Sussie se koffer

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

 Pappie het die motor bestuur en Sussie het voor langs hom gesit. Mammie en die twee seuns het agter gesit. Skielik het Sussie hard geskree: "Pasop Pappie, daar lê 'n koffer in die pad."

Pappie het dit reeds gesien, remme aangeslaan en die motor tot stilstand gebring met die voorwiele amper teen die tas. Sussie het eerste uitgespring en die seuns was op haar hakke. Hier was nou 'n groot vonds en almal wou graag binne kyk om te sien wat daarin was. Wie weet watter waardevolle goed miskien daarin is!

Voor 'n mens h aar nog kon keer, het Sussie die koffer oopgemaak en weer het sy van verbasing uitgeroep: "O Mammie kom kyk hier! Kom kyk net - dis vol babakleertjies, mooi rokkies, net groot genoeg vir my pop. Is dit nie wonderlik nie!"

"Iemand voel seker baie sleg oor die verlies van sulke mooi goed," het Mammie gesê, "ek wonder of ons sal kan uitvind aan wie dit behoort?"

"Maar gaan ons nie die goed hou nie Mammie? Hierdie rokkies en goed is net wat ek altyd wou hê. My pop sal vreeslik mooi lyk daarin."

"Maar Sussie," het Pappie gesê, "ons kan nie die goed hou nie. Dit behoort aan iemand anders. Om dit te hou, sal mos diefstal wees, nie waar nie?"

Hulle het die tas toe in die motor gesit en huis toe gery. Daar het hulle dit weer oopgemaak en gesoek na die eienaar se naam. Eindelilk het hulle dit op een van die kledingstukke gekry. Mammie het nie naam in die telefoonboek gesoek en dit daar gekry. Toe het sy die eienares gebel. Die vrou was vreeslik bly om te verneem dat die koffer gevind is en dat die mense so eerlik was om haar te bel!

"Dis nou jammer," het Sussie gesê toe die vrou weg is, "ek het so gehoop dat die eienaar nie sou opdaag nie.

"Maar Sussie, is dit nou nie beter dat die saak opgelos is nie? As jy die goed gehou het, sou jy nooit gelukkig daaroor gevoel het nie, want jy sou altyd voel dat die goed nie aan jou behoort nie. En onthou, nou het ons weer 'n nuwe vriendin gemaak wat ons baie dankbaar is," het Mammie verduidelik.

"Dit mag so wees, maar ek wens dat ek daardie kleertjies gehad het vir my pop," het Sussie gekerm.

Maar nou het dit so gebeur - en dit het wérklik gebeur - dat die gesin net 'n week ná hierdie gebeurtenis op 'n lang motorrit gegaan het. Met soveel mense in die motor en al die bagasie, was hulle verplig om sommige van die bagasie agter op die motor vas te maak. Hulle het die oggend vroeg vertrek, ewe opgeruimd. Nadat hulle vir 'n hele paar uur op pad was, het Pappie stilgehou en gesê dis tyd om iets te eet, 'n bietjie te rus en bene te rek. Toe het hulle uit die pad gedraai en stilgehou.

Skielik het een van die seuns opgemerk dat die tou waarmee die goed agter vas was, losgeraak het. "Een van die tasse makeer," het Pappie uitgeroep. Dadelik het almal gaan kyk en dit was ongelukkig waar - daar het 'n tas makeer.

"Wie s'n is dit?" het Mammie gevra.

"Sussie s'n. Ek is seker dis hare," het Pappie geantwoord.

"Myne!" het Sussie ontsteld uitgeroep. "En al my klere en ander goed is daarin. O dis te vreeslik! Is julle seker dis myne?" het sy weer gevra.

"Ja, ons is seker," het Pappie geantwoord. "Wel dis baie jammer, maar ons kan nou niks daaromtrent doen nie. Ek is bevrees ons sal dit ook nie weer sien nie."

Toe het Mammie gepraat, want sy het skielik aan iets gedink. "Dis baie vreemd dat ons skaars 'n week gelede 'n tas in die pad moes optel en vandag is een van ons s'n weg! Maar aangesien ons die regte ding gedoen het in verband met die eerste koffer, mag die Here ons help om Sussie s'n terug te kry."

"Dink Mamma regtig so?" het Sussie gevra.

"Ja, ek dink regtig so. Laat ons vir die Here nou bid voordat ons van hier vertrek."

En daar langs die pad het hulle neergekniel, Mammie het die hele saak in 'n ernstige gebed in die hande van God oorgegee en Hom gevra om hulle te help om terug te kry wat hulle verloor het.

Pappie het 'n hele ent met die pad teruggery, maar daar was geen teken van die tas nie. Toe het hulle verder gery na die volgende dorp en daar het Pappie 'n advertensie in die koerant geplaas.

Een dag, twee dae, drie dae het verbygegaan, maar daar was geen taal of tyding daarvan nie. En toe, glo dit as julle wil, het hulle 'n telegram ontvang: "Tas gevind" het daarin gestaan.

En was Sussie nie bly nie! Sy was ook baie dankbaar, nie alleen teenoor God nie, maar ook teenoor die eerlike persoon wat háár tas gevind het.

Van daardie dag af het die volgende teks vir haar 'n nuwe betekenis gekry: "Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen - net so moet julle aan hulle ook doen." (Mat 7:12)