgestuur en ongeveer 500 antwoorde is ontvang. Sommige van die akademici wat gereageer het, is in sub-komitees aangestel. Die kommissieverslag, wat laat in 1947 gepubliseer is, is opgeneem in die NP se manifes vir die verkiesing van 1948.

Dit is opvallend dat die kommissie nie korporatiewe liggame soos die landbou-unies of sakekamers genooi het om vertoë te rig nie. Hy  het sy taak in die eerste plek beskou om te verseker dat Afrikaners polilties oorleef, eerder as om die belange van bepaalde klasse binne Afrikanergeledere tegemoet te kom.

Ook veelseggend is die wyse waarop die kommissie steun vir sy beleid probeer verseker het. Die Afrikaners van die 1940's en die 1950's het groot gewig geheg aan kultuur en opvoeding. Die Sauer-kommissie het hom nie tot sakelui of welgestelde boere gewend om apartheid te regverdig nie, maar tot predikante, akademici, professionele lui en senior joernaliste. Die akademici se taak was om insigte van hul onderskeie dissiplines by te dra, terwyl verteenwoordigers van die party moes rapporteer wat die  mense verlang.

Die Sauer-verslag vat die dubbele aard van die NP-denke goed saam. Dit het van sowel 'n rasse- as 'n etniese vertrekpunt uitgegaan en het godsdienstige en sekulêre idiome gebruik. Volgens die verslag is daar twee rigtings in kleurbeleid: "Aan die een kant is apartheid en aan die ander kant die beleid van gelykstelling." Onder laasgenoemde is daar diegene wat openlik die kleurskeidslyn wil uitwis, maar ook diegene wat net die kleurslagboom wil verwyder. Albei stuur af op "die vernietiging van die blanke volk as 'n selfstandige en (self)regerende volk".

Die verslag se verwerping van gelykstelling is grotendeels in dieselfde bewoording as wat in die eerste helfte van die 1930's gebruik is om 'n beleid ten opsigte van sending en onderwys vir swart mense te formuleer. "Die Party huldig die beskouing dat God dit so beskik het dat daar 'n verskeidenheid van rasse en volke sal wees wie se voortbestaan en natuurlike groei geëerbiedig moet word as deel van 'n ewige Godsplan." God het die blanke ras en die ander rassegroepe in Suid-Afrika geplaas, elkeen met sy "eie karakter, volksaard, aanleg, roeping en bestemming". Die verslag het selfs 'n afdeling oor sendingbeleid bevat, wat klaarblyklik deur Gerdener opgestel is. Dit bepleit "selfregerende, selfonderhoudende en selfuitbreidende kerke" as die mikpunt van sendingwerk. Dit is waarskynlik uniek in die wêreld dat 'n politieke party sendingwerk by sy partyprogram insluit.

Bl. 425

Vir kleurlinge stel die party aparte woongebiede en apartheid in "industrieë, werksplekke en verkeerswese" voor en 'n verbod op huwelilke met wit mense, 'n Aparte staatsdepartement vir kleurlinge en 'n verteenwoordigende kleurlingraad moet ingestel word. Laasgenoemde moet drie wit verteenwoordigers tot die Parlement verkies.

Die afdeling oor swart mense beklemtoon dat swartes hul heil in hul onderskeie reservate  moet soek, aangesien hulle in die stede as "besoekers" beskou sal word. Daar word gepraat van die "naturel (wat) in sy volkseiendomlike vasgeanker" moet word en van die "naturellereserwes" wat die "vaderland van die naturel" moet word. Hulle moet die "setel van sy regeringstelsel" en die "hoofstandplaas" van sy kerke en vernaamste onderwysinrigtings wees - "kortom die bakermat van sy persoonlilke en nasionale ideale en aspirasies". Dit stel die afskaffing van verteenwoordiging vir Kaapse swart mense in die Volksraad voor. In die plek daarvan moet daar sewe blanke verteenwoordigers in die Senaat wees.

Die verslag het probeer om oplossing aan die hand te doen vir 'n ekonomie wat swaar op swart arbeid steun. Die oproep om totale apartheid tussen wit en swart mense as 'n uiteindelike ideaal en doel, was h eeltemal onrealisties en dis te betwyfel of die kommissie self geglo het dit kan verwesenlik word. So 'n beleid sou die ekonomie geruïneer het. Die verslag het sy oproep om totale apartheid gekwalifiseer deur te verkklaar dat die ekonomie nog baie jare sou voortgaan om van swart mense afhanklik te wees. Dit het nie kategories vakbonde vir swart werkers verwerp nie, maar verklaar dat dit nie op daardie tydstip toegelaat kon word nie. Dit het arbeidsburo's voorgestel wat moes verseker dat die vraag na en aanbod van swart arbeid goed funksioneer.

Die hele strekking van die verslag is die uitskakeling van oortollige swart arbeid, nie swart arbeid as sodanig nie. Dit besef die noodsaak om voldoende arbeid na die myne, die plase en die nywerhede te kanaliseer. Die opstellers van die verslag het klaarblyklik gehoop dat tydelike of trekarbeid in 'n deurslaggewende mate in die nuwe vraag na arbeid sou voorsien. Dit het egter gebots met die eis van die Afrikaanse sakelui en boere wat werkers wou hê wat hulle met hul gesinne in die "blanke deel" vestig. Die verslag het nie hierdie botsende belange probeer besleg nie. Dit ws dus nie 'n bloudruk vir apartheid waarmee alle Afrikanernasionaliste sou saamgestem het nie, maar weerspieël eerder die botsende belange in die Nasionale beweging.

