Toe Kosie moeg was 

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Mammie was siek! Wat 'n verskil het dit nie gemaak nie!. Alles was sommer deurmekaar.

Arme Pappie wat eensklaps verantwoordelikheid moes aanvaar vir die honderd-en-een dingetjies wat Mammie altyd doen, het nie geweet waarnatoe nie totdat hy meteens 'n blink gedagte gekry het.

"Kyk hier," het hy vir die kinders een aand gesê, "al plan wat ek het, is dat elkeen van ons 'n bepaalde werkie moet doen. As elkeen sy deel doen, sal ons oor die weg kom totdat Mammie weer gesond is."

"Mar ons moet skool toe gaan," het Kosie beswaar gemaak, "en ons kry baie huiswerk."

"Ek weet en dit sal beteken dat julle smôrens 'n bietjie vroeër sal moet opstaan, maar dit sal julle goed doen. Julle kan hierdie takies maar net so wel nou leer, want dit sal eendag van julle beter manne en vroue maak," het Pappie geantwoord.

Die kinders het toe nie so gedink nie, maar hulle wou doen wat hulle kon om arme Mammie te help en dus het hulle ingestem.

Kosie moes die hoenders elke môre kos en water gee en Wim en Wiek moes saans vir hulle sorg. Soggens moes hulle vuurmaak, die tafel dek vir ontbyt en die kombuis aan die kant maak. Marie moes Mammie se ontbyt berei, die beddens opmaak en saans moes sy die skottelgoed was. So het elkeen 'n werkie gekry.

Vir 'n paar dae het die plan goed gewerk en dit was 'n wonderlike hulp. Elke kind was regtig trots op wat hy of sy moes doen en elkeen het probeer om dit so gou en goed moontlik te doen.

Om die waarheid te sê, was hulle in die begin eintlik jaloers op hulle werk. Wanneer dit Wim se beurt was om steenkool in te bring, was hy net omgekrap as Wiek dit wou doen.

Maar na 'n paar dae het die ywer ook begin afneem. Die huiswerk het skynbaar al meer geword en die môres al korter en donkerder. Dit vereis werklik moed om elke oggend, nat of droog, warm of koud, die hoenders in hul hok te gaan kos gee.

Een middag het Kosie laat van die skool af gekom. Dit was 'n besige dag en hy het pootuit gevoel. By dit alles het hy nog baie huiswerk ook gehad om te doen en die gedagte daaraan het hom omgekrap laat voel. Hy was kwaad vir Wim, kwaad vir Wiek, kwaad vir Marie en ook vir Pappie en gevolglik moes hy kamer toe gaan, want Pappie het gesê dat hy behoefte aan slaap het.

Die môre het aangebreek. Toe die wekker lui, het Koos soos 'n veer orent gespring. Half-sewe! Nog 'n uur en 'n half en dan moet hy skool toe! Hy het nog nie sy huiswerk gedoen nie en die hoenders moet ook nog versorg word. Hoe gaan hy dit alles regkry? As hy tog net nie gisteraand so kwaad was vir die ander nie, kon hulle hom vanmôre gehelp het, maar hy kan hulle nie nou vra nie. Daarvoor voel hy darem te skaam.

Hy het gouer as nog ooit tevore gewas en aangetrek en toe storm hy eetkamer toe waar sy boeke nog lê net soos hy dit die vorige aand gelaat het Somme en Engels moes nog gedoen word. O aardetjie! En gedurigdeur gaan dit vir hom asof hy iemand hoor sê: "Hoenders - jy moet Mammie nie ind ie steek laat nie, sy vertrou op jou."

Hy het na die horlosie gekyk en besluit om gou eers sy huiswerk te doen en om dan die hoenders te gaan kos gee - alhoewel hy nie kon sien hoe hy dit sou regkry nie. Miskien sou hy sonder ontbyt skool toe moes gaan en hy sou ook nie tyd hê om vir hom kos in te sit nie. Maar die sommer en Engels moes gedoen word en hy het ook sommer dadelik daaraan weggeval. Intussen het die twee ander seuntjies met mekaar in die kamer gesels.

"Kosie gaan weer vandag laat wees vir die skool en dan sal hy weer moet skoolsit." Dit was Wim wat gepraat het.

"Arme Kosie, hy sal ook nie tyd hê om te eet nie," het Wiek gesê.

"En ek is seker hy sal nie tyd hê om vir hom middagkos in te sit nie. Hy gaan honger kry," het Wim gesê.

"Wat van die hoenders?" het Wiek weer gevra.

"Ja, wat van hulle?" het Wim gesê.

"Kom ons verras hom," het Wiek voorgestel.

"Hy verdien dit nie, hy was te kwaad vir ons gisteraand," het Wim geantwoord.

"Ja, maar hy was darem baie moeg en hy is soms regtig gaaf," het Wiek gesê.

"Soms," het Wim saamgestem.

"Nou toe kom ons gaan stilletjies by die agterdeur uit," het Wiek voorgestel. "Versigtig hoor!"

Die twee is stilletjies by die agterdeur uit en het buite in die mis verdwyn.

'n Halfuur het verbygegaan. 'n Driekwartier.

Kosie het weer op die horlosie gekyk. Kwart voor agt! Nog net 'n kwartier en dan moes hy skool toe, die hoenders moes nog kos kry en wat van ontbyt? Hy het sommer lus gevoel om te huil.

Maar meteens het iemand hard teen die agterdeur geslaan. Kosie het opgestaan om te gaan kyk. Daar buite het Wim en Wik gestaan.

"Hallo," het hy verbaas uitgeroep, "waar kom julle twee so vroeg vandaan?"

"Ons het die hoenders kos gegee sodat jy kan eet," het die tweeling met stralende gesigte gesê.

"Julle is darem baie gaaf," het Kosie skaam en dankbaar gesê. "Ek het dit nie verdien nie, regtig ek het nie. Ek is baie jammer, ek sal vanaand vir julle lekkergoed bring."

"Lekkerrrr!" het hulle uitgeroep, terwyl hulle hul hande by die vuur warm maak.


Slaaptyd stories
Deel DRIE

deur Arthur S. Maxwell

"A 

Om die dam Perderoete