Uit die modder gesleep

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories
Deel Een


deur Arthur S. Maxwell

Dit is sommer 'n klein storietjie oor 'n baie klein seuntjie. Hy was maar vier jaar oud toe dit gebeur het, dus moet julle nie glimlag as julle dit hoor nie. Ons sal hom maar Kleinman noem, want hy het so klein gelyk toe hy eendag met my kom praat het.

Kleinman se pa het 'n motor en ook 'n woonwa gehad en nie so lank gelede nie het hy en Kleinman en die ander lede van die gesin met 'n lang vakansie gegaan.

Eers het alles baie goed gegaan en almal het dit baie geniet. Toe besluit Pa eendag om uit die hoofweg te draai en 'n deel van die land te sien wat hy nog nie voorheen gesien het nie. Almal het van die plan gehou; en terwyl dit mooiweer was en die paaie droog, het alles gevlot - maar toe dit begin reën, wel, toe was dit heeltemal 'n ander saak.

En het dit nie gereën nie! Dit het sommer skilpaaie gereënt en die wêreld was die ene modder. Die motor se wiele het weggesak en die woonwa het vasgeval. En daar het hulle gesit! Pappie het uitgeklim om te kyk wat hy kon doen, maar hy was gou sopnat gereën en vol modder.

"Dinge lyk nie te goed nie," het hy gesê toe hy weer in die motor klim. "Dit wil vir my voorkom of ons hier vir 'n goeie ruk sal vassit."

En dit was ook so. Stadigaan het dit begin donker word en die nag was aan kom. Arme Kleinman was baie bang en Pappie en Mammie het tevergeefs probeer om hom gerus te stel. Hulle het gesê dat daar niks was om oor bang te wees nie, want hulle kan mos in die woonwa slaap, maar Kleinman kon maar nie getroos word nie. Die idee om die nag daar op die verlate pad deur te bring, het hom glad nie aangestaan nie - iets kon moontlik in die nag teen hulle vasry. Hy wou net huistoe, of ten minste na 'n plek waar hy veiliger kon voel. Daarom het hy begin bid.

Dit was so 'n eenvoudige gebedjie dat baie mense seker daaroor sou lag, maar dit was so opreg - net hierdie paar woorde: "Liewe Jesus, help ons asseblief tog uit die modder!"

Later het die reën opgehou en Pappie het weer uit die motor geklim. Met 'n graaf het hy probeer om die sagte modder voor die wiele weg te kry.
Intussen het Kleinman maar aangehou bid "Liewe Jesus, help ons uit die modder. Liewe Jesus, help ons asseblief uit die modder." Tussen sy gebede het hy deur die venster gekyk hoe Pappie die wiele probeer losgrawe.

Toe Pappie ná 'n tyd byna die wiele los gegrawe het, het daar 'n plaaswaentjie gekom en die drywer was so vriendelik om die motor uit te sleep tot op vaste grond. Kleinman was tog te bly.

Hy was seker dat die Here sy gebed verhoor het en van daardie dag af het hy nog nooit vergeet om die Here Jesus te dank vir Sy hulp nie. Dis nie net saans wat hy die Here dank nie, maar hy doen dit gereeld drie maal per dag wanneer hy aan tafel bid.

Ek het hom gevra om vir my te wys hoe hy bid en hier volg sy woorde sonder enige verandering:

"Amen. God seën hierdie kos. Jesus het ons uit die modder gehelp."

Hoe mooi is die geloof en vertroue van 'n klein kindjie!