Ná die Tweede Wêreldoorlog het die VP as regerende party probeer om 'n nuwe benadering tot die rassebeleid te bewerkstellig. Jan Smuts het geweet dat die kieserskorps nie vir groot veranderings gereed is nie. toe D.F. Malan hom  uitdaag om uit te spel wat hy bedoel het toe hy in 1942 gesê het dat segregasie uitgedien is, het hy vaag en versigtig geantwoord. Smuts  het nou die ou taktiek gebruik van 'n regerende party wat voor 'n moeilike probleem te staan  kom. In 1946 het hy Henry Fagan, 'n vorige VP-kabinetslid en nou 'n regter, aangestel om voorsitter te wees van 'n kommissie van ondersoek na swart verstedeliking.

Die Fagan-verslag het die NP en die Sauer-kommissie se aannames bevraagteken, veral die begrip dat die swart mense hul heil hoofsaaklik in die reservate moet vind. Die verslag het die klaarblyklike stelling gemaak dat selfs indien die Britse protektorate aan Suid-Afrika oorhandig word, die probleem  nie opgelos sou wees nie. Dit sou wel beteken dat die sogenaamde swart-wit-verdeling van grond dan ongeveer gelyk sou wees,

Bl. 426

maar 'n stroom van swart arbeid sou nog steeds die Unie binnekom. Hierdie stroom sou gerig en gereguleer en miskien selfs beperk kon word, maar dit kan nie gekeer of in die teenoorgestelde rigting gestuur word nie. Enige beleid gegrond op die uitgangspunt dat die swart mense in die stede slegs tydelike trekarbeiders is, berus op 'n valse vronderstelling. Die reservate is reeds so oorbeset en oorbewei dat dit onrealisties is om te dink dat hulle die stadswartes ook kan inneem.

Die Fagan-kommissie het drie teoretiese opsies vir Suid-Afrika voorgestel: totale segregasie (soortgelyk aan partisie), wat die kommissie as heeltemal onprakties bestempel het; gelykheid (geen rassediskriminasie), wat dit ook verwerp het; en  'n beleid tussenin, wat dit aanbeveel het. So 'n beleid sou erken dat wit en swart langs mekaar sal bestaan, ekonomies vervleg en "deel van dieselfde groot masjien".

Die verslag was dubbelsinnig oor instromingsbeheer. Aan die een kant het dit landswye arbeidsburo's waarheen werksoekers vrywillig kon gaan, as 'n ideaal gestel - dit sou instromingsbeheer gegrond op die passtelsel vervang. Die kommissie het gesê werkers moet aangemoedig word om  hulle met hul gesinne in die dorpe en stede te vestig. Aan die ander kant het die verslag aanvaar dat trekarbeid nog lank sou voortduur en dit het die behoud van die passtelsel aanbeveel. Dit was dus ten gunste daarvan dat slegs daardie swartes in dorpe en stede toegelaat word wie se arbeid in die ekonomie verlang word. Hiermee het egter saamgehang dat 'n sekere deel van die verstedelikte swart bevolking as permanente inwoners beskou sou word. Met die oog op hierdie deel het die verslag voorgestel dat "naturelledorpsrade" met sekere bevoegdhede vir "naturelledorpe" binne die munisipale grense aangestel word. Wit stadsrade kan sekere funksies aan hierdie rade oordra, maar moet die uiteindelike beheer behou.

In teenstelling met die Sauer-verslag met sy rigiede voorskrifte vir oorlewing, gee die Fagan-verslag nie voor dat 'n finale en definitiewe oplossing beskikbaar is nie. Dit beveel 'n evolusionêre benadering aan, aangesien dit oortuig is dat die verhouding tussen wit en swart altyd sal wissel, net soos die lewe self, wat dinamies is. Dit is nodig om by veranderende omstandighede te kan aanpas en maatreëls te tref wat rassekonflik uitstryd sodat albei rasse 'n bydrae tot die vooruitgang van Suid-Afrika kan lewer.

Die publikasie van die Fagan-verslag kort voor die verkiesing van 1948, het die politieke koors skerp laat styg, veral onder die Stellenbosse akademici. Fagan was immers 'n oud-Matie en oud-Burger-joernalis. Hy was nog steeds 'n buitelid (d.w.s. nie aktief nie) van die Broederbond. Sommige Stellenbosse akademici het mondelinge getuienis voor die Fagan-kommissie afgelê, terwyl ander memoranda ingedien het.

Ná die verslag se publikasie het vooraanstaande Stellenbosse akademici 'n doelgerigte aanval daarop gedoen. 'n Lang verklaring, opgestel deur Nic Olivier, 'n jong lektor in naturelle-administrasie, en onderteken deur vooraanstaande akademici, onder andere H.B. Thom, A.C. Cillliers, S.J. Pretorius en B.I.C. van Eeden, het in Die Burger van 15 Mei 1948 verskyn, minder as twee weke voor die verkiesing.

Die Olilvier-verklaring verwerp die Fagan-verslag se ontleding en die keuse van 'n tussenin-opsie, genoem parallelisme. Dit betoog dat "naturelledorposrade" tot 'n magskonflik met die wit stadsrade sal lei. Uiteindelik kom die Fagan-verslag ook neer op integrasie, word verklaar. Daar is net twee keuses: die uiteindelike skeiding of die uiteindelike volledige integrasie (of aaneenskakeling) van blank en naturel in Suid-Afrika.

Bl. 427

Blanke oorlewing vereis dat alle rassevermenging moet ophou en dat die vrye en onbelemmerde ontwikkeling en bestaan van elke ras bevorder moet word.

