Truida se Opoffering

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Slaaptyd stories
Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell

Willie het omgedraai in sy bed. Wat 'n heerlike droom het hy gehad! Orals om sy kateltjie was dar sommer hope presente - al die dinge wat hy so graag wou hê. Sy kouse was vol goed en die kussingslope was vol en die tralies van sy kateltjie was daar ook goed vasgemaak. Treine, ballonne, motorkarre, hondjies op wiele en vliegtuie...

Willie het sy handjie uitgesteek omd ie mooi rooi ballon aan te raak, maar dit het verdwyn. Met 'n gil het hy wakkergeskrik om te ontdek dat sy kateltjie net so kaal was soos gewoonlik.

"O Mammie!" het hy uitgeroep toe hy die trap afkom vir sy ontbyt, "ek het so 'n heerlike droom gehad. Ek het gedroom dat dit Kesfeesoggend was en dat iemand vir my honderde presente gebring het."

"Dit is 'n mooi droom, maar ek is bevrees dat dit nie hierdie jaar waar sal wees nie," het Mammie gesê.

"Hoe so? Dink Mammie dit sal nie gebeur nie?"

"Nee, nie hierdie keer nie. Ek is bevrees dat jou kous hierdie keer leeg sal wees."

"O," het Willie gesug.

"Jy sien, Pappie is al so lank sonder werk dat al sy spaargeld byna opgebruik is, ons moet liewer nie dink..." maar Mammie kon die sin nie klaarmaak nie en daar was trane in haar o ë toe sy haar hoof weggedraai het.

Om die waarheid te sê, was daar ook trane in Willie se oë. "Wel," het hy gesê terwyl hy aan tafel gaan sit het vir sy ontbyt, "ek sal Jesus vra om vir my iets te stuur."

Toe hy dit sê, moes Mammie die kamer verlaat, want haar gemoed het volgeskiet.

Dit het hard gekapok terwyl meneer John Richardson deur die strate van Londen gery het. Agter in die motor het sy vrou en hul dogtertjie, Truida, gesit. Hulle het van die winkel af gekom en in die motor was daar baie goed wat hulle vir Kersfees gekoop het.

Mnr. Richardson het oor sy skouer aan sy vrou gesê "Jy weet, ek voel glad nie gelukkig hieroor nie."

"Nie gelukkig nie!", het mev. Richardson gesê. "Jy behoort vandag baie gelukkig te wees. Om Kersgeskenke te koop, is seker een van die aangenaamste werkies van die jaar."

"Ek weet, maar ek kan nie help o m te dink aan die duisende arm mense wat werkloos is en wat hierdie jaar nie kan Kersfees vier nie. Dit lyk nie vir my reg dat ons al hierdie goed gekoop het terwyl hulle...."

"Ja, ek verstaan,"  het sy vrou hom in die rede geval, "maar ons kan hulle tog nie almal help nie en dit sal glad nie help om ons daaroor te verknies nie."

"Miskien nie, vrou, maar as ons net 'n paar van hulle kon help - miskien net een of twee - dan sou ek gelukkiger gevoel het. Dit is soos ek voel oor die saak."

"Dink jy aan iemand in besonder?"

"Ja, daar is arme Johnson wat ek 'n tyd gelede ontslaan het. Hy is 'n goeie man met 'n liewe gesin, al sy spaargeld is op en hy moes sy huis verkoop. ek is seker dat hulle nie hierdie jaar veel van 'n Kersfees sal kan hê nie."

"Nee," het mev. Richardson saggies gesê.

"En hul seuntjie, Willie, sal ook seker geen presente kry as sake so sleg staan met hulle nie," sê haar man.

Toe was daar stilte en net die gekraak van die kapok onder die motor se wiele kon gehoor word.

"Pappie," het Truida na 'n rukkie gesê, "daardie seuntjie van wie Pappa netnou gepraat het - sal hy geen Kersgeskenke kry nie?"

"Ek is bevrees nie, kindjie."

"O!"

Toe was daar weer stilte.

"Pappie," het Truida weer gesê.

"Wat is dit nou weer?"

"Ek wil hê dat Pappie vir daardie seuntjie presente moet koop en nie vir my nie."

"Truida, my kind, bedoel jy dit regtig?"

"Ja, ek bedoel dit regtig Pappa."

"En is jy regtig geweilllig om sonder presente te gaan, sê my nou eerlik?"

"Ja, Pappie, ek sou graag daarvan wil neem na 'n arm seuntjie wat niks het nie."

"Wel, my kind, jy sal," het Pappie gesê terwyl met trane in sy oë deur die glas van die windskerm voor hom in die pad gekyk het. "Sy leer ons altyd wat ons behoort te doen," het hy saggies gemompel.

Kersoggend het aangebreek, in sy bedjie het Willile wakkeergeskrik en sy ogies oopgemaak. Ja, daar het sy kouse gehang en hulle het vir hom nogal vol gelyk, want Mammie het haar bes gedoen, maar van die speelgoed wat hy 'n tydjie gelede in sy droom gesien het, was daar geen teken nie.

Hy het die goed in sy kouse deurgekyk en alhoewel hy bly was oor wat daarin was, het hy tog met 'n beswaarde hart ondertoe gegaan. Mammie was in die eetkamer en het probeer om opgeruimd te lyk.

"Goeiemore, Willie," het sy uitgeroep, "'n gelukkige Kersfees!"

Maar Willie was baie mistroostig. "Jesus het die goed nie gestuur nie," het hy gesê.

Mammie het verstaan. Sy het weggedraai. Dit was te veel vir haar.

"My liewe tyd!" het sy gesê terwyl sy by die venster uitkyk. "Wat is dit? 'n Motor so vroeg by die hek? Wie kan dit wees?"

Willie het ook na die venster gehardloop. "Dit is 'n dogtertjie," het hy uitgeroep, "en sy dra iets. Ek is seker dis vir my. Hoera! Jesus het tog my goed gestuur!"

Jesus het. En baie mense is daardie dag gelukkig gemaak ten gevolge van Truida se opoffering, maar van almal was Truida die gelukkigste!