Waagstukke vir ander

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell

Mense wat hulle lewe waag net om hulleself te verheerlik, word waaghalse genoem , maar niemand sal mense wat hulle lewe waag vir ander waaghalse noem nie. Sulke mense word gewoonlik helde of heldinne genoem.

Wat sou julle hiervan dink? 

Luister.

'n Vrou het nou die dag aan my geskryf en gesê dat sy die dapperste seun in die hele wêreld ontmoet het. 

Sy was met vakansie by een van daardie strandoorde in die noorde van Engeland. Toe sy een namiddag weer gaan swem het, het sy skielik in diep water in die moeilikheid geraak. 

"Hoe meer ek gespartel het," het sy gesê, "hoe verder is ek die see ingevoer. Om die een of ander rede het die ander baaiers nie my hulpgeroep gehoor of gemerk dat ek in die moeilikheid was nie. Ek het vreeslik benoud geword, en toe, met 'n stille gebed tot ons hemelse Vader wat elke noodkreet hoor, het ek weer geroep om hulp."

Op daardie oomblik het ek 'n jong seun gesien wat na my toe swem. Hy was seker nie ouer as twaalf jaar nie; hy het my aan die arm gegryp en geprobeer om my kant toe te trek. Eindelik het hy uitgeput geraak, maar van die ander het ons gevaar gesien en ons te hulp gesnel sodat ons albei veilig aan wal gebring is. 

Later het ek verneem dat dit die eerste maal was dat daardie seun dit in die see gewaag het; hy het voorheen altyd in die veilige poele geswem. 

Sy naam? Nee, dit ken ek nie. Ek verstaan dat hy sommer daar onder die mense verdwyn het, nog voordat die dame kon dankie sê.  Hy het sy lewe gewaag om iemand anders s'n te red - iemand wat hy nie eens geken het nie. Omdat hy so onselfsugtig en nederig was, kan ons nie anders as om hom lief te hê nie. Ons wens ons kon hom 'n handdruk gee, en sê: "Mooi so ou seun, dit was baie dapper van jou!"

Hier is nog 'n storie, maar hierdie keer oor 'n dapper meisie.  Sy woon in een van die kusdorpies naby Londen. Eendag het sy gaan wandel met 'n vriendinnetjie wat 'n baba in 'n kinderwaentjie gestoot het. 

Die twee dogters was baie gelukkig, want hulle het graag die kinderwaentjie daar op en af gestoot. Dit was 'n winderige dag en die see het groot branders gemaak. Kort-kort het die twee teen die reëlings gestaan en kyk na die groot branders at teen die strand geklots het. 

En toe het daar 'n vreeslike dinge gebeur. Vir 'n oomblik - net vir 'n oomblik - het hulle die kinderwaentjie gelos!
Skielik het 'n vlaag wind dit gegryp en oor die seemuur gewaai. Met 'n groot plas het dit in die water geval. Die twee meisie het die steilte af gehardloop - Bella, die oudste was voor. Sonder om vir een oomblik te dink, het sy in die see gespring en die waentjie geryp, en toe het sy die baba gegryp. 

Sy kon nie terug nie, want die water het haar ingetrek, en daar het sy met die baba gespartel om bo water te bly. Intussen het die kinderwaentje al verder weggedryf. Teen daardie tyd het 'n man in die nabyheid haar gevaar gesien. Hy het ingespring en Bella en haar baba veilig aan wal gebring. Hoe dapper was Bella? Sy het haarself vergeet en aan ander gedink. Hierdie daad van haar sal oor die hele wêreld vertel word. 

En hier is 'n storie omtrent 'n brand: In 'n dorp in die suide van Engeland was twee kinders van agt en twee jaar onderskeidelik, alleen in die huis; hulle moes na 'n baba van agt maande kyk. Hulle ouers sou vir 'n rukkie weg wees om vriende te gaan ontmoet. 

Twee ander kinders - een nege en een vier jaar oud - het by hulle kom speel. Vir 'n tydjie het hulle almal lekker saamgespeel, en toe, vir een of ander rede, het die ligte uitgegaan. William, die oudste seun van agt jaar het twee kerse gebring en hulle opgesteek. Die een kers het omgeval en die rusbank aan die brand gesteek. 

Baie gou was die hele rusbank aan die brand. William, en Cyril die negejarige seun, het geprobeer om die vlamme met hulle kaal hande dood te slaan. Hulle hande het natuurlik verbrand, en die vlamme het voortgewoed. Toe William die gevaar besef, het hy uitgeroep, 'Ons moet die ander red.'

Hy het die baba gegryp en uitgehardloop; daar het hy hom aan iemand oorhandig, en toe is hy weer die huis in en met die trap op om sy sustertjie te gaan haal. Cyrl het sy eie klein broertjie uitgedra. 

Teen daardie tyd het die mense in die hele straat die brand gesien. Hulle het die brandweer ontbied, en met die gelui van hulle klokke het die masjiene aangestorm gekom. Onderweg terug het Vader en Moeder die vlamme deur die vensters van hulle huis gesien, en ook die brandweermanne, en hulle het die ergste gevrees. 

"Daar is vyf kinders in daardie huis!" het hulle geskreeu. "Sal iemand hulle nie red nie?"

Maar hulle het nie geweet dat die kinders alreeds gered was deur twee van die dapperste brandweermannetjies nie. Dit was 'n kordaatstuk van daardie twee seuns, was dit nie? 

Hoewel ons dus nooit ons lewe moet waag net om ons eiewaan te streel nie, moet ons altyd gereed wees, as die omstandighede dit vereis, om dit vir die redding van ander te waag. Dit is wat Jesus gedoen het, en Hy verwag dat ons dit ook sal doen. Toe Hy op die aarde gewoon het, het Hy gesê: "Elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soo die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy siel te gee as 'n losprys vir baie." MATT 20:28. "Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee." JOH. 15:13