Hierdie verklaring is 'n paar dae later gevolg deur 'n verklaring van steun deur 'n lys van 70 dosente. Hierin word die Fagan-aanbevelings nog uitdrukliker verwerp. "Indien deurgevoer, sal so 'n beleid onvermydelik lei van ekonomiese integrasie tot uiteindelike sosiale en politieke gelykstelling tussen blanke en naturel en daarmee tot die verlies van eie identiteit van albei groepe en tot die algehele ondergang van die blanke beskawing in Suidelike Afrika."

Die Olivier-verklaring praat daarvan dat 'n wit en 'n swart groep elkeen sy eie gebied moet hê. Dit beteken dat die begrip van tien swart etniese groepe elkeen met sy eie tuisland nog nie heeltemal in Nasionale geledere inslag gevind nie. Daar was ook nog geen ooreenstemming oor die uiteindelike politieke bestel nie. In 1950 het A.L. Geyer, nou hoë kommissaris in Londen, die gedagte geopper dat die swart owerhede in die reservate 'n sentrale raad moet vorm wat aangeleenthede moet bespreek wat die reservate raak. Hy het ook voorgestel dat daar masjinerie in werking gestel moet word vir kontak en konsultasie tussen so 'n raad en die regering. Hendrik Verwoerd, minister van nanturellesake, het dié gedagte verwerp omdat hy gevoel het dat tussen so 'n raad en die Parlement 'n wedywering sou ontstaan.

Kerkbeleid en kleurbeleid kom saam

In die vier of vyf jaar voor die verkiesing van 1948 het die gedagtes oor kleurbeleid binne die NG Kerk en die NP begin saamvloei. NP-leiers het begin argumenteer dat die apartheidstelsel gebou is op die presedent wat deur die vernaamste kerke in Suid-Afrika geskep is, wat sonder enige besware gesegregeerde onderwys vir swart en bruin mense verskaf het. In 1947 het dr. D.F. Malan teenoor 'n afvaardiging van Transvaalse kerkleiers verklaar: "Nie die Staat nie, maar die Kerk het die voortou geneem op gebied van apartheid met seënryke gevolge. Die Staat volg die beginsel (van segregasie) deur die Kerk neergelê op onderwysgebied vir naturel, kleurling en Asiër. Resultaat: wrywing is uitgeskakel. Die Boerekerk staan bo alle kerke in die wêreld uit wat sendingywer aangaan. Dit is die gevolg van apartheid."

Dit is opmerklik hoe dikwels die kerk se besluite van 1857 en 1935 oor sendingbeleid gewortel het in die begeerte van blankes om apart te aanbid. Baie jare later het F.E. O'Brien Geldenhuys, 'n leier van die NG Kerk, die verband uitgelig. Hy het eers gevra: "Hoe kan ons ons eie (blanke) mense se identiteit handhaaf sonder om die sak van die evangelie onder die nie-blankes te laat skade ly?" Hierop het hy geantwoord: "(Dit) het gekom uit ons sendingbeleid: die skeiding wat reeds op kerklike gebied bestaan het, moet op maatskaplike en poltieke vlak deurgevoer word."

In 1944 het die Transvaalse NG-sinode aanvaar dat die kerk se beleid gegrond is op die beginsel van "rasse-apartheid en voogdyskap". In 1948 het die sinode verklaar dat "die verskeidenheid van rasse en volke hul grond (vind) in die voorbestemming van God", dat apartheid hom "uitstrek" oor die hele gebied van die volkslewe en dat God se seëm op die "eerbiediging van apartheid" rus. Dit het die gelykenis van die toring van Babel, die geskiedenis van Israel in die Ou Testament en die 1935-sendingbeleid as regverdiging gebruik.

Bl. 428

In 1949 het die Kaapse NG-sinode apartheid op effens versigtiger wyse as die Transvaalse sinode goedgekeur. Ter regverdiging het dit 'n paar tekste van die Bybel aangehaal, onder meer die een wat 'n steunpilaar sou word vir die apologete van apartheid. (Hand. 17:26:"Ut een mens het Hy al die nasies gemaak ... Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon.") Die kerk se hoofargument was egter bepaalde historiese presendente: die sinodebesluit van 1855557 om aparte aanbidding te kondoneer, wat volgens die sinode  die beginsel van eiesoortige ontwikkeling bepaal het en die kerk se sendingbeleid van 1935, wat dit beskou het as "verwant" aan politieke en territoriale segregasie. Apartheid, het die sinode vrklaqar, beteken "geen minderwaardigheid hoegenaamd en nog minder verdrukking". "Vertikale skeiding" wil elke groep tot sy hoogste punt voer. Daarteenoor verwerp dit die tradisionele vorme van skeiding wat in die pad van "die nie-blanke se eiesoortige ontwikkeling" staan.

Daar was in die kerk geen eenstemmigheid dat die kleurlinge, wat hoofsaaklik Afrikaanssprekend is, 'n aparte volk of nasie vorm n ie. In toenemende mate het die NG Kerk sy beleid teenoor kleurlinge egter in byna dieselfde bewoording geformuleer as dié vir swart mense. 'n Memorandum uit 'n inligtingstuk van 1947 oor sendingbeleid teenoor kleurlinge verklaar dat God aparte volke en rasse erken het en aan elkeen 'n "nasiegevoel en nasiesiel" gegee het. Die kleurlinge is een van die rasse van die land en apartheid is die beleid wat blankes en gekleurdes die beste apart sal laat ontwikkel. Die blankes se taak is om "die kleurling sy regmatige plek te laat inneem as nuttige burger".

