Nogtans Eerlik

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Drie

deur Arthur S. Maxwell

Glad nie so baie lank gelede nie was daar nog slawerny in baie dele van Afrika. Arabiese slawe-handelaars het strooptogte gereël op statte wat dit nie verwag het nie, en mans, vrouens en kinders is weggevoer om op die slawemarkte by die kus verkoop te word. Dikwels was hulle baie wreed en van die slawe het langs die pad gesterf. Huisgesinne is geskei en Vaders, Moeders en kinders het dikwels na verskillende eienaars gegaan. 

Dit was natuurlik baie goddeloos en ons kan die Here dank vir manne soos Livingstone en andere wat hulle stemme laat hoor het teen hierdie euwel en alles in hulle vermoë gtedoen het om dit stop te sit. 

Eendag het 'n man by een van die slawemarkte rondgestap en na die arme mans en vrouens en seuns en dogters gekyk, die  meeste van hulle met kettings vasgemaak, op die punt om verkoop te word. 

Toe hy so tussen hulle deur loop, het 'n jong seun met 'n besondere intelligente gesig, sy aandag getrek. Agter sy masker van droefheid was daar iets goeds in hom te sien. Die man het dadelik vir hom jammer gevoel en besluit om hom te koop. 

"As ek jou koop, Het hy vir die jong seun gesê, "sal jy eerlik wees en my getrou dien?' Die seun het hom in die oë gekyk. "Eerlik?" het hy gevra. "Ek sal nogtans eerlik wees, of u my koop of nie." Die man was so verbaas om sulke woorde van 'n slaaf te hoor, dat hy met 'n opgeruimde hart die prys vir hom betaal het sonder om 'n woord verder te sê. Dit is werd om so 'n seun te koop, dink jy nie so nie? 

Ek wens daar was meer sulke seuns; seuns wat vasberade besluit om "nogtans eerlik" te wees, wat die gevolge ook al mag wees. Veronderstel jy word vyf pond aangebied om 'n leuen te vertel; wat sou jy doen? Ek weet van iemand aan wie so 'n aanbod gemaak was, nie lank gelede nie. Ek het baie arm mense in die agterbuurte besoek. 
Daar was 'n Vader, Moeder, en vyf kinders en hulle het 'n tydlank in twee kamers gewoon, feitlik onder die grond. 

Die Vader het my langs die donker, nou trappies afgelei na die swak beligte kombuisie. Die skoorsteen het uitmekaar geval en deur die barste in die  mure het daar snags 'n swerm goggas gekom. In die ander vertrek, genoemd die slaapkamer, was een van die vensters stukkend en 'n sak is in die gat gesteek om die reën uit te hou. Oral in die vloer was daar gate en die rotte het snags daaruit gekom. 

Stukke blikplaat was oor party van die gate geslaan, maar skaars was een gat toe of die rotte het weer 'n ander een gegrawe. Al die huisraad was 'n ou ysterkatel met een van daardie vreeslike ongerieflike matrasse wat hol word in die middel. 

"Dis die kinders se bed daardie," het die Vader gesê. "hier tussen die rotte en goggas!" het ek uitgeroep. Toe sê hy vir my iets wat ek nooit sal vergeet nie. "Die eienaar van die plek het my gesê dat iemand hierdie plek wil koop en hy het my vyf pond aangebied as ek, wanneer die koper na die plek kom kyk, sal sê dat hier nie rotte en kakkerlakke is nie. Maar hy kan my nie omkoop nie. Ek is nog 'n Christen."

Watter held! het ek gedink. Vyf pond moes vir hom na 'n fortuin geklink het. En tog vir al hierdie skatte, so nodig vir sy kinders wat honger ly, wou hy nie 'n leuen vertel nie. 

Hy was soos daardie arme seun op die slawemark. Nogtans eerlik, wat ookal gebeur. mag die Here ons almal helde maak wanneer ons versoek word!