Ondankbaarheid

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Meneer en Mevrou Tomlinson het op 'n eensame plaas gewoon in die middel weste van Amerika. Hulle het een seun gehad, wat hulle liewer gehad het as hul eie lewe. Hy was vir hulle alles, en al wat hulle besit het, sou hulle aan hom bestee. 

Van die dag van Harold se geboorte af het Vader en Moeder besluit dat hulle hom so goed sou laat leer as wat hulle kon bekostig. Hulle het gehoop dat hy 'n dokter of regter sou word, of moontlik die president van die Verenigde State. Wat ook al gebeur, Harold sou sy kans kry. 

Hoe sou hulle dit regkry? Dit sou baie geld kos om hom na 'n kollege te stuur - baie meer as wat die ou plasie in 'n jaar kan opbring. Om daardie rede het hulle dadelik begin spaar.

Toe hulle een aand by die vuur sit, het Vader gese: "Moeder, ek het besluit om rook op te gee; elke keer as ek voel dat ek tabak moet koop, sal ek die geld neem en in die blombot daar by die skoorsteenmantel gooi." Moeder het so 'n rukkie niks gesê nie, en toe het sy gesê: "Nou ja, goed; ek sal my tee opgee. Elke keer wanneer ek voel dat ek tee moet koop, sal ek die geld ook in daardie blompot gooi."

"Goed!" het Vader gesê, "Ons sal so maak!"

Hulle het hulle plan uitgevoer, en die ou blompot daar op die mantel het hulle bank geword.

Die jare het verbygegaan - jare van swaar werk, en groot opoffering. Hulle het nooit gekla nie, want was dit dan nie vir Harold, hulle dierbare seun, die lus van hulle lewe nie? 

Eindelik het die dag aangebreek dat Harold oud genoeg was om na kollege te gaan. Hoe trots was hulle op hom in sy mooi nuwe pak klere! Hoe het Moeder nie geweet by die gedate dat hy sou weggaan nie! En Vader se hart was so swaar as 'n stuk lood! 

Toe het die afskeid gekom. Hulle het hom vir oulaas gegroet, en Harold was weg ver oor die berge en dale. 

Die afskeid was baie swaar, want hulle sou hom oor vyf jaar eers weer sien. Elke pennie sou nodig wess om hom op kollege te hou, en dus kon daar geen sprake wees van treingeld om hom te gaan  besoek nie. 

Een jaar het verbygegaan, en toe nog een, en en eindelik kon Vader dit nie langer uithou nie. 

"Ek moet die seun gaan besoek," het hy gesê

"Ek weet," het Vader gesê, "maar dit sal niks kos nie."

"Ek sal met die kar en perd ry, en snags buite slaap op beskutte plekkies."

"Dit sal te veel wees vir jou," het Moeder gesê. "Nee wat, ek sal dit maklik kan doen," het Vader gesê. "Ek sal enigiets verduur net om weer die kind te sien."

En hy het gegaan. Hy het die lang reis begin, en soms was hy so moeg dat hy kon sterf, maar die gedagte om weer vir Harold te sien, het hom opgebeur. 

EIndelik, na baie dae, het hy naby die universiteitstad gekom waar Harold studeer. Hy kon dit in die verte sien, en dit was of selfs die ou perd nuwe moed geskep het. Baie gou sou hy daar wees om sy seun weer te ontmoet. 

Hy het met die hoofstraat gery na die kollgege bou. Dit het baie snaaks gelyk om met die ou plaaskar daar in die mooi straat te ry; maar wat maak dit saak? Al wat hy aan gedink het, was die weerontmoeting met sy seun. 

Waar sou Harold wees? 

Die ou Vader se kop het van kant na kant gedraai, en met sy skerp oe het hy gekyk of hy Harold daar onder die ander jongmense kon sien. 

Daar is hy!

Ja, dit is Harold daardie wat daar uit die hoofsaal kom tussen die groep laggende jongmense. Hoe groot het hy nie geword nie! Trots het die ou man se hart vervul. Daar was sy eie groot seun wat nou al feitelik 'n man was. Ja, al die opoffering wat hulle vir hom gemaak het, was die moeite werd! 

"Harold!"

Bokant die gelag uit het hulle die ou man se stem gehoor. Hoe gretig was hy om Harold se aandag te trek. Almal het die geroep gehoor, en toe hulle daardie ou kar en perd voor die kollgegebou sien, het hulle geskaterlag. 

Harold het ook die geroep gehoor. Hy het omgekyk, en toe het sy gesig bleek geword. Hy het die ou man nie met 'n glimlag begroet nie. Harold was skaam vir sy Vader - hy was bang dat sy kolegevriende sou uitvind hoe eenvoudig sy ouers was. 

"Harold!" Dit was 'n pleitende stem. "Ken jy my dan nie?"

Ja, Harold het hom geken, maar hy wou dit vir ander studente wegsteek. "U begaan 'n fout," het hy kil gesê. "Neem daardie lelike ou kar hier weg."

Vader se hart het soos 'n stuk ys geword. Doodsbleek het hy die perd omgedraai, en onder die gespot van die studente het hy weggery. Met daardie lang pad is hy terug, so terneergedruk dat hy skaars in staat was om sy kop op te hou. 

Moeder het hom sien terugkom, en sy het dadelik gemerk dat daar iets ernstigs verkeerd was. Hy het sommer twintig jaar ouer gelyk. 

Hy het uitgespan sonder om een woord te sê, en toe het hy in die eetkamer op die ou gemakstoel gaan sit, voor die kaggel waar die blompot nog gestaan het as stille getuie van die prys van hulle liefde. 

Sy het besef dat iets vreesliks moes gebeur het, en het begin om 'n maaltyd te berei, hopende dat alles weer sou regkom. 

Skielik het sy 'n kreun gehoor en 'n dowwe geplof op die vloer. Sy het na die eetkamer gehardloop, en daar het Vader gelê - dood.

"Hy het gesterf aan 'n gebroke hart," het die mense gesê. "Gedood deur ondankbaarheid," sou nader aan die waarheid gewees het. 

Dit was duidelik treurig, was dit nie? En tog, hoe dikwels gebeur dit dat die tere liefde en dure opoffering van ouers vergeet en verag word deur onwaardige kinders. Ek het eenkeer hierdie storie vertel in 'n kerkie in Wallis. Na die diens het 'n bejaarde ou man na my toe gekom en gesê. "Dit is heeltemal waar! Daar was nie lank gelede nie in my dorpie net so 'n voorval. 'n Vader wat ek ken het alles gedoen vir sy seun, en hom teen groot opoffering gehelp om sy eie saak te begin. Toe het die ou Vader eendag sy seun op die dorpie gaan besoek. Daar was 'n aantal besigheidsvriende by die jongman, en hy het na sy Vader gegaan en in sy oor gefluister.

"Moenie laat hulle agterkom dat u my Vader is nie.' Dit het die ou man se hart gebreek, en binne 'n paar weke was hy dood."

En dit laat nou by my die vraag ontstaan hoe julle julle ouers behandel. Is jule skaam vir hulle? Eer julle julle hulle vir die liefde wat hulle aan julle betoon het? Het julle al ooit daaraan gedink hoeveel geld wat hulle sou gehad het, en hoeveel makliker die lewe  vir hulle sou gewees het as dit nie vir julle was nie?

Julle behoort julle ouers lief te he voordat dit te laat is, sodat julle, wanneer die dood ingetree en die ou huis leeg is, julleself nie sal hoef te verwyt nie. 

Wat sê die Bybel?

"Eer jou Vader en jou Moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee." Exod. 20:12.

Slaaptyd stories
Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell