Ons Wonderbare wêreld

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

Het j ulle al ooit gedink in hoe 'n wonderbare wêreld ons woon? Die feit is dat Iemand allerhande wonderlike dinge, groot en klein, daarop geplaas het. Dink net hoe groot die aarde is.

Weet julle hoe groot hy is? Wel, dit is 'n baie groot bal 24 000 myl in omtrek. Dit beteken dat dit omtrent 8 000 myl deur die middellyn is van die een kant na die ander. Die diepste steenkoolmyn daal nie meer as twee myl in die aarde af nie. Om dus 'n gat dwarsdeur die aarde te grawe om in Australië uit te kom, sou 'n reusetaak wees...of liewer: 'n onmoontlike taak!

Gedeeltes van die oppervlakte van die aarde is bedek met magtige oseane, hoë berge, groot mere, digte woude en uitgestrekte stukke woestynsand. Die oseane, mere en die riviere wemel van die vis. Die woude en bosse is vol van alolerhande soorte voëls en diere. Op die land groei daar 'n groot verskeidenheid van bome, struike en gewasse. Wat 'n heerlike speelplek is die aarde vir die mense wat daarop woon! Op daardie speelgrond woon daar sowat 2 miljard mense.

As 'n mens aan die wêreld op hierdie manier dink, dan sê jy vir jouself "Dis darem 'n baie groot plek!" Dan voel jy so klein soos 'n mier wat daar in die tuin oor 'n pampoen loop. Maar - groot soos die wêreld vir ons lyk - is dit soos 'n stofstippeltjie in die groot, uitgestrekte heelal.

Het een van julle al ooit daaraan gedink om besoek by die maan te gaan aflê? Op 'n helder aand lyk die maan nie so ver weg nie en miskien het julle al gedink dat 'n vinnige vliegtuig nie te lank sou neem om daarheen te vlieg nie. Maar 'n vliegtuig sal dit nooit regkry nie. Al sou 'n mens ook 'n vliegtuig hê wat 'n honderd myl per uur kan aflê, sou dit 'n mens 100 dae aaneenvlieg neem om daar te kom. Maar daar is ook nie vliegtuie wat genoeg brandstof kan saamneem om so 'n rit te voltooi nie.

En vir 'n reis na die son, wel, al sou 'n mens 'n vliegtuig hê wat dag-in en dag-uit 'n 100 myl per uur kan aflê, sou dit 110 jaar neem om by die son te kom.

As julle 'n reis na een van die naaste sterre sou probeer, sou julle van ouderdom sterf baie, baie jare voordat julle naby selfs die naaste een is.

Ons moet onthou dat sterre baie groter as die son is en dat die son baie groter is as ons aarde en tog beweeg al daardie liggame in hulle groot bane in die eindelose ruimte.

Het julle al ooit na die lug gekyk op 'n stil, wolkelose nag? Dit lyk of die lug vol sterre is. Maar altesame kan ons maar sowat 3 000 sterre sien. As ons deur 'n klein teleskoop kyk, sal ons omtrent driemiljoen sien. Wanneer ons deur 'n groot teleskoop kyk, sal ons ontelbare miljoene sien - en hulle is almal sonne wat lig en hitte uitstraal. Baie van hulle het wêrelde soos ons s'n wat om hulle beweeg net soos ons wêreld om die son draai.

Hoe vreeslik klein moet ons wêreld dan wees! Daardie mier op die pampoen laat ons groot en baie belangrik lyk. Ons is maar soos 'n stofstippeltjie op 'n gholfbal.

Waar ons na al hierdie wonders van die natuur kyk, kom die vraag by ons op: Wie het hulle gemaak? Wie het die sterre daar in die lug geplaas? Wie laat hulle beweeg deur die eindelose ruimte? Wie laat hulle so volkome tyd hou dat hulle nie teen mekaar bots nie? Wie gee aan hulle die krag om te skyn?

Op hierdie vraag, weet ons, is daar net een antwoord: God het hulle gemaak. Hulle het nie vanself ontstaan nie. Ook is hulle nie die gevolg van evolusie nie. Hulle het skielik ontstaan op die bevel van die Almagtige God. "Deur die woord van die Here is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër... Want Hy het gespreek en dit was; Hy het gebied en dit staan." (Ps. 33:6, 9)

En wat behoort ons te doen as ons dink aan die grootheid, die wysheid en die almag van die Een wat al die miljoene sterre in aansyn geroep, hulle aan die gang gesit het en hulle in hul bane hou deur Sy woord?

