Basterkaptein laat Suidwes sidder

Met beter wapens en toerusting as sy slagoffers, maar ook met merkwaardige militêre vernuf, voer Jonker Afrikaner jare lank uit Windhoek 'n skrikbewind waarin hy alles voor hom platvee

Nog selde het Suidwes in sy geskiedenis 'n man van sulke teenstrydighede opgelewer as Jonker Afrikaner. Hy kon geweldig wreed en slu wees, sonder enige mededoë vir die mense wat hy verslaaf of vermoor het.

Maar terselfdertyd kon hy ook, sonder enige aanwysbare rede, omswaai en genade betoon. Hy was dapper en vreesloos, intelligent en vlug van begrip. Dog vir duisende mense was sy naam sinoniem met moord, geweld en bedrog. Tot vandag toe bly Jonker Afrikaner 'n persoon waaraan mense met vrees en bewing dink.

Jan Jonker Afrikaner (1798-1861) was die jongste seun van Jager Afrikaner (minder gewoon: Afrikaander), 'n onderkaptein van die Karichuriquastam wat naby Saldanhabaai in Kaapstad gewoon het. Hierdie stam, ook bekend as die Gregriequas (en later die Griekwas), was geensins 'n suiwer Nama- of Hottentotstam nie. Baie van hul voorouers was blankes of basters en hulle het hulself "Oorlams" genoem. Dié woord is ontleen aan die Maleis orang lama, wat "ou man" beteken, maar eintlik slim man" impliseer. Vanweë hul blanke bloed het die Oorlams hulle bokant die ander Namas geag.

Jager Afrikaner het diens gedoen in die polisiemag van die V.O.C. en hy het die bevoegdheid gehad om onafhanklik strafekspedisies teen die Boesmans te lei en die bevel te voer oor 'n afdeling gewapende basters. Hy was goed onderleg in die gebruik van alle tipes vuurwapens en perde en het gou die blankes se krygskunde aangeleer. Later het Jager vir 'n blanke boer, ene Pienaar, gaan werk en in 1796 die hele Pienaar-gesin vermoor. Hy en sy volgelinge het daarna oor die Gariep (Oranjerivier) gevlug en sy voormalige werkgewer se vuurwapens, vee en perde saamgeneem. Noord van die Oranje vestig Jager hom by Blydeverwacht, 150 km oos van die huidige Warmbad.

Jager Afrikaner het allerhande rowers, diewe en skelms vergader en hier het hy die Afrikanerstam gestig en vir baie jare weerskante van die Gariep geweld gepleeg. Hy het sy kinders na die sendingskool op Warmbad gestuur waar Jonker leer lees en skryf het. 'n Groot kentering het by Jager ingetree ná 'n sendeling by hom kom woon het. Jager het hom bekeer en laat doop en is in 1823 as 'n nominale Christen oorlede.

Dadelik het 'n ernstige twis ontstaan oor wie Jager se opvolger sou wees. Volgens die ou Nama-reg het die oudste seun sy vader opgevolg. Jonker Afrikaner het egter volgehou dat sy vader hom as opvolger benoem het. Die uiteinde van die stamtwis was dat Jonker sy volgelinge die hoofstam verlaat en hulle dieper in die huidige Suidwes-Afrika gevestig het.

Gedurende sy vader se leeftyd het Jonker hom op talle plundertogte vergesel en op die voorgrond getree as 'n onverkrokke, energieke en intelligente vegter. Hy was 'n bobaas-ruiter, -skut en -taktikus en het die ratsheid van die Nama-rower gekombineer met die elemente van die blanke krygskunde wat sy vader aan hom oorgedra het.

Waar sy oorlede vader geweld gepleeg het, het Jonker Afrikaner 'n absolute skrikbewind gevoer. Hy het geroof, geplunder en gemoor. Nooit tevore het die Gariep 'n geweldenaar van hierdie omvang geken nie en sy naam het groot en berug geword aan albei kante van die Oranjerivier.

Voortdurend het Jonker gepoog om sy stam groter, sterker en meer paraat te maak. Die bewapening van sy vegters het swaarder geweeg as aardse besittings. Die buit wat hy geneem het, hoofsaaklik vee, is verhandel aan 'n groep gewetenlose handelaars wat op die Oranje aktief was. Goeie gewere en geweldige hoeveelhede kruit en lood was sy eerste prioriteit. Dan perde. en dan nuwe rekrute van omliggende stamme; rekrute wat kon ry en skiet en bereid was om met die Afrikanerstam te assimileer en om aan Jonker Afrikaner trou te sweer en onder sy vaandel te veg.

In die gebied van Hoachannas in die binneland van Suidwes het die Rooinasie gewoon - die hoofstam van die Nama-Hottentotte, waaruit die tradisionele regeerders van die Nama gekom het. Op daardie tydstip het die Rooinasie geen hoofman gehad nie. 'n Regentes, Games, het regeer tot tyd en wyl die vorige hoofman se seun, Oasib, mondig sou word.

Omdat die Rooinasie geen sterk leier gehad het nie, het die Herero, wat so ver suid as die huidige Windhoek gevestig was, die Rooinasie se stamgebied binnegedring. Eers is Herero-oorlogsgroepe uitgestuur om buiteliggende veeposte en dorpies van die Rooinasie aan te val en te verwoes. Daarna is groot Herero-beeskuddes na die verowerde streke gestuur en sodoende het die magtige Herero die Nama-gebied verder binnegedring.