G.B.A. Gerdener verteenwoordig die idealistiese stroming van die NG-denke oor apartheid, wat apartheid op sowel kerklike as politieke gebied voorgestaan en dit verbind het met die aandrang op grootskaalse ontwikkeling vir die swart en die bruin gebiede. Gerdener het die ontstaan van die woord "apartheid" betreur. Hy het - wat hy genoem het "eiesoortige ontwikkeling" - voorgestaan omdat hy die beleid as 'n dinamiese ontwikkelingsprogram gesien het, 'n beleid waarin die eise en behoeftes van die politiek en die sending heeltemal verstrengel is. Hy het geskryf dat die swart man "moet leer om hom self te regeer, veral waar verwag word dat hy in sy kerk ook tot selfregering sal kom". In die beleid van eiesoortige ontwikkeling is nie slegs die Afrikaner se "voortbestaan as blanke nasie ... in die gedrang nie, maar ook en veral ons sendingwerk, wat spruit uit die grondslag van afsonderlike ontwikkeling". Gerdener het gesoek na 'n beleid wat aan die eise van Christelike trusteeskap voldoen, die opdrag van sendingwerk nakom en tog ook die politieke oorlewing van die Afrikaners en die blanke nasie sou verseker.

Hy het by geleentheid J.H. Hofmeyr se stelling verwerp dat blankes nie opofferings sal maak nie, maar ander kere weer getwyfel, soos toe hy gevra het of die "beleid van aparte behandeling ... nie maar 'n goedkoop en maklike manier is om klaar te speel met die vraagstuk nie". Hy wou wegkom van die kru vorme van segregasie, maar tog het hy doelbewus segregasie op grond van kleur eerder as beskawing gekies, omdat laasgenoemde sou behels dat die leiers in die onderhorige groep vir hul eie mense verlore sou gaan.

So het die kerkleiers die pad aangedui wat die politici moeilik op hul eie sou ingeslaan het. Hulle het nie juis moeilike vrae oor die praktiese toepassing van apartheid gestel nie. Dit was 'n illusie om, soos die kerkmanne, te dink dat 'n NP-regering in staat sou

Bl. 429

wees om bruin woonbuurte te bou wat "honderd persent is" (Gerdener se woorde) of om die "beste maatskaplike, welsyns- en volksorgdienste" vir die swartes in die reservate te verskaf, soos die Sauer-kommissie van 1947 aanbeveel het. (Gerdener was 'n lid.)

Ben Marais en Bennie Keet, professore in die teologie in Pretoria en Stellenbosch onderskeidelik, het nou met hul eensame stryd teen die kerk se regverdiging van apartheid begin. By die Transvaalse sinode van 1948 het Marais gewaarsku dat die kerk hom begeef op 'n pad wat tot sy toenemende isolasie sou lei. Hy het die sinode se Skrifuitleg verwerp. Nêrens was daar sprake dat Israel hom op enigiets anders as godsdienstige gronde van die omringende volke bestaande uit heidene, moet afsonder nie. Bowendien was h ierdie Jode en die heidense volke van dieselfde ras, te wete Semiete. (Ná sy toespraak in die sinode van 1948, het 'n ouderling aan hom gesê dat deur sy verwerping van die Bybelse gronde vir apartheid, hy die algemene verkiesing van daardie jaar "befoeter" het.) In dieselfde jaar het Marais gewaarsku dat apartheid 'n enorme prys het indien dit behoorlik uitgevoer word. Negentig persent van die ondersteuners van apartheid sou dit teenstaan.

Keet het geprotesteer teen die arbitrêre gebruik van Bybelse tekste buite verband. Hy het betoog dat segregasie in die kerk sedert 1857 vrywillig en met wedersydse toestemming gebeur het en nie kon dien as regverdiging vir apartheid nie. Sy grootste aanklag was dat daar "wensdromery aan die gang is wat die probleem op die maklikste manier wil oplos mdat dit 'n ontmoontlikheid is". Hy vervolg: "Die onmoontlike is die maklikste, omdat niemand hom daaroor hoef te bekommer nie; hy droom maar net daarvan."

Keet en Marais het apartheid in 1948 nie onomwonde verwerp nie. Hulle het geweet dat min wit mense bereid sou wees om rassegelykheid te aanvaar en dat die bestaande segregasiebeleid oënskynlik in 'n doodloopstraat beland het. Hulle het voorwardelike steun aan apartheid gegee omdat hulle eers wou sien hoe dit in die praktyk uitwerk. Maar Marais het steeds daarop aangedring dat die beleid met 'n Christelike verantwoordelikheidsbesef - en nie met naakte selflsug nie - uitgevoer word.

Daar was min ander afwykende stemme in die kerk. Die mees kompromislose stem was dié van James Oglethorpe, 'n Stellenbosse student wat gestudeer het om sendeling te word. In 1947 het hy in Die Stellenbosse Student geskryf dat dit in die lig van die swart getalsoorwig begryplik is dat die Afrikanervolk die segregasiebeginsel wil gebruik as die laaste wapen om sy reg om te kan voortbestaan, te verdedig. Die kerk kan egter nie hiermee saamgaan nie. Die kerk moet heel eerste die beginsels van "liefde en die broederskap van nasies" nakom. Doen hy iets anders, is "die tragiese feit dat die Kerk sy kosbaarste besitting, sy geloof, prysgegee het".

Dit was nie net die Afrikaners wat moeilik na die stem van  hul gewete geluister het nie. In 1949, tydens 'n besoek aan die VSA, het Alan Patn, 'n gelowige Christen, vooraanstaande liberaal en skrywer van Cry the Beloved Country, aan die New York Times gesê: "We in South Africa also have a conscience. But our fears are so great that our conscience is not so clearly apparent." Hoewel Paton nie hierdie vrese gedeel het nie, het hy sy wit landgenote goed geken en hy was nooit iets anders as 'n Suid-Afrikaner nie.

