Vlek se nuwe halsband

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Een

deur Arthur S. Maxwell

Vlek was sommer 'n gewone steekhaarbrakkie, maar hy was baie na aan Bobbie se hart. Van die dag af dat Pappie hom huis toe gebring het as klein hondjie en as verjaarsdaggeskenk aan Bobbie gegee het, was die twee die grootste vriende.

As Bobbie natuurlik 'n boetie of 'n sussie gehad het, sou hy miskien nie so baie van Vlek gehou het nie, maar daar hy die enigste kind was, het Vlek al die liefde gekry wat hy gehad het.

Hulle het heerlik saamgespeel en Bobbie het vir Vlek allerhande kunsies geleer en hom soos 'n goeie hond moet te gedra. Hy het hom selfs geleer om die kat te verdra en dié toe te laat om in sy hok te kom.

Maar toe het daar eendag 'n baie treurige ding gebeur: Vlek het eenvoudig verdwyn. Hy was weg en niemand het geweet waar hy was nie. Toe Bobbie van die skool af kom, het hy die nuus gehoor en 'n verskriklike vrees het sy hart beetgepak.

Vlek weg! Dan is hy seker deur 'n motor omgery en gedood, soos so baie, baie arme klein hondjies in hierdie dae van jaagduiwels. Maar daar was niemand wat geweet het van 'n ongeluk in die buurt nie.

Miskien het iemand die hond gesteel. Maar hoe en wanneer? En waarom sou iemand so 'n doodgewone ou hondjie soos Vlek steel?

Arme Bobbie was troosteloos. Hy is op en af in die strate om by die bure te verneem of hulle nie sy hondjie gesien het nie, maar almal  het dieselfde antwoord gehad. Hulle was baie, baie jammer, maar hulle het nie sy hond gesien nie.

Ewe mistroostig het die seun daardie aand tuisgekom. Hy het myle geloop en gevra en gesoek, maar tevergeefs.

"Moet jou nie so verknies daaroor nie, miskien sal hy more vroeg tuis wees," het Mammie gesê.

Bobbie het so gehoop, maar toe hy vroeg die volgende more na die hok is, was Vlek nie daar nie.

"Waar sou hy kan wees?" het Bobbie homself hierdie vraag tot vervelens toe gevra. "En hy sal doodgaan van die honger sonder my om hom kos te gee. Hier staan sy kos nog net so."

Die hele dag lank het Bobbie hom bekommer oor sy hond en daardie aand - toe daar nog geen teken van Vlek was nie - was hy op die randjie van trane.

"Is daar niks meer wat ons kan doen nie, Mamma?"

"Ek is bevrees daar is niks meer nie. Miskien kan ons bid en Jesus vra om ons te help om  hom te vind."

Nog nooit het Bobbie so hard en so ernstig gebied as daardie aand nie en die volgende dag het hy 'n baie vreemde ding gedoen. Heeltemal alleen - en sonder om Mammie daarvan te vertel - het hy sy geldbussie oopgemaak en al sy spaargeld uitgehaal en daarmee is hy weg op 'n geheimsinnige sending.

Later het hy teruggekom, by die agterdeur in, maar hy het hom teen Mammie vasgeloop.

"Maar Bobbie, waar was jy? En wat op aarde het jy daar? So 'n pragtige halsband en ketting..."
Bobbie het gebloos en sy oë het vol trane geskiet. Met sy betraande oë het hy opgekyk na Mammie en saggies gesê "Ek het dit vir Vlek gekoop."

"Vir Vlek!" het Mammie uitgeroep, "maar arme Vlek is dan weg en wie weet....."

"Maar Mamma," het Bobbie half verwytend gesê, "ons het dan vir Jesus gevra om hom terug te stuur, het ons nie?"

"Ja, ek weet ons het, maar sê nou...."

"Mammie, ek glo dat Jesus my gebed sal verhoor en my hondjie sal terugstuur. En ek het nou al my spaargeldjies uitgegee om hierdie ketting en halsband te koop sodat Jesus kan sien dat ek waarlik glo dat Hy Vlek weer sal terugstuur."

"Ag my liewe ou seuntjie!" het Mammie uitgeroep. Sy het Bobbie omhels en haar groot trane het langs sy nek afgeloop. "Natuurlik sal Jesus hom nou moet terugstuur, daarvan is ek seker. Hy kan eenvoudig nie anders nie."

"Ek weet Hy sal," het Bobbie gesê met die geloof van 'n kindjie.

'n Week het verbygegaan, twee weke, drie weke, vier weke....vyf weke - vyf volle weke!

Mammie het geen hoop meer gehad nie. Pappie was reeds van plan om vir Bobbie 'n ander hondjie te koop en selfs Bobbie se geloof het begin wankel.

En toe - vroeg een more - is Bobbie wakker gemaak deur 'n baie bekende geluid. Dit was die geblaf van 'n hond - sommer daar onder sy venster.  Blitsvinnig het hy opgespring en die trap afgehardloop.

Ja waarlik - dit was Vlek! Hy het huis toe gekom. O, die blydskap!