Toe die situasie onuithoudbaar word, het Games en haar raadsmanne besluit om die hulp van die berugte Jonker Afrikaner in te roep om die invallende Herero te verdryf. Twee senior raadsmanne van die Rooinasie, Haromab en Aomab, is afgevaardig en besoek Jonker in 1838 op die Gariep. Hy laat die afvaardiging drie dae wag en ontbied sy oom, Dawid Afrikaner, wat in Kaapland gewoon het, om hom raad te gee. Daarna dra Jonker sy besluit aan Haromab en Aomab oor: Hy sal kom  help. Maar as hy van die Oranje-rivier wegtrek, sal dit permanent moet wees. 'n Blylek, water en weiveld in die gebied van die Rooinasie sal aan die Afrikaner-stam gewaarborg moet word.

Die twee afgevaardiges had die volmag om hierdie dinge aan Jonker Afrikaner te belowe want die regentes, Games, was bereid om alle moontlike toegewings te maak solank die dreigende Herero gestuit kon word. 'n Ooreenkoms is aangegaan en terwyl die twee raadsmanne terugkeer na Hoachannas, het Jonker en sy stryders hulle slaggereed gemaak om teen die Herero op te trek.

Twee jaar vantevore het 'n groep Korannas onder hul kaptein Eiseb uit Kaapland getrek en hulle noord van die huidige Keetmanshoop by die standhoudende fontein van Blau gevestig. Die Korannas, wat nes die Afrikaners 'n Oorlams-stam was, het ook perde en vuurwapens besit. Hulle het die kleiner Nama-stamme noord van Keetmanshoop en selfs die Herero noord van Gibeon aangeval en beroof. Terwyl Jonker Afrikaner opgetrek het na die Rooinasie by Hoachannas, was Eiseb en sy Korannas besig om Herero-veeposte naby Rehoboth te beroof. Terwyl  hy met sy buit terugtrek na Blau, maak Eiseb 'n draai in die gebied van die Boois-stam by Gibeon en val hulle aan. Dié wat nie gevlug of oorgegee het nie, is doodgemaak en bykans al die Boois se vee is gebuit.

Die oggend ná die Korannas se aankoms op Blau, is die buit volgens Nama-gebruik verdeel. Terwyl hierdie proses aan die gang was, donder sarsie op sarsie geweerskote uit die omliggende klilprantjies waar Jonker Afrikaner en sy vegters gedurende die nag stelling ingeneem het.

Gewondes en dooies sak neer en angsbevange vlug die res van die Korannas. Eiseb slaag daarin om sy stryders te hergroepeer, maar toe hy verneem wie sy aanvallers is, trek h y en sy bende sonder vee na die Oranje terug.

Jonker beweeg verder noord en naby Gibeon vind hy die beroofde Boois-stam. Toe hy sien in watter ellende die Boois verkeer, beveel hy dat h ul gesteelde vee en soveel kos as wat hy kan spaar, aan hulle gegee word. Jonker Afrikaner het hier 'n onbekende faset van sy karakter gemanifesteer wat almal verbaas het. Hy het barmhardigheid bewys.

Jonker soek nou vir hom en sy stam 'n gerieflike woonplek uit in die gebied van die Rooinasie en laat haal die Afrikaner-stam se vroue en kinders en orige besittings van die Gariep. Nadat die Afrikaners gevestig was, van Jonker Afrikaner die herero twee maal aan - een keer suid van Rehoboth en die tweede keer noord daarvan. In hierdie twee bloedige gevegte dryf hy die Herero terug tot in die huidige Windhoek, sodat die droë loop van die Kuiseb-rivier soos van oudsher weer eens die skeiding tussen die Herero en Nama word.

Oasib, die aangewese regeerder van die Rooinasie, het intussen mondig geword en die regentes Games het 'n raadsvergadering belê waarby Oasib tot hoofman verklaar is. Daarna het sy haar amp as regentes neergelê en beveel dat 'n inhuldigingsfees moet plaasvind.

Dit was 'n fees soos Hoachannas nog nie vantevore gesien het nie. Daar was spys en drank in oorvloed en die kapteins en raadsmanne van die Oorlams- en Nama-stamme in Suidwes is uitgenooi. Vanselfsprekend was Jonker Afrikaner en sy "Grootmanne" ook daar. Maar Jonker, lief soos hy was vir Kaapse brandwyn, het nie saam fees gevier nie. Tydens sy vorige twee aanslae op die Herero is 'n groot deel van sy kruit en lood weggeskiet. Hy het vir Oasib oorreed om die tekort aan te vul. Dit is dan ook gedoen en in 1839 maak Jonker sy vegters gereed om Windhoek aan te val.

Vroeg die volgende jaar (1840) trek Jonker Afrikaner met 400 man op teen die magtige Herero-nasie. Sy stryders was almal met gewere gewapen en meer as die helfte was berede. Al die Herero-veeposte suid van Windhoek is uitgewis en die buit na Hoachannas aangeja. Toe gaan Jonker oor die Auas-berge en val Kavarikotjiuru, die Herero-kaptein in Ai-Gams (Windhoek) aan. Laasgenoemde versoek per ylbode sy neef, Tjamuaha, die Herero-hoofman op Okahandja, om te kom help. Maar die verlangde hulp daag nie op nie en Jonker loop die herero-vesting in Windhoek plat en verjaag die Herero-krygsmanne wat nie gewond was of gesneuwel het nie.

Blitsvinnig ruk Jonker op teen Okahandja, maar toe hy daar opdaag, het al die Herero-soldate die omliggende berge ingevlug. Hierna val Jonker en sy vegters twee belangrike Herero-kapteins, Mungunda en Kahitjene, aan en dien elk 'n gevoelige slag toe.

Die Herero was groot in getalle en hulle was dapper vegters. Maar Jonker Afrikaner se veldtog het hulle deeglik geleer dat dapperheid alleen nie gevegte wen nie. Die spies, pyl, strydbyl en kierie van die Herero was nie opgewasse teen die gewere van die Afrikaners nie en die voetvolk en ry-osse van die Herero was te stadig en lomp vir Jonker se ruitery.

