Selfsugtige Sandy

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

Sandy McFarlane het net een groot fout gehad. Hy was seker die selfsugtigste seuntjie wat daar ooit geleef het. Hy wou in alles altyd die eerste wees en as hy nie die beste van alles kry nie, het hy sommer 'n baie groot lawaai gemaak. En as dit by speelgoed kom - wel, Sandy wou niemand anders toelaat om met sy goed te speel nie en hy het altyd rusie gemaak met die seuns wat saam met hom gespeel het.

Wanneer sy verjaarsdag genader het, het Sandy almal goed laat verstaan dat wat hy wou hê, 'n bootjie was wat 'n mens kan opwen, 'n nuwe lokomotief met treinspoor, waens, 'n stasie, sinjale, en so meer.

Toe sy verjaarsdag aangebreek het, het Sandy daardie oggend by sy bord aan die ontbyttafel twee groot papierpakkette gekry. Toe hy dit oopmaak, was hy vreeslik bly, want hy het die goed gekry waarvoor het gevra het. Daar was seker nie 'n gelukkiger seun in die hele dorp nie.

Toe merk hy dat daar 'n brief by die pakkette was.

"Pappie het seker vir my geld daarin gesit," het hy vir homself gesê.

In die koevert was die volgende briefie:  "Liewe Sandy, Ek hoop dat jy 'n baie gelukkige verjaarsdag sal hê. Hier is sommige van die goed waarvoor jy gevra het. Ek het hulle vir myself gekoop, maar ek leen hulle aan jou om 'n rukkie mee te speel. Pas hulle goed op, want ek mag hulle later terugvra. Met beste liefde van Pappie."

Sandy kon nie eintlik uitmaak wat dit alles beteken nie. Hy het gedink dat dit sommer maar 'n grap was. "Verbeel jou dat Pappie die goed vir homself gekoop het! Hy sal dit tog seker nie saam met hom na die kantoor neem nie!" 

Hy het gou die hele brief vergeet en met sy speelgoed in die tuin gaan speel. Hy het die bad vol water getap en eerlank het sy bootjie daarop rondgeseil. Toe het hy die treinspoor gelê en sy lokomotief daarop aan die gang gesit. Hy het net op sy lekkerste gespeel toe Tony, sy klein broertjie, op die toneel verskyn het.

"Moenie aan daardie boot raak nie, Tony," het hy gesê.

Tony het hom glad nie aan die bevel gesteur nie en het die bootjie begin rondstoot in die water.

"Het ek jou nie gesê om NIE aan my boot te raak nie!" het Sandy bitsig gesê.

Maar Tony het hom nie laat gebied nie.

Toe het Sandy na hom toe gestap en hom 'n klap in sy gesig gegee. "Nou," het hy gesê, "sal jy seker luister en jou hande van my goed afhou!"

Tony het huilend huis toe gehardloop.

Daardie aand toe Pappie van die werk af gekom het, het hy van die hele gedoente daar in die tuin gehoor.

"O, dan het hy weer begin?" het Pappie gesê. "Wel, ons sal sien wat ons kan doen. Pak die goed vir my asseblief in Mammie."

Die volgende more wou Sandy sy speelgoed hê. Maar hulle was nêrens te vind nie. Hy het rasend geword.

"Moeder, waar is my boot? Ek kan dit nêrens kry nie. Een waar is my trein?"

"O, ek moes jou al vertel het," het Mammie ewe kalmpies gesy hulle vandag wil gebruik. Alles is reg."

"Maar hy kan die goed nie geneem het nie," het Sandy gesê. "Wat wil Pappie met ' n trein en 'n boot in sy kantoor maak? Ek is seker die goed is maar hier rond. Pappie sal tog seker nie sommer my goed so vat nie."

"Maar jy vergeet seker dat dit sy goed is. Hy het jou mos gesê dat hy die goed vir homself gekoop het. Sover ek weet, het hy hulle net aan jou geleen, het hy nie?"
Toe moes julle Sandy se gesig kon gesien het. Is dit dan die betekenis van daardie briefie by die pakkette?

Sandy het maar net nie geweet nie, die speelgoed was nog in die huis - weggepak in 'n kas in een van die boonste kamers. En gedurende die dag is ses uitnodigings gestuur aan ses seuntjies in die buurt wat Pappie baie goed geken het.

Die volgende namiddag, terwyl Moeder vir Sandy bo besig gehou het, het die ses seuntjies in die agterplaas aangekom en onder Pappie se toesig het hulle heerlik gespeel met die bootjie en die treintjie. Na 'n rukkie het Pappie hulle verlaat en toe het hulle self tog te lekker gespeel! Mens kon hulle wie weet waar hoor lag.

"Wie lag daar so?" het Sandy aan sy Moeder gevra.

"O," het sy gesê, "dit klink vir my soos seuns wat daar speel. Ek sou my nie aan hulle steur as ek jy was nie."

Maar Sandy kon nou doodgaan van nuuskierigheid. Hy het by een van die vensters gaan uitkyk.

"Moeder kyk," het hy uitgeroep, "hulle het my lokomotief daar. Haai julle kinders daar! Laat staan my goed. Ek is nou daar en dan sal julle sien!"

Hy het sommer dadelik die spoor, die lokomotief en stasie gegryp en begin huis toe hardloop. Hy het hom vas in Pappie gehardloop.

"Waar gaan jy heen met my lokomotief en waens?" het Pappie gevra. "Sit dadelik die goed neer."

"Maar hierdie kinders speel daarmee en hulle sal die goed breek," het Sandy gesê.

"Dit maak glad nie saak nie," het Pappie gesê. "Ek het hulle hierheen genooi en hulle is almal my gaste. En ek wil hê dat jy hoflik teenoor hulle moet wees."

"Maar dis my lokomotief ejn my waens," het Sandy huilend gesê.

"Dit is glad nie joune nie," het Pappie gesê, "jy vergis jou heeltemal. Ek het die goed net vir 'n tydjie aan jou geleen. As jy nie so gemeen en selfsugtig was nie, kon jy hulle gehou het."

So gesê, so gedaan. Pappie het die lokomotief aan die een seun gegee, die stasie aan 'n ander, die waens aan 'n derde en die bootjie aan 'n vierde.

Arme Sandy se hartjie was gebroke. Hy is na sy kamer toe en daar het hy lank gehuil. Maar die les wat sy Pappie hom geleer het, het hy nooit vergeet nie en "Selfsugtige Sandy" het geleidelik verander - dit het 'n lang tyd geneem - en hy bekend geword as "Grootmoedige Sandy".