Waarom die verskil?

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell

Peter, Paul en Philip was min of meer dieselfde ouderdom; hulle was ewe groot en het naby mekaar gewoon. Hulle het saam groot geword, saam gespeel, en saam skool toe gegaan. Toe hulle groot was, het hulle besluit om iets te doen om hulle land te help; hulle is toe na die dokke om te gaan werk soek. 

Die bestuurder daar het van hulle gehou en hy het hulle in diens geneem. Hulle het dieselfde soldy ontvang. Nadat hulle vir 'n paar weke daar gewerk het, het hulle Vaders eendag gesels.

"Hoeveel verdien jou seun?" het Peter se Vader gevra. "Twintig dollars per week," het Paul se Vader geantwoord. "Dis glad nie sleg vir 'n beginner nie, en hulle het hom nou vyf dollars verhoging gegee. Wat kry Peter?"

"Ek wil amper nie sê nie," het Philip se Vader geantwoord, en hy het sommer baie ontevrede gelyk. "Ek sou graag wil weet waarom hy minder kry, dis glad nie regverdig nie. Ek wonder wat Philip kry?" 

"Ek wil amper nie sê nie," het Philip se Vader geantwoord. "Hy het ook 'n verhoging gekry wat hom nou op vyf-en-twintig dollars per week bring."

"Vyf-en-twintig dollars!"het Peter se Vader uitgeroep, en hy was nou sommer baie kwaad. "Dis 'n mooi grap," het hy gesê, "en Peter kry maar vyftien! Ek sal die bestuurder more gaan vertel wat ek van hom dink."

Peter se Vader het 'n afspraak met die bestuurder gemaak om hom tienuur die volgende more te spreek. Hoe langer hy gewag het, hoe kwater het hy geword oor die onregverdigheid, en hy het aan vreeslike dinge gedink wat hy aan daardie bestuurder gaan sê.

Maar die bestuurder het geraai waarom hy gekom het. "U kom seker uitvind waarom u seun maar vyftien dollars per week kry terwyl die ander twee seuns uit u buurt al verhogings gekry het? het hy gesê.

"Ja, dis presies waarom ek gekom het," het Peter se Vader gesê. "Ek dinks dis 'n-"

"Toe maar, moenie sê wat u dink nie," het die bestuurder gesê. "Hoe lank kan u hier vertoef?" 

"Solank as wat dit nodig is om geregtigheid te laat geskied," het Peter se Vader geantwoord.

"Wel, dit mag 'n uur of twee neem," het die bestuurder gesê. "Kom sit hier, maar moenie laat die seuns jou sien nie, en kyk dan wat gebeur."

Peter se Vader was heeltemal uit die veld geslaan, en hy kon niks anders doen as om te gehoorsaam nie. Hy het gaan sit waar hy kon sien wat in die kantoor gebeur, maar sodat hy self nie gesien kon word nie. Die bestuurder het Peter ontbied. Met sy hande in sy broeksakke het Peter daar ingeslenter gekom. 

"Daar kom nou net 'n skip die hawe binne," het die bestuurder saaklik gesê. "Gaan kry al die besonderhede, en kom rapporteer binne 'n halfuur."

"Goed," het Peter gesê, en hy is daar weg. 

Die tyd het verbygegaan, en Peter se Vader het gewonder watter soort rapport Peter sou terugbring. Hy was vreeslik ontstel toe die halfuur op was en daar nog geen teken van Peter was nie. Dit het vir hom gelyk of die seun heeltemal vergeet het van sy opdrag. 

Toe het die bestuurder vir Paul laat roep. Die seun het ingekom en op aandag voor die bestuurder se lessenaar gestaan. 

"Daar het 'n skip ingekom wat enige oomblik aan die kaai sal wees," het die bestuurder gesê, "gaan kry volle besonderhede vir my, en kom binne 'n halfuur terug."

Die tyd het verbygegaan, maar voor die halfuur op was, was Paul terug. 


"Die skip het nou net vasgemeer meneer," het hy gesê. "Dit is 'n groot skip, en baie swaar gelaai."

"Is dit al?"

"Ja, dis al, meneer."

Toe het die bestuurder vir Philip laat roep. "Goeiemore, meneer," het Philip gesê toe hy binnekom. "Meneer het my laat roep?"

Die bestuurder het toe dieselfde opdrag aan Philip gegee, en gesê dat hy dadelik moes terugkom wanner hy alle besonderhede het. Philip was binne twintig minute terug, en die bestuurder het aan hy gesê: "Wel, wat het jy uitgevind omtrent die skip?"

"Dis 'n tienduisend ton vragskip, meneer. Dit is van Kaapstad in Suid-Afrika met 'n groot lading lemoene en ander vrugte. Sowat 'n honderd manne is reeds besig om af te laai. Die kaptein is van plan om binne een week weer uit te vaar. Daar is 'n paar dingetjies aan die radio, en in die masjienkamer wat reggemaak moet word."

"Dankie, Philip," het die bestuurder gesê, "dis al."

Toe het die bestuurder aan Peter se Vader gevra: "Wil u nou nog weet waarom Peter minder kry as die ander twee seuns?"

"Nee, glad nie," het Peter se Vader gesê. "Maar ek sou graag wou weet waar Peter is, en waarom hy nog nie terug is nie."

"Ek sou dit ook graag wil weet," het die bestuurder gesê. "Miskien kan u 'n bietjie ondersoek gaan instel na waar die fout skuil."

"Laat dit maar aan my oor," het Peter se Vader baie beslis gesê. "Ek sal my aandag aan hom skenk." 

En hy het ook.