Jonker het ambisieuse planne gehad en sy doel was om mettertyd die hele Suidwes-Afrika te oorheers. Vir hierdie rede - en omdat die Auas-berge uitstekende skuiling gebied het - het Jonker Windhoek as blyplek gekies. Dit was strategies geleë in die middel van die land, tussen die Nama en die Herero. Hiervandaan sou hy albei kon onderwerp.

Tjamuaha was nie die grootste van die Herero-hoofmanne nie, maar volgens tradisie was hy die versorger van die heilige Herero-stamvuur waarmee groot aansien gepaard gegaan het. Hy het ook vier seuns gehad wat energiek, intelligent en dapper soldate was. Hulle het hul vader se naam groot gemaak in Hereroland. Een van hulle was Maharero.

Voor Jonker Afrikaner oorlog gemaak het teen die Herero, het Oasib van die Rooinasie aan hom die gebied van Windhoek en Okahandja belowe. Kort hierna verneem Jonker egter dat Oasib en Ambraal Lambert, 'n mindere Oorlams-kaptein wat met sy stam in Hoachannas gewoon het, voornemens was om hulle ook in Windhoek te vestig. So 'n situasie sou Jonker se posisie verswak en hy het dadelik 'n plan gemaak om dit te konsolideer.

Hy het 'n bode aan Tjamuaha gestuur en gevra of hy beswaar sou hê as Jonker in Windhoek gaan woon. Tjamuaha, wat 'n harde slag deur Jonker toegedien is, was gevlei deur die feit dat die magtige Jonker Afrikaner hom geraadpleeg het en het laat weet dat hy geen swaar teen die voorstel het nie. Ná lang onderhandeling met Tjamuaha en sy raad het Jonker en sy Afrikanerstam hulle in 1840 in die Klein-Windhoek-vallei gevestig.

Die Herero was verlig dat Jonker hulle met rus laat en die Rooinasie en Ambraal was bly dat Jonker se mense en vee aan die suide onttrek is. In Herero- en Namaland het 'n skietstilstand en 'n tydperk van betreklike rus aangebreek.

Maar Jonker het nie gerus nie. Nadat die laaste groot- en kleinveetroppe, waens, vrouens en kinders van die Afrikanerstam in Klein-Windhoek aangekom het, het hy talle kliphuise, skanse en krale laat bou. En toe het hy weer die klein Herero-stamme tussen Windhoek en Okahandja aangeval, geplunder en beroof. Tjamuaha het periodiek bodes na Jonker gestuur met die versoek om sy aanvalle te staak, maar dit het geen uitwerking op die hoofman van die Afrikanerstam gehad nie.

Noodgedwonge het die Herero gepoog om vuurwapens en ryperde aan te skaf, maar dit was 'n stadige proses en vir twee jaar was geen Herero-veepos veilig teen Jonker se buiters nie. Teenaanvalle is wel deur die Herero gemaak, maar sonder veel welslae. Hul primitiewe metode van oorlogvoering het nie opgeweeg teen die taktiek van die Afrikanerstam nie.

In Oktober 1842 kom die sendelinge H. Kleinschmidt, H. Hahn en K. Bam van die Rynse Sendinggenootskap op Jonker se versoek in Windhoek aan. Bam het hom beywer vir vrede en het daartoe bygedra dat Tjamuaha vier gesante na Windhoek gestuur het. Jonker het met hulle onderhandel en later ooreengekom om Tjamuaha te ontmoet en 'n vriendskaps- en vredesverbond met die Herero-volk te sluit.

Bam het verdere reëlings getref en op kersaand 1842 kom Tjamuaha en die hoofman Kahitjene in Windhoek aan. Op Kersdag het Jonker eers 'n kerkdiens bygewoon en daarna in die huis van sendeling Hugo Hahn 'n vredesverdrag met Tjamuaha en Kahitjene gesluit.

Die Herero-hoofmanne het Jonker uitgenooi om Okahandja te besoek, maar hy het die uitnodiging van die hand gewys omdat hy die Herero gewantrou het. Om te verhoed dat die Herero beledig voel, het die sendeling Hahn belowe om as Jonker se verteenwoordiger na Okahandja te gaan. Middel Januarie 1843 is die Herero terug na Okahandja en kort daarna het Hahn hulle besoek. Jonker was erg ontevrede hieroor omdat hy gemeen het dat Hahn sy gesag ondermyn.

Die universele reël dat vrede voorspoed bring, het nie heeltemal in Jonker Afrikaner se geval gegeld nie. Nadat hy vrede met die Herero gesluit het, kon hy vanselfsprekend nie meer hul veeposte aanval en beroof nie. Hy het dus besluit om op 'n ander wyse van die Herero gebruik te maak. Deur slinkse onderhandelinge het hy Tjamuaha en Kahitjene oorreed om tesame met hul families en voormanne in Windhoek te kom woon en hul veetroppe saam te bring. Sy plan was om die seuns van die twee Herero-hoofmanne en  hul voormanne op te lei in die gebruik van vuurwapens en moderne oorlogvoering. Hierdie jongmanne sou die elite van Jonker Afrikaner se strydmag vorm, as 'n persoonlike lyfwag dien en onder bevel vaan Maharero staan.

Tjamuaha en Kahitjene was vir hierdie plan te vinde, want as h ulle onder Jonker se beskerming was, sou geen vyand waag om hulle aan te val nie. Binne twee maande kom hulle in Windhoek aan met hul volgelinge en besittings. Tjamuaha vestig hom suid van Windhoek en omring sy hele stat met 'n stewige paalheining. Kahitjene en sy mense bou hul hutte en krale net noord van Windhoek. Soos b eplan, is 'n afdeling jong Herero gevorm en opgelei om vuurwapens te hanteer en militêre bewegings uit te voer. Maharero was hul voorman, maar hy was ondergeskik aan Jonker Afrikaner.

