Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Slaan uit die "Nie"
Ek weet nie wat hierdie seun se naam is, waar hy woon, waar hy skool gaan, of wat hy wil wees wanneer hy groot is nie, maar dit weet ek: hy sal 'n sukses van die lewe maak. Dit is nou maar klaar, hy het energie en moed en hy is beslis en mik hoog - hierdie eienskappe saam sal enige seun baie ver in die lewe bring.
Julle verstaan natuurlik in watter omstandighede hy homself bevind. Hy het voor 'n reuseprobleem te staan gekom wat met die eerste oogopslag te veel vir hom gelyk het. Maar - pleks van moed opgee en sy lot betreur - het hy al sy kragte ingespan en die saak aangepak in die gees van 'n oorwinnaar.
Wat die aard van sy probleem is, is ek nie bereid om te sê nie. Miksien was hy op skool en het te doen gekry met 'n swaar som. Pleks dat hy moedeloos geword en maar gaan speel het, of die antwoord van 'n ander seun afgeskryf het, het hy vir homself gesê "Hierdie probleem kan opgelos word en ek gaan dit oplos, al moet ek die hele nag hier sit."
Of dit kan wees dat die seun in sy Pa se werkswinkel besig is met houtwerk en eindelik vind dat die voeë nie pas nie. Pleks van die gapings op te vul met stopverf en skaafsels en te sê dat hy sae en beitels haat, sien hy die probleem in die oë en hy sê "Ek het êrens 'n fout begaan - ek sal weer probeer. Dit kan gedoen word."
Of miskien was hy met sy fiets weg om vir Mammie 'n werkie te doen en toe kry hy halfpad 'n pap wiel. Plaks van op te gee en terug te kom, het hy maar die res van die pad in die reën en modder geloop en die boodskap afgelewer.
Enige seun wat 'n sukses van die lewe wil maak, moet leer om die "nie" uit te slaan. Almal wat groot dinge in die wêreld gedoen het, het eers besluit dat "kan nie" nie in die woordeboek is nie.
Julle het miskien gehoor van die byna onoorkomelike moeilikhede waarvoor die grawers van die Panamakanaal te staan gekom het - hoe hulle moes veg teen siektes, deur berge grawe, riviere van koers laat verander en 'n duisend ander reuseprobleme te bowe kom. Wat het hulle dan gehelp om die groot werk klaar te maak? Die woorde van "The Song of the Panama Canal Builders" gee ons die antwoord in die volgende vrye vertaling:
"Het julle riviere wat julle nie kan deur nie? / Het julle berge wat julle nie kan oor nie? / Ons is die manne wat die ontmoontlike kan doen, / Ons kan doen wat geen mens kan doen nie."