Voordat die vuur doodgegaan het

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)


Oom Attie se Slaaptyd stories


Deel Drie

deur Arthur S. Maxwell

Hier is nog 'n ware verhaal van die Here se getrouheid aan Sy behoeftige kinders. Hoe waar is dit nie dat al gaan ons deur moeilike tye, Hy ons tot hulp sal kom as ons net aan Hom vashou!

Lettie het saam met haar Mammie in een kamer van 'n losieshuis in die stad gewoon. Hulle was baie arm en Mammie moes elke dag gaan vloere skrop om geld te verdien om die huur te betaal en om kos en klere te koop. Sy het hard gewerk, te hard eintlik, sodat sy eendag siek geword het.

Sy kon Lettie na een van die inrigtings gestuur het wat arm mense help, maar om die een of ander rede het sy nie gevoel om dit te doen nie. Voordat haar man dood is, was hulle taamlik welgesteld en nou wou sy nie hê iemand moes weet hoe arm hulle was nie.

Dag na dag, terwyl sy in die bed gelê het, te swak om op te staan, het sy al hoe meer bekommerd geraak oor die toekoms. Die geldjies wat sy gespaar het deur ander mense se huise skoon te maak, het al minder en minder geword totdat alles nou op was.

"Moenie bekommer nie, Mamma," het Lettie aan haar gesê. "Die Bybel sê 'Sy brood word hom gegee, sy water is gewis' (Jes. 33:16) en ek is seker die Here gaan ons help voordat dit te laat is. Daar is nog so 'n klein bietjie kos oor en darem ook nog bietjie steenkool vir vuur."

"Ek weet Lettie, maar dit word min en netnou  is alles op. Ag, as ek tog maar net kon opstaan om te gaan werk!"

Maar dit was onmoontlik en elke dag het die kos en die steenkool al hoe minder geword.

Eindelik was dit Saterdagaand, koud en bleek. 'n Yskoue wind het by die vensters gehuil, terwyl kapok neerdwarrel op die ruite en op die sypaadjies wat had geys was. In die kamer het Lettie langs Mammie se katel gesit wat sy oor die kamer geskuif het tot by die stoof. Deur die gleufies het die laaste kole van die vuur wat sy 'n uur gelede gemaak het, gegloei. Die steenkool was op. In die spen was niks.

"Ek is nou nog seker die Here gaan ons nie in die steek laat nie," h et Lettie gesê, alhoewel sy baie terneergedruk gevoel het.

Mammie het haar tjalie digter om haar skouers getrek om tog die hitte te probeer inhou. "Lees asseblief weer vir my," het sy gevra.

Lettie het weer haar Bybel geneem en begin lees waar sy laas opgehou het, in die elfde hoofstuk van die boek Markus. In haar helder kinderstem  hoor sy haar die volgende woorde lees: "Daarom sê Ek vir julle: alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit ontvang en julle sal dit verkry. (Vers 24)

Lettie het opgehou. "Mamma," het sy uitgeroep, "het Mammie daardie woorde gehoor? 'Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit ontvang en julle sal dit verkry'. En dit is Jesus self wat hier praat. Is dit nie wonderlik nie? Miskien het ons nog nie genoeg geglo nie."

"Miskien het ons nie, al het ek baie probeer," het Mammie saggies gesê.

"Sal ons nou weer bid, Mamma?"

"Ja, as jy wil, kind."

"En ons gaan regtig glo dat Jesus iets vanaand nog gaan doen om ons te help."

"Ja," het Mammie - wat wens dat haar geloof so sterk soos Lettie s'n was - gesê.

Lettie het langs haar Mammie se bed neergekniel en begin bid. Dit is wat sy gesê het: "O dierbare Vader in die hemel, U het beloof en ons glo. Stuur ons asseblief steenkool en kos vanaand nog, as dit U wil is. En stuur dit voor die vuur doodgaan, want U sien ons is koud en wil sterf van die honger. Om Jesus ontwil, Amen."

Lettie het van haar knieë af opgestaan, weer haar Bybel geneem en verder in die boek van Markus gelees. 'n Halfuur het verbygegaan. Nog het sy gelees, net af en toe 'n vraag gevra of op haar kinderlike manier gesê hoe sy iets verstaan.

Skielik het hulle die voordeur van die huis hoor oopgaan en swaar voetstappe kom in die gang af. Hulle gaan staan. Toe roep 'n harde stem "Woon mev. Marais hier?"

Mammie het regop in die bed gesit en gebewe van die skrik. "Wie kan dit wees?" het sy saggies gefluister.

Weer roep die stem "Woon mev. Marais hier?"

"Gaan maak die deur saggies oop en loer versigtig uit. Ek dink ek ken die stem," het Mammie gesê.

So stil as wat sy kon, het Lettie die deur gaan oopmaak, net op 'n skrefie, en uitgeloer. Toe skreeu sy van blydskap en ruk die deur wawyd oop.

"Oom Tom!" het sy uitgeroep, "ons het gehoor Oom het verdrink in die see!"

Dronkgeslaan het Oom Tom nadergekom en die armoedige kamertjie binnegegaan. Hy was 'n lang ruk weg oorsee.

"My arme mense!" het hy uitgeroep en sy arms om sy suster en Lettie geslaan. "Wat het julle oorgekom dat julle so leef? Ek gaan nou dadelik kos en steenkool haal. Julle lyk amper dood van die honger en koue."

"O Tom!" het Mammie uitgeroep, "jy het net betyds gekom om 'n klein dogtertjie se gebed te verhoor."

"Ja kyk," het Lettie uitgeroep, "kyk Oom Tom, dit brand nog. Die Here het Oom  gestuur voordat die vuur doodgegaan het."

 
"E