Gedurende hierdie vredestyd het Jonker ook vele ander projekte onderneem. Hy het huise en 'n kerk laat bou, asook bykomende krale en skanse. Hy h et leivore laat maak en groot tuine aangelê. En om handelaars na Windhoek te lok om hom te voorsien van lewensbelangrike kruit, lood en ryperde, het hy 'n pad deur die Khommasberge na Walvisbaai laat aanlê. Dit was 'n geweldige taak en daar is meestal van slawe-arbeid gebruik gemaak. Maar die onderneming was uiters geslaagd en die pad, wat geskik was vir ossewaens, het die binneland van Suidwes dekades lank bedien.

Hierbenewens het Jonker Afrikaner 'n smid na Windhoek laat kom. 'n Smedery is op die been gebring waar allerhande wapens en voertuie, asook huishoudelike en landbou-implimente, herstel en selfs vervaardig is.

En toe het Jonker 'n dreigende probleem geïdentifiseer. Die Afrikanerstam wat in Klein Windhoek gewoon het, het 800 siele getel. Maar die Herero van Tjamuaha en Kahitjene was 1 000 siele sterk. Aan die weste van die Auas-berge het 'n bont groep gewoon, bestaande uit lede van die omliggende Nama-stamme wat vroeër Jonker se strooptogte gevolg het in die hoop om die buit te deel. Hulle was net so sterk in getal soos die Afrikaners. In die klowe van die omliggende berge het die Bergdama gewoon. Hulle het vir die Afrikaners, Herero en Nama as arbeiders, veewagters, huisbediendes en tuiniers gewerk en hulle was niks minder as slawe nie. Maar ook hulle was 'n bedreiging vir Jonker Afrikaner omdat die Bergdama talryker was as al die ander mense wat in en om Windhoek gewoon het.

Jonker het besluit om die Afrikanerstam te vergroot deur sy stamgenote in die suide na Windhoek te bring, maar omdat daar reeds soveel mense in en om Windhoek gewoon het en die skraal grond nie vir almal voldoende kos kon bied nie, moes hy ander weivelde en woonplekke soek. In 1843 bring hy 'n sterk kommando op die been en verken die land na die noorde en weste. Hy besoek die Waterberg asook die Erongoberge en die bron van Ameib. Hy is in sy skik met hierdie plekke waar water, weiveld, bome en wild volop was en vestig sy gesag daar. Hy keer terug na Windhoek en rig 'n skriftelike versoek aan Cupido, hoofman van die Witboois by Pella aan die suidower van die Oranje-rvier, om na Windhoek te kom.

Cupido Witbooi het die aanbod van die hand gewys en Jonker het dieselfde uitnodiging aan sy broers by Blydeverwacht en sy ooms by Warmbad in die suide gerig. Sy broers, Jonas, Valentyn en Adam het dadelik ingewillig en sy ooms David en Titus Afrikaner het verklaar dat hulle sou kom as hulle hul Wesleyaanse sendeling, Haddy, kon saambring. Jonker het geen beswaar gehad nie en die helfte van die Afrikanerstam wat in die suide gewoon het, het in Oktober 1844 na Windhoek opgetrek en hulle daar gevestig.

Die Afrikaners was nou sodanig versterk dat Jonker tevrede was. Maar sy uitgawes was groot. Engelse handelaars het Windhoek oorval en Jonker het vir hul ware betaal met die beeste wat hy as belasting van die Herero en ander stamme geëis het. Maar dit was nie voldoende nie en hy was verplig om sommige Nama- en Mbanderu-stamme in die ooste te beroof.

Windhoek het 'n bedrywige handelsentrum geword. Vir die gebuite vee kry Jonker Afrikaner ryperde, gewere, kruit en lood vir sy vegters, asook brandewyn en tabak, Vir die vroue is daar duur tabberds, sambrele en skoene. Die sendelinge het rede om te kla oor "die misbruik van bedwelmende drank en dagga en onsedelike danse".

Oasib, h oofman van die Rooinasie en opperhoof van die verenigde Nama-stamme, het Jonker se welvaart en aansien met jaloesie gade geslaan. Maar hy was nie sterk genoeg om die Afrikaners aan te val nie. Teen die einde van 1844 gaan hy met 'n kommando besoek aflê by Kahitjene se stat en terwyl daar feesgevier word, val hy die niksvermoedende Herero aan. Bykans honderd word gedood en groot hoeveelhede van Kahitjene se vee word na die suide gedryf.

Die verwagting was dat Jonker hierdie verraderlike daad sou wreek en sy beskerming, Kahitjene, se vee sou gaan terughaal. Maar hy het niks gedoen nie en Kahitjene het Windhoek verlaat. Hy het Jonker nie meer vertrou nie.

Hierdie optrede van Jonker Afrikaner kan miskien toegeskryf word aan die feit dat hy daagliks groot hoeveelhede brandewyn gedrink het. Sy stamlede het sy voorbeeld gevolg en verskeie brouerye is op die been gebring waar 'n kragtige verdowende bier uit suiker of heuning en wilde rosyntjies gebrou is. Bergdama en Herero wat heuning in die veld uitgehaal het, is swaar gestraf en 'n aantal Dama het selfs met hul lewens geboet

Teen Maharero, voorman van die Herero-korps, het Jonker ook opgetree omdat hy nie so gedienstig was soos Jonker verlang het nie. Dan het hy Maharero "Tjamuaha se kalf" genoem en as sy toorn ontbrand, het hy Maharero aan die wiel van 'n ossewa laat vasbind - dikwels vir drie dae en nagte lank. Tjamuaha het nie hiervan gehou nie, maar hy was magteloos.

