Die Soeke na Witmansland


DIE IDEE VAN 'N WITMANSLAND

Toe die Nasionale Party in 1948 aan die bewind kom, het Hendrik Verwoerd verklaar: "Suid-Afrika (is) 'n witmansland en daar moet hy baas wees." Die term witmansland vir die hele gebied van die huidige Suid-afrika is waarskynlik nie voor 1880 gebruik nie en so 'n uitspraak het altyd met die werklikheid gebots.

Suid-Afrika in die 1950's, soos ook in die 1850's, was 'n land waar wit mense hul eie politieke instellilngs gehad het en waar hulle probeer het om soewereine gesag in hul onderskeie gebiede uit te oefen, maar in werklikheid was wit mense 'n minderheid in 'n gebied binne 'n swart kontinent. In die tweede helfte van die negentiende eeu was daar verskeie semi-outonome swart gemeenskappe met aansienlike mag, soos die Zoeloes in Natal, die Xhosas anderkant die Kei, die Sotho's oos van die Caledonrivier en die Tswanas, Pedi's, Swazi's en Vendas in Transvaal.

Die opbreek van hierdie politieke stelsels en die onteiening van swart grond het slegs moontlik geword weens twee ontwikkelings wat nie in die 1850's voorsien kon word nie: die beslissende rol van die Britse militêre leiding en Britse troepe in die onderwerping van die sterkste swart stamme, en die ontdekking van goud, wat aan Paul Kruger se republiek die geldelike middele gegee het om die oorblywende swart weerstand te oorkom.

'N UNIEKE SAMELEWING

Die samelewing wat in die loop van die negentiende eeu tussen Tafelbaai en die Limpoporivier begin vorm aanneem het, was uniek in die wêreld van Europese kolonisasie. Dit was nie 'n selfversorgende, hoofsaaklik wit samelewing soos Australië nie. En dit was ook nie 'n Indië nie, waar Europeërs 'n heel beperkte rol as amptenare, handelaars en sendelinge gespeel. Suid-Afrika was 'n gebied waar wit mense in aansienlike getalle gevestig was, maar anders as die koloniste van Kanada, Australië en Nieu-Seeland, het hulle van inheemse arbeid afhanklik gebly.

Suid-Afrika was in nog 'n opsig uniek. Dit was die enigste Europese kolonie waar

Bl. 232

die wit gemeenskap wat 'n inheemse meerderheid oorheers het, etnies verdeeld was - in negentiende-eeuse terme, tussen die "Hollandse" en die Angel-Saksiese "ras". Hulle het hul onderlinge wedywering slegs beperk wanneer dit wit heerskappy bedreig het. Die wedywering was veral skerp in die Kaapkolonie, waar die Afrikaners tussen twee derdes en driekwart van die wit gemeenskap gevorm het en Engelssprekendes die res. Die pleidooie vir die uitbreiding van die swart stem - van 1887 tot 1990 - kon nooit heeltemal losgemaak word van die soeke deur 'n faksie in die Engelssprekende gemeenskap na vennote teen die oorwig van Afrikanerstemme nie.

Gedurende die 1850's het die wit mense min of geen seggenskap uitgeoefen oor 'n breë strook langs die suidooskus van die land en ook oor groot dele van Natal, die noord-ooste, noorde en noordweste van die ZAR en die oostelike Oranje-Vrystaat. In die Vrystaatse republiek, wat in 1854 gestig is, h et die burgers die eerste vyftien jaar sterk teenstand van die Sotho's in die vrugbare Caledonriviervallei ondervind. Hulle het uiteindelilk die oorhand gekry, maar in 1869, toe hulle op die punt was om die koninkryk van Basoetoland te verower, gryp Brittanje in en annekseer dit. Ná 'n kort tydperk onder die Kaapkolonie het Basoetoland (Lesotho) in 1884 onder Britse beheer gekom.

In die ZAR het die burgers teen 1880 net die suidelike helfte effektief beheer. In Natal was die setlaars, hoofsaaklik Brits, 'n klein minderheid binne 'n groot meerderheid van swart mense. Wit beheer oor die hele Natal is eers teen die eidne van die negentiende eeu gevestig.

In die Kaapkolonie ht die politici min geesdrif gehad vir uitbreiding na die half-woestyn anderkant die westelike loop van die Oranjerivir. Dit het in die eerste helfte van die 1880's die Duitse kolonie Duits-Wes-afrika geword. Oos daarvan het 'n Britse protektoraat in Betsjoeanland ontstaan.

Dit was Britse amptenare, handelaars en spekulante wat tussen die 1830's en 1880's die meeste druk uitgeoefen het vir die uitbreiding van die Kaapse oosgrens. In 1856, ná die sogenaamde Agste Grensoorlog, skryf De Zuid-Afrikaan dat die grensoorloë die gevolg was van die onverstandige behandeling van die Xhosas: Hulle is minderwaardig in die kuns van die beskaafde lewe, maar goed toegerus om te kan onderskei tussen mag en onnoselheid, geregtigheid en die teenoorgestelde daarvan. In 1855 het J. de Wet, 'n vooraanstaande Afrikaner, daarop gewys hoe onverstandig dit sou wees om n og meer grond te gryp. Die Xhosas se grondgebied, het hy gesê, is reeds te klein om die bevolking te onderhou. Daar het vir baie Xhosas min opsies oorgebly, behalwe om te steel.

Daar was ook 'n ander benadering. In 1857 het F.W. Reitz, 'n progressiewe boer wat al in Europa gereis het, verklaar dat dit vir die koloniste moontlik is om hul "barbaarse" bure van "die een  oseaan na die ander" beslissend te verslaan en daarna te kersten en te "tem".Terselfdertyd gee hy die versekering dat die wit mense geen begeerte het om die grond van die swart mense te vat nie. Nóg De Wet nóg Reitz het aan die hele Suid-Afrika as 'n witmansland gedink. Reitz het die vestiging van wit gesag oor die hele Suid-Afrika as sowel wenslik as haalbaar beskou, maar De Wet was skepties.

BESKAWING DEUR VERMENGING

Sir George Grey, wat in 1854 goewerneur geword het, wou 'n beleid van "civilisation through mingling" toepas op die Xhosas in die gebied tussen die Kei- en die Keiskamma-

Bl. 233

rivier, bekend as Brits-Kaffraria en later as die Ciskei. Die Britse ryk was toe nog besiel met die idee om sonder onderskeid van kleur of geloof dieselfde wette op Britse onderdane toe t pas en die engelse kultuur na alle mense uit te brei. Die beleid in die Kaap sou daarop neerkom dat van die boonste laag swart mense Engelsmanne  gemaak word, net soos daar dertig jaar tevore begin is om die bolaag van die Kaapse Afrikaners tot "loyal Dutch" te omvorm.

In die geval die Afrikaners het die beleid tot 1895 bo verwagting geslaag. 'n Historikus sou later opmerk dat die Kaapse Afrikaners "the i deal prefabricated collaborators" vir die Britse ryk was. In die Oos-Kaap is daar teen 1850 al 'n sekere mate van sukses behaal met die inlywing van swart mense in die wit maatskaplike stelsel. Die vernaamse voorbeeld was Lovedale, 'n skool in Kaffraria waar swart, bruin en wit onderwys en opleiding ontvang het.

Grey het twee groot idees gehad. Die eerste was 'n federasie van state en die tweede die integrasie van wit koloniste en die Xhosas aan die oosgrens. Hy was tevore goewerneur in Nieu-Seeland, waar hy die vernaamste arggitek van die federale en nierassige grondwet van 1852 was. Alhoewel die eiendomskwalifikasies laag was, kon min Maori's stem.

Grey was daarvan oortuig dat die onsamehangnde versameling van kolonies, republieke en swart gebiede vooruitgang strem en Suid-Afrika sou verhinder om in die toekoms 'n belangrike rol in Afrika te speel. Vir hom was die politieke grense tussen die republieke en die Kaapkolonie nie sinvol nie. Hy het geskryf die Afrikaners aan weerskante van die grens "have the same sympathies, the same prejudices, the same habits, and frequently the same feelings regarding the native races, although marked and rapid changes in public opinion are taking place, as also in reference to the increasing use of the english language and the adoption of english customs".

Hy het gewaarsku dat rassekonflik in een staat maklik na 'n ander sou oorspoel en dat swart stamme kan saamspan teen die klein en ondoeltreffende wit state in die verre binneland. "Life and property thus becomes insecure and a general lawlessness follows ... South Africa appears to be drifting, by not very slow degrees, into disorder and barbarism." sy argumente vir die vrywillige federasie van die state in die subkontinent is eers in 1909 weer ernstig oorweeg, maar Brittanje sou toe grotendeels uit die proses uitgesluit wees.

Grey se ander groot idee was om die wit en die swart mense aan die grens so veel as moontlilk te integreer. In Nieu-Seeland het die Maori's by die markekonomie ingeskakel en die proses van integrasie het so goed verloop, dat hy kon berig dat die grondslag vir vreedsame naasbestaan gelê is en dat die twee rasse op pad na "amalgamasie" is. Hy het dieselfde doel vir die Kaapkolonie gehad. Die hosas moes, in sy woorde "(be made) part of ourselves, with a common faith and common interest, useful servants, consumers of our goods, contributors of our revenue". Hy het geglo dat die tradisionele swart kultuur in die weg van vernuwing en vooruitgang staan. Hy wou die magte van die kapteins beperk en het beoog om mettertyd van hulle gewone amptenare met 'n salaris te maak. Hy het ook hoofmanne salarisse aangebied om as 'n soort polisiemag te dien.

Op die duur wou hy die kapteins vervang deur wit magistrate, wat die koloniale wette sou toepas. Beter skole en klinieke, het hy gemeen, mot die samelewing moderniseer. Wit kommenrsiële boere wat onder die swartes gevestig is, moet 'n klas van progressiewe

Bl. 234

swart kleinboere help skep, wat ook draers moet word van die Europese beskawing en Christendom.

Grey het nie vir swart mense iets anders as 'n onderhorige plek in die wit samelewing voorsien nie. Die Engelstalige pers het sy planne ondersteun en daarop aangedring dat die "swart stamme" en "nasionaliteite" opgebreek word. Die Kaapse Afrikaners was skepties. Hulle het getwyfel of die Xhosas geassimileer kan word voordat hulle beslissend verslaan is. Hulle het dit ook bevraagteken of die wit gemeenskap Grey se visie van rasse-amalgamasie aanvaar het.

Die Xhosas in die gebied het self ernstige bedenkinge gehad. Hulle het reeds in 'n baie oorbevolkte gebied gewoon en die vestiging van wit boere sou die grondtekort vererger. Die kapteins het Grey se planne as 'n groot bedreiging vir hul eie status en rol ind ie tradisionele gemeenskap bekou.

Die Xhosas wes van die Kei was erg ontwrig deur die opeenvolgende grensoorloë van die voorafgaande tagtig jaar. Hulle was dus ontvanklik vir die toekomsvisie van 'n jong meisie, Nongqawuse, wie se boodskap soos volg gelui het: Die Xhosas moet nie saai nie en hul moet hul vet vee slag. As hulle gehoorsaam, sal 'n stormwind opkom wat die wittes in die see sal waai. Die gestorwe helde sal opstaan en daar sal oeste en vet vee in oorvloed wees.

Die aantal sterftes in die ramp wat gevolg het, is onbekend. Groot getalle swart mense het nou permanent op wit plase gaan werk. Die Xhosa-bevolking in die Kaffraria-gebied het van 100 000 gekrimp tot ongeveer 37 000. Die tradisionale Xhosa-samelewing is 'n slag toegedien waarvan dit nooit sou herstel nie. Trekarbeid sou die skade verder voer. Die regering het die gebied weerskante van die Kei vir wit nedersetting oopgestel.

Die regering wou die gebied by die kolonie inlyf, maar die koloniste was verdeeld. Die vernaamste ondersteuners was die Engelssprekende politici van die Oos-Kaap, wat graag van die Wes-Kaap wou afskei. Die Afrikaners in die algemeen en die Engelse politici in die Wes-Kaap was daarteen gekant. Hulle wou nie die Kaapkolonie se swart bevolking met so 'n toevoeging skerp laat styg nie en hulle wou niks doen wat die afskeidingsbeweging sou bevorder nie.

Grey se outokratiese opvolger, sir Philip Wodehouse, het die Kaffraria-gebied in 1865 in die kolonie ingelyf. Volgens die sensus van 1865 was daar ongeveer 181 000 wit koloniste in 'n bevolking van 314 000. Anthony Trollope se South Africa gee die volgende getalle vir Suid-Afrika as geheel in 1878. (Gekleurdes sluit almal in wat nie wit is nie.)

BEVOLKING IN SUID-AFRIKAANSE GEBIEDE, 1878

Gebied                         Wit mense                     'Gekleurdes'                Totaal

Kaap                            235 000                          485 000                      720 000

Ciskei                           -                                      335 000                     335 000

Transkei                       -                                       501 000                     501 000

Diamantveld                   15 000                             30 000                      45 000

Natal                               20 000                           320 000                      340 000

OVS                              30 000                               15 000                       45 000

Transvaal                      40 000                             250 000                     290 000

TOTAAL                        340 000                         1 936 000                  2 276 000

Bl. 235

'N NUWE GOLF VAN ANNEKSASIES

Die gesag van wit m ense in Europese kolonies met 'n groot inheemse bevolking, het minder van die grootte van die troepemag afgehang as van die maghebbers se selfvertroue en wil om hulle te handhaaf. Selfs 'n klein troepemag kan 'n groot aantal mense beheer as dit met politieke selfvertroue en militêre doeltreffendheid aangewend word. In die laaste dekades van die negentiende eeu het Brittanje 300 miljoen mense in 'n ontsaglike gebied, wat tans onder meer die state Indië, Pakistan en Bangladesj omvat, met 200 000 troepe beheer waarvan slegs 65 000 Britse soldate was. Drie kritieke jare lank, van 1877 tot 1880, was die vernaamste Britse gesagdraer in Suid-Afrika sir Bartle Frere, wat ervaring in Indië gehad het.Op een tydstip in die vroeë 1880's was daar slegs 3 000 Britse troepe in die hele Suid-Afrika gestasioneer. Daar kan min twyfel wees dat die Indiese ervaring deeglik Frere se siening oor die hantering van die situasie in Suid-afrika beïnvloed het.

Voor Frere se koms as wit mense se beheer oor die dieper binneland van Suid-Afrika wankelrig. Swart stamme kon veel meer gedugte teenstand bied as twee of drie dekades vroëer ná die ontwrigting van die Difiaqane. Baie swart mense het daarin geslaag om in die diamantveld gewere in die hande te kry. Wit koloniste het dit al moeiliker reggekry om grond te beset of swartes te dwing om vir hulle te werk.

Die imperiale regering in Londen wou in Suid-Afrika graag 'n enkele staat onder die Britse vlag en met sy eie troepe vestig. Dit sou Brittanje in staat stel om sy duur militêre en finansiële verpligtinge te besnoei. Daar was egter 'n netelige probleem. Die wit koloniste sou die verantwoordelikheid vir hul eie verdediging slegs aanvaar dat Britse leërs die sterkste swart gemeenskappe tot onderdanigheid gedwing het. As Brittanje aan die ander kant weer te goed daarin slaag om alle bedreigings uit te skakel, sou baie wit mense heeltemal gelukkig wees om die Britse beheer af te skud.

Die Kaapkolonie was die naaf van die Britse plan; al die speke moes hierby inpas. As eerste stap het Brittanje in 1872 verantwoordelike regering aan die Kaap toegeken, wat die kabinet aan die Parlement verantwoordelik gemaak het. Brittanje het van die Kaapse regering verwag om die kolonie uit te brei deur die swart gebiede oos van die grens in te lyf. In 1873 het die Kaapse k abinet magistrate in die gebied anderkant die Keirivier aangestel as 'n eerste stap in die aanvaarding van die administratiewe verantwoordelikheid. Brittanje het sowel Griekwaland-Wes as Basoetoland onder Kaapse beheer geplaas.

Lord Carnarvon, tussen 1874 en 1878 minister van kolonies, het sterk druk uitgeoefen vir 'n federasie van al die gebiede in Suid-Afrika. Imperiale amptenare het die Transvaalse burgers en die Zoeloes as die vernaamste struikelblokke vir hul plan beskou. Carnarvon se opdrag aan Theophilus Shepstone om Transvaal te annekseer, was die eerste stap van die plan (sien p. 187).

