Pappie het geglimlag want hoe kon daar water in die put kom as dit nie ook reent nie. Maar rene het nie daaraan gedink nie. Sy het geglo dat Jesus enigiets kon doen en toe hulle almal van hul knieë af opgestaan het, het sy gesê dat sy heeltemal seker was dat Jesus haar gebed sou antwoord.
Pappie en Mammie het met hul werkies by die huis aangegaan, maar Rene het verdwyn. Sy het na die put gegaan om te sien wat Jesus sou doen.
Sy het aan die planke bo-oor die put gewerskaf en eindelik het sy een weggeskuif sodat sy in die put kon afkyk. Maar die put was so diep en donker dat sy niks kon sien nie. Sy het 'n klippie ingegooi en fyn geluister. Vir 'n paar oomblikke het sy haar asem opgehou en gewag - en toe....
"Pardoems!"
Sy het opgespring en so vinnig as wat sy kon, huis toe gehardloop.
"Jesus het die water gestuur!" het sy geskree. "Jesus het die water gestuur!"
Pappie wou dit nie glo nie, maar hy het na die put gehardloop om te kyk met Mammie en die plaaswerkers kort op sy hakke. Hy het ook 'n klip ingegooi en dit het met 'n geplas onder in die water geval.
Dadelik het hulle die pomp begin werk en na 'n rukkie het daar die heerlikste koel water uitgevloei.
Hoe gelukkig en dankbaar was hulle nie! en weet julle, van daardie dag af het daardie put se water nooit weer opgedroog nie. Daar is nou wel mense wat sal sê "Ag, dit was sommer toeval". Maar klein Rene weet van beter. Sy glo vas dat Jesus die water gestuur het in antwoord op haar gebed en ek dink dat sy heeltemal reg is.