So veilig soos 'n Bank 

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Drie

deur Arthur S. Maxwell

"Julle moet nou vir niemand vertel nie, hoor?" het Louisa aan Lulu en Isabel gesê. "Ek het julle vertel omdat julle my twee ekstra spesiale maats is. Dit is 'n groot geheim en julle moenie 'n woord verklap nie. Beloof julle?"

"Ons sal nie 'n woord sê nie," het albei beloof. "Julle moet hierdie geheim so veilig bewaar soos 'n bank 'n mens se geld," het Louyisa gesê.

"Wat beteken dit?" het Isabel gevra.

"Dis wat my Pappie sê. Banke het brandkaste wat so sterk is dat diewe niks daaruit kan steel nie. Ek wil hê julle moet ook so wees."

Isabel het nie juis mooi verstaan nie. Die brokkie nuus wat Louisa hulle meegedeel het, was so interessant dat sy eintlik gebrand het om dit vir iemand te vertel. Sy het ook spesiale maats gehad, en kort hierna het sy hulle ook ontmoet. 

"Julle moet dit nou aan niemand vertel nie," het sy aan hulle gesê, "maar ek het nou net iets gehoor wat so interessant is dat julle dit moet weet. Luister."

Sy het haar stem laat sak en alles vir hulle gefluister wat Louisa aan haar vertel het. 

"Maar dis 'n geheim," het sy gesê, "en Louisa sê ons moet vir niemand sê nie."

"Goed," het die ander gesê, en hulle het hulle spesiale maatjies gaan soek om die geheim aan hulle te vertel, natuurlik nadat hulle belowe het om dit geheim te hou. Lulu was egter anders. Sy het baie gedink oor wat Louisa gesê het."

"So veilig soos 'n bank," het sy die woorde herhaal. Dis 'n goeie idee. Ek sasl probeer om so te wees. En wanneer die diewe kom, sal hulle niks kan steel nie en net die ystermure sien." 
Dit het nie lank geduur nie of een het na haar toe gekom. "Jy is een van Louisa se intieme maats, nie so nie?" het die meisie gevra. 

"Ek is," het klein Lulu trots gesê. "Weet jy of dit waar is dat haar oom haar 'n honderd pond gegee het en dat sy saam met hom strand toe gaan volgende winter?" 

"Ek is bevrees jy sal haar dit self moet vra," het Lulu geantwoord. 

"Maar het sy regtig 'n klomp geld gekry? het die meisie aangehou. "Is dit waar?"

"As ek weet, mag ek jou nie vertel nie."

"Hoekom nie? ek wil graag weet."

"Want ek is haar bank."

"Wat? Het sy jou die geld gegee om te hou?"

"O, nee," het Lulu gelag, "maar ek bank haar geheime."

Aangesien Lulu haar niks wou vertel nie, het die meisie maar weer geloop. Die volgende dag het Louisa vir Lulu ontmoet. 

"Lulu," het sy gesê, "ek dink jy is die enigste ware vriendin wat ek het. Die hele skool ken my geheim en jy is die enigste wat dit nie verklap het nie."

"Hoe weet jy?" het Lulu verbaas gevra.

"Want ek het niemand gestuur om jou te vra," het Louisa gesê, "en jy was so veilig soos 'n bank."