In 1877 het Frere in Kaapstad aangekom. Hy het onmiddellik besluit dat dit noodsaaklik is om die mag en aansien van die Zoeloes, die sterkste swart poliltieke gemeenskap, te vernietig. Hiermee het hy gehoop om die steun van die republikeinse Afrikaners vir 'n federasie te kry. In 1879 het hy 'n beledigende ultimatum aan Cetshwayo, die Zoeloe-koning, gestuur om sy leër binne 'n maand te ontbind. 'n Tweede Britse aanval was suksesvol en die koning is in ballingskap weggestuur. Die Zoeloe-koninkryk is in dertien kapteinskappe verdeel en verskeie anti-Cetshwayo-kapteins is aangestel ten einde die

Bl. 236

Zoeloes polities lam te lê. In dieselfde jaar het Britse troepe, bygestaan deur 'n groot Swazi-kontingent, die Pedi's onder Sekhukhune verslaan.

In 1878 het 'n stryd tussen Xhosas oorkant die Keirivier losgebars. Die Kaapse regering het soldate en swart hulptroepe gestuur om dit te bedwing. In 1879 het die Kaap die gebiede Fingoland en Griekwaland-Oos geannekseer, wat ongeveer twee derdes van die gebied tussen die Kaap en Natal was. In opdrag van die Kaapse regering het troepe die Basotho's probeer ontwapen. Sterk verset het uitgebreek, wat na die Transkei oorgespoel het. Die swart verset dit dit laat lyk, soos die koloniale historikus, G.M. Theal, geskryf het, of daar 'n besliste poging aan die kant vand ie swart bevolking is om die juk van Europese heerskappy in groot dele van Suid-Afrika af te werp.

Deur al hierdie onluste en oorloë is die plan vir 'n Suid-afrikaanse konfederasie in die kiem gesmoor. Carnarvon het deur sy anneksasie van Transvaal die wit Suid-Afrikaners vervreem, en die Transvaalse burgers het in 1880 suksesvol die wapens daarteen opgeneem. In die Kaapse parlement het sterk teenstand, veral onder die Afrikanerlede, teen uitbreiding in die swart gebiede ontstaan. Die humanitêre drukgroep het geagiteer vir regstreekse Britse heerskappy oor die Xhosas anderkant die Keirivier en in 1883 het die Scanlen-regering, wat van Afrikanersteun afhanklik was, ook direkte Britse beheer voorgestaan.

Kort daarna het die Scanlen-regering geval en saam daarmee die idee. Dit is 'n versoeking om te gis wat sou gebeur het as die Transkei, soos Basoetoeland, Betsjoeanaland en Swaziland, 'n Britse protektoraat geword het. In die 1960's sou die Transkei die hoeksteen word van apartheid. Die tuislandbeleid sonder die Transkei sou geen geloofwaardigheid hoegenaamd gehad het nie.

Die nuwe Kaapse kabinet het die uitbreiding van die Kaapkolonie voorgestaan, en Gcaleka- en Thembuland in 1885 geannekseer en Pondoland in 1894. Weens die inlywing van al die gebiede oorkant die Kei, het die samestelling van die Kaapkolonie se bevolking radikaal verander. Die 181 000 wit mense van 1865 het in 1891 verdubbel tot 376 000, maar die swart mense binne die Kaapkolonie se grense was vyf keer meer - 'n styging van 314 000 tot 1 480 000. Daar was nou vier keer meer swart kiesers.

Nog voor die inlywing van die swart gebiede het die bestendige styging van die swart getalle vrae laat ontstaan oor die beleid van "beskawing deur vermenging", soos deur Grey voorgestaan. Die nuwe benadering was dat inheemse mense deur hul eie wette en gebruike geregeer moet word, eerder as dat hulle in die Westerse kultuur geassimileer word.

In Indië is die klem geplaas op inheemse gebruike ten opsigte van huwelike en erfreg; in die Kaapkolonie was die klem op die stam se kommunale besit van grond en die rol van die kaptein wat dit in trust hou. Die stamstelsel, die gesag van kapteins en die inheemse reg, het die hoeksteen van die nuwe beleid geword. Terselfdertyd het wit politici in die Kaapkolonie die onderskeid tussen die Europese en die inheemse  beskawing gebruik om die stemreg van die groot meerderheid van die swart mense te weerhou. Daar is dus nou in die Kaapkolonie, net soos in Indië, 'n duidelike verskil gemaak tussen "citizens" (omtrent almal mense van Europese afkoms) en "subjects" (almal inheemse mense).

In die kolonie Natal was die hoofargitek van die nuwe benadering Theophilus Shepstone, wat van 1848 tot 1875 sekretaris van naturellesake was. Hy het die koloniale

Bl. 237

regering in Natal oortuig om reservate opsy te sit en die kapteins te erken en saam daarmee die geldigheid van die inheemse reg. In die Kaapkolonie het 'n kommissie die aanvoorwerk gedoen. John X. Merriman, die voorste liberale Kaapse politikus, het saam met ander daarin geslaag om 'n kommissie aangestel te kry wat die inheemse wette en gebruike moes navors, die sogenaamde Native Laws and Customs Commission.

In 1883 het die kaapse regering die kommissie se aanbeveling aanvaar dat die swart mense in die gebiede wat pas geannekseer is, toegelaat moet word om hul tradisionele gebruike en inheemse reg te behou.

Ondanks hierdie ontwikkelings, het die opvatting van Suid-Afrika as 'n witmansland op 'n wankelrige basis berus. Merriman het verklaar dat Suid-Afrika nooit 'n witmansland kan wees nie. Die "Europese ras", het hy gemeen, is "die garnisoen" wat die land moet regeer in die belang van goeie regering en die algemene opheffing van alle Suid-Afrikaners.

'N STRYD TUSSEN ENGELSE EN AFRIKANERS OOR SWART MENSE

In die vestigingskolonies in die Britse ryk, soos Australië en Kanada, het Britte polities en ekonomies die mag in eie hande gehad. In die Kaapkolonie daarenteen, en later die hele Suid-Afrika, sou die afrikaners as die grootste wit gemeenskap mettertyd die meeste politieke mag verwerf. In die Kaapkolonie was die mense van Britse afkoms oor die algemeen beter opgevoed, met beter toegang tot kapitaal en die handelsnetwerk van die Britse ryk. Hulle het die stedelike ekonomie heeltemal oorheers en uit hierdie posisie vryhandel sterk bepleit. Daarteenoor was meer as 90% van die Afrikaners in Suid-Afrika boere, wat hoofsaaklik bekommerd was oor hul beheer oor hul swart en bruin arbeiders. Hulle het vryhandel teengestaan en beskerming gevra vir hul produkte in 'n land waar boere se uithouvermoë en vaardighede tot die uiterste beproef word.

Die Britte en Afrikaners ook verskillende plekke beklee in die arbeidsmag van die nywerhede. Die goud- en diamantmyne het geskoolde vakmanne uit Brittanje gelok. Die Afrikaners was stadig met verwerwing van vaardighede en het eerder opsigters van die swart werkers geword. Hulle was geneig om eerder na die staat as na vakbonde op te sien om hulle te beskerm.

Sowel Afrikaners as Britte het wit oorheersing voorgestaan, maar daar was 'n intense konflik oor watter wit gemeenskap moet oorheers. Vir sekere engelssprekende poliltici was beheer deur Afrikaners byna net so verskriklik soos swart beheer. Aan die vooraand van verantwoordelike regering in die Kaap in 1872 het Merriman, wat toe nog 'n vurige imperialis was, geskryf oor die gevaar dat die Engelssprekendes te staan sou kom onder "a Dutch republic".

In die oostelike distrikte het swart stemme in ses of sewe kiesafdelings die deurslag gegee. Met uitsondering van die liberale Afrikaner Jacobus Wilhelmus Sauer, het Afrikanerkandidate in hierdie kiesafdelings nie veel swart stemme gekry nie. Simbolies was die koalisie van Engelssprekendes en swart stemme belangrik, hoewel hierdie kiesafdelings te min was om die Kaapkolonie se poliltiek beslissend te beïnvloed. Maar die poliltiek was nog vloeibaar en mense het dit nie uit die oogpunt van 'n witmansland beskou nie. Ook het die Engelssprekendes hulle self nog nie as 'n permanente minderheid beskou nie.

Bl. 238

In 1887, toe die Kaapse parlement op die punt gestaan het om die tradisionele swart mense se stem uit te skakel, het dit tot 'n openlike uitbarsting gekom. Enige poging van die Afrikanerbond om die swart stem te beperk, het ernstige politieke spanning tussen Afrikaanse en engelse politici veroorsaak. Daar was Engelssprekende politici wat dit beskou het as 'n doelbewuste poging om die Engelse ondersteunersbasis te verswak. Daar is gevolglik in die wit gemeenskap 'n groter ophef oor die aanva op swart vryhede gemaak as wat sou voorgekom het as die dominante groep uit net een etniese gemeenskap bestaan het.

The Port Eizabeth Telegraph het geskryf: "If the Afrikanerbond (Die Afrikaners se party) is to be well beaten it will have to be done with the assistance of the black vote. The Dutch in the colony are to the English as two to one and if they combine ... they can outvote us and inflict us all the absurdities of their national and economic prejudices."

P. Solomon, 'n lid van die Parlement, het onomwonde verklaar: "We English in this country depend for a large degree upon the native vote." Volgens hom sou die beperking van swart stemreg aan Afrikanerbondkandidate die oorhand gee in die ses of sewe kiesafdelings in die ooste, iets wat die Engelssprekendes ernstig sou raak. Die engelse pers was verdeeld. Die Cape Times het ontken dat Engelssprekendes die naturellestem as teenvoeter vir die Afrikaner gebruik. Die Cape Argus het egter geskryf dat Solomon 'n seldsame eienskap in die politiek openbaar, naamlik eerlikheid. The Barkly East Reporter het Solomon se standpunt betreur, maar bygevoeg dat hy gelyk het wanneer hy waarsku "that the native vote is our only protection from a dominant Dutch majority". The East London Advertiser het dit onomwonde gestel dat hy die Afrikaners bo die swart mense as bondgenote verkies. Hy het gevra: hoeveel parlementslede kan sweer dat hul teenkanting teen die wetsontwerp voortspruit uit "pure love or justice to the native races...?". Spruit dit nie dalk uit 'n begeerte "to overcome Dutch influences by a pre-ponderance of native voters"? Die blad het gewaarsku dat so 'n koallisie 'n Frankensteinmonster sou skep wat sou omdraai en sy skepper aanval.

Aan die ander kant van die taalverdeling was dit net Die Patriot wat die kwessie sonder omhaal van woorde behandel het. Daar is, het die blad geskryf, sekere politici wat die Afrikaners deur middel van swart troepe en swart stemme in bedwang wil behou. Hofmeyr as leier van die Afrikanerbond en De Zuid-Afrikaan het dit as gevaarlik beskouo om die Afrikaners teen die Engelse te mobiliseer, veral waar die kwessie van stemreg vir die swart mense in die gebiede oorkant die Kei nog nie besleg was nie. De Zuid-Afrikaan het geskryf dat wittes moet saamstaan in die bestaanstryd teen swartes en dat dit nog nie seker is wie bo sal uitkom  nie. Die Afrikaners moet hulle nie soos die Iere afskei nie, maar saamstaan met daardie Engelse wat dieselfde mening as hulle huldig.

Toe die Kaapse parlement in 1887 ná groot lilberale besware die swart stemreg beperk, het die mynmagnaat Cecil John Rhodes gesê: "If there had been none but English in that House (die Parlement) the native question would been settled long ago, but there was some peculiar stumbling block in the way of a settlement at present because there appeared to be a race feeling (tussen die twee wit gemeenskappe) in the colony, which gave rise to jealousies and suspicions, perhaps groundless."

Rhodes het daarop gewys dat geen Indiërs in Indië kon stem nie. In Nieu-Seeland is

Bl. 239

feitlik al die Maori's uitgesluit. In Natal, waar daar meer as 40 000 wit mense en 500 000 swart mense was, is die stemkwalifikasies op so 'n manier opgestel, dat feitlilk geen swarte gekwalifiseer het om te stem nie. In al hierdie Britse kolonies het min mense hierteen geprotesteer. Dit was egter 'n groot kwessie in die Kaapkolonie weens die politieke wedywering tussen die twee gemeenskappe. Ook in die twintigste eeu sou groot wrywing veroorsaak word deur die vraag watter van die twee wit gemeenskappe wit heerskappy moet uitoefen. Hierdie magstryd tussen die wit mense is egter selde op sy naam genoem en is meer dikwels as 'n botsing tussen konserwatiewe en liberale waardes bestempel.

DIE UITSKAKELING VAN DIE "KOMBERSSTEM"

 Die twee wit gemeenskappe h e nader aan mekaar beweeg namate die swart getalle wit heerskappy bedreig het. Teen die begin van die 1880's was daar ongeveer 50 000 wit volwasse mans in die kolonie teenoor omtrent 200 000 swart mans wat oud genoeg was om te stem. Hofmeyr het geweier om die stemreg weg te neem van iemand wat dit reeds het. Hy  het ook die idee verwerp dat die stemreg verwerf kan word deur "kombers-swartes", dit wil sê tradisionele mense wat op kommunale grond woon. 'n Aansienlike aantal Engelssprekende politici het hom gesteun.

In 1887 het die Afrikanerbond die eerste minister, sir Gordon Sprigg, ondersteun oor 'n wetsontwerp wat almal uitgesluit het wat op gemeenskaplike grond woon. Hierdeur is die meeste swart kiesers in die Transkei uitgesluit. Terselfdertyd het swart mense wat nie op kommunale grond gewoon het nie en kleurlinge vir die stem gekwalifiseer. Die Kaapse nie-rassige stemreg was nie bedoel om meer te wees as 'n veiligheidsklep n ie. Dit was nooit die bedoeling dat 'n groot aantal swart mense moet kan stem nie.

Maar wat kon as regverdiging vir die uuitsluiting van groot getalle swart mense dien in 'n grondwet wat veronderstel was om nie-rassig te wees? Teen die begin van die 1880's het die ideologie van rassisme, gebaseer op die idee van inherente biologiese verskille en 'n biologiese hiërargie van rasse, sterk in die Westerse wêreld na vore begin kom as regverdiging vir Europese heerskappy en wit meerderwaardigheid.

Daar was ook mense in albei wit gemeenskappe wat graag op grond van Charles Darwin se teorie van "the survival of the fittest" wit heerskappy en die onteiening van swart grond geregverdig het. Daar was egter probleme hiermee. Daar was engelse jingo's wat "the Dutch race" as lui, passief en agterlik beskou het en nie geskik om oor Britte te regeer nie.

'n Afrikaner wat hom self "Kolonist" genoem het, h et die kwessie in De Volksbode van 14 Maart 1889 geopper. Hy het gevra of die wit man, bloot omdat hy wit, beskaaf en sterker is, die reg het om 'n swart stam summier te skuif as hy die grond nodig het. Hy het geskryf dat die meeste van die Engelssprekendes hulle self as net so meerderwaardig ten opsigte van die Afrikaners voel as wat die Afrikaners verhewe oor die swart mense voel. Wat, het "Kolonist" gevra, sal 'n mens sê as die Engelse sou verklaar dat hulle as die "hoër ras" daarop geregtig is om in die belang van die beskawing in die algemeen die Afrikaners te verstoot en op alles beslag te lê wat aan hulle behoort?

Hollandse en Afrikaanse blaaie was geneig om 'n geïdealiseerde prentjie van wit paternalisme te skets waarin die goedhartige wit baas vir sy getroue bediendes sorg, hulle be-

Bl. 240

loon wanneer hulle goed werk en straf wanneer hulle oortree. Soms is 'n wêreld geskets waarin nasies, elkeen met sy eie kulturele erfenis en behoeftes, vreedsaam onder 'n sambreel van wit heerskappy leef. Later het sowel Engelse as Hollandse publikasies die idee van wit voogdyskap gepropageer. Met die hulp van wit mense kon swart mense vooruitgang maak in die verwerwing van "beskawing".

