Wat is Liefde?

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Drie

deur Arthur S. Maxwell

Daar het eendag 'n arme blinde klein seuntjie in 'n kinderhospitaal gekom. 'n Mens kon regtig vir hom jammer voel want sy ouerhuis was 'n vuil kamertjie in die agterbuurtes en sy ouers was dronkaards. Die skoon hospitaal met die skoon bedjie en al die lekker kos wat hy gekry het om te eet, was vir hom soos die hemel. Nog nooit in sy hele lewe het hy so lekker gehad nie.

Jannie - ons sal hom maar so noem want ek onthou nie sy regte naam nie - was musikaal en een van die grootste begeertes van sy hart was om 'n musiekinstrument te hê, al was dit net 'n mondfluitjie; tog het hy nooit durf hoop dat hy so iets sou besit nie. Maar kersfees het spoedig gekom en saam met Kersfees ook verskeie prente vir die kinders in afdeling. Watter vreugde het daar nie geheers nie! Daar was een vir Jannie ook.

Die verpleegster het die lyn losgesnsy en hom toegelaat om die papier af te haal. Jannie se gesig het meteens verhelder met 'n glimlag. "Dit is 'n mondfluitjie!" het hy uitgeroep. "Wie het dit vir my gestuur?"

"Daar is 'n klein briefie hier," het die verpleegster gesê. "Sal ek vir jou lees wat daarin staan? Dis van 'n dogterjie wat graag presente vir die kinders in hierdie hospitaal stuur."

"Ja, asseblief," het Jannie gesê. 

"Hier staan nie veel nie," het die verpleegster gesê. "Net, Met baie liefde."

"Baie liefde," het Jannie ingedagte herhaal. "Wat beteken dit?"

"Weet jy nie wat liefde is nie?" het die verpleegster gevra, terwyl daar trane in haar oë kom. 

"Nee," het Jannie gesê, ek het nog nooit daarvan gehoor nie. Vertel my."

Die verpleegster het vir 'n hele rukkie stilgebly. Wat sou sy sê? Hoe kon sy verduidelik wat liefde is? Sy het nog nooit iemand ontmoet, selfs nie die kleinste ou kindjie nie, wat nie verstaan wat liefde is nie. 

"Weet u ook nie wat dit beteken nie, verpleegster?", 
het Jannie gevra, verwonderd oor sy so lank stil bly.

"O, arme Jannie," het die verpleegster huilend gesê en haar arms om hom gesit en hom gesoen. "Dit is liefde, Kleinman. Ek kan dit nie anders verduidelik nie."

Sy het hom 'n rukkie styf vasgehou en hom weer gesoen. Dit was Jannie wat eerste gepraat het. "Ek hou van liefde," het hy gefluister; "dit voel lekker."

Nog meer trane het oor die verpleegster se wange gestroom, terwyl sy so na die blinde gesiggie kyk wat nou so soet glimlag omdat hy iemand gevind het wat hom liefhet. Toe ek hierdie treurige verhaal hoor, het ek gewonder hoeveel ander daar is, arme klein seuntjies en dogtertjies wat nie weet wat liefde is nie - en ouer mense ook - wat wag dat iemand vriendelik met hulle moet praat, of dat iemand aan hulle moet goed doen sodat hulle ook kan weet wat liefde is. 

Miskien is daar sulke onbeminde mense naby jou. Sal jy  nie bietjie by die skool rondkyk nie? En miskien by die huis ook? Pappie en Moeder verlang ook na meer liefde.