Org se Studiebeurs

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Drie

deur Arthur S. Maxwell

Nie baie ver van die pek waar ek woon nie, is daar 'n seun genaamd Org. Hy woon in 'n taamlike armoedige huis en niemand sal sê dat hy eintlik slim is nie. Hy is maar net 'n doodgewone seun, soos tienduisende andere in die skole oor die hele land vandag. Nie lank gelede nie het Org meegeding vir 'n studiebeurs. Niemand het eintlik gedink hy sal dit kry nie, behalwe Org self; maar hy het dit gekry.

Almal, selfs sy Moeder, was verbaas en dit was eers 'n rukkie later dat die geheim van sy sukses aan die lig gekom het. "Moeder," het hy een aand gesê, "ek wil Moeder graag vertel hoe ek daardie beurs gekry het."

"Hoe het jy dit reggekry?" het sy Moeder gretig gevra. "Ek het die Here gevra om dit aan my te gee," het Org geantwoord. "En Hy het."

Ja, dit het werklik gebeur. Niemand het geweet dat Org omtrent daardie beurs gebid het nie, maar hy het. Die Here het geweet en Hy het die seun se gebed verhoor. Ding jy mee om 'n studiebeurs, of het hy 'n ander stryd wat jy voer? Hoekom vertel jy nie die Here alles daaromtrent nie en kyk wat gebeur? Geen geluid is vir Hom so mooi as die gebede van klein kindertjies nie. Ek glo dat Hy vir hulle dinge sal doen wat Hy vir niemand anders sal doen nie.

Die Here self rig aan ons hierdie pragtige uitnodiging: "Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp." Psalm 50:15. En Paulus sê: "Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed...bekend word by God." Filipense 4:6. 

As 'n seun het ek een ondervinding gehad van 'n gebed wat verhoor is, wat ek nooit sal vergeet nie. Alhoewel nog maar 'n seun, skaars sestien, was ek in die verre noorde van Skotland besig om van plaas tot plaas en van huis tot huis te gaan oor die eensame paaie - en hulle is eensaam, dit is gewis - in 'n poging om boeke oor die bybel te verkoop om genoeg geld te verdien om kollege toe te gaan. 
Een aand, na 'n moeilike dag, was ek omtrent twaalf myl van die plek waar ek loseer het. Die reën het neergestort - en hoe reën dit nie daar tussen daardie Skotse rante nie! - en ek kan jou dit verseker die vooruitsig om met my fiets deur die reën oor die slegte paaie te ry, was nie aangenaam nie, veral omdat ek baie, baie moeg was. 

Toe, sommer eensklaps, word my voorwiel pap. Ek kan dit nou nog sien. Vir my het dit soos die laaste strooitjie gelyk wat, soos hulle sê, die kameel se rug breek. 'n Ruk lank het ek sommer daar langs die pad gesit en niks doen nie. Ek was te mismoedig. En wat kon ek ook doen sonder die goed om die wiel mee reg te maak?

Na 'n rukkie het 'n gedagte by my opgekom. Ek onthou dit nog so goed. Ek het gedink: Ek doen die Here se werk: Hy wil sekerlik nie hê dat 'n jong seun soos ek die hele nag in die reën moes deurbring nie. Dit het my moed gegee om 'n baie eienaardige ding te doen. Ek het daardie wiel gepomp en terwyl ek pomp, het ek gebid dat die wiel moes styf bly totddat ek my kamer kom. Toe spring ek op my fiets en begin ry. 

Miskien sal jy dit nie glo nie - en ek is bevrees jy sal nie -  maar daardie wiel het styf gebly, my veilig by die huis gebring en styf gebly vir 'n hele paar dae sonder dat ek iets daaraan gedoen het. 

Jy mag sê, "O, wel, die ventiel het seker maar gelek, of dit was 'n klein gaatjie," maar ek is seker dit was nie. Vir  my was daardie ondervinding 'n Goddelike verlossing.