Swart mense het die voorgestelde wetsontwerp tereg beskou as 'n poging om hul politieke stem stil te maak. Afrikaners en swart mense het hulle self feitlik gelyktydig op 'n meer moderne wyse polities begin organiseer. Die Afrikanerbond se stigting in 1880 was die spoorslag vir die stigting in 1882 van die Imbumba Yama Nyama in Port Elizabth, 'n swart politieke organisasie wat beweer het dat dit die ware Afrikanerbond is. In dié vereniging se oë was Hofmeyr se organisasie slegs 'n "Boeren Bond". Die vereniging  het aansienlike sukses behaal met die registrasie van swart kiesers, maar in 1884 van die toneel verdwyn. Verskeie ander organisasies het sy werk voortgesit.

In 1884 het John Tengu Jabavu, 'n oudonderwyser, Imvo Zabantsundu, die eerste Xhosa-talige koerant, gestig en die blad het die liberale kandidate in die ooste gesteun. Jabavu het geskryf dat die swart stem konsekwent aangewend word "to strengthen the English, or the party of right and justice in the country".

Maar wie was die party van "right and justice"? Dit was die politici, handelaars en professionele lui wat hulle self die "Friends of the Natives" genoem het. Buiten J.W. Sauer was hulle almal Engelssprekendes. In die Parlement was hulle 'n informele groep wat die magsewewig tussen die Afrikaners en die Engelssprekende blok gehou het. Hulle het aandag gegee aan swart griewe soos die paswette, streng "lokasie"-regulasies, onregverdige praktyke in die regspleging en beperkings op hul gebruik van alkohol. Hulle het ook die toenemende  anti-swart-neiging in die Parlement gekritiseer.

In 1887 het die liberale die Sprigg-wetsontwerp teengestaan. Merriman het gemeen dit sou swartes verbitter en Sauer het gesê dit is onnodig omdat swart kiesers tot 'n paar kiesafdelings beperk is. James rose Innes en C.W. Hutton, skoonseun van Andries Stockenstrom, het gesê dat die wetsontwerp 'n onreg pleeg. Ten spyte van hierdie besware, is die wetsontwerp aangeneem. Mense wat op stamgrond gewoon het, kon dit in die vervolg nie gebruik om aan die eiendomskwalifikasie vir stemreg te voldoen nie.

Vir Hofmeyr het die 1887-wet nog te veel swart mense op die kieserslys gehou. Die wit bevolking sou "heeltemal oorweldig" word as daar nie nog stappe gedoen word nie. Hy het gepleit dat die Parlement moet optree voordat die swart mense polities georganiseerd raak. Hy het iets voorgestel wat in 1892 wet sou word: 'n eenvoudige toets vir geletterdheid is ingestel en die eiendomskwalifikasie is van £25 tot £75 opgeskuif.

Daar is dus nie op 'n rassegrondslag teen kiesers gediskrimineer nie, maar 'n hoër standaard is vir die sogenaamde beskaafde stem vasgestel. Dit was iets waarmee die liberale kon saamleef, want hulle was self - soo Merriman dit uitgedruk het - gretig om die invloed van die "Coolie and barbarian" te beperk. Sauer het lof gehad vir die Afrikaners se "gematigheid" deur van kleurdiskriminasie weg te bly.

Daar het nietemin belangrike verskille tussen die meer konserwatiewe Afrikanerbond en die liberale oorgebly oor hoe die wit mense hul voortbestaan ten beste kon verseker. Die liberale het 'n beleid van laissez faire voorgestaan eerder as spesifieke rassebeskerming. Hulle het die reg van swart mense om grond te huur en te koop, verdedig, maar geen maat-

Bl. 241

reëls voorgestel wat swart of bruin mense kon help om van hul agtergeblewenheid te ontsnap nie. Hulle het parlementslede gevra om swart onderwys te steun sodat swart mense 'n produktiewe arbeidsmag kon word; anders sou die magte van barbarisme triomfeer.

Die Kaapse regering het 'n hoër subsidie toegeken aan die staatskole, wat feitlik uitsluitlik deur wit kinders bygewoon is, maar ook finansiële ondersteuning verleen aan die skole vir swart en bruin kinders wat deur sendelinge en kerkgenootskappe gestig en onderhou is. In 1883 het 6 000 wit kinders laasgenoemde skole bygewoon, teenoor 32 000 bruin en swart kinders. In 1891 was 'n derde van die wit kinders in hierdie skole.

Benewens hul klem op onderwys, het die liberale daarop aangedring dat die bruin en swart elite in die "beskaafde" geledere opgeneem moet word. Dit was 'n eggo van sir George Grey se beleid van "civilisation through mingling". James Rose Innes, 'n konsekwente libraal, het steeds daarvoor gepleit dat die kolonie dit sy doel moet maak "to draw the natives into the circle of our political, social and national life as they derserved it and became qualified for it". Die klem hier is op verdien en kwalifiseer. Daar is nie verwag dat die elite meer as 'n dun stroompie sou wees nie.

Die leiers van die Afrikanerbond het sommige liberale waardes gedeel, onder meer 'n skeiding tussen kerk en staat, sekulêre onderwys, die vryheid van die pers en die onafhanklikheid van die regbank wat oor die individuele regte van almal moet waak. Hofmeyr het gesê dat hy geen beswaar daarteen het as die goed opgevoede Maleier Ahmed Effendi as parlementslid sitting neem nie.

Maar daar kon geen twyfel wees nie dat die Afrikanerbond bepaalde belange gedien het. Dit het die boere se belange teenoor dié van plaasarbeiders bevorder; dit het die gebrek aan geld vir wit onderwys gekritiseer en die regering daarvan beskuldilg dat hy die plattelandse staatskole, waar die meeste Afrikaners onderwys ontvang het, afskeep. Hofmeyr het geglo dat die swart mense ter wille van die kolonie se ekonomiese ontwikkeling nie die mag in die hande moet kry nie. Wit mense moet swart mense probeer beskaaf, maar die eintlike doel is om hulle op te lei sodat hulle die beskaafde ras kan dien.

Hofmeyr het gewoonlik na kultuur eerder as na ras of kleur verwys, maar soms het hy die regverdigings deurmekaar laat loop. Daar was byvoorbeeld die keer toe hy gepraat het van die "skeidslyn tussen barbarisme en beskawing, soos dit in Indië, Natal en ander lande bestaan, waar die skeiding tussen die gekleurde barbaar en die beskaafde Europeër is". Gedurende die 1880's en vroeë 1890's het die bond meesal met konserwatiewe Engelssprekende poliltici soos Gordon Sprigg, T.C. Scanlen en Cecil Jhn Rhodes eerder as met die liberale saamgewerk.

''N NATURELLEWET VIR SUID-AFRIKA" ; DIE GLEN GREY-WET

In die laaste dekades van die negentiende eeu was die nypende arbeidstekort die belangrikste vraagstuk waarmee die wit politici geworstel het. Hoe kon die groot aantal swart mense in die reservate as arbeiders na die plase en myne gekanaliseer word? R.P. Botha, 'n vooraanstaande lid van die Afrikanerbond, het sonder omhaal van woorde die saak so opgesom: "'n Man werk net deur die dwang van honger of vrees." Die Kaap se liberale grondwet het verhinder dat dwang gebruik word, en honger het nog min mense uit die reservate gedryf.

Bl. 242


Een manier om die swart mense in die reservate te dwing om te gaan werk, was om blankes toe te laat om grond in die reservate op te koop. Teen die 1890's het min Afrikaners in die Kaapkolonie of die republieke geglo dat die reservate behoue moet bly as plekke waar swart mense hul tradisionele kultuur kan bewaar. Die Afrikanerbond het swart tradisies soos veelwywery gekritiseer omdat dit die swart mense volgens die bond in staat sou stel om wittes met hul getalle te oorweldig. De Zuid-Afrikaan het gewaarsku dat swart mense die stamstelsel wil gebruik om die uiteindelike oorwinning van die "Kafferdom" in Suid-Afrika te verseker. Pres. F.W. Reitz van die OVS het in 1891 'n sterk pleidooi gelewer vir die afbreek van die stamstelsel en die opbreek van die reservate sodat die inwoners arbeiders kon word. Hy het in die Cape Illustrated Magazine geskryf: "Self-preservation is the first law of nature and if the 'Caucasian' must either remain the dominant race or perish, then of the two evils let us choose the least."

In Suid-Afrika het segregasie op 'n bepaalde manier ontwikkel. Dit was 'n kombinasie van 'n stelsel wat trekarbeid vir die myne beskikbaar wouo stel en 'n pollitieke stelsel wat swart mededinging by die stembus wou uitsluit. Van die belangrikste boustene was Shepstone se beleid in Natal en die Kaapse beleid van indirekte regering vir die Transkei. Ewe belangrik was die presedente wat in Kimberley ontwikkel is.

Ná die ontdekking van diamante in 1867 het Engelssprekendes, Afrikaners, buitelanders, kleurlinge en swart mense op die myndorp toegesak. Ná druk deur wit delwers is alle "bediendes" in 1872 lisensies geweier om diamante te delf of daarin handel te dryf. Dit het die meeste mense wat nie wit was nie, uitgeskakel.

Diskriminasie het ook in die arbeidsmag ontstaan. Aanvanklik was die gedagte dat sowel wittes as mense wat nie wit was nie in kampongs gehuisves moet word. Blankes het egter geweier en hulle sou hulle ook verset teen lyfstraf of paswette. Swart mense het nie oor dieselfde hefbome besit om hul onderwerping te voorkom nie. Die verdeling in die arbeidsmag wat hier ontstaan het, sou mettertyd ook in Johannesburg en die ander dorpe en stede ontstaan.

Cecil John Rhodes, wat in 1890 eerste minister geword het, het met die oë van 'n wit politikus en 'n werkgewer na die kwessie van die swart arbeidsmag gekyk. Sy De Beers Consolidated Mines het die mag van swart trekarbeiders streng met kontrakte, passe en kampongs beheer. Getroude werkers is die lone van eenlopendes betaal op grond daarvan dat hul stukkies grond in die reservate hul families kon onderhou. Die gedagte het posgevat dat die klein en verspreide reservate kon dien as basis nie net van 'n stelsel van trekarbeid nie, maar ook van politieke uitsluiting van swart mense.

Die plan was nie dat die reservate selfonderhoudend moet wees nie. As die reservate groot genoeg was, sou daar nie die noodsaak vir die inwoners wees om werk te gaan soek nie. In 1894 het Rhodes gesê dat sekere dele van Suid-Afrika as die tuiste van swartes moet dien en dat daar 'n plek moet wees waarheen swart werkers kan terugkeer, al  hoef almal nie 'n stukkie grond te hê nie. Rhodes het geweet dat nóg die wit werkgewer nóg die wit kieser wou hê dat swartes in die "wit" land aanbly.

Die idee van die reservate as onderdeel van die poliltieke en ekonomiese stelsel het nog stukrag gekry deur Rhodes se groot uitbreidingsplanne. In 1894 het die Rhodes-kabinet Pondoland geannekseer, die laaste oorblywende swart gebied tussen die Kaap en Natal wat nie onder wit beheer was nie. Hiermee is nog 400 000 swart mense onder

Bl. 243

koloniale beheer gebring - wat meer was as die kolonie se wit bevolking. Rhodes het ook groter drome gedroom: hy wou 'n Suid-Afrikaanse staat tot stand bring bestaande uit die twee kolonies (die Kaap en Natal), die twee Boererepublieke, die hele Transkei, Betsjoeanaland en die gebied wat later as Rhodesië bekend sou word. In so 'n staat sou daar minstens ses keer meer swart as wit mense wees. Dit sou moeilik wees om so 'n staat 'n witmansland te noem.

Rhodes het geweet dat h y nie die Afrikanerbond se steun kon kry sonder 'n aanvaarbare beleid teenoor swartes nie. Ná oorleg met Hofmeyr het hy 'n wetsontwerp ter tafel gelê wat hy as 'n "naturellewet vir Suid-Afrika" bestempel het. Volgens hom het dit beginsels bevat wat oor die hele Suider-Afrika van toepassing gemaak kon word. Dit wou die opkoms van 'n swart middelklas stuit deur die stemreg van hulle te weerhou. Andersyds wou dit die swart massa  uitskakel deur te bepaal dat niemand die stem sou kry wat in 'n gebied woon waar stambesit in swang is nie. Wit mense moet verhinder word om grond in hierdie gebiede te koop en individuele swart mense moet grond op die basis van eiendomsreg aanskaf. Arbeidsbelasting moet mense verplig om 'n deel van die jaar in die kolonie te werk.

Die laboratorium vir hierdie skema sou Glen Grey wees, 'n klein, oorbevolkte gebied van 250 000 morg noord van Queenstown. Veertig jaar tevore is die gebied aan die Tamboekie-tak van die Thembu-stam toegeken. Dit was nou 'n reservaat waar 8 000 Thembu-families gewoon het. Talle mans het dit as tuisbasis gebruik terwyl hulle kort rukke op plase gewerk het.

In 1892 het Rhodes, met die steun van die Afrikanerbond, 'n kommissie aangestel wat aanbeveel het dat daar van gemeenskaplike eiendom wegbeweeg word. Die voorstel was dat die grond gelykop verdeel word onder die swart families,  wat dan eiendomsreg kry. In die bespreking van die verslag het Hofmeyr sterk daarop aangedring dat blankes verbied word om grond hier te kry. Hy en Rhodes het gemeen erwe van 55 morg elk sou te groot wees. Volgens hulle sou sulke stukke grond in al die mense se behoeftes voorsien, wat sou beteken dat hulle nie werk in die kolonie sou gaan soek nie.

Die wetsontwerp het voorsiening gemaak vir erwe van vier morg waarop mense eiendomsreg sou kry en wat die oudste seun kon erf. Die ander seuns moes in die kolonie werk soek, en die veronderstelling was dat hulle na die reservate sou terugkeer ná hul verblyf in die kolonie. Gemeenskaplilke weiveld moes vir hulle beskikbaar gestel word. Iemand wat 'n erf besit het, het nie vir 'n stem gekwalifiseer nie. Hulle was, soos Rhodes dit uitgedruk het, "in a sense citizens but not altogether citizens".

In die Parlement het Rhodes op 'n manier gepraat waarvan die Afrikanerbond gehou het. Swart mense, het hy gesêm is op hul beste kinders en op hul slegste barbare. Hulle moet besef dat nege tiendes van  hulle  hande-arbeiders sal wees. Derhalwe moet swart mense 'n spesiale soort onderwys kry. Skole lewer die verkeerde soort produk, naamlik (in Rhodes se woorde) "Kafir parsons" - as individue dikwels voortreflik, maar gevaarlik veral omdat hulle aan ander swart mense sê dat hulle onderdruk word.

Daar is gehoop dat die nuwe liggame wat die wet in die reservate geskep het, swart mense se politieke aandag sou weglei van die Parlement. Daar was lokasierade, wat deur geregistreerde erfeienaars gekies is, en distriksrade, waarvan ses lede deur die lokasierade gekies en ses deur die regering aangestel is. Hierdie rade moes die regering adviseer

Bl. 244

oor plaaslike aangeleenthede, soos die toewysing van heffings vir openbare werke, skole en klinieke. Die plan met die Glen Grey-wet was om die meer progressiewe swart segment, te wete die swart kleinboere, in staat te stel om politieke invloed uit te oefen waar hulle woon, maar dit het nie geslaag nie. Kapteins het die rade oorheers en hulle het die gekerstende swartes, op wie die vorige beleid toegespits was, uitgewerk.

Die doel met die Glen Grey-wet was nie slegs om voldoende swart arbeid vir die kolonie te verseker nie. Dit moes ook wit heerskappe beveilig. Die opvatting van Suid-Afrika as witmansland was nie versoenbaar met al hoe meer swart mense op die kieserslys nie. Glen Grey, wat die model geword het vir die opset in ander reservate, het verrweg die meeste swartes van die politieke stelsel uitgesluit sonder om dit op rassegronde te doen. Liberale het verdienste in die model gesien. Wat hulle veral ook gunstig gestem het, was die verbod op die aankoop van grond in die reservate deur wit mense. Rose Innes, Sauer en Merriman het almal die Glen Grey-wet van 1894 ondersteun.

