www.myvolk.co.za

Posted 6 hours ago
tumblr photo
Posted 6 hours ago

Slaaptydstories in Afrikaans | Gered deur ‘n ui

Klein John was Pappie se liefling. Alles wat hy gedoen het, was reg in Pappie se oë.

Soms het Moeder, wanneer Pappie tuiskom, vertel hoe stout John was. Maar Pappie, sonder om ooit te simpatiseer met Moeder, het altyd vir hom kant gekies, en gesê, “Maar ‘n kind moet tog speel.”

Toe het hy die ander dag die skoon wasgoed vreeslik vuil gesmeer het met sy vuil handjies, het Pappie vir hom gepleit en gesê, “Maar hy het mos nie geweet dat dit skoon wasgoed is nie, of hy sou dit nie gedoen het nie.”

Maar eendag moes Pappie self deurloop. Hy was in die stad, en toe ontdek het dat hy 'n belangrike dokument by die huis vergeet het. Hy was vreeslik ontsteld daaroor, want hy was nie seker of hy dit miskien op die trein verloor het nie. Hy is toe dadelik na die naaste telefoon om Mammie te vra of hy dit miskien op sy lessenaar laat lê het.

En dit is wat gebeur het:

“Is dit Henford 4242?”

“Jaaaaa.”

“Is dit Henford 4242?”

“Hiiiiii.”

“Daar is iets verkeerd met hierdie telefoon. Is dit jy Maggie?”

“Dad-dad-dad-dad-dad-dad.”

“Wat is dan verkeerd? Ek wil die dokument hê wat ek vanoggend by die huis vergeet het.”

“Goo-goo-goo-goo-goo-goo.”

“Kan jy nie verstaan wat ek sê nie?” Ek het daardie dokument verloor, of ten minste ek het dit nie. Is dit daar by die huis? Kan jy my hoor? is dit Henford 4242?“

"Dad-dad-dad-dad-dad-dad.”

Moedeloos het Pappie maar die poging opgegee. Toe hy daardie aand tuiskom, het hy om verduideliking gevra. Hy kan nie geld so mors op telefoonoproeope nie. Waarom het iemand hom nie op intelligente wyse geantwoord nie? Wie het al daardie geluide gemaak terwyl hy so dringend wou weet wat van die belangrike dokument geword het. En so het dit aangegaan.

Moeder het gewag totdat hy heeltemal kaar was, en toe het sy begin lag.

“Ek het ingekom net toe jy die gehoorbuis teruggesit het,” het sy gesê, “en ek sien vir klein John besig om op die telefoon te praat asof hy 'n grootmens was.”

“Wel, wel” het Pappie gesê. “Dan was dit John. Hy is 'n baie skrander seun. Ek sê mos altyd dat hy baie meer intelligensie het as ander kinders. Wag, ek gaan vir hom 'n soen gee, al slaap hy ook.”

“Nou praat ek nie meer nie!” het Moeder gesê, onderwyl Pappie met die trap op is na John se kamer.

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell

Posted 6 hours ago

Gered deur ‘n ui

In die vroeë dae in Amerika, toe die Westelike State nog in hulle ontwikkelingstadium was, moes die predikante baie hard wer. Hulle het arbeidskringe gehad en hulle moes van die een na die ander groep gelowiges ry om die evangelie te verkondig, kinders te doop, huwelike te bevestig, en die Avondmaal te bedien. Soms was hulle vir maande van die huis af weg, en hulle het duisende myle per jaar te perd gery.

Meneer Matthews was een van hierdie soort predikante. Hy het ‘n baie groot arbeidskring gehad wat vir honderde myle in alle rigtings gestrek het, en waar sy pligte hom gedurig geroep het. Met sy baie werk, en 'n gesin van twaalf kinders, het hy dit soms maar swaar gehad.

Toe hy eendag weer tuiskom na 'n lang afwesigheid, het hy gevind dat sy seun Jack nie die werk klaar gemaak het wat hy hom gegee het nie. Hy was baie kwaad, en hy het Jack 'n goeie pak gegee. Vader het aangedring op stipte gehoorsaamheid.