Bl. 430

'n Dramatiese verkiesing

Die Verenigde Party het die verkiesing in 1948 verloor eerder as dat die Nasionale Party dit gewen het. Aan die begin van die verkiesingsveldtog het die VP se partymasjinerie nie besef dat die party in 'n ernstige krisis is nie. Smuts se kabinet het hoofsaaklik bestaan uit Engelssprekendes, van wie min enige simpatie met die Afrikaanse kultuur gehad het. Die Afrikanernasionaliste het gevrees dat Smut se oproep om mijoene immigrante kon beteken dat die delikate getalsverhouding tussen die twee wit gemeenskappe versteur word. Smuts se entoesiastiese ontvangs van die Britse koningsgesig in 1947, het hom nie juis by die stembus gehelp nie.

Die belangrikste faktor in die verkiesing was die pas afgelope oorlog en die uitgebreide invloed wat dit op die kieserskorps gehad het. Die omstrede oorlogsverklaring van 1939 en die Afrikaners se persepsie dat hulle gedurende die oorlog gebrandmerk en geviktimiseer is, het nog steeds 'n belangrike rol gespeel. Die hele wit kieserskorps het gely aan oorlogsmoegheid en daar was stygende irritasie oor die oorlogsbeperkings wat nog in swang was.

Die lewenskoste het skerp gestyg - in 'n indeks van 1938=100 het dit geklim van 133 in 1945 tot 146 vroeg in 1948. Die reële lone van wit werkers het gedurende die oorlog gedaal, terwyl die lone van swart werkers van 'n veel laer basis skerp gestyg het. Die instroming van groot getalle swart mense in die vervaardigingsektor gedurende die voorafgaande vyftien jaar, tesame met meganisasie, was 'n bedreiging vir wit werkers, veral vir diegene wat nie oor skaars vaardighede beskik het nie. Die VP-regering het hulle verseker dat programme ingestel sal word om  hulle as ambagsmanne op te lei vir posisies met beter salarisse, maar hierdie boodskap was nie oortuigend nie. Teen 1948 was 139 000 volwasse mans werkloos, vergeleke met 76 000 in 1945. Toe die regering aankondig dat dit van plan is om 50 000 immigrante elke jaar te laat inkom om die tekort aan geskoolde arbeid op te los, het die NP onmiddellik gekla dat dit die plaaslike werkers wat wag om opgelei te word, sal ondermyn.

Die VP het gedink dat dit op die gebied van die landbou meer as genoeg gedoen het om die boere tegemoet te kom, veral met die beleid om die produksiepryse te stabiliseer. Baie boere het egter nog gesukkel, want die koste van insette en toerusting het veel vinniger as die produktepryse gestyg.

Nog ernstiger was die krisis in die arbeidsverhoudinge. Teen die begin van die oorlog het die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rassevrhoudinge 'n algemene verslegting van rasseverhoudinge in die landelike gebiede waargeneem. Boere het gekla dat swart mense hul respek vir hulle verloor het en dat 'n gespanne verhouding in die plek van die ou paternalistiese verhouding gekom het. Die gemiddelde kontantloon op plase, insluitende die kontantwaarde van kos wat in die plek van lone verskaf is, was slegs 'n kwart van die loon in die vervaardigingsektor. Die instroming van swart mense uit die reservate en van plase na die stede het versnel nadat die Smuts-regering in die oorlogsjare instromingsbeheer verslap het. In die middel van die vyftigerjare het 'n kommissie bevind dat byna die helfte van die swart mense wat kort tevore verstedelik het, van plase afkomstig was. Die Smuts-regering het geweier om in te gryp. Die sekretaris van naturellesake het in die openbaar verklaar dat lae lone die vernaamse rede vir die arbeidstekorte op plase is.

Bl. 431

Boere kon verwag dat die NP hul belange beter sou bevorder. Dié party het aangedui dat dit bereid is om die boere se eise beter as die VP tegemoet te kom. Reeds in 1943 het die NP verklaar dat hy bemarkingsrade gaan instel waarin produsente 'n belangrike rol sal speel. Die party het ook die eise om strenger instromingsbeheer vir swart plaasarbeiders gesteun. Die NP wat in 1948 verkies is, was hoofsaaklik 'n boereparty. Boere, of mense met noue kontak met boere, het ongeveer die helfte van die NP-koukus uitgemaak. Ongeveer 90% van die VP-setels was stedelike setels, terwyl die NP hoofsaaklik 'n plattelandse party was.

Ná die verkiesing het Malan beweer dat die kieserskorps sy regering 'n mandaat gegee het om apartheid in te stel. In werklikheid het apartheid as deel van die NP se arsenaal 'n betrklik klein rol in die verkiesing gespeel. In sy finale oproep tot die kieserskorps het Malan selgs in 'n enkele dubbelsinnige opmerking na apartheid verwys. Hy het gesê dat die kwessie is of daar apartheid kan wees saam met geregtigheid, vrede en samewerking tussen die blanke en die nie-blanke gemeenskappe. In sy werk Op die vooraand van apartheid het J.P. Brits die briewe ontleed wat gedurende die ses maande voor die verkiesing in Die Burger en Die Transvaler verskyn het. Hy het bevind dat daar kwessies was wat belangriker vir briefskrywers as die rassekwessie was. Veral van belang was die persepsie dat die VP-regering in die voorafgaande agt jaar teen die Afrikaners gediskrimineer het. Effens laer in die rangorde was die voedseltekorte en -rantsoenering en dan het die behandeling van oudsoldate gekom. Die hoofartikels het op die rassekwessie gehamer, maar slegs een uit elke tien briewe het hierdie saak aangeraak.