Al hoe meer swart mense het tussen die reservate en die dorpe en stede begin pendel. Daar was ook 'n stygende aantal swart mense wat in informele huisvesting in of aan die rand van dorpe en stede gewoon het. In 1899 het W.P. Schreiner, eerste minister van die Kaapkolonie, gesê dat dit beter sou wees as die swart werkers in kampongs woon, sodat hulle teen die einde van hul termyn na die reservate kon teruggaan. Amptenare het die uitbreek van builepes in die grootste stede as verskoning gebruik om swart plakkerkampe in die binnebuurte van 'n stad op te ruim. Tussen 1902 en 1904 h et stede oral in Suid-afrika regulasies uitgevaardig wat swart mense verplig het om in gesegregeerde lokasies te woon. Die gedagte het posgevat dat die wit stad so ver moontlik van lokasies afgesonder moet word. Die lokasies is gewoonlik aan die rand van die stad opgerig.

VROEë SEGREGASIE

Daar was baie jare lank geen samehangende beleid van wit baasskap in Suid-Afrika nie. In die Kaapkolonie was die behandeling van swart mense met 'n tradisionele leefwyse die mees onderdrukkende element en dié van bruin mense die meer liberale. Van die 1880's af het wit politici ook swart meningsvormers soos John Tengu Jabavu met eerbied en selfs met ontsag behandel.

Sowel Afrikaner- as Engelssprekende kandidate het die stem van die kleurlinge probeer wen. J.H. Hofmeyr, wat in 1883 leier van die Afrikanerbond geword het, het beweer dat hy daarmee sukses behaal het in sy Stellenbosse kiesafdeling, waar meer as die helfte van die kiesers gekleurd was. Hy het sy volgelinge gewaarsku om nie die bruin stem aan te val nie, sodat dit nie in die arms van die "jingo's" gedryf word nie.

Tussen 1895 en 1897 het die aantal swart en bruin kiesers op die Kaaplandse lys van 5 000 tot 13 900 gestyg. Die meeste van hulle was kleurlinge, wat nooit as 'n poliltieke bedreiging beskou is nie. By die eeuwisseling het dié gemeenskap 445 000 getel. Die meeste het dieselfde taal, kultuur en godsdiens as die Afrikaners gehad. In Kaapstad en die dorpe in die Wes-Kaap het hulle die geleenthede vir onderwys en opleiding aangegryp. In dié gebied het kleurlinge teen 1900 in die helfte van die ambagte die meerderheid van die ambaslui uitgemaak.

Bl. 245

In die drie noordellike gebiede onder wit beheer is 'n harder beleid van wit dominansie gevolg. Die Boererepublieke het geen stemreg aan swartes toegeken nie. In 1876 het Merriman verwys na die "Dutch republican mode" wat op "absolute subjection" van die swartes neerkom. Maar ook Natal, wat nóg "Dutch" nóg republikeins was, het swartes omtrent heeltemal uitgesluit.

In die Vrystaat was daar slegs drie klein swart reservate, wat saam 74 000 morg en 1% van die republiek se grondgebied beslaan het. Basoetoland het as 'n soort pseudo-reservaat gedien. Die blankes in die OVS het die swart trekarbeid van dié gebied gebruik sonder om enige verantwoordelikheid vir die "reservaat" te aanvaar. Die republiek het nie inheemse reg toegepas in sy administrasie van sy rerservate nie. Dit het ook geen tradisionele gebruike erken nie. Alle siviele en kriminele sake waarby swart mense betrokke was, is volgens die Romeins-Hollandse reg besleg.

In die geheel was dit 'n baie onderdrukkende beleid, maar daar was ook perke. Swart mense het toegang tot die howe gehad, alhoewel  hulle dit selde gebruik het. In 1894 het 'n arbeids-kommissie, deur die Volksraad aangestel, 'n voorstel verwerp dat swartes verplig moet word om op plase te werk. Die kommissie verslag het geïmpliseer dat die oplossing vir die tekort aan arbeid in beter behandeling lê. Dit het 'n wetsontwerp opgestel wat beoog het om werkers beter te beskerm teen gewetenlose base wat lone weerhou. In die algemeen het dit groter gelykheid tussen heer en di nsbode probeer bewerkstellig. Ná 'n heftige debat het die Volksraad die wetsontwerp met 'n klein meerderheid van 24 teen 22 verwerp.

In Transvaal het sake heelwat anders as in die OVS verloop. In die 1870's het President. T.F. Burgers sy bestuur van die swart gebiede aangepak met die liberale geloof dat die verwestering van swart mense aangemoedig moet word. Burgers het die Kaapkolonie verlaat nog voordat die bedenkinge oor sir George Grey se beleid van beskawing deur vermenging ontstaan het. Burgers was nooit juis 'n man wat hom aan politieke besware teen sy grootste visies gesteur het nie. Hy wou groot konsentrasies van swart mense in bepaalde gebiede opbreek met die doel om leeglêery en "barbaarse" tradisionele gebruike uit te wis. Hy wou verder die gesag van die kapteins vernietig en individue in staat stel om grond privaat te besit. Verder wou hy 'n swart vraag na Westerse goedere kweek sodat die swart mense aangemoedig kon word om te werk.

Ten slotte wou hy die stemreg aan vooruitstrewende swart mense toeken en 'n arbeidstelsel invoer wat die regte van die werkgewer en werknemer in ewewig bring. 'n Kommissie van die Volksraad het sonder veel omhaal die president se voorstel oor stemreg en eiendomsreg vir swartes verwerp.

In die ZAR moes die president as opperhoof oor alle swart stamme sorg dat die inheemse reg in die reservate toegepas word en dat naturellekommissarisse in elkeen aangestel word. Die Londense Konvensie, wat gesluit is ná die Transvaalse opstand teen die Britse besetting (1880-1881), het vereis dat die ZAR 'n reservaat vir elke stam opsy sit. Daar is egter min bykomende grond vir swart mense gevind en vir sommige stamme is geen reservate opsy gesit nie.

Eers in die tweede helfte van die 1880's en die vroeë 1890's het die ZAR sy effektiewe gesag oor swart mense in die noordelike, westelike en oostelike grensgebiede gevestig en het wit boere hier swartes van die grond afgedruk. In hierdie tydperk is die mag van

Bl. 246

die Pedi's en die Vndas finaal gebreek, net enkele verspreide gebiede is as reservate behou.

Die Transvaalse burgers was oor die algemeen sterk gekant teen die idee van reservate of lokasies, soos dit ook genoem is. In 1893 het Pres. Paul Kruger egter geargumenteer dat grond veral vir die kleiner stamme opsy gesit moet word sodat hulle nie onderdruk voel nie. Hy het gevra of dit billik of Christelik is dat hulle van hul grond verdryf word. Die meer progressiewe elemente onder die republiek se leiers het geredeneer dat die reservate 'n belangrike veiligheidsklep is. Ná die Anglo-Boereoorlog het genl. Koos de la Rey en Piet Cronjé, 'n voormalige naturellekommissaris, betoog dat swartes tot verset uitgelok sou word as die reservate opgebreek word. Tussen 'n vyfde en 'n kwart van die swart mense in Transvaal het in hierdie gebiede gewoon.

Die ZAR het gehoop dat swart mense 'n bron van inkomste en arbeid sou word. Die staat was egter nie doeltreffend genoeg om sy wil aan swart mense op die platteland op te dwing nie. In 1895 het die regering die ondoeltreffende hutbelasting deur 'n kop-belasting van £2 per jaar op elke volwasse swart man vervang. 'n Swart man moes ook 'n belasting van tien sjielings betaal vir elk van sy vroue. Die Volksraad en die gematigde Weekly Press het dit as 'n billike maatreël verwelkom. Die koerant het gewaarsku dat slegs 'n klein deel van die swart mense andersins op die plase sou gaan werk.

In die Volksraad was daar groot ongeduld oor die feit dat die nypende tekort aan swart arbeid nie wou wyk nie. Die lede het dikwels by die uitvoerende gesag daarop aangedring dat swart mense verplig en geleer moet word om te werk om hul plek te ken. Die uitvoerende mag was veel matiger as sy rassebeleid. Pres. Kruger het in die openbaar stelling ingeneem teen 'n burger wat gesê het dat swartes minder regte as wit mans moet geniet. Hy het in 1890 aan die Volksraad gesê swart mense moet toegang hê tot die howe en tot die uitvoerende gesag, waar hulle versoeke en klagte moet kan indien. Baie swart mense is besig om beskaaf te word en hulle moet nie op dieselfde manier as "rou heidene" behandel word nie.

Genl. Piet Joubert, superintendent van naturelle, en P.J. Potgieter, naturellekommissaris van Waterberg, het met so 'n beleid saamgestem. In 1892 het Potgieter geskryf: Hierdie swartes van ons, wat nou ons vriende is en wat 'n bron van krag in ons land kan word, kan ook ons vyande word as ons hulle onoordeelkundig behandel.

In die Volksraad het 'n sterk drukgroep hom verset teen enige verligting van 'n kru en harde beleid van onderdrukking. In 1897 het die uitvoerende gesag aanbeveel dat opgevoede en beskaafde swart mense vrygestel word van die verpligting om 'n kenteken te dra - 'n vernederende aspek vand ie pasregulasies. Jan de Beer het opgemerk: "'n Kaffer is 'n kaffer, of hy opgevoed is of nie." Louis Botha, 'n toekomstige eerste minister, het die kwytskelding teengestaan. Sy betoog was dat die kwytskelding ook vir kleurlinge sou geld, en mense in hierdie groep was volgens hom reeds te trots, ydel en astrant.

Daar was ook sterk teenstand toe die gedagte geopper word dat swart werkers wat in Johannesburg werk in 'n aparte buurt gevestig word sonder toesig. 'n Kommissie het dit afgekeur op grond daarvan dat sulke buurte die swrt mense slegs sou laat versleg. Carl Jeppe, 'n woordvoerder vir die mynhuise, het verklaar dat die myne se stelsel van kampongs die enigste manier is waarop behoorlike toesig gehou kan word en verhoed kan word dat swartes steel.

Bl. 247

De Volksstem het die onderwerping en vernedering van swart mense in 'n verskeidenheid van vorme gesteun. Daarom het die koerant saamgestem dat swart mense wat op die Johannesburgse sypaadjies stap, 'n loesing toegedien moet word. Die loesing moet wys dat die stad deel van die ZAR is en dat "die geslag van Gam" hul plek moet ken. Bruin mense en Indiërs is amper op dieselfde manier as swart mense behandel. Hulle kon nie onder hul eie naam  handel dryf of onroerende goed besit nie. Alle gekleurde mans wat skuldig bevind is aan seksuele verkeer met 'n wit vrou, kon tot ses maande dwangarbeid en sestig houe gevonnis word.

'n Klein minderheid van die ZAR se burgers  het beswaar gemaak teen die ideologie van wit heerskappy. Onder hulle was Jan F.E. Celliers, wat later bekendheid as digter sou verwerf. Hy was lid van 'n Transvaalse kommando wat besluit het om die tyd in 'n stil tydperk te verwyl met 'n debat oor die vraag of swart mense reg behandel word en of hulle meer of minder voorregte moet geniet. Celliers het betoog dat daar in die republiek nog baie ruimte is en dat wit en swart mekaar nog min hinder. Nietemin kan sekere patrone in die wetgewing wat aangeneem word, duidelik onderskei word. Hy het gevra of die wette nie almal ten doel het om die "oudste en oorspronklike bewoners van die land" opsy te druk nie. Dit is ook duidelik dat die wit mense die swart man so veel as moontlik wil uitskakel en dit ter wille van selfbehou. En waar is die grens tussen selfbehoud en selfsug?

Celliers het afgesluit: "Myne heeren laten wij eerlijk zijn, laten wij onze handelwijze noemen voorzichtigheid, noem het zelfbehoud, noem het kansberekening om de heft in handen te blijven (houden) voor ons en ons nageslacht, noem het een uitoefening van het recht van de sterkste, noem h et bezigheid, maar geeft het niet de naam van inschikkelijkheid, van menschlievendheid, van billijkheid." Slegs ses van die burgers h et hom gesteun. Onder hulle was Jozua Naudé (vader van Beyers) en 'n Malherbe, wat moontlik W.M.R. (Morti) Malherbe was, later professor in die regte op Stellenbosch.

'n Baie nugter siening het ook gekom van iemand wat net soos Celliers 'n groot bydrae tot die Afrikaanse taalbeweging sou lewer. Hy was J.D. du Toit, of Totius, die seun van S.J. du Toit. In 'n gedig van 1911 getitel "Kafferlied" en geskryf in die geradbraakte Afrikaans van sommige swart mense, maak hy die suggestie dat die bordjies in die rassestryd tussen wit en swart wel eendag verhang mag word.

Die Kaffer eerste kom, die witmens hij kom later / Die kaffer vat die land, die witmens hij vat later / Die kaffer hij woon eerste; die witman hij woon later... / Die witman hij nou lag; die kaffer hij lag later

Die aggressiewe beleid van Joseph Chambrlain en Alfred Milner teen die Boererepublieke het 'n skerp verdeling in die geledere van die twee wit gemeenskappe in die Kaapkolonie teweeggebring. 'n Ingrypende herrangskikking van politieke bondgenoot-

Bl. 248

skappe het gevolg. Liberale soos Merriman, Sauer en Olive en W.P. Schreiner, vervul met afkeer van imperiale aggressie, het hul steun aan die Afrikanerbond gegee in die aanloop tot die verkiesing van 1898. Konserwatiewe Engelssprekendes wat vroeër met die bond saamgewerk het, het hul gewig ingewerp agter die Progressiewe Party onder leiding van Cecil John Rhodes, wat nou 'n onverbloemde jinge geword het.

Onder druk van die Kimberley-tak van sy party het Rhodes sy ou slagspreuk verander. Dit was eers "gelyke regte vir alle wit mense", maar nou het dit geword "gelyke regte vir alle beskaafde mense". Dit was 'n poging om bruin stemme te wen, want Rhodes het geen plan gehad om swart kiesers te lok nie. In samewerking met die pro-Britse South African League het sy party takke vir bruin ondersteuners gestig.

Die alliansie tussen die bond en die liberale het ook swart stemme probeer wen. Merriman en Sauer was albei afhanklik van swart stemme om in hul kiesafdelings in die oostelike distrikte te wen. Nadat Hofmeyr in die verkiesingsveldtog vir die 1898-verkiesing toesprake gehou het waarin hy die regte van swartes op die bestaande kieserslys verdedig, het John Tengo Jabavu beloof om die bond te steun in kiesafdelings waar liberale kandidate staan. Hierdie stap het Jabavu van baie van sy swart steun vervreem. 'n Skerp kloof het in die geledere van die polities bewuste swart gemeenskap ontstaan. Daar was verdeeldheid oor Jabavu se steun aan die bond, terwyl 'n lank bestaande kloof tussen Mfengu's, wat meer verwesters was, en die meer tradisionele Xhosas ook groter geword het. Dit sou baie jare duur voordat hierdie polarisasie verdwyn.

Die alliansie onder leiding van die Afrikanerbond het die 1898-verkiesing naelskraap gewen. Ná die verkiesing het Rhodes gesê dat hy nie kan glo dat 'n senior lid van die bond, I.J. van der Walt van Colesberg, gesê het dat hy graag saam met Jabavu in die Parlement sou wil sit nie. Wat hy gesê het, het Van der Walt in 'n klaarblyke verwysing na Rhodes geantwoord, was dat hy "eerder langs 'n eerlike naturel sou sit as langs 'n oneerlike wit man".

DIE ONDERMYNING VAN WIT HEERSKAPPY

In sy denke oor die  heropbou van Suid-Afrika ná die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het Alfred Milner die ideaal van 'n witmansland 'n kernbeginsel genoem en verklaar dat Suid-Afrika nie 'n witmansland kan word as dit vol armblankes is nie. Die volgende hoofstuk bespreek die krisis van die armblankes, deur wit politici as 'n bedreiging vir 'n witmansland beskou. Hier is die klem op die armoede op plase, waar bywoners se posisie toenemend deur swart deelsaaiers of huurders ondergrawe is.

