Vertel Altyd vir Moeder

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Slaaptyd stories
Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell

Dit is 'n skoolverhaal en dit is van 'n dogtertjie genoem Bes, wat na 'n skool gegaan het naby die plek waar ek woon. Ek glo nie julle sal haar ken nie, maar dit maak ook nie saak nie.

Bes het in 'n mooi huis gewoon saam met haar Pappie, Mammie en twee broertjies. Bes het haar Pappie en boeties baie liefgehad, maar sy het haar Mammie liewer as hulle almal gehad. Sy was Mammie se beste helper. Sy wou maar altyd iets doen en wanneer sy van die skool af tuisgekom het, het sy altyd gevra "Is daar iets wat ek kan doen Mammie?" En dan het hulle saam gewerk; dit was skottelgoedwas, afstof en soms stryk ook, want Bes kon al goed sakdoeke stryk. En terwyl sy werk, het sy Mammie alles vertel wat by die skool gebeur het.

Bes het nooit iets vir haar Ma weggesteek nie. Sy het alles vertel, al was dit ook soms dinge teen haarself - dat sy in die hoekie moes staan omdat sy te veel gepraat het! Dit het by haar 'n gewoonte geword om Mammie alles te vertel wat aangaan en Mammie het graag geluister, want dit het haar altyd laat dink aan die dae toe sy nog skoolgegaan het; en dan ook het dit haar 'n kans gegee om Bes goeie raad te gee.

Eendag het daar 'n nuwe meisie na die skool gekom, haar naam was Bettie. Sy was parmantig en het sommer dadelik die lewe begin moeilik maak vir die onderwyseres. Sommige van die meisies het van haar gehou omdat sy onafhanklik was en dit was ook nie lank nie, of Bettie het leidster geword van die groep wat graag verkeerde dinge aangevang het. Sy het altyd vir iemand 'n poets gebak, sommige nie te mooi nie, en die stories wat sy die meisies vertel het, was nie altyd goed nie.

Bes het haarself ook aangetrokke gevoel tot hierdie lewenslustige nuweling. Sy het gehou van 'n grap, net soos alle ander meisies, maar sy het nie gou vriende gemaak nie. Dan was daar ook iets omtrent Bettie waarvan Bes nie gehou het nie. Sy kon nie eintlik sê presies wat dit was nie, maar daar was darem iets.

"Luister, julle meisies," het Bettie een namiddag gesê, "kom na die hoek van die speelgrond toe, ek het 'n baie mooi storie om julle te vertel. Julle sal sommer lekker lag."

Die kinders het toe almal gehardloop na Bettie se geliefkooste hoek van die speelgrond.

"Nou, voor ek julle vertel," het Bettie gesê, "moet julle my almal iets beloof."

"En wat is dit?" het die ander gevra.

"Dit is dat julle hierdie storie nie tuis moet vertel nie; julle moet belowe om nie julle Ma's te vertel nie."

"Goed," het sommige van die meisies gesê.

"Belowe julle almal?" het Bettie gevra terwyl sy so na die meisies kyk.

"Nee," het Bes geantwoord," ek sal dit nie belowe nie."

"En waarom nie?" het Bettie uit die hoogte gevra.

"Omdat ek my Mammie liefhet en haar alles vertel," het Bes onverskrokke geantwoord, alhoewel sy baie bleek geword het.

"Ag, siestog, Mammie se ou dogtertjie!" het Bettie haar gespot. "As jy so 'n baba is, kan jy sommer dadelik huis toe gaan; dink julle nie ook so nie, meisies?"

"Ja," het al die ander geantwoord.

Arme Bes het gebloos en daar het trane in haar oë gekom, maar sy het palgestaan vir wat sy gedink het reg was en sonder om verder te praat, het sy van die speelgrond weggestap. Sy het die ander meisies hoor lag en sy het geweet dat dit vir haar was, maar sy het aangestap huis toe sonder om ooit om te kyk.

Sommer dadelik het Mammie geraai dat daar iets verkeerd was en sy het Bes gevra om haar daarvan te vertel. Mammie was baie bly dat sy so gehandel het en sy was hoogs tevrede met haar dogtertjie.

Maar die beste ding het die volgende oggend gebeur. Toe het die posbode 'n briefie gebring van van die onderwyseresse en dit het so gelui:

"Ek het alles gesien en gehoor wat gister op die speelgrond gebeur het. Ek is seker dat Bes u alles vertel het, maar ek het gevoel dat ek aan u moet skryf en sê hoe trots ek op haar is dat sy nie bang was om te handel soos sy wel gedoen het nie - dit was die regte ding. Sy was regtig 'n heldin."

Mammie en Bes was vreeslik bly en hulle het so rondom die tafel gedans dat hulle byna die melkbeker omgegooi het.

Om die dam Perderoete