Blinde visse

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)


Oom Attie se Slaaptyd stories


Deel Drie

deur Arthur S. Maxwell

Onder in een van die grotte van Korea vloei daar 'n onderaardse stroom. Waarvandaan dit kom of waarheen dit vloei, kan niemand sê nie, maar die merkwaardigste feit omtrent die stroom is die aanwesigheid van visse in die pikswart water. Hoe hulle daar gekom het, is 'n geheim, en hoe hulle daar leef, is ook onverklaarbaar.

Hierdie visse is omtrent net soos ander visse, met een belangrike verskil - hulle is blind! Hulle het hul vermoë om te sien, geleidelik verloor.

Hoe het dit gebeur? Wie kan ons vir seker sê? Miskien het hierdie visse weens die feit dat hulle gedurig in die donker water is en gevolglik nie hul oë kan gebruik nie, geleidelik blind geword.

Hierdie illustrasie toon net vir ons hoe maklik ons die gawes wat die Here aan ons gegee het, kan verloor. Wat ons nie gebruik nie, verloor ons.

As jy al vir 'n lang tyd in die bed siek gelê het, sal jy weet wat met jou bene gebeur het. Hulle word so swak dat jy skaars op hulle kan staan.

Dieselfde is waar van jou verstand. As jy nooit iets hoef te geleer het nie, nooit boeke gelees of na onderwysers geluster of huiswerk gedoen of opstelle geskryf of jou bekommer het oor somme nie, sou jou verstand nie ontwikkel het nie. Dis waarom jy skool toe gaan sodat jou verstand oefening kan kry. Miskien het jy dit nie voorheen geweet nie, maar dis waar. En as jy nie skool toe gegaan het nie en maar net by die huis gespeel het, soos jy soms baie graag wil doen, sou jy heelwaarskynlik 'n baie onnosele soort grootmens geword het wat glad nie in die lewe inpas nie.

Onthou jy die gelykenis van die talente? Die  manne wat die talente wat hul meester aan hulle gegee het, gebruik het, gevind dat die talente meer geword het. Maar die man wat sy talent begrawe het, moes ontdek toe hy dit weer opgrawe, dat dit maar net so groot ebly het as wat dit was - dit het niks gegroei nie - en hy het selfs die een talent ook verloor omdat hy so lui was.

Dit is regtig verbasend wat 'n mens met talente kan doen wanneer jy hulle gebruik. As jy jou spiere, jou arms en bene in gesonde oefening en harde werk gebruik, sal jy sterk en fris word en sal jy nie alleen swaar gewigte kan optel nie, maar jy sal ook baie werk vir Christus en jou medemens kan doen.

As jy jou oë, jou ore en verstand gebruik, hard studeer en na elke les aandagtig luister, is daar geen perke aan wat jy met jou lewe kan doen nie. Jy kan dalk eendag nog Eerste Minister van jou land word - hoekom nie? Of 'n groot snydokter of prinsipaal van 'n universiteit, of 'n vername predikant. Washington, Lincoln, Shakespeare, Milton, Livingstone, Moffat en Florence Nightingale - almal vername figure - was ook eens op 'n tyd seuns en dogters. Die meeste van hulle was gewone kinders, net soos jy, maar hulle het hul talente gebruik. Dit is waarom hulle groot dinge in die wêreld kon doen en baie dinge kon bereik. (Julle kan gerus gaan oplees en opkyk wie en wat hulle was....dis die moeite werd., regtig.)

Maar daar is nog iets anders - iets baie belangriks - wat moet gebruik word as jy dit nie wil verloor nie en wat, indien gebruik, altyd wonderlike seëninge meebring.

Ek dink aan ons geestelike oë. Party mense noem dit jou "gewete", maar dit is meer as dit. Dit is die verlange om goed te doen, om God te plesier, die vermoë om na die hemel te kyk en te verstaan wat die Here verlang wat jy moet doen en wees.

Elkeen besit hierdie gawe. Sommige gebruik dit so baie dat hulle goeie mense word, terwyl ander wat dit nooit gebruik nie, se verlange om goed te wees, geleidelik verdwyn totdat hulle skaars kan onderskei tussen goed en kwaad. Dan vind hulle later dat hulle allerhande verkeerde dinge doen. Omdat hulle hierdie gawe nie gebruik het nie, verloor hulle dit en hulle word so blind soos daardie arme visse in die Koreaanse grot.

Miskien sal julle sê "Maar hoe kan ek so 'n gawe ontwikkel?" Dit is baie eenvoudig. As jy jou Bybel elke dag gereeld lees en met die Here in gebed praat en elke dag vir Hom getuig, sal jy ontdek dat jou geestelike oë al sterker en sterker word. En dan sal jy dit nie alleen maklik vind om te onderskei tussen goed en kwaad nie, maar jy sal ook wonderlike prente voor jou geestesoog sien van God se liefde vir jou en vir die wêreld en wat Hy van jou lewe graag wil maak.

Hoe is dit met jou gesteld? Word jou geestelike oë al swakker en swakker omdat jy hulle nooit gebruik en nie veel omgee vir die dinge van die Here nie? Indien wel, pas op, jy mag geestelik heeltemal blind word.

Maak hulle nou oop om die Here se wonderlike doel met jou lewe te sien.
 
"E