In die finale dekades van die negentiende eeu en in die eerste dekade van die twintigste het die landbou in Transvaal, die Vrystaat en die Oos-Kaap hoofsaaklik op swart kleinboere en deelsaaiers staatgemaak. As landbouers was swart kleinboere die wit boere - hoofsaaklik veeboere wat min self geplant of gesaai het - voor. Swartes het nie net vee aangehou nie, maar ook die grond bewerk. 'n Waarnemer het met verwysing na die oostelike deel van die land geskryf: "The archaic Kaffir is the best all-round cultivator of South Africa so far." Swart kleinboere in Basoetoland het baie goed gebruik gemaak van die groot mark vir koring, mieliles en groente wat op die diamantveld en later die goudveld ontstaan het. Gedurende die 1890's het 'n groep wit boere in die Oos-Vrystaat

Bl. 249

geëis dat die Volksraad swart mense moet verbied om op groot skaal graan te produseer, omdat die boere nie kan meeding nie.

Net 'n klein deel van die groot wit plase in die republieke was bewerk. Die Transvaalse Labour Commission van 1903 het vasgestel dat 'n eienaar selde meer as 100 acres bewerk het (1 acre = 0,405 hektaar). Die boere se traagheid om na akkerbou oor te skakel, was veral te wyte aan 'n tekort aan kapitaal en ondervinding. Die koringmark was moeilik, aangesien dit dikwels deur goedkoop koring uit Australië en Amerika oorstroom is. Om hul risiko's te verminder, het die boere reëlings begin tref met swart deelsaaiers wat die helfte van die risiko op hulle geneem en die arbeid verskaf het.

Hierdie deelsaaiers kon rondtrek op soek na die beste aanbieding. Armer boere, wat min grond gehad en swak voorwaardes aangebied het, was vir die swart deelsaaiers onaantreklik. Dit was hierdie boere wat gewoonlik luidkeels geprotesteer het dat hulle self mot werk of hul kinders as hande-arbeiders moet gebruik. 'n Veldkornet het meewarig gereageer: "Dit is bekend oor die hele wêreld dat die armes selde vir die armes wil werk."

Boere was geneig om na enige ekonomiese aktiwiteit waarin swart mense grond gehuur of bewerk het, as "plakkery" te verwys. 'n Onderskeid kan egter getref word. Een vorm was die sogenaamde "kafferboerdery". Hier het swart mense huur betaal aan private eienaars of maatskappye wat nie self die plaas beset het nie. Teen die einde van die negentiende eeu is omtrent 'n derde tot 'n  helfte van Transvaal  op hierdie wyse in beslag geneem. In die tweede plek was daar swart huurders wat gewerk het vir boere wat aan hulle 'n stuk grond gegee ht waarop hulle 'n beperkte aantal vee kon aanhou. Derdens was daar deelsaaiery, waarin die swartes die ploeë, osse en saad verskaf en dan geploeg, gesaai en geoes het. Hulle het 'n deel van die opbrengs aan die boer betaal. Dit was gewoonlik 'n derde van die opbrengs, maar in die Noord-Vrystaat was dit in die vroeë twintigste eeu tot die helfte.

In sy optimale vorm behels deelsaaiery 'n koöperatiewe onderneming, wat selfs na 'n werklike rassevernnootskap begin lyk. Swart mense het dit bo loonarbeid verkies. Hulle was dan nie so vas op die plaas nie en kon heelwat meer verdien. Sommige het aansienlike veekuddes opgebou, wat hulle as banke bestempel het. Die hele familie het gewerk en uitgebreide families het dikwels hulpbronne in 'n gemeenskaplike poel gestort.

Voor die oorlog het die Volksraad in sowel die Vrystaat as Transvaal probeer om die gtal swart mense op 'n plaas tot vyf families te beperk. Die bedoeling was dat die swartes verplig sou word om na die armer boere te trek en dat die  meer welgestelde boere meer bywoners op hul plase moet vestig. In 1897 het I.S. Ferreira die Volksraad gewaarsku dat die behoeftige burgers "onderdruk" sou word as daar nie streng opgetree word nie. Die wette kon egter nie effektief toegepas word nie. Vir die welgestelde boere was die ekonomiese voordele van deelsaaiery groter as hul politieke bedenkinge. The Friend van Bloemfontein het gevra: "If the native squatter is so great an evil, how comes it that nine farmers out of ten are willing to put their land at his disposal?"

Die opkoms van die swart deelsaaiers het 'n groot bedreiging vir die bywoners verteenwoordig. Die boere wou mense hê met kapitaal en die vermoë om die lande te bewerk. Die bywoner was traag om bevele te gehoorsaam en onwillig om sy aan sy met die swart

Bl. 250

arbeiders op die land te werk. Hy het ook daarvan gehou om 'n redelike stuk grond vir eie gebruik te hê. Boere met deelsaaiers het bevind dat ses swart families op 'n stuk grond van 200 acres 'n bestaan kon maak, terwyl 'n enkele wit familie op 100 acres aangedring het.

In die pionirsomstandighede was die bywoners die grondbesitters se sosiale gelykes. Nou het grondbesitters op hulle neergekyk. Swart deelsaaiers wou hulle nie "baas" noem nie. Die mynmaatskappye het verkies om hul plase aan swart mense te verhuur, wat hulle as meer produktief beskou ht.

Die oorlog van 1899 tot 1902 het die krisis in die verhouding tussen die plaaseienaar en die bywoner vererger. Bywoners het die meerderheid van die ongeveer 5 000 "joiners" uitgemaak wat aan die kant van die Britte in die Anglo-Boereoorlog geveg het. Ná die oorlog het bittereinders sulke bywoners gelas om hul plase te verlaat.

'N VOORSTEL VIR 'N WITMANSLAND

Die na-oorlogse Britse administrasie onder Alfred Milner was vasbeslote om 'n doeltreffende stelsel in te voer om swart arbeid te werf en te beheer. Sonder genoeg goedkoop arbeid vir die myne en kommersiële boerdery was daar geen hoop om 'n stewige grondslag te lê vir die nuwe staat wat Brittanje in Suid-Afrika tot stand wou bring nie. Voor die oorlog het Milner die arbeidstelsel van die ou Transvaal sterk afgekeur. Hy het aan Chamberlain geskryf dat hy nie die euwels van die ou stelsel kan oordryf nie; dit is 'n skandaal wat ten hemele roep en 'n knstante  bron van klagtes. Hy het egter wel verdienste in die paswette gevind, want daarsonder sou "pandemonium" heers.


In werklikheid sou die Britse arbeidstelsel veel strenger beheer uitoefen. Die ou vorme van beheer was onderdrukkend, maar Kruger se republiek was heelwat minder doeltreffend as die Britse administrasie. Voor die oorlog kon swart mense allerlei skuiwergate vind en dit regkry om onaangename werke te ontduik. Piet Cronjé, die ZAR se kommissaris van naturellesake, het in 1899 aan die Volksraad gesê dat die swart mense toegelaat moet word om op staatsgrond te plak omdat die lokasies wat vir hulle opsy gesit is, te klein is.

In 1903 het Milner die South African Native Affairs Commission (SANAC) aangestel om ' n meer stelselmatige en gekoördineerde naturellebeleid vir die toekomstige Suid-Afrikaanse staat te formuleer. Sir Godfrey Lagden, 'n Britse koloniale amptenaar, was voorsitter. Hy was vroeër 'n amptenaar belas met naturellesake in Transvaal (1879-1881), in Wes-afrika (1881) en Basoetoland (1884-1901). Daar was twee afrikaners in die kommissie, Johan de la Harpe, 'n Vrystaatse boer, en J.C. Krogh, wat in die ZAR-administrasie in verskillende hoedanighede gedien het, o.m. as kommissaris vir Swaziland. Engelssprekende administrateurs het die kommissie oorheers.

In 1905 was die swart bevolking in Suid-afrika soos volg saamgestel. In die Kaap was daar 1 057 610 swart mense in die reservate van die Transkei en Ciskei, terwyl ongeveer 25 000 op die plase gewerk het. In Natal was daar 228 000 in die reservate, 421 000 op private plase, hoofsaaklik as huurders, en nog meer op staatsgrond. In Transvaal was daar 123 000 in die reservate, ongeveer 438 000 het op die voormalige stamgrond geplak, 180 000 het op staatsgrond gewoon en 130 000 was op plase wat hoofsaaklik deur

Bl. 251

sendelinge vir swart mense in trust gehou is. In die Vrystaat het slegs 27 000 in reservate gewoon en daar was meer as 'n kwartmiljoen swart mense op plase as deelsaaiers, huurders of loonarbeiders.

Volgens die veslag het Transvaal alleen 'n swart arbeidsmag van ongeveer 403 000 nodig gehad, maar slegs 181 000 was in diens. Daar was 52 000 werkers op die plase en 129 000 in die myne. In sy pogings om 'n bestendige toevloei van swart arbeiders te bewerkstellig, het Lagden die toestand in Basoetoland in gedagte gehou. Sedert die 1870's was daar uit dié oor 'n bestendige vloei van trekarbeiders na die myne en plase. Die tekort aan grond en die druk van belasting  het mans gedwing om trekarbeiders te word.

Lagden  het ook kennis geneem van die republikeinse wette en van Shepstone se beleid, wat die klem geplaas het op vriendelike betrekkinge met die kapteins. Dan was daar ook die lesse wat hy in ander dele van die Britse ryk geleer het. In Brits-Wes-Afrika, waar effektiewe kolonisasie in die 1890's begin het, is gevind dat goeie betrekkinge met die kapteins, en saam daarmee die opbou van die tradisionele swart kultuur, baie bygedra het tot die suksesvolle benutting van swart arbeid.

Uit sy private korrespondensie is dit duidelik dat Lagden twee sake met mekaar verbind het: 'n suksesvolle stelsel van werwing het afgehang van stewige wit heerskappy in Suid-Afrika. Hy het die Kaapse nie-rassige stemreg teengestaan en hom uitgespreek teen die toeken van voorregte aan die opgevoede swart mense. Na sy mening moes die hele swart gemeenskap ontwikkel word, al word enkeles teleurgestel.

Die term "segregasie", wat uit die Verenigde State van Amerika kom, was nie in die 19de eeu in Suid-Afrika te hoor nie. Dit verskyn die eerste keer in 'n dokument van 1903 en die skrywer was R.W. Rose Innes, 'n broer van die liberale politikus James Rose Innes. Hy het nog gebiede soos Glen Grey in die vooruitsig gestel wat as "reservate van arbeid" gebruik kon word. Uiteindelilk moet hulle in groot naturellestate ontwikkel, het hy voorgestel, met uitgebreide magte om hulle self te regeer. Hulle moet ook verteenwoordiging in 'n federale parlement van Suid-Afrika geniet.

Die SANAC se verslag het die term "segregasie" slegs een keer gebruik, maar die raamwerk is betekenisvol. Die verslag betreur die praktyk wat posgevat het dat swart mense klein stukkies grond tussen wit plase koop. Sy aanbeveling is dat die swart mense toegang tot wit grond ontsê word, hetsy deur aankoop, huur of as deelsaaiers. Die staat moet die gebiede afbaken wat sal dien as reservate vir swart mense. Die verslag het ook gesegregeerde woonbuurte in die dorpe en stede aanbeveel. Die onderwys wat aan swart mense verskaf word, moet hulle vir ongeskoolde werk voorberei.

Die verslag het die Kaapse stelsel van swart stemreg op 'n gemeenskaplike kieserslys verwerp. Dit het aanbeveel dat swart mense, soos in die geval van die Maori's in Nieu-Seeland, op 'n aparte kieserslys geplaas word. Hulle kan dan 'n beperkte aantal wit verteenwoordigers in die federale parlement kies.

Die Britse na-oorlogse administrasie in Trnsvaal onder sir Arthur Lawley h et die SANAC-verslag uitgevoer deur sekere gebiede as reservate opsy te sit en dit statutêr te omskryf. Altesame is ongeveer 'n miljoen morg, of 3% van die Transvaalse grondgebied, vir swart mense afgebaken. Daarteenoor het twee of drie groot maatskappye ongeveer 8% van Transvaal besit. Nadat selfregering in 1907 ingestel is, het die Botha-regering

Bl. 252

 hierdie stap goedgekeur. In die wet op naturellegrond van 1913 is die gebiede wat in 1907 aangewys is, vir swartes in Transvaal opsy gesit. Intussen het die aantal swart mense in hierdie gebiede skerp toegeneem. Die tekort aan grond het hulle al hoe meer gedwing om elders werk te soek. 'n Kaptein het hom soos volg uitgedruk: "Dit is asof 'n hen op eiers broei in 'n duif se nes: die eiers hou aan om uit te rol."

In die Suid-Afrikaanse parlement het Transvaalse lede van die regerende Suid-Afrikaanse Party (SAP) later verontwaardig gereageer wanneer Engelssprekende lede van die opposisie segregasie as 'n bedreiging vir die vrede voorgehou het. Hulle het hul teenstanders daaraan herinner dat dit onder die Britse kroonkolonie-regering in Transvaal was dat die SANAC sy voorstelle bekend gemaak het en dat die reservate in Transvaal formeel afgebaken is.

In 'n parlementêre debat van 1917 het Louis Botha, eerste minister, uitgeroep dat Britse amptenare oorspronklik die beginsels van die 1913-wet op naturellegrond geformuleer het: "Ek verwys na die kommissie van 1903 tot 1905. En wat het hierdie kommissie aanbeveel? Ek sê dat die hele beginsel van territoriale skeiding uit die koppe van hierdie mense uit kom." Hy het beweer - maar dit was nie korrek nie - dat geen Hollandsprekende Suid-afrikaner in die SANAC gedien het nie.

Dit is so dat die SANAC die eerste keer 'n omvattende en konsekwente beleid van wit baasskap in Suid-Afrika, gegrond op die idee van 'n wit land met swart reservate, aanbeveel het. Dit is egter verkeerd om dit te beskou as die enigste bron van die SAP se segregasiebeleid. Die SANAC-verslag het in 'n groot mate staatgemaak op bestaande wetgewing, en op die Glen Grey-wet in die besonder. Daar was egter ook verskille tussen die SANAC-verslag en die beleid van die partye wat Afrikaners verteenwoordig het. Eersgenoemde het veral ag geslaan op die behoeftes van die groot werkgewers, veral die mynmaatskappye, wat - anders as die boere - swaar op trekarbeid gesteun het.

Die vernaamste Afrikaanse poliltieke partye was meer bekommerd oor twee ander sake: plaasarbeid en die stemreg. Afrikanerboere en -poltici het nie soos die SANAC aan swart arbeiders gedink as afsonderlike "eenhede" in 'n stroom van arbeid nie. Hulle het die paternalistiese verhouding tussen boere en hul arbeiders in gedagte gehad. Hulle het hul afkeer uitgespreek van die omstandighede waarin swart mense by die myne geleef en gesterf het.

In 'n brief aan Merriman in 1906 het Smuts hom gedistansieer van "the mineowner and exploiter ... the real slave driver in South Africa". Steyn het aan Merriman geskryf: "The question of native rights is to my mind a vital question for all of South Africa unless we hold with the magnates that the natives have no other rights than to work for such wages as will increase their already bloated dividends." Maar terwyl Smuts steeds die idee verkondig het dat wit mense 'n plig as die trustees van swart mense het, het hy nooit die stemreg vir hulle in die vooruitsig gestel nie. Steyn is oorlede voordat die kwessie van swart regte akuut geword het.

Die vertrekpunt vir die Nasionale Party van genl. J.B.M. Herzog was die uitskakeling van die swart deelsaaier. Hertzog het geglo dat indien die situasie nie omgekeer word nie, die deelsaaier 'n swart kieser sou word. Sowel die deelsaaier as die toekomstige swart kieser was 'n direkte bedreiging vir die groeiende aantal armblankes en baie ander Afrikaners wie se posisie nie veel beter was nie - mense wat nie net arm was nie, maar ook

Bl. 253

sonder vaardighede vir die stedelike ekonomie. Hulle het slegs die stemreg gehad om op staat te maak.

