Sakkies - Die verhaal van 'n Brakkie

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Een

deur Arthur S. Maxwell

"Pappie! Kom kyk gou wat het ons in die tuin gekry."

Lewies en Ralie het hul Pappie letterlik aan sy moue uit sy studeerkamer gesleep kombuis toe, waar die prettigste en mooiste ou brakkie in die hele wêreld gespeel het.

"Mag ons hom tog nie maar hou nie, Pappie? Ag toe, Pappie, hy is mos 'n arme ou verdwaalde hondjie wat baas soek." Dit was Lewies wat so mooi gepleit het.

"Maar ek het reeds twee honde en ek kan dit nie bekostig om nog een aan te hou nie. Pappie het eers na Lewis en toe na Ralie gekyk.

"Maar hy is tog so klein, dit sal nie veel kos om hom te hou nie," sê Ralie.

Maar Pappie was glad nie lus vir die brakkie nie en het verder beswaar gemaak. "Altemit behoort hy aan iemand."

"Nee, ons het orals by al die bure verneem en niemand weet iets van hom nie," sê Lewies.

"Nou ja, hou hom dan maar vir 'n week hier," het Pappie toegegee.

Wat 'n vreugde! Hulle kon hom hou! Hy was hulle s'n!

Juis toe loop die brakkie hom vas teen die melkbeker wat Ralie op die vloer langs die piering laat staan en daar stroom die melk oor die vloer en die ou brakkie het net so vinnig as wat hy maar kon, met sy tongetjie begin oplek.

"So 'n karnallie, maar ek is seker hy sal dit nooit weer doen nie," roep Lewies uit.

"Maar wat gaan ons hom noem?" Daar was 'n frons op Ralie se voorkop. "Kom ons noem hom Sakkies, dit sal vir hom 'n goeie naam wees."

Weke het verbygegaan en intussen het die kinders hul troeteldiere baie liefgekry. Sakkies het vinnig gegroei en spoedig het hy deel van die gesin geword, alhoewel Pappie hom nooit eintlik versoen het met die idee van nog 'n hondjie in die huis nie.

Een aand, nadat almal gaan slaap het, het Sakkies - wat tydelik in die buitekamer geslaap het - onraad gemerk. Uit die kombuis het 'n vreemde, verstikkende reuk gekom. Eindelik het hy besluit dat hy maar na sy baas sal roep, want dinge het nie vir hom pluis gelyk nie.

"Kjef. kjef, kjef!"  Geen antwoord nie. Die rook het al dikker geword en Sakkies het harder begin blaf. "Kjef, kjef, kjef!"
Mnr Nieman het wakker geword. "Hoor nou hoe blaf daardie brak. Waarom moet ons in die middel van die nag wakker geraas word? Ek wens ons het hom nooit geneem nie."

"Kjef, kjef, kjef!"

Mnr Nieman het opgestaan. "Ek ruik iets brand," het hy hardop gemompel.

In 'n kits was hy uit sy slaapkamer en by die kombuis. Daar was dit die ene rook en vlamme. Hy het net betyds daarin geslaag om die brand te blus.

Die volgende oggend het Sakkies 'n bord kos gekry soos nog nooit tevore nie. Lewies en Ralie kon hom nie genoeg streel nie. Pappie het glad gesê dat as dit nie vir Sakkies was nie, kon die hele huis afgebrand het.

Sakkies het gebly!