Swart kapok

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)


Slaaptyd stories
Deel EEN

deur Arthur S. Maxwell

Oom Attie se Slaaptydstories

KRAAK!

"Wat was dit?" het almal tegelyk gevra.

"Dit gaan soos 'n boom wat geval het," het Pa gesê, "en tog is daar nie wind nie."

Hulle het almal na die voorhuisvensters toe gegaan en uitgekyk.

Die nag was baie stil, maar sneeuvlokkies het deurmekaar gedwarrel en wit en geruisloos deur die swart nag geval. Alles in die tuin was reeds bedek met 'n dik wit mantel en die lig het deur die vensters op hierdie snaakse figure van die bome wat onder die kapok buig, geskyn.

"Dit lê seker party plekke al meer as 'n voet diep. Ek het nog nooit kapok so dink sien val nie," het Pa opgemerk.

Kraak!

"Daar is dit weer," het Mammie verontrus gesê.

"Ja, kyk daar," het Frans uitgeroep. "Die tak van daardie akkerboom - kyk, dit het geskeur."

Vir byna 'n uur het hulle na die wonderlike toneel gekyk. Elke keer het hulle dieselfde onheilspellende geluid gehoor, partykeer sommer hier naby, dan weer verder weg en elkeen het vertel van 'n stryd tussen die boom en die gewig van die kapok.

Gedurende die nag het die wind sterker geword en wat het hulle nie alles die volgende oggend gesien nie! Pappie en Frans het hulle hoë skoene aangetrek en uitgeloop om te kyk wat gebeur het. Die bekende landskap het verdwyn. Op party plekke was die sneeu tien voet diep. Motors wat langs die pad laat staan is, was toe onder die kapok. Groot bome was soos deur 'n onsigbare hand neergevel, telegraafdrade het gebreek oor die pad gelê en sterk telegraafpale het na alle kante toe gebruig gestaan, asof 'n stout reus in die nag daarlangs geloop en hulle sommer vir die pret omgestamp het.

"Kyk net!" het Frans uitgeroep.

"Ja, kyk net, en om te dink dat die onskuldige klein sneeuvlokkie al hierdie skade aangerig het," het Pappie gesê.

"Ek het nog nooit so daaraan gedink nie, Pappie."

Sneeuvlokkies mag klein wees en een van hulle sal dadelik op jou vinger smelt, maar hulle gewoonte om saam te koek, maak hulle gevaarlik. Dit lyk of een die ander aantrek, dan smelt hulle saam, nog meer sluit by hulle aan, totdat die eerste twee later so groot word dat niks hulle gewig kan weestaan nie."

"Dis interessant Pappa."

"Ja, baie interessant seun en dit laat my aan sonde dink?"

"Aan sonde, hoekom?"

"Ja Frans, aan sonde. Een sondetjie mag baie klein wees en maklik vergewe en vergeet word. Maar sonde hou nie daarvan om alleen te wees nie. 'n Persoon wat een leuen vertel, moet gewoonlik tien meer vertel om die eerste een te dek, totdat 'n ramp hom naderhand tref as gevolg van sy leuens en hy moet boet vir almal."

Nie een het gepraat terwyl albei gekyk het na die skade wat die kapok aangerig het nie. Toe vertal Pappie verder: "Ek het groot manne skielik sien val - so skielik soos daardie gekraak van die takke in die stilte van die nag. En dit was altyd omdat hulle toegelaat het dat die swart kapok van sonde op hul takke pak. As hulle dadelik die eerste afgeskukd het, sou alles reg gewees het, maar hulle laat dit maar al meer en meer word totdat die dooie gewig daarvan te groot word vir hul kragte. Hulle het gedink dat 'n paar sondetjies nie saak maak nie, dat hulle dit maklik sou kan laat staan wanneer hulle wou, maar hulle was verkeerd. Hulle het uit die oog verloor dat sonde altyd groei en dat dit die beste mens sal breek indien dit toegelaat word om in sy lewe te  bly."

Frans was stil, want hy het ernstig gedink aan Pappie se woorde.

"Swart kapok," het hy herhaal, "dis wat dit is, Pappa. Ek gaan sorg dat dit nie op my takke begin pak nie."

"Mooi so, my seun, dis al wat mens kan doen om veilig deur die storms te kom," het Pappie geantwoord.