Dit was vir Jack 'n baie groot vernedering, veral daar hy gevoel dat hy die pak nie verdien het nie. Dit was te veel vir Jack, en hy het besluit om die huis te verlaat.

Sy suster, Margaret, wat omtrent so oud soos hy was, het hom gesoebat om dit nie te doen nie, maar hy wou nie luister nie. Sy het hom gevra om eers 'n paar dae oor die saak te dink, maar hy was vasberade.

Die volgend oggend was hy weg, met 'n besluit in sy hart om nooit weer na sy Vader se huis terug te kom nie.

Margaret het met Jack gesimpatiseer, en sy het haar Vader geblameer vir wat gebeur het. Sy wou toe niks meer met haar Vader se godsdiens te doen hê nie.

Sy het met verloop van tyd meer verbitterd geraak. Sy het byna nooit met haar ouers gepraat nie, en sy het beslis geweier om die huisgodsdiens by te woon. Sy wou nie meer haar Bybel lees nie, en het ook nie meer gebid nie. In haar hart het sy 'n besluit geneem dat sy nooit 'n Christen sou word nie, nooit nie!

Van die dag af dat jack weg is, het hulle nooit van hom gehoor nie. Dit het Margaret baie aangetas, en dit het haar hart verhard.

Een oggend, terwyl Moeder besig was met die bereiding van die middagete, het sy 'n ui nodig gehad, en daar Margaret in die nabyheid was, het ys haar geroep en gesê: “Margaret, ek het nog 'n ui nodig vir hierdie bredie. Sal jy nie asselief vir my een gaan haal nie?”

“Waar is die uit?,” het Margeret kil gevra.

“Hulle is in die stoor op die solder,” het Moeder geantwoord. “Wees versigtig as jy met die leer opklim. Bring sommer 'n hele paar terwyl jy tot gaan.”

Sonder 'n woord, of selfs 'n glimlag is sy daar weg. Dit was baie lank dat sy laas geglimlag het, en sy het net haar kans afgewag om ook weg te loop. Haar plan was om na Jack te gaan soek.

Sy is na die stoor, en het met die leer op die solder geklim; daar het sy die oop uie gesien wat vir die winter gebêre is. Sy het ses van die uie geneem en wou net weer met die leer afklim, toe sy iemand onder hoor loop. Iemand het na die leer toe aangestap gekom.

Wie sou dit wees?

Sy het geraai dat dit haar Vader moet wees, en hy was die laaste persoon wat sy op daardie oomblik wou sien. Skielik het daar weer 'n vlaag van woede in haar hart opgewel. Sy wou nie het hom praat of hom selfs sien nie! Maar wat kon sy nou doen?

Daar het 'n ou deur teen die muur op die solder gestaan. Sy het besluit om agter daardie deur te gaan wegkruip, en sy is op haar tone daarheen. Binne 'n paar oomblikke was haar Vader op die solder.

Sy was vreeslik bang dat hy daar daar sou ontdek. Sy het haar asem opgehou en gehoop dat hy gou sou loop as hy niemand daarbo kry nie.

Maar hy het nie geloop nie. Margaret het 'n geluid gehoor asof iets saggies op die vloer neerplof, en sy was vreeslik bang. Na so 'n rukkie het sy haar Vader hoor praat. Sy het gewonder of iemand saam met hom op die solder geklim het.

Nee. Hy was besig om te bid!

Daar het Margaret geluister na die wonderlikste gebed wat sy nog ooit gehoor het - en sy kon nie daarvoor weghardloop nie. Sy moes bly en elke woord hoor.

Vader het vir sy gesin gebid. Vir elke kind, van die oudste tot die jongste. Vir Margaret ook, en veral vir Jack. Toe hy by Jack se naam kom het hy bitterlik begin huil asof sy hart totaal gebroke was. Hy het God gevra om hom te vergewe omdat hy so kwaad vir Jack was, en hy het God gesmeek om met Sy Gees in Jack se hart te werk en hom weer terug te bring.