Sonder 'n formule om die swart mense die stemreg te ontsê, sou die druk ten gunste van 'n gekwalifiseerde stem steeds sterker word. In die mededinging om die swart stem sou 'n party soos die Nasionale Party, wat boere en laag besoldigde werkers verteenwoordig het, in 'n veel swakker posisie as die Unionistiese Party, ondersteun deur stedelike werkgewers, of die SAP, wat die ryker boere in die gewese republieke verteenwoordig het. Dit kon die poliltieke einde beteken van die armblankes en van enige kans vir die Afrikanernasionaliste om die mag te bekom. Die reservate het 'n regverdiging verskaf vir die uitsluiting van swart mense van sowel die kieserslys as die grondgebied.

DIE OPKOMS VAN SEGREGASIE: HERZOG, DIE NASIONALIS

James Barry Munnik Hertzog, die nasionalis, Jacobus Wilhelm Sauer, die Kaapse liberaal, en Jan Smuts, die pragmatis, het elk op sy eie manier 'n bepaalde rigting vir 'n rassebeleid aangewys. Hertzog het hom self beskryf as antikapitalis, maar hy was meer gekant teen die groot kapitaal, te wete die mynmagnate, as teen die kapitalistiese stelsel self.

Hertzog is in 1866 naby Wellington in die Boland gebore, die seun van 'n sukkelende boer en spekulant. 'n Groot deel van sy jeug het hy in die woelige myndorp Kimberley deurgebring. Deur spekulasie kon sy pa genoeg geld bymekaarkry om vir naskoolse onderwys na Stellenbosch te stuur. Hier het hy sy eerste graad behaal en daarna het hy na die Universiteit van Amsterdam vertrek, waar hy 'n doktorsgraad in die regte verwerf het. Toe oorlog in 1899 uitbreek, was hy 'n regter in Bloemfontein. In die oorlog het hy 'n generaal in die Vrystaatse mag geword. Hy was een van die bittereinderleiers wat die oorlog wou voortsit.

Ná die oorlog het hy 'n leerstoel in die regte in Leiden van die hand gewys en besluit om te help om die verwoeste Vrystaat op te bou. 'n Erfposie van 'n Kaapse familielid het hom 'n welgestelde boer gemaak. Hy was belese, gekultiveerd en sonder 'n sprankie korrupsie. Hy het 'n knap regsbrein gehad en kon goed debatteer. Smuts het gemeen dat Hertzog 'n sin vir humor kort, maar Steyn het gesê dat hy nog nooit 'n edeler en reguiter man as Hertzog ontmoet het nie. Hy was volgens Steyn een van Suid-Afrika se grootste bates.

Hertzog het dit as sy groot uitdaging beskou om die wit gemeenskap se sekuriteit en oorlewing te verseker. Hy het 'n studie gemaak van rasseprobleme elders, veral in die Verenigde State van Amerika, en geglo dat dié land bewys het dat rasse-integrasie nie werk nie. Hy het swart Amerikaanse skrywers soos William H. Thomas, wat The American Negro geskryf het, aangehaal om te probeer bewys dat integrasie fataal is vir sowel wit as swart en dat die plek van "ontwikkelde swartes" by hul eie mense is. Vir Hertzog was die VSA ook 'n waarskuwing dat daar nie te lank gewag moet word om die probleem te probeer oplos nie.

Hertzog het geglo dat swart mense wat deelsaaiers word of plaasgrond huur 'n bedreiging vir wit oorlewing is. In plaas daarvan dat 'n hegte wit gemeenskap bestaan, sou dit tot integrasie lei. Daar sou groot grondbesitters, progressiewe boere en professionele

Bl. 254

lui aan die spits van die piramide wees - almal wit. Dan sou daar die swart kleinboere in die middel wees. Die laer range sou gevul word deur armblankes, wat in die Vrystaat omtrent almal Afrikaners was, en swart arbeiders. Die armer en minder geskoolde Afrikaners kon nie met die swart mense op die plase of met die trekarbeiders in die stede meeding nie. Hertzog was oortuig dat wit sekuriteit in gevaar sou wees as die stemreg aan al hoe meer swart mense gegee word.

In sekere opsigte was Hertzog 'n konvensionele voorstander van wit baasskap. Hy het die rassewette van die OVS geloof omdat hy gemeen het dat sulke wette swart mense die wittes laat respekteer. Hy het die neerhalende woord "kaffer" in die Parlement gebruik nadat dit reeds onaanvaarbaar was. Vir hom was "blank" sinoniem met "beskawing"; as die blanke verdwyn, sal die beskawing ook agteruitgaan. Dit is die blankes se geboortereg - het hy gemeen - om hul beskawing in hul geboorteland te beveilig deur die mag in eie hande te hou.

Smuts het geglo dat die proses van ekonomiese ontwikkeling rassespanning sou verminder; Hertzog het die teenoorgestelde standpunt gehuldig. Terselfdertyd was dit Hertzog se oortuiging dat swart mense in staat is om hulle self op te hef. Op die duur, so het hy in 1922 verklaar, kan 'n mens nie 'n gemeenskap sy politieke regte ontsê nie. Daar was by hom min twyfel dat die swart werkers met wit werkers kon meeding en goeie lone kon verdien. Uiteindelik sou slegs velkleur as verskil oorbly as wit en swart in dieselfde poliltieke, ekonomiese en maatskaplilke stelsel ontwikkel.

Hertzog het gelykheid vir swart mense binne dieselfde stelsel as wittes verwerp. Met so 'n stelsel k an die blankes maar hul goed oppak en die land verlaat, het hy geoordeel. Hy het dit as 'n oplossing beskou dat swart mense op hul eie in die reservate ontwikkel. As abstrakte idee was dit aanvaarbaar, maar in die praktyk het die wittes heeltemal te min grond opsy gesit vir lewensvatbare swart gemeenskappe. Meer en beter grond sou sterk proteste, veral van die boere, die NP se belangrikste steungroep, ontlok. Die reservate moet klein wees sodat dit swart mense verplig om op die plase en in die myne te werk. Hertzog se oplossing het dus innerlike teenstrydighede gehad. 'n Mens moet hom dit ter ere nagee dat hy van die weinige Afrikanerpoliltici was wat besef het dat heelwat meer grond nodig is as wat volgens die 1913-wetgewing opsy gesit sou word.

DIE OPKOMS VAN SEGREGASIE: SAUER, DIE KAAPSE LIBERAAL

In skerp kontras met Hertzog het die Kaapse liberaal, J.W. Sauer, gestaan. Hy verteenwoordig sowel die potensiaal as die beperkinge van die Kaapse liberalisme Hy is in 1850 in Burgersdorp gebore en het aan die South African College in Kaapstad skoolgegaan. Hier het, soos 'n tydgenoot gesê het, geleer om beter Engels te praat as die Engelse self.

Hy het verskillende portefeuljes in die kabinet vand ie Kaapkolonie beklee. Toe "Onze Jan" Hofmeyr se gesondheid in die 1890's begin kwyn, was hy die Afrikaner wat die beste toegerus was om sy mense te oorreed om op 'n meer liberale grondslag 'n oplossing vir die rasseprobleem te vind. Sy vriend James Rose Innes het van hom gesê: "By birth a Dutch-speaking Afrikaner, his intellectual qualities, his militant spirit, his debating power marked him out as parliamentary leader of the Afrikaner Nationalist Par-

Bl. 255

ty. The prize was in his grasp had he stooped to take it. But that would have involved the sacrifice of his views on the Native question, and he put it aside."

As liberaal was Sauer geskok deur sekere vorme van stedelilke segregasie wat teen die eeuwisseling ingestel is, byvoorbeeld die wetgewing wat in 1895 vir Oos-Londen aangeneem is. Dit het streng reëls neergelê vir die stedelike lokasies vir swart mense en Asiërs, aandklokreëls ingestel en selfs voorgeskryf waar hulle in die strate mag stap. Anders as ander Afrikanerleiers het hy nie geglo dat wittes geregtig is om teen swartes te diskrimineer op grond daarvan dat daar vir hulle reservate opsy gesit is nie.

In sy getuienis voor die SANAC in 1904 het Sauer ten spyte van druk deur die kommissarisse nie diskriminasie gepleit nie. Swart mense was besig om vooruitgang te maak en daar was reeds 'n aansienlike vermindering in die aantal "barbare". In die Kaapkolonie het swart mense die grond bewerk en as kiesers was hulle vernuftig en baie goed bewus van hul regte en verantwoordelikhede. 'n Regverdige beleid sou die beste kans  hê om moeilikheid te voorkom. Hy het dus aan die hand gedoen dat die Kaap se nie-rassige stemreg met lae stemkwalifikasies na die res van Suid-Afrika uitgebrei word: "(If) we have so little faith in our superiority and our civilization that we think we can only maintain it by keeping the franchise from the Native, I feel assured that we will fail... (If) he is going to be a danger in the future, he is more likely to be so if we withhold reasonable rights."

Tog het Sauer in sekere opsigte segregasie ondersteun. Hy was oortuig daarvan dat as wit en swart mense deurmekaar woon, dit die wittes, "die intelligenter ras", sal wees wat sal ondergaan. Dit sou dus die beste wees as swart mense as 'n afsonderlike volk ontwikkel. In die debat van 1892 oor die stemreg, was Sauer se standpunt dat politieke regte, maar nie maatskaplike regte nie, met swart mense gedeel moet word.

Soos Hertzog het Sauer in die Amerikaanse Suide se ondervinding 'n oplossing van rasseprobleme gesoek. Toe hy in 1913 die wetsontwerp op naturellegrond indien, het hy die woorde aangehaal van die invloedryke Henry Grady, redakteur van die Atlanta Constitution en skrywer van die algemeen gelese studie The New South. In baie opsigte was die Amerikaanse Suide in die laaste dekades van die negentiende eeu, toe Grady geskryf het, in dieselfde historiese stadium as dié waarin Suid-Afrika in die twee dekades ná 1902 was. Die leërs van die noordelike state in die VSA het teruggetrek en die Suide het gereed gestaan vir dinamiese ontwikkeling deur mense met kapitaal en idees.

Grady het baasskap voorgestaan, maar het ook die formule "apart maar gelyk" voorgestel as 'n wyse waarop die verhouding tussen wit en swart gereël kon word. Hy het 'n vorm van segregasie bepleit waarin daar werklike geleenthede vir sowel wit as swart sou wees. In Suid-Afrika het wit politici soos Hertzog en Sauer na 'n soortgelyke formule gesoek om hul rassebeleid te regverdig.

DIE OPKOMS VAN SEGREGASIE: SMUTS, DIE PRAGMATIS

Erens tussen Hertzog en Sauer, maar veel nader aan Hertzog, was Jan Smuts, wie se werklike opvattings oor rassebeleid historici nog steeds laat twis. Sy vriend en toekomstige kabinetskollega, F.S. Malan, vertel dat in die vroeë jare negentig, terwyl hulle albei in Cambridge studeer het, Smuts privaat daarvan gepraat het dat beskawing onder-

Bl. 256

wys en godsdiens aan die swart mense gebring moet word en dat wit en swart in staat gestel moet word om een nasie te word. Hy het egter besluit dat die wittes so bevoordeeld is, dat daar geen kans is om hierdie ideaal te verwesenlik nie.

In sy eerste politieke toespraak, wat hy 1895 in Kimberley gehou het, was daar min tekens van hierdie opvattings. Hy het gesê dat daar omtrent 'n halfmiljoen beskaafde mense aan die onderpunt van 'n vasteland met honderd miljoen barbare woon. Hy het gepleit dat mense ingrypende oplossings moet vermy sodat elke geslag versigtig op die ervaring van die vorige kan bou.Blankes het die verpligting om hul taak as trustees van die "gekleurde rasse" te verrig. As sodanig is hulle gebonde aan die beginsels van eer en geregtigheid. Aan hierdie idee van wit trusteeskap - wat wit beheer oor en verpligtinge teenoor swart mense beteken het - het Smuts tot die einde van sy lewe vasgehou.

Toe hy in 1929 terugkyk op rassebeleid die voorafgaande halfeeu, het Smuts nie die SANAC-verslag as 'n waterskeiding aangedui nie, maar die Glen Grey-wet. Vir hom was dit 'n keerpunt in wit baasskap toe mense hul rug gekeer het op wat hy bestempel het as die gevaarlike weg van 'n nie-rassige demokrasie. Wat in beskaafde Europa gewerk het, het hy gesê, is nie van toepassing op Suid-Afrika nie. Smuts het die Glen Grey-wet 'n raamwerk van staal genoem. Aan die een kant het dit wit beheer bestendig, wat noodsaaklik is vir 'n blywende beskawing. Aan die ander kant het dit aan swart mense inheemse instellings gegee waardeur hulle hul besondere Afrika-karakter kon ontwikkel.

Tussen 1906 en 1908 het Smuts en Merriman in hul uitgebreide korrespondensie die weg gebaan vir 'n Suid-Afrikaanse grondwet. Hulle was bewus van die bevolkingstalle as sleutelfaktor in die politiek. In die Unie van Suid-Afrika se eerste sensus in 1910 is vasgestel dat die bevolking toe 5 878 000 getel het, met 3 956 000 swart mense, 517 000 kleurlinge, 148 000 Asiërs en 1 257 000 blankes, van wie ongeveer 700 000 Afrikaners was. Die verhouding wit tot swart was ongeveer 1:4. (Die verhouding was tussen die 1920's en vroeë 1960's 1:5 en in die 1990's, toe die wittes die mag prysgegee het, 1:7.)

Sowel Smuts as Merriman het goed geweet dat die wit gemeenskap se eenheid maar broos is ná die bitter en verwoestende oorlog. In die Engelse gemeenskap was daar 'n algemene vrees dat die Afrikaners as die grootste wit gemeenskap hul getalle sou gebruik om te wen wat die Boere in die oorlog verloor het. As aan 'n al hoe groter aantal swart en bruin mense stemreg gegee word, sou dit groot spanning tussen die twee wit gemeenskappe meebring as hulle om hierdie stemme meeding. Daar was nóg 'n komplikasie: Die oorgrote meerderheid van die groeiende aantal armblankes was Afrikaners. Baie van hulle sou nie vir die stemreg kwalifiseer as die kwalilfikasies moet dien om die meeste swart en bruin mense uit te hou nie.

Merriman het aan Smuts geskryf wit mense moet onthou dat hulle maar 'n handjie vol is in die teenwoordighed van 'n "overwhelming mass of an inferior race". 'n Moontlike oplossing sou 'n gekwalifiseerde stemreg wees, maar Smuts het die voorstel verwerp. Hy het aan Merriman geskryf dat die armblankes opgehef en nie politiek uitgesluit moet word nie.

Merriman het die gekwalifiseerde stemreg voorgestel omdat dit vir hom 'n noodsaaklike veililgheidsklep was. Die swart mense se getalle het vermeerder en baie se inkomste was aan die styg. Hy het geskryf: "They are the workers and history tells us the future is to the workers." Smuts het geantwoord: "I don't believe in politics for them ... (It)

Bl. 257

will only have an unsettling influence." Hy het geskryf dat hy verkies "to shift the intolerable burden of solving that sphinx problem to the ampler shoulders and stronger brains of the future". Hy sal swart mense op elke legitieme manier help, het hy gesê, maar dit sluit nie die stemreg in nie. Die stem is die laaste argument, magtiger as die swaard of die geweer. 'n Volgende geslag kan daaroor besluit, maar nou is dit een van die gevaarlikste dinge wat die blankes kan doen.

Die leiers van die Afrikanerbond was trots daarop dat niemand in die Kaap suiwer op 'n kleurgrondslag uitgesluit is van die stemreg nie. Hulle was bang vir die masse se stem, maar het ook nie vergeet dat John Tengo Jabavu die bondkandidate in die verkiesings van 1898 en 1904 gesteun het nie. Jan Hofmeyr het gewaarsku teen die gevare van swart uitsluiting. "(Het) zou een kwade dag voor het nieuwe gemenebest (die Unie) zijn, indien, behalve het beschermen van onze noordelike grenzen tegen de overvloeiende miljoenen van het Donkerste Afrika, wij gedurig verplicht werden tegen een ontevreden gekleurde- en naturellebevolking in ons midden, die ons in getallen als vijf of ses tegen één overtrof, te waken."