Die Afrikanerstam het al hoe dieper in die skuld geraak by die Engelse handelaars. Jonker se persoonlike skuld by Morris het op 800 beeste en 500 stuks kleinvee te staan gekom en baie van sy stamlede was net so diep in die skuld. Die handelaars het aangedring op betaling, maar die Afrikaners se veestapel was erg uitgedun en hulle kon eenvoudig nie hul verpligtinge nakom nie.

Jonker Afrikaner het net een uitweg gesien. Hy moes weer op die oorlogspad gaan.

Oos van Windhoek het die Mbanderu gewoon. Hulle was 'n vertakking van die oorspronklike Herereo-volk wat uit die Kaokoveld gekom het, maar met ander heersers en lojaliteite. 'n Herero-hoofman, Katuneko, het die stat van 'n ryk Mbanderu aangeval en oorompel en duisend Mbanderu-beeste gebuit. Die Mbanderu het by Jonker kon kla en sy hulp gevra. Dit het uitmuntend in Jonkaer se kraam gepas en hy het sy broer, Kraai, beveel om dadelik 'n k ommando op die been te bring om teen Katuneko uit te trek.

In Maart 1846 vertrek Jonker en Adam Kraai met 300 Afrikaners, Maharero en sy korps en 200 Bergdama wat in Jonker se diens was. Hulle trek vyf dae in 'n noord-oostelike rigting, maar toe hulle Katuneko se stat bereik, was dit verlate. Hy het snuf in die neus gekry en met sy mense en vee diep in Hereroland ingevlug.

Jonker Afrikaner was woedend. Sonder buit kon hy nie na Windhoek terugkeer nie en h y het besluit om die stat van Kahena, 'n ryk Herero-hoofman naby Katuneko, aan te val. Die niksvermoedende Kahena het weinig weerstand gebied en die slag was kort en bloedig. Jonker het met 4 000 beeste na Windhoek teruggekeer, waar die Afrikanerstam hul skuld met die Engelse handelaars vereffen het en weer in staat was om lewensmiddele en luukses aan te koop benewens nuwe vuurwapens, kruit en lood en groot hoeveelhede brandewyn.

Maar Jonker het die vredesverdrag met die Herero-nasie verbreek en die sendelinge het hom ernstig betig. Hahn het aan hom geskryf en hom openlik beskuldig. Kleinschmidt het op 2 April 1846 spesiaal van Rehoboth na Windhoek gekom en Jonker gekonfronteer. Laasgenoemde het allerhande verskonings aangebied, maar toe hy in 'n hoek gedryf is, het hy verklaar: "Ek het besluit om kwaad te doen teen die Herero."

Hierdie verklaring van Jonker het vinnig deur Namaland versprei en die Nama- en Oorlams-stamme het die Herero met mening aangeval, beroof en vermoor. Gedurende 1847 besoek Jonker weer die Waterberg en in 1848 gaan hy na Walvisbaar. Op sy terugtog na Windhoek trek hy laer naby die statte van verskeie ryk Herero-hoofmanne. Hy nooi die belangrikste hoofman van die wyk, Kamukamu, 'n halfbroer van Kahitjene, om by hom te kom eet en slaap.

In die nag laat Jonker hom vermoor en teen dagbreek val hy die stat van Kamukamu sowel as dié van Kathari en Muhako aan. Die inwoners het angsbevange gevlug en sestig Herero het gesneuwel, onder wie Kahitjene se halfbroer. Jonker het 1 000 groot- en 800 kleinvee na Windhoek aangejaag.

Toe Kahitjene van Jonker se verraad hoor, sweer hy wraak. Hy laat sy beste stryders en voormanne bymekaarkom en beraam sy planne sorgvuldig. Nuwe wapens word vervaardig en die strydmag uitgerus. Vroeg in 1849 val Kaahitjene Jonker met 700 van die beste Herero-soldate by Otjipuna (noord van Windhoek) aan. Jonker se spioene het hom egter betyds gewaarsku en hy was gereed vir Kahitjene. Die Herero-soldate het met ongekende dapperheid geveg, maar hul aanvalmetodes was verouderd en Kahitjene het nie die nuwe krygskuns verstaan nie. Bowenal het Jonker Afrikaner se vuurwapens en perde weer die deurslag gegee. Die primitiewe wapens van die Herero en hul ry-osse was eenvoudig nie doeltreffend nie. Meer as honderd van die beste Herero-soldate het gesneuwel en Kahitjene moes al sy ry- en pakosse prysgee. Alhoewel Jonker se seun, Christiaan, gewond is, het Kahitjene se broer, Kanja, in die geveg gesneuwel. Dit was 'n harde slag vir die Herero-hoofman.

Tjamuaha en sy mense en sy seun Maharero het steeds in Windhoek onder Jonker se beskerming gewoon. Hy was verbitterd omdat Jonker weer die Herero-volk aangeval en beroof het, maar hy was magteloos. Maharero en sy Herero-korps was niks minder as gevangenes en huursoldate van Jonker nie en die situasie was erg vernederend vir die trotse Herero-hoofman. Toe een van sy jonger seuns egter tydens 'n argument oor 'n bees deur Jonker se mense gedood word, besluit Tjamuaha dat hy genoeg gehad het.

Hy deel Jonker mee dat daar nie meer voldoende weiding vir sy vee by Windhoek is nie en dat hy voornemens is om na Okahandja terug te keer. Jonker het ingestem op voorwaarde dat Maharero en sy korps in Windhoek bly en Tjamuaha h et met sy mense en besittings na die noorde teruggetrek.