Margaret was totaal verslae.

Dus het Vader tog vir Jack lief, en wil hy hom baie graag terug he!

En wat meer is, hy het vir haar, Margeret, ook gebid - sy wat so onbeskof teenoor hom was, en so verbitterd van die dag af dat Jack weg is! Sy het geweet dat sy nie so vir haar Vader gebid het nie.

Skielik het sy gevoel dat sy dit glad nie meer kon uithou nie. Sy moes iets doen of haar hart sou breek.

Toe Margaret daar agter die deur uitkom, was Vader net besig om sy oë af te vee - hy was nog op sy knieë.

“Vader, ek is baie jammer,” het sy gesê terwyl sy haar arms om sy nek slaan en uitbars in trane.

“Ons is almal bitter jammer, Margaret,” het hy gesê. En van daardie oomblik af was alles weer reg. Moeder het begin ongeduldig word omdat Margaret so lank wegbly; sy kon nie verstaan waarom sy so lank wegbly nie. Maar toe sy Vader en dogter so liefderyk daar sien aankom, met die spore van trane nog op hulle gesigte, het sy dadelik geraai wat gebeur het; sy het hulle tegemoetgesnel, en skoon vergeet van die bredie.

En glo dit as julle wil, daardie aand het Jack onverwags tuisgekom.

)Jack het later self predikant geword, en Margaret ius met 'n predikant getroud.)

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell

Posted 3 weeks ago

Het jy geweet?

… dat Clarens in die Oos-Vrystaat vernoem is na Clarens, die noordwestelike stadswyk in Montreux, Switserland waar President Paul Kruger van die Zuid-Afrikaansche Republiek oorlede is?

Posted 10 weeks ago

Vandag in die geskiedenis: 28 April 1845

Die CNO-Bewaarskool word in Pietermaritzburg geopen

Die beperking op moedertaalonderrig het groot ontevredenheid onder die Afrikaners van Natal ontketen. Uit protes teen hierdie beperking van Afrikaans as taalmedium vir onderrig, is daar op 7 Februarie 1944 in die stadsaal van Pietermaritzburg onder luide applous eenparig besluit om ’n eie CNO-Bewaarskool in die stad te stig.

Kragte is gekoördineer, en die Nasionale Instituut vir Onderwys en Opvoeding van die FAK het in samewerking met die Natalse Aksiekomitee besluit om oor te gaan tot die aankoop van ’n geskikte perseel in Pietermaritzburg waar die CNO-Bewaarskool opgerig sou word.

Daar is daadwerklik oorgegaan tot die insameling van geld, en die nodige bedrag is spoedig ingesamel. ’n Gebou is vir die bedrag van £5 500 aangekoop, en op 28 April 1945 is die CNO-Voortrekker-Bewaarskool amptelik deur prof. JC van Rooy en dr. E Greyling geopen.

image
Posted 10 weeks ago

Slaaptydstories in Afrikaans

Waagstukke vir ander

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Mense wat hulle lewe waag net om hulleself te verheerlik, word waaghalse genoem , maar niemand sal mense wat hulle lewe waag vir ander waaghalse noem nie. Sulke mense word gewoonlik helde of heldinne genoem.

Wat sou julle hiervan dink?

Luister.

‘n Vrou het nou die dag aan my geskryf en gesê dat sy die dapperste seun in die hele wêreld ontmoet het.

Sy was met vakansie by een van daardie strandoorde in die noorde van Engeland. Toe sy een namiddag weer gaan swem het, het sy skielik in diep water in die moeilikheid geraak.

“Hoe meer ek gespartel het,” het sy gesê, “hoe verder is ek die see ingevoer. Om die een of ander rede het die ander baaiers nie my hulpgeroep gehoor of gemerk dat ek in die moeilikheid was nie. Ek het vreeslik benoud geword, en toe, met 'n stille gebed tot ons hemelse Vader wat elke noodkreet hoor, het ek weer geroep om hulp.”