F.S.Malan, parlementêre leier van die Afrikanerbond, was feitlik die enigste Afrikanerleier wat by die Nasionale Konvensie 'n gekwalifiseerde stemreg vir die hele land voorstel het. In die debatte het hy daarop gewys dat dit vir die twee wit gemeenskappe honderd jaar van stryd gekos het om verenig te word. As die land nie nou die kwessie van swart politieke regte besleg nie, sal daar weer 'n stryd met trane en lyding voorlê. 'n Unie gebaseer op swart uitsluiting, sal nie 'n werklike unie wees nie en die saad van onenigheid saai.

Louis Botha het namens Transvaal Malan se pleidooi verwerp. Hy het dit duidelik gemaak dat indien die Kaapse stelsel na die Noorde uitgebrei word, hy ewe goed huis toe kan gaan, want hy het geen mandaat daarvoor nie. Hy het die deur egter nie heeltemal toegeklap nie. Die tyd sal kom wanneer hy bereid is om die steemreg vir swart mense te oorweeg, het hy gesê, maar die mense van Suid-Afrika is konserwatief en die vordering sal stadig wees. Die konsepgrondwet van 1909 het die nie-rassige stem van die Kaapkolonie behou, maar dit het swart mense in die ander drie provinsies van die stemreg uitgesluit. Slegs blankes sou toegelaat word om in die Parlement te sit. Blanke eenheid is beseël op die rug van swart uitsluiting.

'n Klein rukkie ehet euforie onder die wittes geheers oor die potensiaal van die nuwe unie. Daar was min steun vir die liberaal W.P. Schreiner, wat 'n afvaardiging van wit en swart Suid-Afrikaners na Londen gelei het om daar teen die grondwet te protesteer. Selfs 'n mede-liberaal, John X. Merriman, het opgemerk dat enige inmenging deur die Britse parlement weens druk deur die "friends of the natives" die Nasionale  Konvensie se goeie werk sou verwoes.

Daar was min kans dat Brittanje sou inmeng. In die dekade ná die oorlog het Britse politici hulle daarop toegelê in enigiets te vermy wat struikelblokke in die weg van vereniging in Suid-afrika kon lê. Dr. A. Abdurahman, president van die African People's Organisation, het byvoorbeeld gevra vir politieke regte vir die bruin mense in Transvaal op grond daarvan dit "naturelle" was wat van die stem u itgesluit is. Winston Churchill, toe 'n adjunk-minister in die Britse Liberale kabinet, het geantwoord dat die woord "native" beteken "native from any country other than a European country".

Bl. 258

Die swart elilte was geskok deur die toenemende konserwatiewe stroming in die wit gemeenskap en het begin dink om hulle self te organiseer. Hulle het 'n nie-rassige gekwalifiseerde stem geëis, en ook die reg om grond te koop en te verkoop. In Januarie 1912 het hulle die South African Native National Congress gestig. As nasionale president is dr. J.L. Dube gekies en as ere-president dr W. Rubusana. Sol Plaatjie was die sekretaris. Hierdie organisasie het in 1923 die African National Congress geword.

DIE PLAN OM DIE LAND TE "VERDEEL" 

Die gedagte om Suid-Afrika in 'n sogenaamde witmansland en swart reservate te "verdeel", het ná die Anglo-Boereoorlog ontstaan. Dit het uit verskillende bronne geput. Een daarvan was die Engelssprekende werkersklas. Hulle het geredeneer dat dit onbillik teenoor wit mense is om te moet kompeteer teen swartes wat bereid is om vir veel laer lone te werk. In 1907 het 'n Engelssprekende arbeidersleier gevra dat swartes gevestig moet word in gebiede wat vir die swartes opsy gesit is, en in 1910 het die pas gestigte Arbeidersparty die "onwikkeling" van die swart mense in geskikte reservate bepleit.

Nog 'n bron was die teenkanting van Afrikanerleiers teen swart mense se besit van "wit grond". In Transvaal het swart stamme, wat gewoonlik dendelinge werk het, 23 plase aangekoop, waarop ongeveer 130 000 swart mense gewoon het. Dit was slegs 1% van Transvaal se grond, maar hierdie aankope is beskou as 'n gebeurtenis met groot simboliese betekenis. 'n Reisiger het hierdie kommentaar gelewer: "The bugbear of the Africander is the question of pollitical rights. Allow a native to own land in his own individual right, and how can you refuse him toe vote? they say."

Nog iets wat Afrikanerleiers ontstel het, was die feit dat buitelanders groot stukke grond opgekoop het. Teen 1905 was omtrent 'n kwart van die Transvaalse plase in die besit van maatskappye wat verkies het dat swart mense die grond by hulle huur of dit as deelsaaiers bewerk.

Terselfdertyd het sekere ontwikkelinge die posisie van die swart deelsaaiers ondermyn. Teen 1910 was daar 'n groter en mer stabiele mark vir voedsel, en die vervoerkoste het gedaal. Vroeër was swart deelsaaiers en swart huurders 'n vorm van goedkoop arbeid. Nou het die meer progressiewe boere tot die slotsom gekom dat hierdie arbeid in die nuwe ekonomiese omstandighede duur en ondoeltreffend is. In toenemende mate het hulle swartes verplig om hul veekuddes te verminder en vir lone te werk.

Maar die vernaamste teenstander van die deelsaaiers was wit politici wat oortuig was dat hulle 'n bedreiging vir wit baasskap is. Die meeste proteste teen deelsaaiery was te hoor in die OVS, waar dit in 'n uitgebreide vorm bestaan het. In 'n hofsaak in die OVS waarin teen 'n swart deelsaaier in 'n dispuut met sy baas uitspraak gelewer is, het die regter verklaar dat die swart man se status dié van 'n "vennoot" is en gesê: "Die vraag ... is wie is baas op hierdie plaas: die naturel of die Europeër?" Petisies het op wetgewing teen plakkery aangedring en die politici het dadelik gereageer. In 'n debat in die Wetgewende Vergadering in 1908 het J.J. Bruwer gewaarsku: "Ons is besig om in vennootskap met die naturelle te gaan indien ons hulle toelaat om deelsaaiers te wees." M.J. Beukes het verklaar dat die swart mense "slegs op 'n plaas toegelaat moet word as diensbodes van die wit man, sodat dit 'n witmansland kan bly".

Bl. 259

Politici het regverdiging gesoek vir die verbod op deelsaaiery en ander soortgelyke praktyke wat swart mense 'n aandeel in 'n boerdery gee. In die jare net voor Uniewording het die idee begin posvat dat indien die swart mense h ul eie land het, hulle die reg ontsê kan word om grond in die wit land te besit. In 1908 het Abraham Fischer in die Wetgewende Vergadering die moontlikheid geopper van politieke regte vir naturelle in aparte "krale", terwyl C.L. Botha, 'n verteenwoordiger van Bloemfontein, 'n stelsel bepleit het waarin elke ras sy regte in sy eie gebied kon uitoefen.

Diegene wat swart mense wou verbied om vir hul eie rekening te boer, het egter ook sterk teenstand gekry. Daar was nog steeds baie boere wat deelsaaiery winsgewend gevind het. Toe Louis Botha net ná Uniewording 'n vergadering in die distrik Vereeniging toespreek, was daar 'n opstootjie oor dié aangeleentheid. Sommige sprekers het hul ontsteltenis daaroor uitgespreek dat daar swart deelsaaiers is wat lekker leef, terwyl honderde bywoners in groot armoede bestaan. Fanie Cronjé, 'n boer, het van hulle verskil: "Here, ek het sewe bywoners op die plaas en sewe swart families, en ek kry uit net een van hierdie swart families wat ek nie van sewe bywoners saam kan kry nie. Wil julle my vra om voedsel uit my eie mond te vat?" Hy is amper deur woedende lede van die gehoor aangerand.

Hertzog was die eerste minister van naturellesake in die eerste Unie-kabinet. Net nadat hy sy amp aanvaar het, het hy deur Wes-Transvaal gereis om plakkery te ondersoek. Hy het later gesê dat hy naby Rustenburg 'n voorbeeld van "kafferboerdery" gesien het. Hy het opgemerk: "Willen wij't land behouden dan moet de drijfkrag uit ons hoofd en niet van de kaffer komen." As dié soort van boerdery plaasvind selfs sonder blanke toesig, dan het die blanke geen reg om Suid-Afrika 'n witmansland te noem nie.

Hertzog het daaraan begin dink om Suid-frika te "verdeel" tussen wit en swart. Soos Grady wou hy dit regverdig met die formule "apart maar gelyk". Hy het gesê die "witman, kleurling en naturel moet elkeen die reg hê om in Suid-Afrika te bestaan ... Ons moet aan die naturel sê: daar is jou gebied. Daar sal jy jou stemreg hê, daar kan jy ontwikkel soos jy begeer en wens."

Maar hoe kon die grenslyne getrek word? Swart gebiede wat slegs 6% of 7% van Suid-Afrika beslaan, sou min geloofwaardigheid hê. sommige verteenwoordigers van die SAP het die monntlikheid oorweeg om die bestaande oppervlakte van die reservate te verdubbel. Daar was ook diegene wat erken het dat so 'n verdeling nie regverdig teenoor die swart mense sou wees nie. Hulle was egter ten gunste daarvan dat die bestaande reservate spoedig afgebaken word sodat wit mense verhinder sou kom word om nog meer grond in die reservate te koop. In 1915 het die sekretaris van naturellesake verwys na 'n sekere servaat waar die helfte van die plase reeds in wit hande was. Soos die liberale historikus W.M. Macmillan oor hierdie tyd skryf: "(Open) competition in the land is fatal to the weaker race ... Given the right of entry of whites into native lands, the natives will presently be landless indeed."

Wat 'n voorlopige afbakening van swart gebiede vergemaklik het, is die feit dat die grense van Suid-afrika nog nie vasgestel was nie. 'n Geruime tyd ná Uniewording het wit leiers gehoop dat die Britse Hoë Kommissarisgebiede (Basoetoland, Swaziland en Betsjoenaland) ook by die Unie ingelyf kon word. Daar was selfs sprake daarvan dat Mosambiek, Rhodesië (nou Zimbabwe) en Duits-Wes-Afrika (nou Namibië) ingeskakel kon word.

Bl. 260

 Die Britse regering het vir die oordrag van die Hoë Kommissarisgebiede die voorwaarde van 'n aanvaarbare Suid-Afrikaanse rassebeleid gestel. Ten tye van Uniewording was dit nog glad nie duidelik dat slegs 'n nie-rassige stemreg in die hele Suid-Afrika vir Londen aanvaarbaar sou wees nie. Daar is historici wat meen dat die Britse regering selfs die oordrag sou oorweeg het indien daar 'n geloofwaardige stelsel van swart plaaslike regering ingestel is.

In 1912 het Hertzog begin om sy plan vir 'n witmansland verdere gestalte te gee. Hy het aangedui dat hy graag groot reservate vir swart mense wil hê waar selfregering iets sal beteken. Dit was onwaarskynlik dat hy swart mense se steun sou kon kry, behalwe as 'n aantreklike aanbod gemaak word. Hy het 'n swart afvaardiging te woord gestaan wat Sol Plaatje, sekretaris van die SANNC, ingesluit het. Hy het 'n groot landkaart opgehou en gewys en sirkels getrek om, wat Plaatjie later beskryf het as deel van hierdie "vast dependency of the Union" aan te dui. (Dit is moontik dat hy Betsjoeanaland, Basoetoland en Swaziland ingesluit het as deel van hierdie "vast dependency".) Volgens Hertzog kon swart professionele lui hier 'n uitlaatklep kry vir hul strewes en talente sonder enige gevaar dat hulle met die Europeërs sou moet meeding.

Plaatje het aangeteken dat hierdie voorstel "a fair ground for discussion" was. Hertzog het 'n wetsontwerp opgestel om die swart gebiede aan te dui. Maar teen die einde van 1912 is hy weens 'n twis met 'n kollega oor 'n ander saak as minister ontslaan. 'n Maand later het hy weer 'n toespraak gehou, maar sy idees oor die verdeling van grond was nog baie vaag. Volgens hom moes die grondgebied van die Unie in "twee afgescheiden kampen" verdeel word, "het kamp der blanke en dat der naturellen". Die blankes moet dan verbied word om grond te koop of te huur in die "naturellekamp", en omgekeerd. Die blanke moet in sy "kamp" regeer en die naturel in syne. Hertzog het erken dat dit nie maklik is om die Unie "eensklaps" te verdeel nie. Hy het voorgestel dat daar begin word deur "reserve naturellekampen" (sic) tot stand te bring waarbinne die wit mense nie grond mag koop of huur nie.

Die wetsontwerp op naturellegrond wat in 1913 ingedien is, het sekere gebiede aangedui as "geskeduleerde gebiede" - wat die term vir die grondgebied van die reservate geword het. Buite hierdie gebiede kon swart mense nie grond koop of huur nie, maar binne die gebiede kon segs swartes grond koop of verhuur. 'n Kommissie sou aangestel word om aanbevelings te doen oor bykomende grond wat by die geskeduleerde gebiede gevoeg kon word.

Nie net grond was ter sprake nie, maar ook arbeid, en baie deelnemers aan die debat het hierdie twee kwessies heeltemal deurmekaar laat loop. Die verteenwoordigers van die Vrystaat was die luidrugtigste drukgroep. In dié provinsie het boere reeds 'n groot aantal huurders of deelsaaiers laat loop omdat hulle nie hul vee minder wou maak nie. Hulle wou graag mense hê wat net vir lone werk. Hulle het egter gesukkel, omdat ander boere met deelsaaiery voortgegaan het. Groot wrywing het tussen boere ontstaan oor die verskillende arbeidstelsels. Net 'n landswet wat alle deelsaaiery verbied, sou 'n stelsel van loonarbeid behoorlik vestig.

Die wetsontwerp het vir veel strenger maatreëls ten opsigte van die OVS voorsiening gemaak as vir die ander provinsies. Dit het die ou republikeinse wette bevestig dat die swart huishoudings op 'n plaas tot vyf beperk word. Dit het deelsaaiery en die huur van

Bl. 261

grond deur swart mense verbied. In Transvaal en Natal is die reëlings vir deelsaaiery nie aangeraak nie, omdat die mag van die maatskappye en afwesige base veel groter was as in die OVS. Ook in die Kaapprovinsie sou die situasie hoofsaaklik onveranderd bly, omdat die soort wet wat vir die Vrystaat gemaak is, in die Kaapprovinsie in stryd met die grondwet sou wees. Vir die swart mense in Suid-Afrika was die grootste terugslag in die 1913-wetgewing die verbod op die aankoop van enige grond buite die geskeduleerde gebiede in die drie noordelike provinsies.

Die reaksie op die wetsontwerp was uiteenlopend. sommige voorstanders, soos Edward Dower, die sekretaris van naturellesake, het dit beskou as die eerste stap in die rigting van gebiedskeiding tussen wit en swart. Ander wou 'n beter verspreiding van swart arbeid hê om die kleiner wit boere te help, maar hiervoor was die wet nie juis 'n geskikte instrument nie. Nog ander wou gelykstelling voorkom. Hulle het nie omgegee dat swart mense op wit plase woon nie, so lank wit en swart net nie vennote in die boerdery word nie. Een van die wetsontwerp se sterkste voorstanders, J.G. Keyter van die Vrystaat,  het hierdie doelstellings kru uitgespel: Die OVS is 'n witmansland en die plan is om dit so te hou. Geen swarte sal toegelaat word om grond te koop of te h uur nie en gelykheid tussen wit en swart sal nie toegelaat word nie, omdat dit tot 'n "basternasie" sou lei.

Maar die leiers het nog nie daarin geslaag om die hele kieserskorps van hul standpunt te oortuig nie. 'n Kommissie van ondersoek na die Rebellie van 1914 in die noordelike deel van die Vrystaat uitgebreek het, het bevind dat die rebelleleiers uit die wet politiek probeer maak het. Hulle ht volgelinge gewerf op grond daarvan dat "boere nie langer hul eie ooreenkomste met hul naturelle-arbeiders kan maak nie en dat hulle dus nie langer base op hul eie plase is nie".

