Agie se Appel

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

"Jy moet nou soet wees terwyl ek weg is, Agie," het Moeder gesê. "Ek moet gou vir 'n rukkie winkel toe gaan."

"Ja, Mammie," het Agie gesê, "mag ek my popwaentjie meer in die tuin stoot?" 

"Ja seker," het Mammie gesê. "Totsiens! Mammie sal nie lank wegbly nie."

Mammie is toe daar weg en Agie het haar poppe in haar popwaentjie begin regsit, gereed vir hulle uitstappie in die tuin.

In die tuin was daar vier baie ou appelbome. Hulle staan vir jare en jare al daar. Niemand weet wie hulle daar geplant het nie. Die bome was baie groot - byna so hoog soos die huis en elke jaar was hulle vol appels.

Daardie jaar was die appels almal gepluk en wat nie verkoop is nie, is op die solder gebêre vir die winter. Aan een van die bome was daar 'n paar appels wat nog nie mooi ryp was nie. Hulle was groot, rooi appels, baie sappig en lekker.

Toe Agie onder hierdie boom gekom het met haar popwaentjie, het sy die appels gesien.

"Ek het dan gedink dat Mammie al die appels gepluk het," het sy vir haarself gesê, "sy het hulle seker nie gesien nie."

Toe het sy met die poppe begin praat. "Kyk na daardie heerlike appels," het sy gesê, "is hulle nie mooi nie? Sal baba een wil hê om te eet?"

Deur "baba" het Agie natuurlik haarself bedoel, want hoe meer sy na daardie groot, rooi appels gekyk het, hoe meer het sy een begeer om te eet.

Daar by die bome was 'n baie lang leer en Agie het begin wonder of dit veilig sou wees om op te klim.

"Dit sal seker veilig wees," het sy vir haarself gesê. "Mammie sal niks daarvan weet nie, want ek kan appels mos baie vinnig eet."

Sy het haar een voet op die leer geplaas en toe die ander een. Stadig het sy begin opklim terwyl sy met albei  hande styf vasgehou het. Dit was nie lank nie of sy was by die appels. Toe het sy begin soek na die grootste een wat sy van die grond af gesien het. Ja, daar is hy - en was hy nie mooi nie! Daardie een moet sy hê.

Die appel was 'n bietjie te ver vir haar kort armpie en daarom het Agie die leer met haar een hand gelos en die tak gegryp om die appel nader te trek...toe het sy met haar ander hand ook gelos en probeer om die appel te pluk.

Maar die appel het baie vasgesit en het nie so maklik afgekom as Agie verwag het nie. Miskien was dit omdat dit nog nie mooi ryp was nie. Sy moes baie hard trek en in die poging het sy 'n bietjie te ver vorentoe geleun. Toe die stingel van die appel skielik breek, het Agie haar ewewig verloor en vorentoe in die boom geval. Sy het tussen die takke afgegly en vasgeval in 'n mik van die boom, sowat ses voet van die grond af.
Maar toe moes julle haar hoor skreeu! Natuurlik was die arme Agie halfdood geskrik. Sy was bang dat sy verder sou val en seerkry en ook dat haar Mammie baie kwaad sou wees.

"Mammie! Mammie! Mammie!

Mammie was nog daar in die straat toe sy die geskreeu hoor in die tuin en sy het huis toe gehardloop so vinnig soos sy kon.

Ons kan ons voorstel hoe verbaas sy moes gewees het toe sy een van haar mooi appels op die grond sien lê en 'n ander soort appel daar bo in die boom sien met 'n rooi rokkie aan en twee swaaiende arms en bene.

"Wat op aarde maak jy daarbo in die boom, Agie?" het sy geskree.

"Boe - hoe - hoe!" het Agie gehuil, "haal my af, haal my af!"

Natuurlik het Moeder gou die leer reggesit en Agie grond toe gehelp uit haar ongemaklike posisie.

"Ek is jammer - boe - hoe - hoe!" het sy gehuil. "Ek wou nie die appel pluk nie, ek wou maar net daaraan ruik - boe - hoe - hoe! Mammie sal my nie slaan nie, sal Mammie?"

Mammie het haar nie geslaan nie, want sy was so bly dat sy haar nie dood geval het, maar sy het haar huis toe geneem en vertel van 'n teks in die bybel wat sê "Julle sonde sal julle uitvind".

Agie het baie aandagtig geluister terwyl haar Moeder met haar gepraat het en sy  het baie belanggestel in die verhaal wat sy vertel het van die groot moeilik wat daar ontstaan het toe 'n ander "dogtertjie" 'n heerlike vrug in die Tuin van Eden geneem het.

Toe Mammie klaar gepraat het, het hulle albei neergekniel en Agie het die volgende gebedjie gebid: "Liewe Jesus, ek dank U dat U my bewaar het toe ek van die leer af geval het;  help my om nie weer appels van die boom af te pluk nie en help my altyd om te doen wat Mammie sê en maak my 'n soet dogtertjie. Amen."

Toe het haar Mammie haar 'n soen gegee en hulle het elkeen 'n helfte van Agie se appel wat van die boom afgeval het, geëet,