Op daardie oomblik het ek 'n jong seun gesien wat na my toe swem. Hy was seker nie ouer as twaalf jaar nie; hy het my aan die arm gegryp en geprobeer om my kant toe te trek. Eindelik het hy uitgeput geraak, maar van die ander het ons gevaar gesien en ons te hulp gesnel sodat ons albei veilig aan wal gebring is.

Later het ek verneem dat dit die eerste maal was dat daardie seun dit in die see gewaag het; hy het voorheen altyd in die veilige poele geswem.

Sy naam? Nee, dit ken ek nie. Ek verstaan dat hy sommer daar onder die mense verdwyn het, nog voordat die dame kon dankie sê.  Hy het sy lewe gewaag om iemand anders s'n te red - iemand wat hy nie eens geken het nie. Omdat hy so onselfsugtig en nederig was, kan ons nie anders as om hom lief te hê nie. Ons wens ons kon hom 'n handdruk gee, en sê: “Mooi so ou seun, dit was baie dapper van jou!”

Hier is nog 'n storie, maar hierdie keer oor 'n dapper meisie.  Sy woon in een van die kusdorpies naby Londen. Eendag het sy gaan wandel met 'n vriendinnetjie wat 'n baba in 'n kinderwaentjie gestoot het.

Die twee dogters was baie gelukkig, want hulle het graag die kinderwaentjie daar op en af gestoot. Dit was 'n winderige dag en die see het groot branders gemaak. Kort-kort het die twee teen die reëlings gestaan en kyk na die groot branders at teen die strand geklots het.

En toe het daar 'n vreeslike dinge gebeur. Vir 'n oomblik - net vir 'n oomblik - het hulle die kinderwaentjie gelos!

Skielik het 'n vlaag wind dit gegryp en oor die seemuur gewaai. Met 'n groot plas het dit in die water geval. Die twee meisie het die steilte af gehardloop - Bella, die oudste was voor. Sonder om vir een oomblik te dink, het sy in die see gespring en die waentjie geryp, en toe het sy die baba gegryp.

Sy kon nie terug nie, want die water het haar ingetrek, en daar het sy met die baba gespartel om bo water te bly. Intussen het die kinderwaentje al verder weggedryf. Teen daardie tyd het 'n man in die nabyheid haar gevaar gesien. Hy het ingespring en Bella en haar baba veilig aan wal gebring. Hoe dapper was Bella? Sy het haarself vergeet en aan ander gedink. Hierdie daad van haar sal oor die hele wêreld vertel word.

En hier is 'n storie omtrent 'n brand: In 'n dorp in die suide van Engeland was twee kinders van agt en twee jaar onderskeidelik, alleen in die huis; hulle moes na 'n baba van agt maande kyk. Hulle ouers sou vir 'n rukkie weg wees om vriende te gaan ontmoet.

Twee ander kinders - een nege en een vier jaar oud - het by hulle kom speel. Vir 'n tydjie het hulle almal lekker saamgespeel, en toe, vir een of ander rede, het die ligte uitgegaan. William, die oudste seun van agt jaar het twee kerse gebring en hulle opgesteek. Die een kers het omgeval en die rusbank aan die brand gesteek.

Baie gou was die hele rusbank aan die brand. William, en Cyril die negejarige seun, het geprobeer om die vlamme met hulle kaal hande dood te slaan. Hulle hande het natuurlik verbrand, en die vlamme het voortgewoed. Toe William die gevaar besef, het hy uitgeroep, 'Ons moet die ander red.’

Hy het die baba gegryp en uitgehardloop; daar het hy hom aan iemand oorhandig, en toe is hy weer die huis in en met die trap op om sy sustertjie te gaan haal. Cyrl het sy eie klein broertjie uitgedra.

Teen daardie tyd het die mense in die hele straat die brand gesien. Hulle het die brandweer ontbied, en met die gelui van hulle klokke het die masjiene aangestorm gekom. Onderweg terug het Vader en Moeder die vlamme deur die vensters van hulle huis gesien, en ook die brandweermanne, en hulle het die ergste gevrees.

