Ongelukkige Jim

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Slaaptyd stories
Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell

Jim het gemeen dat hy die ongelukkigste seun was wat daar nog ooit was. Dit het geskyn of alles altyd met hom verkeerd geloop het. sy uitkyk op die lewe was op daardie oomblik baie swartgallig, want een van sy mooiste glas-albasters het in die riool geval.

Maar dit was nie al nie, want daar was baie ander dinge wat hom neerslag gemaak het. Byvoorbeeld, hy het baie koud gekry. Hy moes warm klere en onderklere hê, maar daar was nie geld daarvoor nie en boonop was sy Pa werkloos.

En dan ook was hy baie honger. Die stukkie brood en botter wat hy vir middagete gehad het, het sy honger glad nie gestil nie. Terwyl hy in die strate geloop het met sy hande in sy sak, het hy baie ander seuns en dogters na hul huise sien gaan om lekker hul aandete te geniet. Hy het geweet dat hy die vuil trap sal moet klim na die boonste verdieping van 'n ou huurwoning, om daar 'n stukkie brood te kry vir sy aandete.

Hy het toe net by 'n winkel verbygegaan, helder verlig, en vol van allerhande speelgoed, genoeg om enige seun se hart bly te maak. Hy het daar vir 'n rukkie gestaan en kyk hoe seuns en dogters uit die winkel kom met pakkette in bruin papaier onder hulle arms. Jim het sy hand in sy sak gesteek en vir die soveelste keer sy enigste pennie gevoel. Hoe het hy gewens dat hy iets kon koop vir sy klein sustertjie wat in hulle ou kamertjie siek gelê het!

"Ek is darem seker die ongelukkigste seun in die hele wêreld! het hy vir homself gesê.

Maar die volgende dag het sake beter begin loop. Terwyl hy daar naby die gebou geloop het waar hulle gewoon het, het 'n welgeklede dame met hom gepraat.

"Is jou naam Jimmie MacKay?" het sy gevra.

"Ja Mevrou," het Jim ewe verras gesê en gewonder wat nou gaan gebeur.

"Wel, ons het jou naam op ons kerklys en ons wil hê dat jy na 'n spesiale Kersgeselligheid moet kom aanstaande week. Hier is 'n kaartjie vir jou," het die dame gesê.

"My goeiste!" het Jim uitgeroep - hy het nie eintlik geweet wat om te sê nie. "Maar wat omtrent Jean - sy is my sustertjie, weet u, sy is nou siek, maar by daardie tyd sal sy beter wees - miskien behoort sy ook te kom."

"Ek is jammer, maar ons kan net een uit 'n gesin neem," het sy vriendelik gesê, "ons sal probleer om vir Jean volgende keer te neem."

"Wel, dis gelukkig en tog ongelukkig," het Jim weer vir homself gesê terwyl die dame wegstap. "Gelukkig vir my en ongelukkig vir Jean."

Toe het hy skielik 'n plan gelry - waarom kon Jean nie in sy plek gaan nie. Hy het na sy kaartjie gekyk en daarop het gestaan: "Toegang vir Jimmie Mackay alleen".

"Hoe ongelukkig tog weer," het Jim gemompel.

Wel, eindelik is Jim na die geselligheid. Daar het hy sommer sou al sy moeilikhede vergeet. Alles was so anders en so wonderlik. Hy het nog nooit so baie eetgoed gekry nie.

Ná die etery klaar was, het hulle begin speel totdat dit tyd was vir die presente daar aan die kersboom om uitgedeel te word. Moenie praat van die opgewondenheid nie, veral omdat elke kind kon kies wat hy graag wou hê.

Jim het baie kriewelrig geword toe hy sien hoe die een kind na die ander voor hom opstaan en na die Kersboom loop. Dit was vir hom asof hy op spelde gesit het. Daar aan die boom het hy 'n pragtige rooi lokomotief gesien - iets wat hy al so lank na verlang het, en nou het hy gehoop en hoop en hoop dat dit daar sal wees wanneer sy beurt kom!

Eindelilk - ná ure soos dit vir hom gelyk het - was dit Jim se beurt.

"Jimmy Mackay!" het die dame daar by die boom sy naam uitgeroep. Jim het opgespring, soos ' n koeël uit 'n roer, en al wat hy on sien, was die rooi lokomotief - dit was nog daar!

Toe hy by die vrou kom, sien hy dat dit dieselfde een was wat met hom op straat gepraat en hom die kaartjie gegee het. Dadelik het 'n nuwe gedagte hom binnegeskiet.

"En wat wil jy graag hê Jimmie?" het sy gevra, "jy kan enige ding kies wat nog aan die boom hang."

Dit was vir jou 'n aanbod! Gedagtes het vinnig deur Jim se brein gevlieg. Hy het die goed beskou. Weer het hy die lokomotief gesien.

"Ek wil baie graag daardie rooi lokomotief hê, maar as u nie omgee nie, sal ek liewer daardie pop neem."

Daar het trane in sy oë gekom terwyl hy dit sê, maar hy was vasberade. Dit het gelyk of die vrou alles verstaan het en sonder om 'n woord te sê, het sy vir Jim die pop gegee. Toe hy wegstap,  het sy hom 'n handdruk gegee en vir hom gefluister "Die Here seën jou, Jimmie."

Maar vir die ander kinders was dit 'n raaisel. Vir 'n oomblik het hulle alle beheer verloor en begin skree en lag omdat Jim vir hom 'n pop gekies het. Sommige van die seuns het uitgeroep "Hy's 'n meisie". Van die meisies was baie ontevrede en hulle het geskree "Dis die pop wat ons wou hê!"

Jim het vreeslik skaam en verleë gevoel, hy het sy keppie gegryp en vinnig die saal uitgestap met die pop onder sy arm. Die hele pad huis toe het hy gedink aan die noodlot wat hom nog skynbaar agtervolg het. Ten eerste was hy sy lokomotief kwyt en ten tweede is hy uitgelag.

"Ek is gewis die ongelukkigste kêrel ...." het hy begin mompel. Skielik het hy bewus geword van die pop onder sy arm. En toe het hy sommer begin beter voel en vinniger gestap. 'n Paar minute later was hy in die donker kamertjie waar sy sussie Jean siek gelê het.

"Ek is so bly dat jy gekom het!" het Jean gesê. "Ek het so eensaam gevoel  hier vingeralleen. Wat het jy daar?"  het sy gevra, terwyl sy die pop met groot oë aanstaan. "Is dit vir my? O Jimmie, hoe lief van jou!"

Jim het nou al sy ongelukkigheid vergeet. Sy hart het vol vreugde geskiet toe hy sien hoe bly sy sustertjie was.

Toe het iemand hard aan die deur geklop. Dit was die vrou wat die geskenke uitgedeel het. Jim het spraakloos gestaan.

"Ek het kom sê hoe jammer ek is dat die kinders vir jou vanaand gelag het. Hulle is ook nou baie jammer. Ek het verduidelik waarom jy die pop geneem het. En hulle het my gevra om iets vir jou persoonlik te bring. Hier is dit. Nou moet ek loop, want dis al laat. Goeie nag!."

Jim kon sy oë nie glo toe hy die ding uit die papier haal nie....dit was die lokomotief!

Jim het sommer daar in die kamer rondgedans van blydskap en hy het uitgeroep: "Wel, is ek nie gelukkig nie!"