Twee Sakke, Asseblief!

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Drie

deur Arthur S. Maxwell

Hierdie verhaal kom uit China en is vir die eerste keer vertel deur 'n sendeling wat daar gewerk het. Wonderlik, is dit nie, hoe Jesus kinders se gebede verhoor waar hulle ookal op die aarde woon? Paul was 'n sendeling se kind. Sy vader het sy lewe gewy aan die verkondiging van die evangelie aan die arme Chinese en sy Moeder - wel sy was net so 'n goeie sendeling, want elke uur wat sy kon afknyp, het sy aan die behoeftige vroue wat na die sendingstasie toe gekom het, gewy. 

Albei was gedurig baie besig en Paul is dikwels maar aan homself oorgelaat. Eendag het hy iets nuuts ontdek. Ten minste, dit was nuut vir hom, ahoewel die meeste klein seuntjies dit seker vroeër of later ontdek. Hy het naamlik uitgevind dat as jy wydsbeen oor die trapreling gaan sit, jy taamlik vinnig kan afgly sonder om jouself seer te maak. Nadat hy dit die eerste keer reggekry het, het hy so baie daarvan gehou, dat hy dit weer wou probeer. En weer. en weer.

Natuurlik het hy nooit gedink aan die uitwerking van die glyery op sy blou broekie se sitvlak nie, maar jy kan seker naasteby raai hoe dit gelyk het toe sy Moeder hom daardie aand uittrek om te gaan slaap. Op 'n sekere belangrike plek was daar die grootste gat denkbaar. Moeder was geskok. 

"Ag, Paul, my seuntjie," het sy gesê, "hoe kan jy jou klere so verniel wanneer Moeder so besig is? Jy kon tog aan my gedink het. Ek het regtig nie tyd om vir jou 'n ander broek te maak nie."

"Ek is baie jammer, Moeder," het Paul gesê. "Ek het nooit gedink dit verniel my broek nie en dit was so lekker om daar af te gly." Moeder het hom natuurlik vergewe en Paul het saam met haar gekniel om sy aandgebedjie op te sê. Hy het die Here vir die gelukkige dag, vir sy goeie huis en die lekker kos gedank. Toe bid hy vir die arme mense van China en vra dat die Here vir Pappie en Mammie moet help om hulle van Jesus te vertel. Op die end het hy die belangrikste ding wat hy wou gesê het, onthou. Vir 'n oomblik was daar stilte. 

"Dan, liewe Jesus, omtrent my broek," het hy voortgegaan.  "Ek is baie jammer dat dit stukkend is, want mammie is so besig. Sy het nie tyd om vir my 'n nuwe broek te maak nie, maar liewe Jesus kan vir my 'n nuwe broek stuur. 
En stuur tog asseblief vir my een met twee sakke en nie met een nie, dankie."

Nadat hy klaar gebid het, het hy in sy bed geklim, heeltemal gelukkig en seker dat die nuwe broek iewers vandaan sou kom, met twee sakke en nie net een nie. Moeder het met betraande oë die kamer verlaat om te sien of alles reg is voordat sy gaan slaap. In 'n hoek vind sy iets in papier toegedraai wat vroeër in die dag daar afgelewer is. Sy het nog nie tyd gehad om dit oop te maak nie. Sy het maar geraai dat dit van goeie vriende gekom het. En sy was reg. 

Sy het die lyn afgesny en die papier oopgemaak. Dit was klere wat vriende van die papier opgemaak. Dit was klere wat vriende van die huis af gestuur het en daar was enige soort in toegerol. Party was net wat sy nodig gehad het, en dan was daar baie wat sy kon gebruik op die sendingstasie. 

Skielik het sy iets gesien wat haar amper geskok het. Heel onder het sy op 'n klein blou broekie afgekom, presies soos die een wat Paul daardie selfde dag so verniel he! Met groot blydskap in haar hart, het sy die broekie in die lig opgehou om beter te kan sien. 

Ja! Die broekie het twee sakke gehad. Sy het weer kamer toe gehardloop, haar hart vol dankbaarheid en blydskap. Maar helaas, Paul was al vas aan die slaap. Al wat sy kon doen, was om die broekie oor die katelstyl te hang sodat hy dit dadelik die volgende môre kon sien wanneer hy wakker word. Die volgende môre was dit ook die eerste ding wat Paul raak gesien het. "Moeder!" het hy geskreeu. "Kom gou hier! Jesus het al klaar my broek gestuur!"

Moeder het vinnig kamer toe gehardloop. Paul het aan die broek gestaan en voel. Hy was net bekommerd oor een ding - die broeksakke. Sou Jesus dit onthou het? 

Ja, die broek het twee sakke gehad. Alles was reg. Twee sakke, soos hy gevra het!

Tussen hakies, daardie pakket was drie maande van tevore afgestuur. Snaaks, is dit nie, dat dit betyds daar moes kom om 'n seuntjie se gebed te verhoor? Tog het dit so gebeur.