“Daar is vyf kinders in daardie huis!” het hulle geskreeu. “Sal iemand hulle nie red nie?”

Maar hulle het nie geweet dat die kinders alreeds gered was deur twee van die dapperste brandweermannetjies nie. Dit was 'n kordaatstuk van daardie twee seuns, was dit nie?

Hoewel ons dus nooit ons lewe moet waag net om ons eiewaan te streel nie, moet ons altyd gereed wees, as die omstandighede dit vereis, om dit vir die redding van ander te waag. Dit is wat Jesus gedoen het, en Hy verwag dat ons dit ook sal doen. Toe Hy op die aarde gewoon het, het Hy gesê: “Elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soo die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy siel te gee as 'n losprys vir baie.” MATT 20:28. “Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee.” JOH. 15:13

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell

Posted 10 weeks ago
0 plays

© aCapella Koor

Posted 10 weeks ago

Hoe Helen geluk gevind het Slaaptyd Stories in Afrikaans

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Helen het in die huis rondgeloop, en sy het so treurig gelyk asof sy al haar poppe gebreek en al haar geld verloor het.

“Wat makeer jou, Helen?” het Moeder gevra. “Hoekom lyk jy so treurig?”

“Ek voel sleg,” het Helen gesê en sy het toe sommer ook begin huil.

“Maar, wat makeer dan?” het Moeder teerhartig gevra.

“Daar is niemand om mee te speel nie,” het Helen in trane gesê. “Daar is niks om te doen nie, en nêrens om te gaan nie.” En toe het sy nog harder begin huil.

“Jou arme kind,” het Moeder gesê, “laat ons sien wat gedoen kan word.”

“Daar kan niks gedoen word nie,” het Helen met haar huilstemmetjie gesê. Moeder het die trane afgevee, en gesê: “Waarom gaan jy nie met die dogtertjie langsaan speel nie?”

“Sy wil nie met my speel nie,” het Helen gesê.

“En waarom wil sy nie met jou speel nie?”

“Sy gaan saam met haar Mammie uit, en sy wil liewer saam met haar Mammie gaan as om met my te speel.”

“Ek sien; maar waarom speel jy nie met jou boeke nie? Hulle is dan so vol mooi prente.”

“Ek wil nie na prente kyk nie.”

“Wel, waarom gaan jy nie - laat ek sien - waarom gaan jy nie na jou tuin kyk hoe mooi alles is na die reën nie?”

“Ek wil nie na my tuin gaan kyk nie,” het Helen gesê terwyl sy haar ogies met haar sakdoek afvee. Skielik het Moeder aan ‘n nuwe plan gedink.

“Nou weet ek!” het sy uitgeroep.

“Wat?” het Helen nou ewe belangstellend gera.

“Ek weet nou wat makeer,” het Moeder gesê; “ek weet regtig.”

“Ek makeer niks nie,” het Helen gesê; ek wil iemand hê om mee te speel.“

"Ja, ek weet,” het Moeder gesê; “daar is iets verkeerd binne jou.”

“Waar?” het Helen gevra. “Ek voel niks binnekant my nie.”

“Daar is iets,” het Moeder gesê met 'n glimlag.

“Wat makeer dan?” wou Helen weet.

“Daar is 'n klein gedagtetjie wat nie heeltemal reg is nie.”

“Wat nie heeltemal reg is nie?” Ek wil net iemand hê om mee te speel.“

Toe het Moeder gesê: "As jy net vir 'n paar minute sou ophou om aan jouself te dink, en begin dink aan iets wat jy vir iemand anders kan doen, dan sal jy sommer dadelik weer lekker voel.”

Dit was heeltemal iets nuuts vir Helen; daarvoor het sy geen antwoord gehad nie, en sy het haar Moeder laat voortgaan.

“Dink jy nie dat dat 'n goeie plan sou wees om iemand anders bly te maak nie - sê maar met 'n aangename verassing of so iets?”

“Ek weet nie van iemand wat ek kan verras nie,” het Helen gesê.

