Waarom Jack laat was

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell

Dit was 'n heerlike wintersnamiddag. Die wêreld was wit gekapok, maar daar was geen wind nie. Jack het besluit om 'n bietjie in die rigting van die meer te gaan wandel. Harry en Kenneth wou ook saamgaan. 

"Sorg dat jy om vyfuur terug is, Jack," het sy Moeder gesê toe hy daar weg is. "En moet asseblief nie op die ys gaan loop nie, want dit is nog nie veilig nie."

"Goed, Moeder," het Jack gesê toe hy en sy twee vrirende wegstap. Baie gou het hulle die dorpie agtergelaat en was hulle onderweg na die meer. 

"Ek wonder hoe dik die ys al is," het Kenneth gesê. "Ek sou reken omtrent twee duim," het Jack gesê. 

"Ons sal nog 'n hele week se koue weer moet hê voordat ons op die meer sal kan skaats."

"Ag, bog," het Kenneth gesê. "Ek sal glad nie verbaas wees as ons vanmiddag al daarop kan skaats nie."

"Miskien," het Harry gesê, "maar die moielikheid is dat 'n mens nooit kan weet juis waar die ys mag breek nie."

"In elk geval," het Jack gesê, "ons sal nie vanmiddag tyd hê om te probeer nie, want ek moet om vyfuur tuis wees. Ons sal net tyd hê om 'n bietjie rond te kyk, en dan sal ons moet terugstap."

"Ag nee wat," het Kenneth gesê. "Ek wil nie net gaan kyk nie; ek wil skaats ook. Wat help dit om daarheen te stap en dan sommer weer terug te kom."

"Maar dit was tog ons afspraak voor ons by die huis weg is," het Jack gesê. "Ons sal eers oor 'n week kan skaats."

"Ons sal sien wanneer ons daar kom," het Kenneth gesê. Toe hulle by die meer kom, het Kenneth sommer dadelik op die ys gestap.

"Wees versigtig Ken," het Jack gewaarsku, "jy weet die ys is nog te swak om jou gewig te dra."

"Ag, bog," het Ken gesê. "Dit is heeltemal veilig. 

"Kyk, dit is so hard soos 'n rots hier tien voet van die kant af."

"Dit mag wees, maar wat van dieper in-"

"Ag, kom aan," het Ken geroep. "Dis heerlik hier op die ys. Ek is al twintig tree in, en alles is nog solied."

"Nee," het Jack vir hom geskreeu, "ek kom nie in nie. Dis te gevaarlik. Jy waag baie. En wat meer is, ek het vir Moeder beloof"

Kenneth het hom uitgelag, en toe het hy geroep, "Kom jy dan Harry?"

"Nee, dankie," het Harry geantwoord. "Ek sal liewer nie. En ek het ook vir Moeder beloof."

"Ha, ha, ha!" het Kenneth hulle uitgelag. "Mammie se ou seuntjies." En toe skielik het hy geskreeu, "Help! Help! die ys gee mee."

Die twee seuns het die geluid van brekende ys gehoor. Kenneth het geprobeer om terug te spring, maar hy was te laat, en binne 'n oomblik het hy in die water rondgespartel.

"Help! Help! het hy geskreeu, "ek gaan onder!" jack het na Harry gekyk. Wat moes hulle nou doen?

Sonder om te praat het hulle op die ys gestap en versigtig gegaan na waar Kenneth in die water gespartel het. "Laat ons altwee plat gaan lê; ek sal eerste gaan; hou jy aan my enkels vas."

Versigtig het Jack op sy maag vorentoe geseil na Kenneth terwyl Harry sy enkels vashou.

"Gee my jou hand, Ken," het Jack gesê, en hy het sy hand uitgesteek, "en probeer dan om uit te spartel. Harry hou my aan die bene vas."
Eindelik het hulle daarin geslaag om Kenneth weer op die vaste ys te kry. Hy het gebibber van die koue, en hy was doodsbleek soos hy geskrik het. Hy was natuurlik sopnat. 

"Jy moet dadelik huis toe hardloop," het Harry gesê, of jy sal 'n vreeslike koue vat."

"Ek durf nie," het hy terurig gesê; "ek ook het Moeder belowe."

"Maar jy moet," het Jack gesê. "Jy sal long ontsteking kry in daardie nat klere."

"Hoor julle dan nie, ek durf nie," het Kenneth  beteuterd gesê, terwyl sy tande geklap het van die koue. 

Jack en Harry het na mekaar gekyk. Toe het hulle Kenneth se nat baadjie en hemp uitgetrek, en van hulle eie droë klere vir hom aangetrek. Dig teen mekaar om warm te bly, het hulle vinnig huis toe gestap. 

Dit was al lank na vyf. Toe Jack so lank wegbly, was Moeder eers kwaad, en toe het sy onrustig geword. Sy was spyt dat sy hom ooit na die meer laat gaan het. Daar was al baie ongelukke. Om tien voor sewe het sy besluit om die polisie op te roep. Maar juies toe het sy die agterdeur stil hoor oopgaan; dit was Jack. Toe was Moeder baie kwaad. 

"Jou stoute kind," het sy driftig gesê. "Jy het my belowe om vyfuur terug te wees en dis nou byna sewe-uur. Ek wou net die polisie oproep. Doen jy dit ooit weer, meneertjie. En nou sal jy reguit bed toe gaan sonder kos."

Jack het niks gesê nie, en hy het gehoop dat sy Moeder nie sou opmerk dat hy nie sy jas en serp aan het nie. Hy het dadelik na sy kamer gegaan, en baie gou was hy in die bed. Hy het nie omgegee om te gaan slaap nie, maar hy was baie honger. Wel, om die waarheid te sê was hy te honger om te slaap.

So omstreeks halftien het iemand getelefoneer. Jack het geluister, en hy het sy moeder hoor praat. 

"Ken se Moeder sê u?"...Nee, wat het gebeur? Het jy? Hy het regtig?...O, maar dit is wonderlik. Jack het my nie 'n woord daarvan gesê nie...En om te dink dat ek hom sonder kos bed toe gestuur het!...Wel, verskoon my nou. Ek is so bly dat Ken veilig is, maar ek moet gou na Jack toe gaan."

'n Oomblik later was Moeder in jack se kamer. Jack het kamma gesnork. 

"Jack, jack!, word wakker. Ken se Moeder het my nou net vertel. Ek is so trots op jou. Ek is baie jammer dat ek jou sonder kos bed toe gestuur het." 

"Wat omtrent kos?" het hy gevra, kamma nog so half aan die slaap. 

En wat 'n ete het sy Moeder vir hom daardie aand berei!