Engelssprekendes het die NP se vasbeslotenheid gedeel om wit oorheersing te verseker. Aan die vooraand van die verkiesing ht Arthur Keppel-Jones, 'n lilberale akademikus wie se boek When Smuts goes (1947) 'n donker prentjie van Suid-Afrika onder 'n NP-bewind geskilder het, geskryf dat die vernaamste bekommernis van blankes is "not to be submerged in the oncoming tide of black race. If they were to remain a separate people then they must retain their dominant position".

Die meeste Engelssprekendes wou 'n minder blatante vorm van segregasie as die NP hê. Hulle het nie saamgestem met 'n verbod op seks tussen wit en swart of wit en bruin nie. As die welvarendste wit gemeenskap was hulle beter in staat as die Afrikaners om hul apartheid "te koop" en hulle het ook nie die bekommernis van die Afrikaners gehad oor 'n groot deel van hul gemeenskap wat pas uit nypende armoede ontsnap het nie.

Apartheid het inderdaad, soos Saul Dubow opmerk, 'n "dogmatiese intensiteit" gehad, maar die soepelheid word dikwels onderskat. Nelson Mandela beweer in sy outobiografie dat die NP die verkiesing met die twee slagspreuke "die kaffer op sy plek" en "die koelie uit die land" geveg het, maar daar kan kategories verklaar word dat hierdie slagspreuke nooit op baniere verskyn het nie. Die NP-leierskap wou nie predikante en ander apartheid-"idealiste", wat geglo het dat apartheid mense moet ophef, vervreem nie. Wat die NP wel gedoen het, was om te beloof om Suid-Afrika as 'n "witmansland" of 'n "beskaafde" land te behou deur integrasie teen te staan.

Anders as die VP met sy liberale vleuel onder Hofmeyr het die NP met een stem gepraat oor hierdie belofte. Daarteenoor was die veldtog van die VP onder die leiding van Smuts, wat nou reeds 78 jaar oud was, onsamehangend en teenstrydig. De Villiers Graaff, wat in 1956 VP-leier sou word, het gevoel dat die organiseerdes Smuts mislei het.

Bl. 432

Hofmeyer het twee weke voor die verkiesing gesê dat die VP deur die NP oor 'n hele reeks sake aan die verdedig gehou is en dat die VP dus 'n "negatiewe kampanje" moes voer. Die VP het niks gedoen om te verhod dat die NP 'n koalisie met die meer gematigde Afrikanerparty (A) onder N.C. (Klaas) Havenga aangaan nie.

Sommige van Smuts se volgelinge het hom aangeraai om die reëls vir die verkiesing te verander. Die VP kon byvoorbeeld meer kleurlingkiesers in sleutelsetels geregistreer het, maar dit kon dalk boemerang. Die VP kon ook die reël verander het waarvolgens plattelandse setels meer "gelaai" is, wat daarop neergekom het dat 85 landelike stemme gelyk gestaan het aan 115 stedelike stemme. Indien elke stem - landelik en stedelik - in 1948 dieselfde getel het, sou die VP 80 setels verower het teenoor 60 vir die koalisie van die NP en AP. Smuts het  hierdie voorstel verwerp en verklaar dat die wortels daarvan in die Uniegrondwet van 1909 lê, wat alle partye te goeder troue aanvaar het. Verder het hy gesê hy vertrou sy mense: "Hulle is goeie mense. Hulle sal my nooit in die steek laat nie."

Die NP-AP-koalisie het die verkiesing met 'n meerderheid van vyf setels in die Volksraad gewen, hoewel dit slegs 40% van die stemme gekry het. Smuts is in sy eie setel in Standerton verslaan. Toe 'n gebroke Smuts sê dat sy mense hom in die steek gelaat het, het 'n adviseur die effense vertroosting gebied dat sy mense hm nie verlaat het nie: hulle was waarskynlik almal reeds dood. Die nuwe generasie van Afrikaners was oorweldigend NP-gesind.

Vriende het aan Hofmeyr gesê dat die skuld vir Smuts se nederlaag veral op hom gepak word. Die VP-sekretaris het hom in 'n diep depressie gevind. Hy het gesê dat daar geen hoop vir die land is nie, maar ná 'n effense huiwering bygevoeg "behalwe as die Nasionaliste onder mekaar begin veg" en ná nog ' n kort rukkie: "Dit is wat hulle altyd doen, nie waar nie?"

Om inhoud aan apartheid te gee

Nasionalisme bied nie 'n plan van politieke aksie nadat die bewind verower is nie. Apartheid was die Afrikanernasionalisme se program van aksie. Dit het diegene aangtrek wat swart en bruin mense wou onderdruk en diegene wat hulle wou ophef. Historici noem laasgenoemdes apartheid-idealiste, maar hier word hulle teoretici genoem. Daar moet nie te veel klem op die verskillende benaderings gelê word nie. Albei wou die skeidslyn tussen "blanke" en "nie-blanke" skerp trek, seks oor die skeidslyn heen verbied, aparte woongebiede skep, mense klassifiseer en die mag in wit hande hou. Die teoretici het egter, anders as hul meer konserwatiewe partygenote, daarop aangedring dat wittes hul afhanklikheid van swart arbeid moet verminder. Hulle wou ook 'n dramatiese ontwikkelingsprogram in die reservate van stapel laat looop om die weerhouding van regte van swart mense in die gemeenskaplike gebied te regverdig.