“O, ja, jy weet,” het Moeder gesê. Onthou jy nie daardie siek dogtertjie wat ons 'n paar dae gelede in die hospitaal gaan besoek het nie? Jy weet, daardie een wat nie kan loop nie. Jy het gesê dat jy so jammer is vir haar dat jy een van jou poppe aan haar sal gee om haar gelukkig te maak. Maar ek is bevrees dat jy alles daarvan vergeet het.“

"O, ja ek het alles vergeet! het Helen gesê terwyl sy haar voorhofie frons. "En ek het haar belowe dat ek die pop sou bring; wat sal sy nou van my dink?

"Wel, waarom soek jy nie sommer nou daardie pop en trek hom mooi skoon aan nie? Ons kan dit dan more na die hospitaal neem.”

“Goed, Moeder,” het Helen gesê, nou die ene belangstelling. “Ek sal die pop se klere was.”

“Ja,” het Moeder gesê; “doen dit, want 'n mens kan nie 'n pop met vuil klere gee nie.”

“Nee,” het Helen gesê; “ek sal die kouse ook moet heelmaak, want een het 'n gat in.”

“Doen wat jy kan,” het Moeder gesê; “miskien sal ek jou ook help.”

Helen was nou sommer baie bedrywig, en sy het gesê; “Moeder, sal Moeder nie ook een van my prente-boeke in 'n mooi doos inpak en dit met lint vasbind nie? dan sal dit soos 'n mooi present lyk.”

“Ek sal,” het Moeder gesê; Helen het die pop gaan haal en nou was sy vreeslik besig.

Later het Moeder vir Helen hoor lag in haar kamer; sy het gaan loer, en daar het Helen op haar stoeltjie gesit, besig om die pop se kouse te stop.

“Ek is vreeslik besig,” het Helen gesê, en sy het die trane nou heeltemal vergeet.

“Ek is bly,” het Moeder gesê. “Weet jy 'n mens kan altyd baie pret hê wanneer jy besig is met iets wat iemand anders sal blymaak.”

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell

Posted 14 weeks ago

Rooiborsie vertraag die Trein

“Ja,” het ‘n groot lokomotief tot stilstand gebring, sommer net 'n klein rooiborsie!“ Twee dogtertjies het my hierdie storie vertel, en ek weet dat dit waar is, waant dit het in hulle dorp plaasgevind. En volgens wat hulle my vertel het, het die hele dorp baie lank oor die voorval gepraat.

Dit het een namiddag begin toe 'n goedere trein by die stasie uitgestoom het. Die trein was nie ver nie toe die kondukteur 'n rooiborsie al langs die trein sien vlieg.

"Kyk na daardie voël,” het hy vir die man by hom gesê: “hy volg ons mos.”

“Ja, waarlik! dit lyk al of hy onder die kondukteurswa wil invlieg. Hy sal seker netnou wegvlieg.”  Maar die voël het al langs die kondukteurswa gevlieg. En namate die trein vinniger geloop het, het die voël vinniger gevlieg. Later het die trein te vinnig gegaan en die arme voëltjie moes opgee. Hy het sommer daar op 'n boom gaan sit, en hulle het hom later nie meer gesien nie.

Waarom die kondukteur hom oor 'n voëltjie nou bekommer, weet ek nie, miskien was dit omdat die voëltjie so verleë en verlate gelyk het toe hy die stryd gewonne moes gee. Toe die trein by die volgende stasie stilhou, het hy besluit om te gaan ondersoek instel. En hoe dink julle, wat het hy gevind? Voor, half onder die wa, in 'n hoekie, was daar 'n nessie met drie ligblou eiertjies daarin!

Nou het hy geweet waarom daardie arme voëltjie so vinnig langs die trein gevlieg het. Waar sou die voëltjie nou wees? Sou dit die trein agtervolg het?

Hulle het by daardie stasie gebly so lank moontlik, en gehoop dat die voëltjie betyds sou opdaag, maar dit het nie gekom nie. Voordat die trein weer vertrek het, het die kondukteur met die masjnis gaan praat, en hom vertel van die nessie met die eiers.