Ná sy nederlaag teen Jonker by Otjipuna moes Kahitjene plan maak om sy aansien onder die Herero-nasie te herwin. Hy trek met sy stam na Gross Barmen (Otjikango) en val daarna twee vooraanstaande Herero-voormanne, Hekununa en Mungunda, aan en beroof hulle van 'n groot hoeveelheid beeste. Kahitjene  was weer gevestig as 'n Herero-leier en verskillende leierlose faksies het by hom aangesluit en hom aansienlik versterk.

Naby Otjikango het Kahitjene vir hom 'n nuwe stat en skanse gebou en sy stam van vooraf bewapen en gereed gemaak om die stryd teen Jonker voort te sit.

Ook Jonker het sy sake in orde gekry om die oorlog teen die Herero verder te voer. Uit die Kaap bestel hy 'n groot hoeveelheid ryperde wat teen die einde van 1849 in Windhoek aankom. Dan vertrek hy na Walvisbaai om wapens van die Engelse handelaars te koop. Maar vooor hy sy bestemming bereik, roep 'n ylboede hom na Windhoek terug. Die Mbanderu het een van sy grootste veeposte in die ooste aangeval, die wagters vermoor en al die vee gebuit. Maar Jonker het nie 'n strafekspedisie teen die Mbanderu uitgestuur nie. Hy wou nie te veel van sy manskappe aan Windhoek onttrek nie, want hy was onseker van Kahitjene se krag.

Om dié probleem op te los, sluit hy 'n verdrag met Oasib, opperhoofman van die Rooinasie, en dra aan hom die taak op om 'n wraaktog na die ooste te voer. Oasib het die leiers van die belangrikste Oorlams- en Nama-stamme in die suide byeengeroep en rekrute vir sy strafkommando gewerf. Daar was mense van Tseib uit Keetmanshoop en die stamme van Bethanien en Berseba, asook Ambraal se stryders. Jonker het ' n afdeling van sy Afrikaners gestuur.

Hierdie strydmag van bykans 1 000 man het die Mbanderu in Desember 1849 aangeval en tot Januarie 1850 agtervolg en verjaag. Geen genade is betoon nie. Alle mans wat gevange geneem is, is tereggestel en die ouer vrouens en suigelinge is weerloos in die veld gelaat. Jonger vrouens en kinders is as slawe teruggebring en diegene wat nie die pas kon volhou nie, is koelbloedig vermoor.

Toe Oasib en sy strydmag Windhoek bereik, het Jonker Afrikaner die grootste gedeelte van die slawe en gebuite vee opgeëis. Oasib was woedend, maar kon nie veel doen nie. Op Rehoboth sluit hy 'n verdrag met Willem Swartbooi, hoofman van die Swartbooi-stam, met die doel om Jonker gesamentlik aan te val. Maar Swartbooi het kop u itgetrek en daar het niks van die plan gekom nie.

Intussen het die Herero-hoofman, Kahitjene hom sodanig versterk dat hy dit gerade geag het om Barmen te verlaat en hom weer op Okahandja te vestig waar die weiding en water beter was. Strategies was Okahandja ook beter as Gross Barmen geleë om ' n aanval op Jonker van stapel te stuur.

In Windhoek het Jonker Afrikaner sy Herero-slawe en ook Maharero gruwelik mishandel. Hullle is selfs gefolter en Maharero is vir dae sonder kos of water aan die wawiel vasgebind. Eindelik het sy trotse Herero-gees gerebelleer. Gedurende die nag van 5 Augustus vlug hy en sy mense na Barmen met slegs die besittings en wapens wat hulle kan dra.

Jonker Afrikaner se toorn het hoog opgevlam. Hy het besluit om Windhoek van alle Herero te suiwer en diegene wat nie betyds gevlug het nie, is van kant gemaak. Die sendelinge het Jonker oor sy wreedhede veroordeel, maar hy het hom nie aan hulle gesteur nie. Kraai  het weer opdrag gekry om 'n kommando gereed te maak om Kahitjene aan te val.

In die nag van Donderdag 22 Augustus 1850 ruk die kommando op en val Okahandja vroeg die volgende oggend aan. Alhoewel Kahitjene gewaarsku is en bevel gegee het dat sy statte by en om Okahandja ontruim moet word, was die slagting groot. toe die geveg te heweig word, vlug Kahitjene en twintig van sy soldate en soek skuiling in die sendingkerk, waaruit hy lat ontvlug het.

Toe begin 'n moord- en rooftog teen die Herero soos Suidwes nog nooit beleef het nie. Die vroue se hande en voete is afgekap om hul koperornamente te buit. Kinders is genadeloos doodgesteek en hutte is afgebrand. En toe daar niks meer van Kahitjene se statte en werwe oorbly nie, is die werwe van die onliggende Herero-hoofmanne aangeval. Slegs die stat van Tjamuaha is gespaar.

Hierdie genadelose veldtog is gevoer deur 'n betreklike klein kommando van 350 man met slegs 150 gewere en 40 perde. Maar die sterkste stamme van die Herero-nasie was bykans verdelg en Jonker Afrikaner was onbetwiste heerser van Suidwes-Afrika.

Terwyl hierdie plundery aan die gang was, kom die Engelse ontdekkingsreisiger en navorser Francis Galton in Walvisbaai aan. Hy was voorneme om Owambo in die noorde van Suidwes en die Ngami-meer in die huidige Botswana te besoek. Maar hy het ook 'n opdrag van die Kaapse regering ontvang om Jonker te betig en te waarsky oor sy wandade en 'n poging aan te wend om die vrede te herstel.