Die teoretici het begin praat van "totale apartheid". Hiermee het hulle bedoel die medebestaan van 'n wit staat met verskeie swart "state", elkeen met sy eie politieke stelsel en lewensvatbare ekonomie. Dit was so 'n radikale voorstel dat liberale nie geweet het of hulle dit ernstig moet opneem of die spot daarmee moet dryf nie. Net ná die verkiesing het die liberale Forum geskryf: "Apartheid means sending people away from the

Bl. 433

mines and industrial areas to some home or reserve which does not exist; it means that the Native not only does not contribute his labour, which is his wealth, to the country, but he also cannot buy the country's products; it means stagnation, poverty, disease and misery for White and Black."

Een liberaal het besluit om die plan ernstig genoeg op te neem om die teoretici uit te daag. Hy was Rheinallt Jones, voormalige direkteur van die SA Instituut vir Rasseverhoudinge, die belangrikste liberale organisasie in die land. Op 14 Julie 1949 het hy in 'n toespraak gesê dat hy totale apartheid sou steun mits die volgende voorwaardes nagekom kan word: genoeg grond vir die reservate om behoorlike ekonomiese ontwikkeling te verseker; genoeg kapitale investering in die reservate om hul sosio-ekonomiese ontwikkeling teweeg te bring; die instel van 'n vrye regering en 'n vrye mark in die reservate; en die besteding van 'n vasgestelde deel van die wit nasionale inkomste aan die ontwikkeling van die reservate. Soos Hofmeyer en Hoernlé voor hom, was hy oortuig dat die kiesers so 'n plan sou verwerp.

Die NP het nog gesukkel om apartheid af te rond. Teen hierdie agtergrond het vyf Stellenbosse akademici in 1948 'n instituut gestig met die doel om 'n behoorlike studie van die rassevraagstuk te maak. Die leiers was Nic Olivier en Barnie van Eeden, albei uitgespreke ondersteuners van die idee dat groot finansiële hulpbronne bestee moet word in die uitvoering van totale apartheid. Toe die Cape Times vra of die regering 'n mandaat het om enorme bedrae hieraan te bestee, het hulle geantwoord nòg die koerant nòg die regering in 1939 gevra het wat dit sou kos om aan die Tweede Wêreldoorlog deel te neem.

Op 23 September 1948 het die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-aangeleenthede (Sabra) op Stellenbosch tot stand gekom. Dit was 'n beskeie organisasie met slegs 'n organiseerder en 'n tikster in die personeel. H.B. Thom, professor in geskiedenis en later rektor van die US en voorsitter van die uitvoerende raad van die Broederbond, het 'n beskermende hand oor die Sabra-manne op Stellenbosch gehou. Olivier het gou daarna 'n lid van die Broederbond geword en ook professor in Bantoereg en -administrasie. Die Broederbond was die vernaamste borg van Sabra, hoewel die organisasie sy bes gedoen het om ook ander fondse in te samel.

Die bande tussen die Broederbond en Sabra was veel losser as dié tussen die bond en die FAK. Die bond het dit gebruik as sy openbare arm of om vertoë tot die regering te rig. Aanvanklik het Hendrik Verwoerd, wat in 1950 minister van naturellesake geword het, voorstelle van Sabra verwelkom, maar nadat hy sy portefeulje ten volle beheer het, was hy ongeneë om na voorstelle van buite die departement te luister.

Ook in die NG Kerk het die soeke voortgegaan na 'n vorm van apartheid waarin die klem nie net op diskriminasie en onderdrukking val nie. Die dryfkrag in hierdie soeke was G.B.A. Gerdener, steeds professor aan die kweekskool op Stellenbosch en nou ook voorsitter van Sabra. Hy het 'n kerkkonferensie oor die rassekwessie gehou wat bygewoon is deur verteenwoordigers van al die "moederkerke" en "susterkerke" (bruin en swart) van die NG-familie, asook die Gereformeerde en die Hervormde Kerk. Net voor die konferensie het Gerdener 'n artikel gepubliseer waar in hy iets van sy ongemak oor apartheid laat blyk het. Hy het erken dat hy nooit gehou het van die woord nie, wat 'n soort "sjibbolet vir sinistere bedoelinge, misverstand en onverantwoordelike praatjies"

Bl. 434

geword het. Dit wek die indruk van 'n statiese situasie, terwyl met apartheid 'n dinamiese ontwikkelingsprogram bedoel.

By die kkonferensie het die Afrikaanse kerkleiers 'n oproep gedoen om totale skeiding en die uitskakeling van swart mense uit die wit nywerheidslewe. Die konferensie het nie 'n territoriale basis vir die sg. tuislande geïdentifiseer nie, maar tog besluit dat die enigste oplossing geleë is in "uiteindelike totale skeiding van blanke en nie-blanke en 'n gedifferensieerde ekonomiese ontwikkeling van die naturel in sy gebiede". Genoeg "bodem" moet verskaf word vir "die uitbouing van die verskillende nasionale Bantoegroepe as selfstandige ekonomiese eenhede". Trekarbeid moet tot die minimum beperk bly.