Daardie masjinis het ook 'n baie sagte hart gehad soos die kondukteur, en hy het belowe om die lokomotief nie te laat ruk sodat die eiertjies nie miskien uit die nessie rol nie. Hy het die lokomotief altyd baie versigtig tot stilstand gebring.

So het hulle gery tot by die eindstasie, en weer terug. By elke stilhouplek het die kondukteur gaan kyk of die eiertjies nog veilig was.

Eindelik was die trein weer terug by sy ou stasie. Maar waar sou die rooiborsie wees wat hulle laas daar eensaam op die boom agtergelaat het?

De rooiborsie was nie baie ver nie, want eerlank het dit daar aangevlieg gekom, reguit na die nessie, en weer op die eiertjies gaan sit.

Maar wat nou gedoen? Die kondukteur kon baie maklik heeltemal van daardie nessie vergeet het, maar hy het nie. Hy het 'n baie sagte plekkie in sy hart gehad vir daardie voëltjie. Hy het die stasiemeester van die nessie vertel wat ook daarna kom kyk het.

Die stasiemeester het gevoel dat hulle die wa behoort af te haak en daar te laat staan totdat die eiertjies uitgebroei was, want hy het ook 'n baie sagte hart gehad, net soos die kondukteur en die masjinis. Maar hulle sou dit nie kon doen sonder die toestemming van die hoofkantoor nie, en om sake nog moeiliker te maak, was dit die enigste kondukteurswa wat hulle daar gehad het, en dit moes weer die volgende dag vertrek. Die groot vraag was of die hoofkantoor gewillig sou wees om betyds 'n ekstra wa te stuur net omdat daar 'n rooiborsie op die was wat hulle het sit en broei.

Dit sou hulle seker nie doen nie. Die stasiemeester het darem besluit om die hoofkantoor te bel en te doen wat hy kon. Die ergste wat hulle kon doen, is om te weier. Soos dit gewoonlik in sulke gevalle gaan, het die nuus van die rooiborssie en haar nessie baie gou versprei;  die kondukteur het daarvan gepraat; die masjinis het daarvan gepraat; en die kinders het daarvan gepraat totdat die hele dorp daarvan geweet het, en die mense het na die stasie gestroom om die nessie te sien.

Ook die koerante het van die storie gehoor; hulle het van die rooiborsie geskryf, en ook prente geplaas. Soos julle self kan begryp, het die koerantberigte groot belangstelling gaande gemaak.

Die nuus het so vinnig versprei dat ook die spoorweghoofkantoor daarvan te hore gekom het. Toe die stasiemeester dus die hoofkantoor bel om te vra of hulle nie 'n eksta konkukteurswa kon stuur nie, het die bestuurder dadelik ja gesê. Ook het hy gesê dat hulle die wa met die nessie op 'n stil plek moet trek sodat die rooiborsie haar eiertjies kan uitbroei.

Die ekstra wa het die volgende dag daar aangekom. Daarna het mevrou Rooiborsie dag na dag op die eiertjies gesit, terwyl honderde nuuskieriges - kinders en grootmense - haar kom beloer het. Eendag het iemand gesien dat daar kleintjies in die nessie was, en toe het daar weer net soveel mense kom kyk hodat die voëltjie haar kleintjies voer. Die eienaars van daardie spoorweg het beveel dat daardie wa daar moes staan totdat die kleintjies kon vlieg en die nes verlaat. Dit was om hierdie rede dat die rooiborsiegesin die gaste van die spoorweg was totdat hulle besluit het om elders te gaan woon.

'n Mens sou dink dat dit snaaks is dat daardie vier manne sulke moeite gedoen het net ter wille van 'n ou voëltjie! Maar dit laat ons besef hoe baie teerhartige mense daar nog in die wêreld is. Die bietjie wat hulle kon doen vir daardie ou rooiborsie het hulle groot vreugde verskaf.

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell

Posted 15 weeks ago