Onnutsige Magda

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Slaaptyd stories
Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell

Klein Magda Roets was seker een van die stoutste kinders wat ek geken het. Sy het allerhande kattekwaad aangevang - meer as enige ander kind.

Sulke soet kinders soos julle kan julle nie al die dinge voorstel wat sy gedoen het nie, dit is amper gevaarlik om julle daarvan te vertel, want dan sal julle ook miskien so wil maak. Eenmaal, toe sy haar riemspringtou verloor het, het sy - teryl haar Ma winkel toe is - 'n stoel uit die eetkamer gaan haal, daarop gestaan en 'n stuk van die wasgoedlyn vir haar afgesny! Wat gebeur het toe haar Ma tuiskom, wel - ek sal niks daarvan sê nie - maar julle kan julle dit self voorstel.

Eendag - en hiervan moet ek julle vertel - het Pappie haar bo-op die kombuistafel gekry waar sy besig was om sy skoene te poets met stoofpolitoer! Arme Pappie het nie geweet of hy moes lag of kwaad word nie. Maar omdat hy sy dogtertjie liefgehad het, het hy besluit dat Magda miskien gemeen het om hom te help. Maar dit het baie lank geneem voordat daardie skoene weer reggekom het!

Op 'n ander goeie dag het sy probeer om uit te vind hoe 'n wekker van binne lyk. Sy het die wekker se binnewerk toe begin uithaal en dit so bederf dat niemand dit later weer kon regmaak nie! Het julle in jul lewe al van so 'n dogtertjie gehoor?

Daar was skynbaar geen end aan die dinge wat Magda aangevang het nie. Sy was maar altyd vol allerhande gedagtes. Die vraag het dikwels by haar ouers opgekom wat nou van hul dogtertjie sal word as sy groot is. Hulle het nie geweet wat om vir haar te doen nie. Maar soos die geluk dit wou hê, het Magda haarself genees.

Pappie het vir hom 'n pragtige nuwe kamera gekoop en hy was baie gesteld daarop. Maar niemand, selfs nie eens Pappie nie, het soveel belang daarin gestel as Magda nie.

Sommer dadelik, nog voordat die kamera uit sy houer gehaal is, wou sy hê dat Pappie haar moes afneem. Hy het gesê dat 'n mens nie foto's kan neem voordat die son op is nie. Die volgende oggend was Magda - toe die son uitkom - reeds uit die bed. Dit moes 'n baie goeie kiekie wees het sy gesê, want sy wou dit wys aan die dogtertjie wat langs hulle gewoon het. Daardie dogter se Pa het al baie foto's van haar geneem en Magda wou nie by haar agterstaan nie. Sy het gehoop dat haar kiekie baie mooier sou wees as die ander dogtertjie s'n.

Wel, Pappie het haar afgeneem - om die waarheid te sê, hy het haar ses maal gekiek in allerhande posisies. Magda was baie in haar skik en sy kon nie wag om die foto's te sien nie.

Nadat Pappie die foto's geneem het, is hy werk toe. Hy het sy kamera op sy lessenaar laat staan en aan Magda gesê hy sal die kiekies ontwikkel wanneer hy van sy werk af terugkom. Maar Magda, nog net so onnutsig as ooit, kon nie so lank wag vir die foto's nie. Sy kon nie verstaan waarom sy hulle nie self uit die kamera kon haal nie. Sy het gemeen dat Pappie baie bly sou wees om hulle te sien wanneer hy tuiskom.

Sy het toe by die lessenaar gaan sit en met die kamera begin peuter. Sy het nie geweet hoe om hom oop te kry nie en het aan elke knoppie gedraai en gedruk totdat sy die kamera eintlik oop gehad het. Sy was hoog in haar skik oor hierdie prestasie en toe het sy na die kiekies begin soek. Binnekant het sy 'n lang strook swart papier gekry en daaronder weer 'n strook wit papier wat lyk soos die goed waarvan haar pop gemaak is. Sy het alles uitgetrek, maar daar was geen foto's nie. Die kas was dolleeg.

Magda was baie teleurgesteld en sy was seker dat Pappie 'n fout begaan het. Toe het sy probeer om die stroke papier weer terug te sit sodat haar Pa weer alles kon vind soos hy dit gelaat het - maar sy kon dit nie regkry nie. Hoe meer sy gesukkel het om alles reg te kry, hoe hopeloser het die taak geword, totdat sy eindelik wanhoop opgegee het.

Julle kan seker almal raai wt gebeur het toe Pappie tuiskom van die werk af...

Eindelik, toe Magda opgehou het om te huil, het Pappie aan haar verduidelik dat sy al die kiekies bederf het en dat sy nooit dié sou sien wat hy die oggend geneem het nie. Hy het gesê dat hulle almal op daardie wit strook blinkpapier was, maar dat hulle bederf is omdat sy dit in die lig oopgemaak het. Niemand ooit sou nou sien hoe sy gelyk het nie, het hy gesê.

Magda was baie teleurgesteld en het belowe om dit nooit weer te doen nie en dat sy daarna 'n soet dogtertjie sou wees en haar stoutigheid sou laat staan. En, alhoewel sy nie altyd haar belofte gehou het nie, het sy nooit die les vergeet wat sy daardie dag geleer het nie.