D.F. Malan, nou eerste minister, het met die volgende woorde koue water op die kerkleiers se pleidooie vir algehele apartheid gegooi: "Wel, as jy algehele apartheid moet hê, dan sou elkeen erken dat dit 'n ideale toestand is ... maar dit is nie die beleid van ons party nie. Dit is nie uitvoerbaar nie en dit help nie vir enige party om die onmoontlike te probeer regkry nie." In werklikheid het die kerkleiers nooit ware partisie voorgestaan nie, maar wel 'n dramatiese ontwikkelingsprogram vir die reservate. Malan was daarteen, om nie van partisie te praat nie. Hy het, om die waarheid te sê, nie juis in 'n nuwe beleid teenoor die swart mense belang gestel nie. Die party het nie meer die kerk, wat apartheid as 'n idealistiese projek voorgestel het, nodig gehad nie.

Die regering se negatiewe reaksie op die plan vir totale skeiding het as 'n groot teleurstelling vir die teoretici gekom. Hulle het egter moed geskep oor die regering se aanstelling in 1950 van 'n kommissie om die sosio-ekonomiese probleme van die reservate te ondersoek en voorstelle te maak oor hoe die gebiede aan meer mense 'n bestaan kan gee. As voorsitter is prof. F.R. Tomlinson, 'n bekende landbou-ekonoom, aangestel.

Teen die vroeë 1950's het Ben Marais en Bennie Keet, die twee vernaamste kritici van die NG Kerk se poging om apartheid Bybels te regverdig, besluit dat die idealistiese projeksie van apartheid nie langer geloofwaardig is nie. In 1952 het Marais se boek Colour: Unsolved Problem of the West verskyn. Dit was 'n indringende vergelykende studie van Brasiliaanse en Amerikaanse rasseverhoudinge met lesse wat hy vir Suid-Afrika probeer formuleer het. Marais het totale territoriale segregasie ook as 'n ware oplossing aanvaar, maar dadelik bygevoeg dat hy daarmee 'n radikale beleid met ontsaglike dimensies bedoel, wat neerkom op ekonomiese en gebiedskeiding. Hy het dit sterk bevraagteken of blankes ooit die wil het om die prys hiervoor te btaal. Hy het gewaarsku dat 'n halfslagtige toepassing van so 'n beleid van weinig betekenis sou wees. Miljoene swart mense sou in die sg. blanke gebied agterbly en die blankes as Christene en demokrate sou op die duur verplig wees om aan hulle politieke regte gee.

In 1956 het Bennie Keet sy Suid-Afrika - waarheen?  gepubliseer, waarin hy ook al die praatjies van totale apartheid bevraagteken het. Vir hom het dit gelyk na wensdenkery. Hy het betoog dat die maklilkste manier om 'n onoplosbare probleem te benader, die aandui van 'n onmoontlike oplossing is. Dit is blankes wat apartheid verlang, maar die mense wat sou moet ly en opoffer, is nie blankes nie. Apartheid skend die menswaardigheid van alle mense wat nie wit is nie, selfs diegene wat "beskaaf" is. Trekarbeid ontsê swart mense 'n hegte familieverband, wat 'n noodsaaklike voorwaarde vir 'n gesonde gemeenskapslewe is.

Bl. 435

Keet het besluit dat die 'n kwessie is van apartheid of integrasie nie, maar apartheid of rassesamewerking. Totale apartheid as 'n oplossing is 'n eeu te laat, omdat al hoe meer swart mense die Westerse kultuur aanneem en die progesse van integrasie onomkeerbaar geword het. Sy oplossing is veelparty-gesprekke tussen wit en die breedste verteenwoordiging van swart en bruin mense ten einde 'n plan vir medebestaan te formuleer wat die steun van die hele bevolking sal geniet.

Keet se bydrae was hoofsaaklik 'n morele pleidooi. Hy het geen ontleding verskaf van wit partypolitiek en van die druk van die kieserskorps waaraan al die partye onderhewig was nie. Hy het ook nie die vraag behandel of daar voldoende gemeenskaplike grond tussen wittes en swartes is om 'n stabiele kompromis te vind nie. Dit lyk asof Keet gehoop het dat die oplossing ná verskeie eeue van stryd tussen wit en swart geleë is in die hoop dat die partye die konflik nie langer as 'n politieke magstryd sou beskou nie en net vir die algemene belang sou werk. Dit was asof Keet in sy godsdienstige idealisme gedink het dat die hele stryd tussen wit en swart die gevolg van 'n gebrek aan broederlike liefde is.

Die NP-leiers het nie op die uitdaging van Keet en Marais geantwoord nie. Vir hulle was die prioriteit om rassevermenging en swart verstedeliking om te keer. Uit gesprekke met kinders van senior ministers blyk dat hulle privaat nie van apartheid as 'n permanente oplossing gepraat het nie. In sy boek The Dilemma of South Africa wat in 1953 verskyn het, vertel John Hatch, 'n Britse joernalis, dat Eben Dönges, minister van binnelandse sake, aan hom gesê het dat apartheid vir hom en sy kollegas beteken dat die huidige en die volgende twee geslagte teen die gevare van 'n vinnig groeiende swart en bruin bevolking beskerm word.

Wanneer die NP-leiers op openbare vergaderings gepraat het, het hulle egter die indruk gewek dat hulle met iets besig is wat altyd sal hou. Op Geloftedag 1952 het Dönges aan 'n skare gesê: "Die pogings wat aangewend word om die onmiddellike toestand die hoof te bied, moet voortduur, maar terselfdertyd moet ons begin dink aan die breër en meer diepgaande benadering. Ons moet honderd jaar vooruit kyk en nie net vryf jaar nie." Die regering sou inderdaad apartheid so ingrypend en omvattend aanpak, dat mense begin glo het dat dit honderd jaar sal hou.

Bl. 436

--- --- ---

Hermann Giliomee

Die Afrikaner: 'n Biografie

Tafelberg Uitgewers

ISBN 978-0-624-04181-8