"Kom, laat ons aanbid en neerbuk; laat ons kniel voor die Here wat ons gemaak het." Ps 95:6

Maar die grootste wonder van almal in verband met ons wêreld is God se sorg daarvoor. Vergeleke met die res van die heelal, mag dit baie klein wees - soos 'n gholfbal wat op die Atlantiese Oseaan dobber, maar God het dit die liefste van almal.

Waarom het Hy? Wie weet? Al wat ons weet, is dat dit so is. Hy sê dat Hy ons wêreld so liefhet, "dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê". Joh 3:16

Dink bietjie daaroor. Dink aan die ewige God in al Sy majesteit en heerlikheid. Dink aan daardie stofstippeltjie op die gholfbal. Waarom Sou God dit liefhê? Dit kan alleen wees omdat Hy alwys en goed en regverdig is; omdat Sy groot hart van liefde so vol ontferming en barmhartigheid is dat dit die nietigste lewentjie in Sy groot helal omvat.

Miskien het God hierdie wêreld so lief omdat dit die enigste een is wat onder die mag van die sonde en die versoeking van die Satan gekom het. Daar word gesê dat 'n moeder die onbruikbaarste seun in die gesin die meeste liefhet, nie omdat hy sleg is nie, maar omdat hy die grootste behoefte het aan haar liefde om hom te bekeer tot goedheid en opregtheid. God handel seker ook so. Hy het ons almal lief, nie omdat ons sondaars is nie, maar omdat Hy ons wil terugbring na Hom toe.

Ons moet nooit dink dat ons te klein is vir God om vir ons te sorg nie. Hy het die sterre gemaak, dit is waar, maar dis ook Hy wat aan die blomme hul kleure gee. Hy het die groot son in die lug geplaas om lig en hitte vir ons uit te straal deur die onmeetlike ruimte, maar hy het ook die vuurvliegies gemaak. Hy het die maan daarbo gestel om die nag te verlig, maar Hy het ook aan klein vissies die vermoë gegee om die donker dieptes van die oseane te verlig. Hy het die reuseberge gemaak, ja, maar Hy het ook die kunstige vlerkies van die skoenlappers gemaak!

"Hoe talryk is u werke, o Here! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsels." Psalm 104:24

Wie leer die skarlaken-rankboon om altyd regs te draai as hy oprank en die kanferfoelie en die hopplant om h ul ranke altyd links te laat krul?

Wie leer die trekvoëls om altyd hul pad te vind oor vreemde lande en onbekende seë, terug na hul ou plekke? Wie leer die salm om hulle weg te vind na die regte rivier en selfs na dieselfde watergate waar hulle uitgebroei het? Wie leer die baba-seeskilpadjie wat ver in die binneland uitgebroei het, sy weg vind na die see?

Hoe word 'n appel gemaak? Wie plaas die pitte in elkeen? Wie sit die pitte in die druiwekorrel en wie gee aan elke vrug die krag om 'n boom voort te bring net soos die een waarvan dit gepluk is?

Dit is God....en God alleen. "Groot en wonderlik is u werke, Here God, die Almagtige; regverdig en waaragtig is u weë, o Koning van die Heiliges!" Openb. 15:3

Dit alles oortuig ons dat God wel sorg vir die klein dingetjies. Hy word nie so in beslag geneem om die sterre in die lugruim te laat beweeg dat Hy geen tyd het om aan ons te dink nie. Daardie "stoffie" aan die gholfbal is vir Hom dierbaar. En meeste van alles het hy die kinders lief en Hy wil  hê dat hulle Hom ook moet liefhê.

As hulle Hom liefhet, het Hy 'n baie groot verrassing vir hulle. Hy sê: "Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van die mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet." 1 Kor. 2:9

Wanneer God verrassings berei, kan ons iets verwag waarvan ons nooit gedroom het nie. Dink net! Die God wat die sterre gemaak het, is besig om ons hemelse tuiste te berei! En Hy wat die pragtige blomme gemaak het, sal ons tuiste met die mooiste goed versier.

Die wonders van die wêreld wat ons vandag reeds ken, kan nie vergelyk word met die wonders van die wêreld wat ons more sal ken nie. Dit is om hierdie rede waarom ons bly behoort te wees dat Jesus gou sal kom. Wanneer Hy wat op hierdie aarde geleef en gesterf het, weer kom, sal Hy almal wat Hom liefhet, saam met Hom neem na Sy Vader se heerlike land. Daar sal Hy aan ons Sy rykste skatte toon en die geheime openbaar wat ons so lank al wou geweet het. Almal volkome gelukkig wees.

"En God sal al die trane van hulle oë afvee en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie." Openb. 21:4. "En hulle sal sy aangesig sien." Openb. 22:4