Jonker het geen ag geslaan op Galton se waarskuwings nie en het hom verbied om in die land rond te trek. Galton was egter van ander stoffasie as die Herero en met slegs 'n paar  handlangers op ry-osse het hulle Windhoek binnegetrek. Galton het met sy ry-os tot op die drumpel van Jonker se huis gery en die Afrikaner-hoofman in Engels uitgeskel.

Jonker het nog respek gehad vir die Kaapse regering en die skrik wat Galton hom ingeboesem het, het 'n heilsame uitwerking gehad. Hy het belowe om in vrede te lewe, m aar dit was 'n belofte wat hy slegs 'n jaar lank gestand sou doen.

Nadat Galton sy reis voortgesit het, het Jonker besluit om Windhoek te verlaat en hom permanent op Okahandja te vestig. Wie Okahandja beheer het, het ook die sleutel tot die noorde gehad. In 1851 trek Jonker na Okahandja en lê sy werf op die hoogste gedeelte van die dorp aan. Geweldige klipskanse is om sy stat opgerig en die terrein buite die mure is van struike en gras skoongemaak sodat moontlike vyande gou gewaar kon word. Om sy posisie te konsolideer, vestig Jonker sterk Afrikaner-garnisoene by Waterberg en Otjimbingwe. Kruit en lood word ingekoop en nog perde uit Kaapland bestel.

En slegs 'n week nadat Francis Galton die land verlaat het, val Jonker die Herero-stamme soos 'n brullende leeu aan. In Februarie 1852 val hy Otjosemba, 'n vesting van Tjamuaha, aan en trek dan met 500 m an teen die Omatako-omuramba af en oorrompel elke Herero-pos waarby h y kom. Die belangrikste hoofmanne wat die knie voor Jonker moes buig, was Onguatjindi en Katjikurure. Laasgenoemde se magtige stam is in 'n bloedige geveg so te sê heeltemal uitgewis. Jonker keer na Okahandja terug met 12 000 beeste, waarvan meer as helfte aan die Engelse handelaars as skuldvereffening gegee is.

In Maart 1853 besoek die sendeling Hugo Hahn vir Jonker en waarsku hom oor sy gruweldade. Maar Jonker het hom nie meer aan waarskuwings gesteur nie. Sy Bergdama het as spioene opgetree en sy Herero-slawe moes gedurende aanvalle in die voorste linies veg. Sy Afrikaner-soldate is in reserwe gehou en dikwels was hul enigste taak om te plunder en te moor ná die slag gelewer is. Hongersnood het onder die Herero geheers, want daar was geen melk of slagvee meer nie en baie mense is dood weens gebrek aan kos.

In 1857 was Jonker Afrikaner se werk - die vernietiging van die Herero-nasie - feitlik voltooi. Suidelike Hereroland was heeltemal ontvolk en die vlugtende Herero het ver in die noorde rondgeswerf.

Oasib, hoofman van die Rooinasie, se afguns jeens Jonker Afrikaner het nou ongekende hoogtes bereik. Die Rooinasie en ander Nama- en Oorlams-stamme het wel ook deelgeneem aan rooftogte teen die Herero en Mbanderu, maar hulle buit was klein. Sporadiese gevegte het tussen Nama en Oorlams uitgebreek en sommige van Jonker se veeposte is aangeval. Daar was ook groot onenigheid oor die toestaan van mynkonsessies aan blankes, die invoer van wapens en ammunisie en die vrye deurgang van posstukke deur die verskillende stamgebiede.

Ná lang onderhandelings is besluit dat alle belanghebbendes (ook die Herero) by Hoachannas moet bymekaarkom om 'n blywende vrede in die land te bewerkstellig. In Desember 1858 kom Jonker met 27 waens en 100 ruiters op Hoachannas aan en binnekort is al die belangrikste hoofmanne teenwoordig. Op 9 Januarie 1859 word die vrede van Hoachannas deur elf Nama- en Oorlams-hoofmanne sowel as twee van Tjamuaha se seuns (hy self was te siek om te kom) onderteken.

Maar nog was het 't einde niet. Toe die Owambo-hoofman Nangero in 1857 dood is, het sy broer Shikongo die amp van hoofman aanvaar. 'n Gedeelte van die volk was ontevrede hieroor en het Jonker Afrikaner gevra om die geskil te besleg.

Jonker stuur 'n strydmag onder bevel van sy neef, Jan Jonker, na Owambo. Handelsware is ook saamgeneem, maar die werklike doel van die ekspedisie was om te roof. Toe die kommando in Owambo aankom, is geen onderhandelinge gevoer nie, maar daar is dadelik begin met die plundering. Agtien veeposte is beroof en twee seuns en drie vroue van Owambo-hoofmanne is gevang en saam met die gebuite vee na Okahandja gebring.

Shikongo het dadelik besef dat hy nie teen Jonker Afrikaner se perde en gewere opgewasse was nie en in Mei 1859 stuur hy van sy raadsmanne met baie geskenke na Jonker met die versoek om die gyselaars vry te laat. Jonker het die gystelaars vrygestel aan die afvaardiging en Shikongo se mense in vrede laat gaan. Hy het vir Shikongo laat weet dat hy later self na Owambo sou kom om die twiste onder die Owambo-volk by te lê.

In Julile 1860 maak Jonker gereed om na die noorde tre trek. Hy het die nuus laat versprei dat hy vreedsaam na Owambo gaan om handel te dryf en uitsluitsel te gee oor die geldigheid van Shikongo se opvolging as hoofman. Maar die samestelling van sy ekspedisie het die vreedsaamheid van sy bedoelings in twyfel geplaas. Hy het met veertig ossewaens getrek en was vergesel van amper al sy Afrikaner-krygsmanne, te perd en met vuurwapens toegerus. Boonop het talle Bergdama- en Herero-voetsoldate die stoet gevolg.

