Ou Skuld betaal

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Drie

deur Arthur S. Maxwell

Hierdie verhaal is afkomstig uit Kanada en is persoonlik aan my vertel deur een van die kinders - nou reeds groot - wat in 'n tyd van nood gebid het om uitkoms. 

Probeer jou die prent voorstel. 'n Klein houthuisie staan op die onmeetlike Kanadese vlaktes in die winter, met 'n dik kapoktapyt wat vir myle en myle in alle rigtings strek. In die huisie is daar 'n huisgesin van ses: Vader, Moeder en vier kinders - een seun en drie dogters - en die jongste is agt jaar. 'n Lang ruk al kry hulle swaar en toe die winter gekom het, was hulle glad nie voorbereid vir die lang koue nie. 

Natuurlik is daar nie 'n tekort aan hout nie, want lank voor die winter word daar reeds baie hout gekap vir die wintermaande. Maar kos is skaars en geld is daar nie om in die naaste klein dorpie te koop nie. 

Stadig het die kort, mistroostige dae en die lang, donker nagte verbygegaan en die eentonigheid is net af en toe verbreek deur vreeslike storms wat die kapokhuisie tot bokant die vensters opgehoop het, sodat die houthuisie soos 'n klein bruin eilandjie te midde van die groot, wit see gelyk het.  Moeder het haar bes probeer om die kos langer te laat hou.

Eindelik het sy die kos gerantsoeneer, maar alles tevergeefs. Een dag was sy verplig om Vader te vertel dat daar niks meer kos in die huis was nie. Jy kan verstaan hoe bekommerd hy gevoel het, nie oor homself nie, maar oor die kinders wat hy so liefhet. Wat kan hulle doen? Wat sou jy gedoen het onder sulke omstandighede?

Daar was voorwaar net een ding wat hulle kon doen en dit was om hulle moeilikheid na die hemelse Vader te neem en om Hom te vra om hulle uitkoms te gee.

Dit het hulle ook gedoen. Vader het almal bymekaar geroep; hy het hulle vertel wat die posisie was en hy het hulle voorgegaan in gebed. Hulle het almal gebid, selfs die jongste, en aan die Here vertel hoe groot hulle behoefte aan kos was; hoe hulle dit daardie dag moes hê en hoe hulle nie kon sien waar hulle dit vandaan kon kry tensy Hy hulle help nie.
Hulle het van hulle knieë af opgestaan en begin praat oor wat mag gebeur. Elkeen het probeer dink wat die Here sal doen as-

Maar almal was verkeerd. Hoe hou die Here nie daarvan om sy kinders te verras nie! "Jack," het Vader na 'n rukkie gesê, "ek voel aan my daar is vir ons briewe by die poskantoor. Ek wens jy wil dorp toe gaan om vir ons die pos te gaan kry."

"Ek sal gaan Vader," het Jack gesê, en hy het sy sneeuskoene aangetrek en sy bors toegemaak vir die yswind buite. "Maar daar sal nie briewe wees nie. Niemand skryf ooit meer aan ons nie."

"Wel, gaan kyk vir ons," het Vader geantwoord. "Miskien is daar tog hierdie keer. Probeer net voor donker weer terug wees. Ons sal uitkyk vir jou."

Jack was maar alte bly om buite te wees en het vinnig oor die kapok beweeg al was dit bitter koud. Eindelik het hy daar aangekom en tot sy verbasing gehoor dat daar wel 'n brief is - net een - aan sy Vader geadresseer.  Dit het begin donker word toe hy by die houthuisie aankom, maar almal het angstig op sy koms gewag. 

"Wel, Pa gaan bly wees oor hierdie een," het hy vir homself gesê, terwyl hy dit in sy sak steek en weer dadelik in die pad val huis toe. "Is daar briewe?" het almal gelyktydig gevra.  "Ja, daar is 'n brief; maar net een."

Vader het dit oopgeskeur. 'n Tjek val uit. Jack tel dit op. 

"Kyk hier, Pa!" het hy uitgeroep, "dit is vir 'n honderd dollars."

"Wonderlik! wonderlik!" het Vader ujitgeroep. "ek het aan hierdie man 'n honderd dollars meer as dertien jaar gelde geleen en ek het nooit verwag om weer 'n pennie van die geld terug te kry nie. Om te dink dat hy dit nou stuur! Dis amper te goed om waar te wees."

"Maar dit is waar, dank die Here," het Moeder met haar oë vol trane gesê. "Hy het ons nie in die steek gelaat nie. Laat ons sommer nou neerkniel en Hom dank vir al Sy goedheid en Sy wonderlike werke aan die mens."