Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Toe die Wag gesalueer het
Ek het eentyd iets vreemds in Rome gesien. Dit het gebeur by die graf van die Onbekende soldaat.
Julle het seker al van julle Pappies gehoor dat elke nasie na die eerste wêreldoorlog een van die dooies van die slagveld - iemand wat onherkenbaar vermink was, en sonder nommer of naam - geneem en met groot eerbetoning begrawe het - groter as dié van prinse en generaals. Dit is gedoen as blyke van dankbaarheid vir die lyding en opoffering van miljoene arme, gewone, onbekende soldate wat moes veg en sterf.
Julle het al seker die Graf van die Onbekende Soldaat gesien te Arlington, of Westminster Abdy, of dié onder die Arc de Triomphe in Parys, waar 'n vlam gedurig brandend gehou word tot sy gedagtenis.
Maar dit is omtrent die een in Rome waarvan ek julle veral wil vertel. Dit is in die middel van die stad, en vorm deel van 'n pragtige monument. Groot blomkranse versier die plek, en daar staan twee soldate in volle mondering op wag.
Terwyl ek daarna gestaan en kyk het, het ek iets ongewoons opgemerk. Die twee soldate het almal gesalueer - mans, vroue, en kinders - wat daar verby gegaan het en die dode geëer het wie se graf hulle bewaak het.
Vorentoe en dan weer terug het hulle gewere gegaan onderwyl die mense die trappies bestyg, gesalueer, en verbygeloop het. Ek was bevrees dat hulle soms sou deurmekaar raak en nie gelyk sou salueer nie; en hulle het ook, maar dadelik weer het hulle herstel en voortgegaan met hulle vreemde, dog mooi werk.
Natuurlik het ek veral belang gestel in die kinders wat die helde kom vereer het. Sou daardie stroewe wagte hulle ook erken en salueer?
Ja, hulle het. En die kinders, wat nie mooi verstaan het waaroor dit alles gaan nie, het dit skynbaar geniet, want hulle kon ware, lewendige soldate, met geweer en gevelde bajonet, dwing om hulle te salueer! Die kinders het volle gebruik gemaak van die voorreg. Waar hulle so by die wagte verbygeloop en gesalueer het, het die wagte hulle teruggesalueer, en hulle het baie tevrede met hulleself gelyk.