Shikongo se spioene het hom gewaarsku van die aantog van Jonker se strydmag en hy en sy volgelinge vlug na die Angola-grens. Behalwe 'n paar klein skermutselinge waarby Jonker twee man verloor het, is geen weerstand gebied nie. Dit was eenvoudig 'n kwessie van vee bymekaarmaak en die veertig ossewaens met allerlei buit vul. Meer as 20 000 beeste is uit Owambo weggevoer, maar longsiekte het onder die vee uitgebreek en slegs 3 000 diere het Okahandja bereik.

Jonker Afrikaner self was siek aan malaria wat hy in Owambo opgedoen het. Hy h et in die slaapruim van sy paalhut gaan lê en versoek dat die sendelinge hom kom dokter.

Ook Tjamuaha was siek aan malaria wat hy in die Kaokoveld opgedoen het terwyl Jonker in Owambo geplunder het. Sy hut was minder as 'n kilometer van Jonker s'n en daar is oor en weer bodes gestuur om te verneem na die welstand van die twee siek hoofmanne.

Toe Jonker voel dat sy kragte hom verlaat en die einde nader kom, ontbied hy sy oudste seun Christiaan en ook vir Maharero. Hy benoem Christiaan as sy opvolger van die Afrikanerstam en vermaan die twee om voortaan in vrede te lewe. Dan gee hy opdrag dat sendeling Kleinschmidt dadelik van Otjimbingwe moet kom om hom "te help sterwe".

Op sondagoggend 18 Augustus 1861 voer Kleinschmidt 'n lang gesprek met die sterwende hoofman van die Afrikaner-stam. Jonker het toegegee dat alle mense sondig is, maar het verseg om sy persoonlike sondes en wandade voor God en voor Kleinschmidt te bely. Hy het geen berou en verlang geen vergifnis nie.

Kleinschmidt het vervolgens 'n kerkdiens gelei vir die Afrikaners, Nama en Oorlams in Okahandha. Nadat hy die seën uitgespreek het, het hy die nuus ontvang dat Jonker Afrikaner oorlede is.

Kleinschmidt het gevoel dat hy Jonker nie 'n Christelike begrafnis kon gee nie. Teenoor Jonker se hut is 'n diep graf langs 'n kameeldoringboom begrawe. Daarin is die hoofman van die Afrikaner-stam begrawe. Sonder seremonie of rituele. Sonder sang, gebed of skriflesing.

Francis Galton het van Jonker Afrikaner geskryf: "Hy is beslis 'n begaafde man en skyn in die volle krag van sy lewe te wees hoewel hy sestig jaar oud is. Hy is diplomaat en het altyd die gesprek in die rigting gelei van die doel wat hy voor oë gehad het."

Sir James Alexander het Jonker só beskryf: "He was a little modest looking man with high cheekbones, narrow eyes and prominent lips and an aquiline nose. He was a bold and intrepid warrior, a great commander and distinguished by a daring mind, good judgement and active habits."

Almal het nie so 'n hoë dunk van die Afrikaner-stam gehad nie. Volgens party was hy geslepe, genadeloos, wreed en 'n dronklap. Hy het sy vriende verraai en vermoor. Hy het gesteel, geroof en geplunder, van vyander sowel as vriend. So is oor hom geoordeel. Tog was sy optrede dikwels teenstrydig. Hy het die armes en hongeres gehelp. Hy het die doodvonnisse van misdadigers opgeskort. Hy het gyselaars vrygelaat sonder om 'n losprys te eis. Hy het die grootste liefde vir sy kindrs en vrou betoon en blankes met die grootste hoflikheid en agting behandel.

Dat Jonker so veel vermag het met so min tot sy beskikking, moet as een van die groot prestasies van die 19de eeu in Suidwes-Afrika beskou word. Sy welslae op die slagveld kan h oofsaaklik aan twee dinge toegeskryf word: vuurwapens en ryperde. Sy opponente was gewapen met betreklik primitiewe wapens en ry-osse was hul enigste vervoermiddel. Maar dit was nie die enigste rede vir Jonker se sukses nie, want hy het dikwels teen 'n vyandige oormag te staan gekom. Sy kennis van die blanke se krygskuns het hy gekombineer met die Nama se tradisionele metodes van oorlogvoering. Hy het grootliks gebruik gemaak van spioene en alle moontlike inligting oor sy teenstanders ingewin voordat hy toegeslaan het. Hy h et sy vyande voorgelê en in hinderlae gelok. Hy het die gevegsterrein bestudeer en dit as hulpmiddel in sy aanslae gebruik.

Jonker het met sy kommando's in die nag getrek, iets wat die vyand nooit gedoen het nie. Baie van sy aanvalle het dan ook vroeg in die oggend plaasgevind terwyl sy opponente nog slaap of andersins onvoorbereid is. Hierbenewens het Jonker gebruik gemaak van huursoldate om in die ergste aanvalle die spit af te byt.

En seer sekerlik het Jonker Afrikaner se persoonlike eienskappe veel tot sy welslae bygedra. Hy was nie 'n groot man nie, maar hy het absolute gesag en dissipline afgedwing. Hy was intellilgent, skerpsinnig, vlug van begrip en vreesloos. Hy het geen ontsag of eerbied vir gevaar, pyn, lyding en selfs die dood gehad nie. In die vroeë jare van sy loopbaan het hy elke aanval self gelei en op onverskrokke wyse aangevoer. Jonker Afrikaner het die patroon gelê vir moderne oorlogvoering teen primitiewe stamme in Suidwes-Afrika en sy krygsmetodes sou later met groot welslae teen die Duitsers toegepas word.

Doc Immelman

Beroemde Suid-Afrikaanse Krygsmanne

Rubicon Pers, Kaapstad

ISBN 0 947 00606 0