Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Waarom Marie weer moed geskep het
"Dit help tog nie," het Marie gesê, terwyl sy haar boeksak op die kombuistafel neergooi, "ek sal nooit weer probeer nie."
"Wat makeer dan nou, Marie?" het Moeder gevra. "Jy was so opgeruimd to jy vanmore skool toe is."
"Miskien was ek," het Marie troosteloos gesê, "maar nou is ek nie."
"Maar hoekom dan?"
"Die eksamen-uitslae is vandag bekendgemaak, en ek staan weer twaalfde; en ek wou so graag hierdie keer eerste gewees het."
Marie het nou droewig begin huil.
"Ag, moenie so neerslagtig wees nie," het Moeder gesê, "dit kon baie erger gewees het; jy kon miskien heeltemal laaste gestaan het, en dit sou vreeslik gewees het, nie waar nie?"
"Ja, dit sou seker," het Marie gesê, "maar ek kom nooit verder as twaalfde nie, en ek probeer so hard. Ek het nog nooit 'n prys gekry nie, en sal seker ook nooit nie. Ek is 'n domkop, dit is wat ek is, en ek sal nooit iets in die wêreld word nie."
"Nee wat, Marie, jy sal nog presteer. Daar is onderwerpe waarin jy byna vol merke het. Nou die dag het jy dan vyf-en-negentig persent vir somme gekry. Jy behoort baie bly te wees daaroor."
"Ek is bly oor niks," het Marie gesê.
"Nou sal ek jou 'n storie vertel," het Moeder gesê. "Jy het seker al gehoor van Mnr. Baldwin, gewese Eerste Minister van Engeland?"
"Ek weet nie," het Marie gesê.
"Wel, toe hy as seun die toelatingseksamen by die beroemde seunskool, Harrow, geskryf het, het hy gedruip."
"Het hy?" het Marie gevra.
"Ja, hy het," het Moeder gesê. "En nog 'n seun wat saam met hom gedruip het, was Freddie Smith. Toe hy groot was, het hy Lord Birkenhead geword, seker een van die slimste advokate van sy dae."
"Miskien is daar nog hoop vir my," het Marie gesê met so 'n flou glimlaggie.