Toe die wetsontwerp in die eerste helfte van 1913 in die Parlement bespreek is, was daar skerp meningsverskil. Hertzog was wel nie meer minister nie, maar hy was die simbool van verdeeldheid binne die SAP en die wedywering om hulpbronne tussen die vier provinsies. As leier van die Vrystaatse party het hy spesifiek gevra dat daar nie 'n  hele aantal klein reservate oor die hele land versprei moet wees nie. Maar in sy eie provinsie het slegs 27 000 swart mense in drie klein reservate gewoon. Omdat hy geen ekstra grond vir swart mense in die Vrystaat aanbeveel het nie, het verteenwoordigers van ander provinsies hom daarvan beskuldig dat hy die naturelleprobleem wou oplos deur die ander provinsies die las te laat dra. In die debat het die eerste minister, ouis botha, gewaarsku teen 'n plan wat wit en swart sou bedrieg. In 'n klaarblyklike poging om Hertzog te isoleer, sê hy dit is alles goed en wel om 'n kaart te vat, strepe daarop te trek en te sê hierdie gebiede is vr die swart mense. Maar as die plan in werking gestel word, sal dit gou blyk dat grond van mense weggevat is sonder 'n behoorlike ondersoek vooraf. Die verslag in Hansard meld hierop 'n gelag en uitroepe van "hoor, hoor".

Sauer, nou minister van naturellesake, was in die ou Kaapse parlement bekend as een van die "friends of the natives". Daar is algemeen aanvaar dat hy nie iets sou doen wat ernstig op swart regte inbreuk maak nie. W.P. Schreiner, die mees konsekwente liberaal, het egter gesê dit is presies wat nou gebeur: "To the bulk of the people we are saying there is no home for you (blacks) except in a tiny portion of the country ... It is going to carry us further than we dream to a destiny that is terrible to contemplate."

Merriman het besef dat die wetsontwerp verreikend en gevaarlik is. Hy het geglo dat

Bl. 262

blankes hul eie oorlewing ondermyn wanneer hulle swart regte ondermyn. Hy het gewaarsku: "The experience of the white race in Africa is by no means assured, and unless we mend our ways, we may go the same way in the South that the Roman and the Greek, the Carthaginian and the Vandal did in the north." As dit die bedoeling is om die swart mense in die reservate af te hok met alles wat hulle het, kan die blankes ewe goed hul koffers pak, want die Europese ras sal vir seker ondergaan.

Maar privaat het Merriman nie lank tevore nie 'n teenoorgestelde standpunt ingeneem. In 1908 het hy gesê dat die stemreg vir swart mense, behalwe as 'n veiligheidsklep, vir hom afstootlik is. Sy oplossing was om die naturellegebiede uit te sny en hulle as provinsies te regeer. Hier kon aan hulle groot voorregte en ruimte vir plaaslike regering gegee word, soos die Glen Grey-wet van 1894 aan die Transkei verleen het. Olive Schreiner het aan Merriman geskryf om hom te steun in sy kritiek op die wet, maar bygevoeg dat sy gehoop het dat hy daarteen sou stem.

Ondersteuners van die wetsontwerp het betoog dat dit verkieslik is om vir swart mense geleenthede in reservate te skep, aangesien daar geen vooruitsig is dat hulle regte in die bestaande stelsel sal geniet nie. Maar vir hulle was die grootste prioriteit die konsolidasie van wit politieke beheer oor die land. En hier was diegene wat op 'n gekwalifiseerde swart stemreg aangedring het in 'n netelige posisie. Hertzog wou van Merriman weet of hy nog steeds die gelykheid van swart en wit sal steun as die land by die punt kom waar daar genoeg gekwalifiseerde swart kiesers is om aan swart mense die meerderheid te gee. Hy het voorspel dat nie meer as vyf lede van die Parlement dit sou steun nie.

As eerste minister en SAP-leier wou Botha 'n kommissie aanstel met die mandaat om 'n kompromis te vind wat vir wit en swart aanneemlik sou wees, maar hy wou eintlik 'n skeuring in die SAP voorkom. 'n Wet in een of ander vorm was dringend nodig om die spanning te laat bedaar. Soos in die geval van die grondwet, is wit eenheid op die rûe van swart mense bewerkstellig.

Sonder om swart mense te raadpleeg, het Sauer die wetsontwerp deur die finale stadiums gevoer. Die SAP-leiers het gesukkel om die wetgewing te regverdig. Botha het gesê dat as blanke selfbehoud die eerste prioriteit is, die tweede is om swartes soos 'n groot volk te behandel. Hertzog het verklaar dat die beleid billik en regverdig teenoor swart mense moet wees deur aan hulle gebiede te gee waar hulle al hoe sterker kan word. Sauer het na die Amerikaanse Suide verwys en Henry Grady goedkeurend aangehaal, wat opgemerk het dat die Suide twee rasse huisves vir wie dit gelyke geregtigheid moet verseker. Merriman het in sy dagboek sy onbehae uitgespreek oor die "nauseous hypocrisy of caring for native interests making a desire to get cheap servants".

Sauer het in die Senaat gesê dat dié soort wetgewing by hom gespook het sedert die aanvaarding van die Glen Grey-wet. Hierteenoor het sy Kaapse mede-liberaal, W.P. Schreiner, verklaar dat dié twee wette niks met mekaar gemeen het nie. Wat die wetsontwerp na sy mening ten grondslag lê, het hy gesê, "the worst of human motives: apprehension, fear". Hoekom tree mense op dié manier op as hulle weet dat hulle 'n onreg pleeg? Sy antwoord was een woord: "self-preservation".

Al het hy kritiek op die wet gehad, het Merriman Sauer bestempel as 'n stoere verdediger van die swakkes en onderdruktes. Dit het hy gesê toe Sauer kort ná die aanname

Bl. 263

 van die wetsontwerp sterf. In 1936 het F.S. Malan gesê as Sauer  kon geweet het hoe die beginsel van segregasie toegepas sou word, sou hy nooit ingestem het om die wetsontwerp deur die Parlement te loods nie. Dit wil voorkom of Sauer 'n voorspooksel gehad het. Kort voor sy dood het hy opgemerk dat 'n wet nog nooit tevore vir hom soveel kwellings veroorsaak het nie. 'n Lid van 'n afvaardiging van die South African Native National Congress wat hom gaan spreek h et, het die volgende verslag nagelaat: "The minister never denied the possible hardship that would follow such a law, but seemed to be driven by a mysterious force in the face of which the native interest did not count."

Die Wet op Naturellegrond van 1913 het grondbesit deur swart mense beperk tot 10 miljoen morg, hoofsaaklik in die Kaap en Natal. Die Beaumont-kommissie moes vasstel hoeveel grond daar nog vir swart mense opsy gesit kon word. Dit het 8 365 700 morg geoormerk wat by die geskeduleerde gebiede gevoeg kon word, maar het bygevoeg: "(It is) too late in the day to define large compact Native areas or draw bold lines of demarcation." Met weinig uitsonderings was die swart mense se grond erg verstrengel met grond in die besit van wittes, wie se gevestigde belange die kommissie verplig was om in ag te neem. Sol Plaatje, wat die eerste gesprek met Hertzog bygewoon het, het die toekenning van grond bestempel as "a travesty" van die plan wat Hertzog by dié geleentheid voorgestel het.

Plaatje het 'n roerende beskrywing gegee van die groot ontwrigting en ontberings wat die wet vir deelsaaiers in die Vrystaat meegebring het. Van die mees ondernemende deelsaaiers in dié provinsie het na Wes-Transvaal getrek. Teen die middel-1920's was 90% van die akkerbou in hierdie streek nog afhanklik van deelsaaiery. Enkele ondernemende deelsaaiers, byvoorbeeld Kas Maine, wie se lewe Charles van Onselen so voortreflik geskets het, het met heroïese vernuf en uithouvermoë daarin geslaag om tot in die 1950's sy deelsaaiery op die een plaas ná die ander voort te sit.

Voorstanders van die Wet op Naturellegrond wou swart deelsaaiers graag deur blankes vervang, veral deur armblankes. Maar in gebiede waar die grond- en produktepryse skerp gestyg het, het wit boere besluit dat dit nie in hul belang is nie. In die 1920's het Vrystaatse magistrate berig dat swart loonarbeiders die bywoners op die plase vervang. In 'n verslag is verklaar: "Die boer kan nie en wil nie 'n behoorlike bestaansloon vir 'n wit man betaal nie." Die swart man se arbeid was goedkoper, h y was doeltreffender en hy was met minder tevrede wat sy behuising en voedsel betref.

Die informele "wet van onbedoelde gevolge", wat so dikwels politieke planne in die war stuur, het hom met mening laat geld. Die Wet op Naturellegrond was veronderstel om armblankes op die plase te hou, maar in werklikheid het die oorskakeling na loonarbeid hierdie mense net meer oorbodig gemaak. Omdat die lone so laag was, kon die boere baie swart mense op die plaas laat woon. Teen die 1950's en 1960's was daar in regeringskringe ernstige kommer oor wat genoem is "die verswarting van die platteland".

'HY KAN GEEN REGTE HIER EIS NIE" : DIE STADSWARTE

Segregasie was 'n omvattende beleid. Dit het nie net die idee van 'n witmansland en swart reservate behels nie, maar ook die grootskaalse subsidiëring van kommersiële boerdery, die beskerming van die wit werkers, die verbetering van die onderwys vir wit mense en

Bl. 264

die opheffing van die armblankes (sien hoofstuk 9). Die grondliggende gedagte van 'n witmansland was grootliks 'n hersenskim, veral omdat die aantal swart mense in die dorpe en stede bestendig toegeneem het. In 1912 was daar reeds 420 000 swart mense in die sogenaamde blanke dorpe en stede, mense wat permanent daar gewoon het. Dit was 'n derde van die totale verstedelikte bevolking en 13% van die totale swart bevolking.

Plakkersdorpe het vinnig in die buitewyke van die dorpe en stede opgeskiet. Dit wit munisipaliteite het hierdie dorpe op 'n onbeplande manier bestuur en gewoonlik 'n wins uit hulle gemaak. Die inwoners het min gekry vir die belasting en heffings wat hulle betaal het. Ernstige siektes soos tering het dikwels in die oorbevolkte krotbuurte met hul gebrek aan sanitêre geriewe voorgekom. Vir Jan Smuts was dit 'n onaanvaarbaare situasie wat nie gerym het met die blankes se siening van hulle self as die swart mense se voogde nie. "The natives have come here to our towns unprovided form. They have picked up our diseases, and found our white civilization a curse to them ... The native question is so large. We know so little about it." Smuts het besluit dat dit die staat se plig is om aan die stadswartes ordentlike huisvesting te verskaf en die woonbuurte behoorlik te bestuur, anders sou die situasie een van die skandvlekke op die blanke beskawing wees.

Die SAP-regering het na 'n beleidsraamwerk begin soek. In 1922 het dit 'n kommissie vir plaaslike regering onder voorsitterskap van kol. C.F. Stallard aangestel. Hy was een van die mees vooraanstaande Engelssprekendes wat segregasie voorgestaan het. Die kommissie se kernaanbeveling was dat swart mense slegs in die stede nodig is om in die behoeftes van blankes te voorsien en dat hulle na hul reservate moet terugkeer nadat hulle hulle hierdie taak verrig het.

Smuts het as eerste minister die taak om vir die stadswartes 'n ordentlike plek in die staatsbestel te vind, toevertrou aan sy vriend en kollega F.S. Malan, minister van mynwese. Malan het 'n aandeel gehad in al die wetsontwerpe oor stadswartes wat tussen 1917 en 1923 opgestel is. Vir hom het die stadswartes as groep nie 'n bedreiging verteenwoordig nie. Hy het swart dorpe in die vooruitsig gestel waar "beskaafde swartes" tuis kon voel en hulle self ontwikkel. As mense met 'n gevestigde belang kon hulle 'n bolwerk teen arbeidsonrus en opstokery vorm. In 'n gesprek met 'n swart afvaardiging in 1920 het hy vir gevestigde swart mense met 'n vaste werk beter huisvesting en vryskelding van die paswette in die vooruitsig gestel.

Smuts het toegelaat dat Malan hierdie opvattings verkondig omdat hy self in 'n sekere sin 'n Kaapse liberaal was. Daar moes "klassewetgewing" wees wat onderskei tussen die "gewone" swart mens wat nog nie van "barbarisme" ontsnap het nie en ontwikkelde swart mense wat verantwoordelikheid vir hul eie probleme in hul eie swart woonbuurte kon aanvaar. In 1923 het Smuts 'n wetsontwerp oor die stedelike swart buurte op 'n konferensie aan swart leiers voorgelê. Dit het daarvoor voorsiening gemaak dat swart mense hul huise kon besit en dat die administrasie van die buurte verbeter word.

Die wit politiek het egter verhard nadat die Wet op Naturellegrond aangeneem is. Smuts se benadering het sterk teenstand vand ie NP-opposisie ondervind omdat dit die beginsel van 'n witmansland sou ondermyn. Hertzog het in 1922 die NP-beleid soos volg uitgespel: "(Die naturel) kry sy eie gebied, waar alle regte aan hom sal verleen word.

Bl. 265

Hy kan in ons land bly, maar sal dan hier geen regte kan eis nie. Met die witman is dit omgekeer waar."

As 'n swart man eiendom in die witmansland besit, sal hy gou die wit man se stem eis, het Hertzog gesê, en dit is 'n saak van lewe of dood vir die blanke beskawing. Dit was nie net die NP wat besware gelug het nie. Wit amptenare het volgehou dat swart mense nie prys daarop stel om hul huise as individue te besit nie.

Die gevolg was dat Smuts sy standpunt laat vaar het. Die artikel wat dit vir swart mense moontlik sou gemaak het om eiendomsreg te vekry, is uit die wetsontwerp geskrap. Nadat die wet aangeneem is, moes Smuts 'n baie kritiese afvaardiging van die South African Native National Congress e woord staan. As verskoning het hy verwys na die voorbeeld van die Bloemfonteinse swart lokasie. Dáár was geen eiendomsreg nie, maar dit was een van die swart buurte wat die beste bestuur en ook die ordelikste in die hele land was.

Die stedelike swart woonbuurte het die stiefkinders van die plaaslike bestuurstelsel gebly. Om die saak te vererger, het die regering besluit om 'n formule wat in Durban ontwikkel is, te gebruik om die buurte te finansier. 'n Heffing is op alle "kafferbier" (sorghumbier) geplaas. Dit het gou die vernaamste bron van inkomste uit hierdie buurte geword. Hoe meer die swart mense gedrink het, hoe meer geld was daar beskikbaar vir swart huisvesting en ander noodsaaklikhede.

Die Unie-grondwet en die wette betreffende naturellegrond en -gebiede in die stede het tot 1990 die hoeksteen gevorm van die beleid teenoor swart mense. Die Wet op Naturellegrond was die heel belangrikste wet. Omdat min grond beskikbaar gestel is, het die reservate oorbevolk geraak. Daar was min geleenthede vir private besit en die kapteins sou sorg dat kommunale besit van oorheersende belang bly. Van die 1920's af het die regering die ontwikkeling van die stamstelsel en inheemse kultuur al hoe meer beklemtoon. Smuts het van swart mense in die reservate begin praat as "a distinct human type, which the world would be poorer without", en van die noodsaak om hulle te ontwikkel. Maar hy was pessimisties oor die moontlikheid van 'n oplossing vir die rasseprobleem. Hy skryf aan 'n vriend: "(It is) almoste demanding too much of human nature to ask black and white to be just and fair and generous to each other."

Onder die meer liberale wit mense was daar die opvatting dat met die toekenning van meer grond vir die reservate daar ook meer swart mense sou wees wat die beleid sou aanvaar. Die moontlikheid is bespreek op 'n vergadering wat die NG Kerk in 1923 gereël het.Dit is bygewoon d eur wit en swart kerkleiers, tradisionele leiers, 'n afvaardiging van die African National Congress en die besture van welsynsorganisasies. Selby Msimang van die ANC het gesê dat swart mense gelukkig sal wees as die Wet op Naturellegrond die helfte van die land aan hulle sou gee. Maar teen hierdie tyd het elke wit leier geweet dat dit hom suur sal bekom as hy voorstel dat swart mense die helfte of selfs 'n kwart van die grond mot kry. Wit mense het begin glo dat ongeveer 90% van die land witmansland is, en hulle was al hoe minder greneig om nog grond aan swart mense "af te staan".

 Hermann Giliomee

Die Afrikaner: 'n Biografie

Tafelberg Uitgewers

ISBN 978-0-624-04181-8