Van Tjankbalie tot Helper

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Slaaptyd stories
Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell

Klein Georgie het maar altyd gehuil. Hy was een van daardie seuns wat huil as mens net na hom kyk. Miskien moet ons die rede daarvoor soek in die feit dat hy nog nie ses jaar oud was nie. Hy was maar nog 'n baba, alhoewel hy hom verbeel het dat hy 'n grootman was soos sy Pappie. Sy suster het hom "tjankbalie" genoem, maar dit het hom kwaad gemaak en meer laat huil.

Niemand sou eintlik omgegee het as Georgie maar net gehuil het nie, maar dit was die lawaai wat hy gemaak het wat die mense nie kon verdra nie. Wanneer hy begin tjank, het die bure seker gedink dat iemand vermoor word. Want George het nie op die gewone manier gehuil nie, dit was sommer 'n baie groot lawaai. Dit was "Boe-hoe-hoe-h-o-e-e-e ... Ja-h-a-a-a-a," wat al harde geword het tot hy nie meer kon skree nie. Dit was regtig 'n vreeslike lawaai wat hy gemaak het.

Klein George kon sommer in 'n oomblik sy geskree begin, sonder die minste waarskuwing. 'n Mens kan sê dat huil by hom tweede natuur was, dit was so natuurlik soos om sy kos te eet. As alles nie toe gegaan het soos hy dit graag wou hê nie, het hy begin huil.

As hy nie sy kouse in die oggend kon kry nie, dan het hy begin "Boe-hoe-hoe-hoe". As Mammie nie dadelik kom wanneer hy haar wou hê nie, dan was dit weer "Boe-hoe-hoe-hoe". Wanneer hy homself seergemaak het, dan was dit eens so erg "Boe-hoe-hoe-hoe". En moenie praat wanneer hy 'n pak kry nie - dan moes julle die geskree hoor!

Beide Mammie en Pappie het gewonder wat hulle kon doen om Georgie die gehuil af te leer. Slaan het nie gehelp nie, dit het alles net erger gemaak. Georgie het op almal se senuwees gewerk. Iets moes gedoen word. Toe het hulle oor 'n plan gedink en Georgie geroep om sake met hom te bespreek.

"Georgie," het Pappie gesê, "wat wil jy die graagste in die hele wêreld hê?"

"O, 'n motorkar," het hy gesê sonder om nog eers te dink.

"Dit klink interessant. Ek sou ook graag 'n motor wil hê, maar ek kan nie een bekostig nie," het Pappie gesê.

"Sal Pappie vir my een koop?" het Georgie gevra, want hy het gevoel dat dit nou sy kans was en hy het nie gedink aan Pappie se armoede nie. "Maar dit moet 'n egte motor wees, een wat kan 'loop'. En dit moet 'n toeter en lampe hê en ' n deur wat mens kan oopmaak."

"Wat sal jy my vir een gee?" het Pappie toe gevra.

Dit was iets nuuts vir Georgie. "Vir Pappie gee?" het hy peinsend gevra, terwyl sy oë geglinster het van verwagting. "Ek sal Pappie my bal en my prenteboeke en al die geld gee wat in my spaarbussie is."

"Ek is bevrees dit sal nie genoeg wees om 'n motor mee te koop nie, ek wil nog iets hê, Georgie."

"Wat is dit Pappie?"

"Ek wil hê jy moet my iets belowe."

"O dis maklik, wat moet ek vir Pappie belowe?"

"Dit sal nie so maklik wees nie," het Pappie gesê.

"Wat is dit?"

"Ek wil hê jy moet my belowe dat jy van vandag af tot Kersfees nie weer sal huil nie."

"En as ek nie huil nie?" het Georgie gevra.

"Wel, as jy nie meer sal huil nie - tensy jy natuurlik baie seer gekry het - van vandag af tot by Kersfees, sal ek jou na die stad neem en kan ons na een van die groot winkels gaan waar jy jou eie motor kan uitsoek."

"Hoera!, ek gaan 'n regte motor kry!" het Georgie geskree.

"Maar wag 'n bietjie, ou kêrel, wat van daardie belofte?"

Georgie het sommer begin verleë word.

"Sê agter my aan," het Pappie gesê, "ek belowe dat ek nie meer sal huil nie - tensy ek baie seer kry - van vandag af tot by Kersfees."

Georgie het die woorde agterna gesê en die ooreenkoms is verseël. Van daardie oomblik af was dinge sommer anders in Georgie se huis. Eindelik was daar darem vrede. Baie maal was hy op die punt om te huil, want 'n mens leer nie sommer 'n slegte gewoonte so maklik af nie. Maar elke keer wanneer die trane begin kom het, het hy gedink aan sy belofte en aan die mooi motor wat hy sou kry as hy nie huil nie.

En dan ook, elke aand wanneer Georgie gaan slaap het, het hy in sy gebedjie vir Jesus gevra om hom te help om nie te huil nie, sodat hy sy belofte kon hou.

En waarlik, die Here het hom gehelp, want hy het dadelik sommer 'n ander seun geword. Van 'n tjankbalie het hy verander tot Mammie se beste helper. Wanneer hy haar moes help om die skottelgoed te was, het hy nie meer beswaar gemaak nie, maar sommer dadelik gesê "Ja, Mamma, ek kon". Wanneer Mammie iets van die winkel wou hê, het hy nie begin huil as hy moes winkel toe gaan nie, maar het dadelik sy waentjie gaan haal en weggespring om die goed te gaan koop. Mammie het hom nou haar "helper" genoem.

Eindelik het die groot dag aangebreek. Georgie het sy belofte gehou en Pappie het ook sy woord gehou. Hulle twee is saam stad toe en daardie aand het Georgie teruggekom met sy pragtige motor.

Toe het daar iets gebeur. Nadat Mammie hom bo in sy kamer in die bed gesit het en sy weer onder was, het daar 'n welbekende geluid van bo af gekom. "Boe-hoe-hoe-hoe". Mammie het na Pappie gekyk.

"Sal hy nie mooi weer begin noudat hy sy motor het nie. Nou sal ek hom bykom!" het Pappie gesê. Pappie is vinnig die trap op, met Mammie agterna.

Toe Pappie die deur oopmaak, is hy met 'n skaterlag begroet. Georgie het regop in die bed gesit en baie lekker gelag!

"Ek het dit gedoen net om te sien wat Pappa sou maak," het hy gesê.

"Jou klein skelm!" het Pappie gesê en vir George goed gekielie.